EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 6 Augustus 2020

Remington veg om oorlewing

Remington Arms, een van Amerika se oudste wapenvervaardigers, het laas week om Hoofstuk 11-beskerming aansoek gedoen, wat volgens dié land se wetgewing ’n maatskappy wat op die rand van bankrotskap staan, toelaat om steeds besigheid te doen.

 

Dit is die tweede keer in soveel jaar dat dié geweervervaardiger bankrotskap in die gesig staar. Dit ten spyte van die feit dat wapenverkope in Amerika die hoogte ingeskiet het na die protesaksies wat gevolg het op die dood van George Floyd, na bewering aan die hand van die Minneapolis-polisie.

Remington het in Maart 2018 ook aansoek gedoen vir Hoofstuk 11-beskerming, maar het sedertdien ’n paar terugslae beleef wat die vervaardiger se pad na ekonomiese herstel belemmer het.

Een daarvan was die besluit in November 2019 deur die Amerikaanse Hooggeregshof om nie ’n regaksie te stop wat teen Remington gebring is, deur die families van die Sandy Hook-skoolslagting se slagoffers. Remington is die vervaardiger van die semi-outomatiese geweer wat in dié skietvoorval in 2012 gebruik is waarin 20 kinders doodgeskiet is. 

Nog ’n terugslag was Remington se onderhandelinge om die besigheid aan die Navajo-volk te verkoop wat in Julie 2020 skipbreuk gely het. Hulle het gehoop om met dié transaksie dit voorkom dat die maatskappy, wat meer as 200 jaar oud is, sy deure finaal sluit.

 

Remington is in 1816 in New York deur Eliphalet Remington II gestig, dekades voor van sy grootste kompetisie, Colt’s Manufacturing en Smith & Wesson, hulle deure geopen het.

 

Volgens oorlewing het Eliphalet sy eerste geweerloop by sy pa se smedery gemaak en toe na Utica gestap waar ’n plaaslike geweersmid vir hom ’n vuursteengeweer daaruit vervaardig het. So het hy begin om lope te smee en aan geweersmede landwyd te verkoop.

 

Hy het in die mid-1800’s ’n fabriek in Illion, New York, geopen waar dit vandag steeds is. Dié fabriek het gedurende die twee wêreldoorloë duisende gewere vir die weerwag gemaak en is selfs nou nog die ekonomiese ruggraat van Illion en die omliggende Mohawk-vallei. Die maatskappy, wat 2,700 mense in diens het, hoop om die Hoofstuk 11-beskerming te gebruik om sy skuld met $620 miljoen te verminder. Cerberus Capital Management, huidige eienaar van Remington, beplan om hul aandeel in die maatkappy te verkoop sodra die herstrukturering afgehandel is.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon