Eksklusief vir die web | 1 AUGUSTUS 2019 | Deur JOHAN VAN WYK

Skatte in ou foto-albums...

’n Tydjie gelede kom ek op ’n ou foto-album af. Die omslag het al begin kraak en die blaaie is sommer geel van die ouderdom. Van die foto’s is maar tipies van daardies wat dateer uit die pre-digitale era; soms uit fokus en meestal niks besonders nie. Op die tweede laaste bladsy van die album is daar egter ’n juweel: ’n foto van my, geneem baie jare terug met my eerste rooibokram.

 

Ek onthou die dag soos gister. Die stofpad op ’n beesplaas diep in Zimbabwe se suid-oostelike laeveld was smal maar rybaar en het tussen die digte mopaniebosse deur gekronkel. Op ’n reguit stuk pad het drie rooibokramme ewe skielik oor die pad gedraf, en onmiddelik het my pa ankers gegooi. Ek het die 7x57 gegryp en inderhaas ’n handvol patrone in die Mauser se magasyn gedruk. Ek kon die opgewondenheid binne-in my voel en my pa duidelik ook want hy het dadelik sy hand op my skouer gesit en gesê: “Onthou, ons moet stadig loop!”

 

Met die windjie wat reg van voor af die droë mopanieblare laat ritsel, het ons voetjie-vir-voetjie die rooibokke begin agtervolg. Binne die eerste tien minute het ons die drie ramme twee keer gewaar, maar elke keer het hulle net luierig weggedraf. Dit was duidelik: hier word nie baie gejag nie!

Toe ons die ramme die derde keer gewaar was hulle in ’n strook digte mopanieveld. Al wat ek kon sien was skimme, skimme wat tussen diep skadu’s en kolle sonskyn heen en weer beweeg het. Af en toe het ek ’n stert sien swaai en ’n kop met ’n stel horings sien oplig, maar van skiet was daar geen sprake nie. Al wat oorgebly het, was wag. En weer onthou ek my pa se advies, iets wat hyself jare vantevore by ’n baie gesoute grootwildjagter geleer het: “ ’n Mens vat nie ’n kans nie, jy wag vir ’n kans”.

 

Die ram heel links het later sy kop opgelig, vir ’n oomblik na iets gestaar en toe na ons linkerkant begin stap... en toe gebeur dit. In ’n oop kol tussen die mopanies gaan steek hy vas. Al wat ek kon sien was sy linkerblad, maar dit was genoeg. Die kruisdraad het tot ruste gekom laag op die blad en ek het die sneller gedruk.

 

Toe die skoot klap, was daar konsternasie. Die ram waarna ek geskiet het se twee kamerade het met ’n gesnork en ’n reeks bokspringe hulself uit die voete gemaak, maar van my ram was daar geen teken nie. Ek het die 7x57 weer oorgehaal, seker gemaak die veiligheidsknip is aan, en ons het vorentoe beweeg.

 

Waar die ram gestaan het, was diep en baie duidelike spore in die sanderige grond waar hy weggevlieg het. Daar was egter geen teken van bloed nie en my moed het in my skoene gesak. Vir seker twintig meter het ons versigtig die spore gevolg, maar steeds was daar geen teken van bloed nie. Ek het ietwat desperaat na my pa gekyk maar hy het net stil opgemerk dat dit waarskynlik mis was. Die glimlag op sy gesig moes dit weggegee het, maar wie dink nou aan sulke dinge kort nadat jy jou eerste rooibokram in die bosveld bekruip het?

 

Toe ek weer afkyk sien ek dit: ’n helderrooi stukkie vleis op die grond, amper reg voor my voete. Dit was vir seker nie mis nie, en met nuwe moed soek ek verder na spore. My pa het die volgende oomblik sy hand op my skouer gesit en met sy vinger gewys. Nie vyf meter voor ons nie, in ’n strook gras, lê my ram. Die koeël het presies getref waar ek gemik het en het die hart vermorsel. Dit was ’n pragram in uitstekende kondisie, en hy sou vir altyd myne wees.

 

Toe ek die ander aand na die foto van my en die rooibok kyk, het ek weer teruggedink aan my en my pa se afspraak met my eerste ram. Dit was ’n goeie herinnering, iets wat ek nog vir lank sal onthou.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon