SA JAGTER/HUNTER | Junie 2020 | Deur REAN STEENKAMP

Snaarspringers!

’n Vlakvark is eintlik maar ’n lelike ding as jy hom mooi bekyk. Tog het dié dier ’n bekoring van sy eie en is hulle gesog onder die meeste jagters. Vlakvarke is geharde diere en kom byna regoor Suid-Afrika voor. Elke boogjagter weet ook vlakvarke is berugte snaarspringers. “Snaarspring” is nie ’n bekende term onder geweerjagters nie, omdat ’n koeël uit ’n geweer soveel vinniger beweeg as ’n pyl uit ’n boog. Elke boogjagter met ’n bietjie ervaring weet egter presies wat dié woord beteken.

VINNIGE VARKE

My eerste ervaring met vlakvarke en snaarspring was bykans twee dekades gelede. Ek was besig om te voet te jag op ’n plaas naby Hoedspruit toe ek ’n vlakvark naby my in die grond hoor woel. Die dier was op sy knieë besig om vir iets in die grond te grawe. Ek was ongeveer 14 treë weg en agter ’n bos verskuil. Met ’n pyl aan my langboog se snaar gehaak, het ek intens op ’n kolletjie op die dier se enjinkamer gefokus en die boog versigtig gespan. Die pyl het byna geluidloos gevlieg… maar die dier heeltemal gemis. Voor die pyl kon tref, het die vlakvark uit sy pad gespring en stertjie in die lug die bos in verdwyn.

 

Ek het die pyl gekry waar dit in ’n boomstam gepen het. Die hoogte daarvan het my oortuig dat my skoot akkuraat gemik was, maar dat die vark die boogsnaar hoor klap het en toe vinnig weggespring het. Die aand in die jagkamp het ’n meer ervare boogjagter net geglimlag toe ek my verhaal vertel en gesê: “Nou weet jy ook wat snaarspring beteken!”


Op ’n plaas naby Roedtan het bykans dieselfde gebeur. Ek het skuiling ingeneem agter ’n bos en gewag vir iets om in die wildspaadjie afgestap te kom. Verskeie paadjies het by dié een aangesluit en dit was duidelik deurtrap van spore van verskeie boksoorte. Ek het geweet, dat indien ek lank genoeg stil sit en wag, ek my kans sou kry.

 

Ek het seker so ’n uur gewag toe ek ’n paar snorkgeluide hoor. Dit was twee vlakvarke wat met die paadjie aangestap gekom het. Ek was seker 12 na 15 treë van die paadjie af (en gelukkig onderkant die wind). Sou ek té naby skuil, kon die diere my sien of hoor beweeg wanneer ek die boog span. Was ek verder, het ek ’n kans gewaag met die tradisionele boog. Ek was seker van my vermoë om tot so ver as 17 treë akkuraat met dié boog te kan skiet.

 

Varke het sekerlik ’n sesde sintuig, want hulle het elke nou en dan gestop, die lug gesnuif en dan weer aangestap. Toe hulle binne skootafstand stop, was ek gereed met ’n pyl reeds aan die snaar gehaak. Met die boog gespan, het ek gekonsentreer op ’n kol so drie duim bo die vark se elmboog en die pyl laat vlieg.

 

Die houtpyl met sy 125gr Zwikey-jagpunt vooraan, het egter baie netjies in die stof geplons, opgeskiet en êrens in die gras verdwyn. Die varke was reeds weg toe die pyl die punt bereik waar ek al in my geestesoog gesien het hoe dit die vark netjies in die hart tref! Ek het ’n gekurfde boog met ’n trekkrag van 60lb gebruik en ’n houtpyl van 650gr. Die pyl se spoed was ongeveer 183vps.

 

Ek het al ’n hele klompie vlakvarke met ’n kragboog geskiet, maar altyd van so naby as moontlik, want ek het gou geleer hoe blitsig dié diere se reaksie is. Selfs met ’n kragboog skiet ek nie graag oor ’n afstand van meer as 22m na dié diere nie. En ook nie na rooibokke, springbokke of duikers nie. Hierdie bokke spring ook baie maklik die snaar – veral ’n duiker. Wanneer jy dus met ’n tradisionele boog jag, moet jy nog meer versigtig wees en nog nader aan die diere probeer kom.

 

REUK EN WINDRIGTING

Terwyl ek eendag vir vlakvarke gewag het, het ’n duiker baie naby aan my gekom. Ek was baie verbaas, omdat die wind van my af na die duiker se kant toe gewaai het. Wanneer ek in die veld loop, soek ek ’n tarentaalveer en maak dit dan met ’n garingdraadjie aan die boonste deel van my boog vas. As die wind waai, dui die veertjie vir my die windrigting aan. Die veertjie het in die rigting van die duiker gewaai en hy moes my eintlik geruik het. Ek wou nie die dier skiet nie en het hom laat gaan. My vermoede is dat hy my nie geruik het nie omdat ek myself kort tevore met tuisgemaakte reukweerder bespuit het. Ek het my hele lyf, boog, hoed, my skoene, koker en my jagsak daarmee bespuit.

 

Reuk is gewis ’n jagter se grootste probleem wanneer daar te voet gejag word. Die beste raad daarvoor is natuurlik om te sorg dat jy teen die wind in jag.

 

DUIKER ONTDUIK DIE PYLE

Op ’n keer het ek in die Noord-Vrystaat gejag. Die kamp was op ’n plato met ’n uitsig oor ’n vallei. Terwyl ek van bo na

onder beweeg het, het ek ’n duiker sien nader kom. Die dier het my nie gesien nie en ek het roerloos bly staan totdat die bokkie omtrent 15 treë van my af was.

 

Ek het die boog versigtig gespan en geskiet, maar teen die tyd dat die pyl die plek bereik het waar die bok gestaan het, was hy seker al in Lesotho. Dit was die laaste keer dat ek probeer het om dié boksoort met my tradisionele houtboog te skiet – veral met ’n swaar houtpyl.

 

Deesdae skiet ek ’n baie vinniger gekurfde boog met ligter koolstofpyle. My kragboog sal gewis ook vinnig genoeg skiet

om ’n duiker plat te trek. Die houtboog waarmee ek die duiker probeer skiet het, het die pyl teen ongeveer 187vps gelanseer. My nuwe gekurfde boog skiet ’n 500gr-pyl teen meer as 200vps en my Mathews Triax-kragboog lanseer pyle teen meer as 300vps.

 

Op ’n keer het ek springbokke bekruip in die Molopo. Ek moes my lyf laer hou as die lang gras, sodat die diere my nie sien nie. Tot vandag toe sit daar nog ’n knoppie op my knie waar ’n doring ingesteek en toe afgebreek het.

 

Ek het tot ongeveer 25 treë van die een springbok gevorder. Die kragboog in my hand was ’n kort jagboog (PSE Firestorm)

en ek kon aanlê vanuit ’n sittende posisie. Die pyl het blitssnel uit die boog, wat op 70 pond gestel was, gevlieg. My

skootplasing op dié afstand was sekuur, maar die springbok was té vinnig. Ook dié dier het die boog se snaar hoor klap en

dadelik weggespring. Die pyl het net-net sy stert gemis.

 

VERMY EERS DIE SNAARSPRINGERS

Wanneer jy snaarspringers jag, moet jy seker maak hulle is ontspanne en dat hulle weg van jou af kyk voor jy die pyl loslaat. Probeer ook so naby aan die diere kom as wat jy kan. Hoe stiller die boog skiet, hoe beter. Die meeste kragboë van vandag skiet stiller en vinniger as die boog waarmee ek na die springbok geskiet het. Aan die een kant is dit goed, maar dit het ook ’n nadeel. Omdat my houtboog se pyle soveel stadiger as ’n kragboog s’n vlieg, het ek die diere heeltemal gemis. Met ’n vinniger boog sou ek dalk die diere gekwes het.

 

My raad aan beginner-boogjagters is om eers die versoeking te weerstaan om rooibokke en vlakvarke te wil skiet. Hierdie

bokke is goedkoper om te jag as jy hulle doodskiet – maar baie duur indien jy een kwes. Skiet eerder ’n blouwildebees of ’n blesbok – hulle is heelwat stadiger. Jag eers die snaarspringers wanneer jy meer ervare is.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon