SA JAGTER/HUNTER | Julie 2013 | Deur JONATHAN CROWTHER

Wanneer kom jy by my jag?” nooi vriend Arthur  Broux my teen die einde van 2011 per e-pos uit  België. Arthur en sy vrou, Madeleine, woon in hul eie kasteel, Kasteel de Klee, in Borgloon sowat  50km vanaf Brussel. Daar het hy toegang tot ’n 2000ha jaggebied, wat groot is in België (die hele land is maar sowat 200km by 200km groot). 

Behalwe vir die jag in België sou hy ook vir ons ’n jag in Pole reël waar ons wildevarke en reebokke kon skiet. So meld ek toe ’n paar dae voor die jagseisoen in Pole op 11 Mei begin, by Kasteel de Klee aan.

Vandaar reis ons die 1000km of wat na die  jaggebied in Pole. Ons sou in België jag ná ons terugkeer. Ek en Arthur ontdek toe dis maklik om in Pole te verdwaal,  veral as jy dink jy weet beter as die geduldige dame wat met haar Garmin-stem aanwysings gee.

Uiteindelik  arriveer ons die middag van 10 Mei ná ’n lang ompad en soektog by die gastehuis in Bierzwnik, waar ons die volgende vier dae sou bly. Laat ek eers meer vertel oor jag in dié voormalige Oosblokland. Die plek wemel van die wild: Wildevarke, reebok, damhert en die edelhert (red stag) asook hase en verskeie jagbare voëls. In Pole begin die seisoen vir stap-en-bekruipjag op 11 Mei en eindig einde Oktober. Vanaf 1 November tot 15 Januarie word dryfjagte op wildevarke en reebokke toegelaat. 

Die gewildste jaggebiede lê in die weste van die land naby die Duitse grens en akkommodasie is hoofsaaklik in netjiese jaghuise of klein hotelle wat altyd goeie Poolse kos verskaf. Die jaggebiede is heuwelagtig, daar is baie damme en mere in die groen en dikwels digbeboste wêreld. ’n Plaaslike jaggids is verpligtend en daar word altyd twee  uitstappies per dag gedoen. Die eerste is van sowat 4-uur tot 9-uur soggens en dan weer van 5-uur in die middag tot ongeveer  halftien die aand (wanneer dit te donker is om verder te jag). Dit beteken dat die jagter soms weinig slaap inkry.

Teen die begin van Junie het die bokke die sogenaamde fluweel van hul horings afgeskraap en is hulle reg om gejag te word. Dis egter ook ’n moeilike tyd om te jag omdat dit warm en die plantegroei baie welig is. Die bokke is ook meer oplettend as wanneer die paartyd in middel-Julie begin. Dan draai die gety in die jagter se guns omdat die bokke meer rondbeweeg en net paring in hul koppe het. Teen middel-Augustus is die manlike diere uitgeput en in swak kondisie en lê hulle weer laag vir ten minste ’n maand. Van September af begin hulle baie wei om kondisie op te bou vir die winter en kan dan weer baie suksesvol gejag word tot aan die begin van Januarie.

Om 4-uur die eerste oggend van ons Poolse jag het my en Arthur se gidse, Stanislav Jedrasczyk en Arek Jakszuk, al vir ons gewag. Die twee gidse het toegang tot 18000ha van ’n 38000ha gekonsolideerde jaggebied in daardie deel van Pole. Dit was gou duidelik dat ek en Stanislav besonder moeilik gaan kommunikeer. Hy praat net Pools en ’n bietjie geradbraakte Duits wat net effens beter is as my eie nog meer basiese Duits. Arthur en Arek het beter oor die weg gekom met hul Duits. Ons kommunikasie-probleem het dit  vir my des te moeiliker gemaak om die basiese jagreëls wat in Pole geld, vas te stel.

Ons is in Stanislav se Jeep weg, ek met ’n ongelaaide Blaser-geweer wat ek tussen my knieë vasknyp. Na ons ’n ent die bos ingery  het, stop Stanislav en ná ’n onsuksesvolle poging tot kommunikasie neem hy my geweer en stoot ’n patroon in die kamer. Daarna beduie hy ons moet stap. Nadat ons ’n hele ruk in die sterk skemer gestap het, steek Stanislav skielik vas, stel die skietstokke op en beduie dat ek moet skiet. Dit was skaars 5-uur en nog so donker dat ek slegs vae swart skimme kon uitmaak. Toe ek deur die  teleskoop kyk, sê ek ’n vinnige, innige dankie aan Arthur wat my sy Blaser 6.5x68 met ’n 6-12x56 Zeiss-teleskoop met ’n verligbare  kruishaar geleen het. Daarsonder sou ’n skoot in sulke omstandighede onmoontlik gewees het.

“Rechts, rechts,” fluister Stanislav dringend waaruit ek aflei dat die vark heel regs die een is wat ek moet skiet. Dit volg hy op met: “Achtung! Schiessen, schiessen! Schnell schiessen!” wat hy byna uitsis. Toe die verligte kruishaar op die skim van ’n vark se skouer  huiwer, “schiesse” ek, soos my gids beveel en ek weet nie wie van ons die verligste was toe die vark morsdood neerslaan nie. Dit  was my eerste skoot in 'n Europese jagveld en my eerste Europese wildevark.

Vir die eerste keer glimlag Stanislav (ek sou later uitvind die glimlag verskyn net wanneer ’n vark of bok val). Ek kry ’n warm handdruk  en die tradisionele takkie met blare vir my pet. Soos gebruiklik kry die vark ook sy takkie blare in die bek. Op pad Jeep toe het ek weer probeer uitvind oor die jagreëls, veral wanneer jy mag skiet of nie, maar tevergeefs, ons kommunikasiekanaal het nie goed genoeg gewerk nie. Ons laai toe die vark en ry aan (seker na ’n ander area).

Ná ’n ent sien ons, ons eerste reebok wat sowat 200m  van die Jeep af staan. Ek het gewonder hoe ons hom gaan bekruip toe Stanislav stop en ferm “achtung” sê om my aandag op die bok te vestig. Toe ek bly sit, kom die streng bevel soos vroeër met die varke, “schiessen, schnell schiessen”. Met Stanislav wat geen poging aanwend om agter die stuur uit te klim nie, het ek die  boodskap gekry, die deur oopgemaak en sommer so oor die ventsterraam aangelê. Toe die bok val, glimlag Stanislav vir die tweede keer die oggend.

Teen 10-uur die oggend was ek en my gids terug by die gastehuis vir ontbyt. Die Poolse ontbyt het bestaan uit koue vleise, brode, tamaties, komkommer, kase, ingelegde vrugte en nog meer – baie lekker. Later het Arthur en sy gids ook opgedaag met ’n reebokram, so ons oggendjag was heel suksesvol. Ons gasheer en eienaar van die netjiese en gerieflike gastehuis waar ons gebly  het, Stanislav Stezalski, het darem seker gemaak daar is soggens warm koffie en iets te ete voordat ons om 4-uur op ons jagsessies vertrek. Middagete was ook eg Pools met vleise, groentes en aartappels in al hul heerlikste vorme. Aandete het gewoonlik uit koue vleise, brood, kaas en rou groentes bestaan en is omstreeks 10-uur voorgesit na ons terugkeer van die jag. Stanislav (die gasheer) se wildebessiewyn was ’n aangename verrassing. Baie lekker met ’n kleur en smaak wat grens aan dit wat van die wingerdstok kom. Hierdie wyn saam met ’n glasie of drie Poolse vodka het ons ligte saans op ’n vrolike noot afgeskakel.

Oor die volgende paar dae was beide ek en Arthur verskeie kere suksesvol. Ons het ’n kwota van tien reebokke gehad wat ons  maklik gehaal het. Vir een pragtige reebokram moes ek ’n volle uur lank oor die skietstokke staan en wag omdat hy in die lang gras lê en slaap het. Stanislav het my aangesê om die bok dop te hou terwyl hy rondloop en van sy dun Poolse sigarette rook. Toe die ram uiteindelik opstaan, homself behaaglik uitstrek en die lug verkennend snuif, was ek in die versoeking om die bok  met sy byna aristokratiese houding te laat gaan. Dis toe dat Stanislav skielik langs my regterskouer verskyn met die bekende opdrag: “Achtung! Schnell schiessen." Nou ja, jy doen wat jou Poolse gids vir jou sê. Ná die tyd het ek sy opgewondenheid verstaan. Dit was toe die reebok met die grootste stel horings van die hele jagtog. Behalwe vir die 10 reebokke het ons ook drie wildevarke gedurende die vierdagjag geskiet.

Die oggend vóór ons terugreis na België het die plaaslike weergawe van ons Fauna en Flora (Natuurbewaring) opgedaag om die amptelike dokumentasie af handel en die pryse vas te maak. Die prys van elke bok word bepaal deur die afgekookte skedel met die horings, maar sonder die onderkaak, te weeg. Die gemiddelde prys per bok was sowat R1000. Die varke se  prys word volgens karkasgewig bepaal.

Arthur het my vooraf goed gewaarsku om nie ’n werklike trofeebok te skiet nie, want vir skedels en horings bo ’n sekere gewig styg die prys tienvoudig of selfs meer. ’n Poolse jag soos ons s’n wat vyf reebokke, verblyf, permitte, die trofeevoorbereiding, gids en vervoer insluit, kos ongeveer R18000. Jagters is geregtig op die vleis van die bokke wat hulle skiet, maar Arthur was nie toegerus
om die vleis na België te vervoer nie, dus het ons gidse dit “geërf ” wat hulle baie breed laat glimlag het.

Terug in België het ek en Arthur ’n hele paar keer vroegoggend en saans wild gaan voorsit in ’n hochsitz. Dis ’n hoë stellasie waarin jy vir die wild wag en blykbaar die enigste wettige manier van jag wat in België toegelaat word. Jagters word verplig om afwaarts te skiet om sodoende die gevaar van opslagkoeëls uit te skakel. Die reël is ingestel weens België se hoë bevolkingsdigtheid.

Op die eerste oggend se voorsit het ek twee van Arthur se jagmaats ontmoet, Gert en sy broer August. Daar was groot vreugde en baie weidmannsheils toe ek die oggend my eerste Belgiese reebok tot my Europese jagkwota voeg. Gert het ook ’n ram geskiet waarna ons dadelik ’n heildronk op die twee bokke moes drink – douvoordag daar in die Belgiese bosse.

My Europese jag was ’n verrykende ervaring, iets wat ek wens elke Suid-Afrikaanse jagter kan beleef. Ek sal dié jag onthou solank ek lewe.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401