SA JAGTER/HUNTER | Januarie-Februarie 2021 | Deur FRANCOIS VAN EMMENES

Rietbokjag in mambawêreld

Ná maande se jag-onaktiwiteit het my kuite en bobene begin protesteer toe ek vir die soveelste keer bo-op ’n klip moes klim oppad boontoe. Die heuwel was vol van die klippe so groot soos kroegyskaste, wat goed versteek was tussen die amper kophoogte gras. Dié keer het ek eers op die klip gaan sit en my pistool, gelaai met “slangpatrone”, nog ’n keer nagegaan terwyl ek asemskep.

Die vorige dag het meneer swartmamba hom in die slagkamer, reg langs die jaghuis tuisgemaak en op versoek van die eienaar, Nico, het ons hom van kant gemaak. Dié slang was ’n gereelde besoeker op die werf en het ’n groot bedreiging vir die eienaar se kinders, personeel en honde ingehou. As ek reg onthou, was die mamba byna 3 meter lank en sy lyf so dik soos my voorarm. Dié wêreld het gewemel van die mambas. Op die eerste jagdag het ek amper op een getrap en die lang gras en klipperige terrein het my effe senuweeagtig gehad.

 

OP ’N RIETBOKJAG

“Hou maar daai ding reg,” het Nico hier langs my gefluister. Hy was duidelik ook nie op sy gemak nie. Ons was besig om rietbok te jag, en die enigste manier om by die grasvlakte, waar hulle altyd gesien word, te kom, was om oor die klipperige heuwel te klim. Bo aangekom, het ons eers rustig geraak en, met ons boude op die harde rotse geplant, het ons die wêreld voor ons met verkykers gefynkam.

 

Kort voor lank het ek ’n ram gewaar, oftewel net sy horingpunte. Die res van sy lyf was in die lang gras versteek. Die bok het rustig gewei en was binne skietafstand op so 150 meter. Die ram was nie baie groot in terme van horings nie en Nico was van mening dat ons beter kon doen. Ons het stadig terugbeweeg om agter die kruin van die heuwel verder te stap en toe weer tot bo geklim om die res van die vlakte te bestudeer. Die vlakte was egter dolleeg en ons is terug na die plek waar ons die enkele ram gesien het. Hy was nou sowat 200 meter ver en het stadig van ons af wegbeweeg, maar gelukkig in ietwat korter gras in.

 

Dit was die laaste jagdag en ek het besluit om, indien ek die kans kry, die ram te skiet, al was hy nie naby trofeegrootte nie. Die ondervinding sou vir my genoeg wees en dié jagtog het tot op daardie stadium vir my niks opgelewer nie. Ons het stadig nader aan die bok beweeg vir ’n beter skoot, maar die ram het ons gesien en laat spaander. Nico het die stokke opgeslaan en gefluister: “Maak reg, hy gaan nou weer staan en terugkyk.” En toe dit sekondes later gebeur, was ek reg vir hom. Die 165 grein Hornady InterBond uit my .30-06 het sy werk gedoen.

 

Die ram het 11 duim gemeet en omdat hy nog redelik jonk was, het daar uitstekende vleis daardie jaar op ons tafel beland... en gelukkig het ons nie nog ’n mamba raakgeloop nie.

 

MEER OOR DIE RIETBOK

Die rietbok, of common reedbuck in Engels, is natuurlik familie van die rooiribbok (mountain reedbuck), maar het geen familieverband met die vaalribbok (grey rhebuck) nie. Die Engelse name is ’n bron van verwarring vir baie jagters en selfs plaaseienaars. Die rietbok is aansienlik groter in lyf en horings as die rooiribbok en op ’n afstand lyk ’n jong rietbokram nes ’n rooiribbok – ’n gesoute oog is nodig om die twee uitmekaar te ken. Rietbokke en rooiribbokke kom soms in dieselfde gebiede voor, maar rietbokke verkies gras en vleilande as skuiling en word nie so gereeld in die rotsagtige heuwels, waarvoor rooiribbokke so lief is, aangetref nie.

 

Beide rietbokramme en -ooie het inguinale kliere in hul lieste. Dié klier is geleë in ’n sakkie wat so diep is soos wat ’n gemiddelde man se middelvinger lank is. Dit skei ’n reuk af waarmee hulle hul gebiede merk en maak blykbaar ook ’n “pop”-geluid wanneer hulle hardloop, maar ek het dit nog nooit gehoor nie.

 

Rietbokpryse het die afgelope paar jaar baie gestyg, maar ’n mooi, verteenwoordigende ram kan nog teen so min as R3 000 gejag word, mits jy jou huiswerk doen. Let wel, rietbokke is op die lys vir bedreigde of beskermde spesies (die sogenaamde TOPSregulasie), dus het jy ’n TOPSpermit nodig om een te jag.

 

Net soos rooiribbokke, is rietbokke ook bekend vir die skade wat hulle aan landerye kan doen, veral snags as hulle uit hulle grasskuilings kom om lusern en ander gesaaides te vreet. Hulle is meestal nagdiere, maar ek het hulle al ’n paar keer helder oordag gesien. Tydens ’n onlangse besoek aan ’n plaas naby Wepener teen die Caledonrivier, het vriend Lodewyk een aand 60 tot 70 rietbokke onder ’n spilpunt in ’n lusernland getel. Sommige mense “jag” die bokke so in die lande en sekere boere neem aan dis maar hoe dit gedoen word, veral op besproeiingsplase wat nie soseer jagbestemmings is nie.

 

Maar om ’n rietbok te voet te jag is ’n unieke uitdaging en geduld is hier die wagwoord. Hulle kan ure lank doodstil lê weggesteek in die gras. Onder sulke omstandighede is dit nie ongewoon vir ’n jagter of stapper om tot baie naby aan hulle te kom voordat hulle opspring nie, en net soos rooiribbokke, gee hulle ’n kenmerkende hoë, skril fluit terwyl hulle weghardloop.

 

Baie kere gaan staan hulle en kyk dan terug, en dit is wanneer die jagter reg moet wees om ’n skoot te neem. Rietbokvleis is van die beste wat ek al geëet het, en menige jagters stem saam. Ou, taai ramme is natuurlik die uitsondering, soos met alle ander wild. In biltongterme is hulle weens hul bogmiddelde prys per kilogram nie hoog op biltongjagters se lys nie en word hulle meestal vir hulle unieke trofeewaarde gejag.

 

Rietbokke is nie oormatige taai bokke om dood te skiet nie en enige kaliber – van .243 Win (met kwaliteitjagkoeëls) tot by .308 Win – sal die werk doen. ’n Lekker platskietkaliber in die 6,5mm-klas is volgens my ideaal, aangesien langer skote soms nodig is. ’n Goeie verkyker en teleskoop is hoogs aan te beveel om trofeekwaliteit te evalueer.

Ek en Lood by die mooi trofeerietbok wat ek op Otterskoolf gejag het.

WAAR KOM RIETBOKKE VOOR?

Rietbokke se wêreld strek histories vanaf die Oos-Kaap se kusstreke tot in die sentrale en westelike gedeeltes van die ou Transvaal, asook dele van die Vrystaat. Verder in Afrika is hulle wyd versprei en kom voor in Mosambiek, Zimbabwe, Noordelike Botswana, Namibië, Angola, die DRK en gedeeltes van Tanzanië en Rwanda.

 

Hulle is veral afhanklik van ’n vleihabitat met permanente water en die dekades lange verwoesting van vleilande het dié diere onder baie druk geplaas. Die wildindustrie se groei die afgelope 30 jaar het hulle verspreiding en getalle drasties laat toeneem, maar hulle is ook aantreklike teikens vir jagters wat onwettig met honde jag.

 

Die beste trofeë word ongetwyfeld in KwaZulu-Natal aangetref. In die 30ste uitgawe van Rowland Ward’s Records of Big Game kom 14 van die top-20-inskrywings uit dié provinsie. Elf van hierdie top-20 is die afgelope 20 jaar gejag. Die rekord staan op ’n allemintige 19½ duim, vir Wessel Maritz se rietbok wat hy in 2007 naby Wakkerstroom in Mpumalanga gejag het. Dis ’n goeie 6½ duim meer as die minimum kwalifiserende afmeting van 13 duim!

 

Die meetmetode is volgens metode 7-a, wat net soos in die geval van ’n springbok, reg teen die voorkant van die horing op gemeet word. Die horings het ’n sagte, amper rubberagtige band aan die onderkant van die basisse. Hierdie sagte basisse word nie gemeet nie en verdwyn dan gewoonlik ook as jou taksidermis die horings voorberei vir ’n Europese skedelmontering. Baie jagters meen die “mooiste” ramme is dié wie se horings uitermatig wyd is.

 

’N SPESIALE TROFEE

In 2019 het ’n gelukkie my getref. Ek was op Otterskloof in die Karoo vir ’n Hartmann se bergsebra en ’n swartwitpens. Vriend Lood en ek was op pad na een van die verste punte op dié prageiendom van 12 000 hektaar. Ons het agter op die Cruiser met Matt, die professionele jagter, gestaan en skerts, sonder om werklik aandag aan ons omgewing te gee. In die ry het iets bo teen ’n lae berg, aan ons linkerkant, my oog vir ’n oomblik gevang. Dit het my ’n sekonde of twee geneem voordat ek besef het wat dit was.

 

“Is hier rietbokke op Otterskloof?” het ek half versigtig vir Matt gevra.

“Hier is drie ramme, maar ons het besluit om hulle almal te jag. Hulle doen nie so goed in hierdie wêreld nie,” was sy antwoord.

“Dan moet jy maar vir Frikkie vra om die Cruiser te stop, Matt, want daar staan ’n mooi ram teen die hang hier agter ons,” het ek gemaak nonchalant gesê.

 

Matt wou my eers nie glo nie. Hy het self nog nie die ramme gesien nie, ten spyte van die feit dat hy al baie jagters daar vergesel het. Ons het so 400 meter verder die Cruiser tot stilstand gebring en Matt moes eers saggies oor die radio die jagprys met die kantoor bevestig. Die prys was sakpas vir my begroting en ons het stadig tussen die lae bosse teen die voet van die hang teruggestap in die rigting van die ram. Ek was gewapen met Lood se .300 Norma Magnum, aangesien ek bang was vir ’n moontlike ver skoot met my .375 H&H en sy matige 2 300 vps-koeëltrajek.

 

Die ram was steeds op dieselfde plek en ons kon so 200 meter van hom af ongesiens in posisie kom om te skiet. Hy het só gestaan dat ek die helfte van die vleis sou moes weggooi indien ek teen daardie hoek die skoot neem. Ons het geduldig gewag totdat die ram uiteindelik ’n paar treë vorentoe gegee het om aan ’n bossie te peusel. Ná nog ’n paar minute se wag was hy amper dwars en ek het Matt gevra om saggies te fluit. Toe die ram dit hoor, het hy plankdwars gedraai, verstar, sy kop gelig en voor hom uitgestaar. ’n Sekonde later was die .300 se kruishaar agter sy blad en ek het die sneller gedruk. Die ram het net daar neergeslaan en ’n paar doodskoppe gegee, toe is alles verby.

 

My Otterskloofrietbok het 13½ duim gemeet en beklee vandag steeds ’n spesiale plek in my trofeekamer. Lodewyk was tóé groen van jaloesie, maar het onlangs ook sy trofeeram gekry.

 

* Lesers word daarop gewys dat die SAJWV hul eie trofeerekordboek het, tesame met hul eie meetmetodes. Kontak Boetie Kirchner by 012-808-9300 vir meer inligting.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 84 554 0611

E-POS ONS | EMAIL US
SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon