SAJWV SE REAKSIE:

23 APRIL 2020

Verslaggewer Elise Tempelhoff skryf in ’n berig, wat op 22 April op Netwerk24, sowel as in Beeld en verskeie ander dagblaaie verskyn het, dat die EMS-stigting, ’n geregistreerde niewins-organisasie, prokureursbriewe aan drie regeringsdepartemente gerig het om die slag, uitvoer en eet van wildsvleis in Suid-Afrika te verbied. Hulle voer aan hierdie aksie is nodig in die lig van die Covid-19-pandemie en die berig gee voorts redes hiervoor.

 

In reaksie het Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), dit duidelik gestel dat die inhoud van die berig beide misleidend en vals is. Volgens hom kom dit neer op onverantwoordelike joernalistiek. In ’n skrywe aan die onderskeie redakteurs van die koerante waarin die berig gepubliseer is, het hy die volgende punte rakende Tempelhof se artikel uitgewys:

 

1. SA voer reeds vir baie jare sonder probleme wildsvleis uit na verskeie lande;

 

2. Die wildbedryf is ’n belangrike bron van vleis vir plaaslike jagters sowel as landelike gemeenskappe;

 

3. Dit is geheel en al onrealisties om Chinese vleismarkte (waar die Covid-19-virus na bewering ontstaan het) te vergelyk met SA se hoogs gereguleerde vleisbedryf wat deur gereelde inspeksies aan baie hoë standaarde gehou word;

 

4. Wildsvleis is veilig en gesond, en die wild- en jagbedryf lewer jaarliks ’n reusebydra tot die Suid-Afrikaanse ekonomie;

 

5. Die feite waarop die EMS-stigting steun vir hulle versoeke aan die onderskeie ministers is foutief, en word nie deur onlangse navorsing gerugsteun nie;

 

6. Die betrokke berig kom neer op die verspreiding van vals nuus, veral wat Covid-19 aan betref.

 

Die SAJWV het reeds in Desember 2019 ’n hooggeregshofgeding teen die minister van landbou en registrateur van diereverbetering van stapel gestuur ten einde die lys van wildspesies, soos vervat in die bylaag van die Diereverbeteringswet, ongeldig te verklaar. In Mei 2019 is bykans elke inheemse wildspesie sonder die nodige konsultasie op dié lys geplaas. Die lysting van hierdie wildspesies as “landrasse” beteken dat intensief met hierdie diere geboer kan word, net soos met gewone produksiediere. Die minister het reeds by monde van die Staatsprokureur aangedui dat die SAJWV se aansoek nie teengestaan sal word nie.

 

Die SAJWV het voorts geëis dat ’n opvolgberig geplaas word ten einde die ware feite op die tafel te plaas.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon