SA JAGTER/HUNTER | Augustus 2020 | Deur JOHAN SNYMAN

Persoonlikhede en kalibers

Almal van ons het ten minste een vriend wat langs elke braaivleisvuur vir jou vertel hoe hy alles, van ’n duiker tot ’n olifant, met sy .30-06 sal aanvat en dat daar net eenvoudig nie ’n beter kaliber op die mark is nie. Ek weet al mý vriende het so ’n vriend, want dit is ék.

Ek het egter nie leer skiet met ’n .30-06 nie. Die Brno 7x57 was fisies die kleinste en ligste geweer in die kluis, en dus het elkeen van ons drie seuns, sodra ons die windbuks en .22 be meester het, aanbeweeg om met die 7x57 verder te leer skiet. Ongelukkig kan jy ook vandag duidelik sien dat daardie geweertjie drie jongmanne moes help grootmaak en leer skiet.

PA SE .30-06

Vir so lank as wat ek kan onthou, skiet my pa met ’n .30-06, gebou op ’n P14-aksie met ’n Musgrave-loop. Oorlede Ben Musgrave het die ombouing van die .303 na .30-06 reeds in die vroeë 1980’s vir Pa gedoen. Net soos elke klein seuntjie het ek geglo niemand kan skiet soos my pa nie en het ek hierdie .30-06 met die vreemde slotaksie kwaai bewonder.

 

Toe ek as agtienjarige basies my hele hoërskoolloopbaan se spaargeld bymekaar geskraap het om my eerste geweer te koop, was dit gevolglik glad nie vreemd dat my keuse van kaliber, ’n .30-06 was nie. Hierdie skrywe gaan egter nie oor die .30-06-kaliber of my eerste geweer nie, maar ek probeer net illustreer watter invloed my pa se keuse van geweer op my keuse gehad het.

 

Ek is redelik seker die meeste van julle het uit die eerste paar sinne reeds ’n opinie oor my en my persoonlikheid gevorm. Hierdie opinie is uitsluitlik gebaseer op die tipe kaliber wat ek verkies en, meer spesifiek, waarom ek dit verkies, en dit is waaroor ek wil gesels. Dit strek so ver as die verskillende persoonlikhede in die jagwêreld, hoe dit aansluit by ons keuses van kalibers en toerusting, asook hoe ons dan hierdie inligting gebruik om ’n opinie oor iemand te vorm.

TWEE GROEPE JAGTERS

Ek is van mening dat alle jagters basies in twee groepe verdeel kan word, naamlik: modern en sentimenteel. Die moderne groep is die ouens wat die kalibers verkies wat vir Oupa net so volksvreemd sal klink as termes soos “vegan”, “yoga” of “eco-friendly”.

 

Die sentimentele groep, daarenteen, is die ouens wat kalibers verkies omdat Pa, Oupa en almal voor hulle in die stamboom, hulle verkies het. Net soos enige ander stelling of reël is daar uitsonderings, en dis onmoontlik om hierdie twee groepe teen mekaar op te weeg sonder om hier of daar op ’n toon te trap, maar ek gaan my bes probeer.

 

Ons bevind ons in ’n tyd waartydens jy vandag in ’n geweerwinkel kan staan met ’n reuse-hoeveelheid kalibers om uit te kies. Draai jy egter om en kom volgende week terug, kan ek jou amper belowe dat daar nog twee nuwe opsies sal wees. Die lys van kalibers groei op die oomblik teen ’n geweldige tempo in vergelyking met jare gelede – só vinnig dat ek al gehoor het van mense wat ’n geweer in ’n spesifieke kaliber gekoop het, maar voor sy aansoek vir die lisensie afgehandel is, was daar reeds ’n nuwe kaliber op die mark. (Dit kan dalk iets van ons wetgewing se aansoekproses ook sê, maar dit daar gelaat.) Dan word die oorspronklike kaliber verkoop sonder dat daar ooit ’n skoot geskiet word en die nuwe kaliber word dadelik aangeskaf.  Ek het al gewonder wat sal gebeur as daar dan weer ’n nuwe en “beter” kaliber op die mark kom? Word dieselfde proses dan herhaal? Wanneer kom so ’n ou ooit in die veld met sy nuwe geweer?

 

Tussen my en my twee broers het ons verteenwoordigers in beide van hierdie twee groepe. Soos julle seker reeds kon aflei, neig ek meer in die sentimentele rigting wat my eie kaliberkeuses aanbetref. Sentiment is vir my belangrik, daarom onthou ek vandag nog dat ek my eerste koedoe as elfarige op 28 Mei 2005 geskiet het. Dit was vir my ’n spesiale dag en iets wat ek eendag as ek oud is, steeds wil onthou. Ek onthou die kaliber waamee ek geskiet het, die plek op die plaas waar dit gebeur het, en my pa se woorde na die bul die grond getref het.

 

Alhoewel ek baie sentimenteel is, is ek nie blind vir die verbeteringe wat tegnologie na ons bedryf gebring het nie, en gaan ek na alle waarskynlikheid ook eendag ’n moderne kaliber besit. Die feite is net te duidelik om so ’n oorweging te kan ignoreer: Die nuwe kalibers word meestal ontwerp om sommige van die swakpunte in die vorige kalibers aan te spreek.

 

Die teenargument is natuurlik dat ’n kaliber soos die .30-06 in 1906 ontwerp is (eintlik ’n jaar of twee voor dit, maar kom ons kloof nou nie hare nie). Na meer as 100 jaar word dit vandag nog as ’n gewilde kaliber gesien en vervaardigers hou aan om dit te vervaardig. As daar fout met die kaliber was, sou vervaardigers sekerlik al die vervaardiging daarvan gestop het?

 

ONTHOU EN WAARDEER

Sentiment in die jagveld strek oor ’n wye spektrum van onthou en waardeer. Die ou wat sentiment heg aan sy keuse van kaliber, heg waarskynlik ook sentiment aan ’n hele paar ander goed in die veld: ’n Spesifieke koppie, ’n mooi weggesteekte kloof, of dalk ’n knipmes. Dis dan ook hý wat stories oor byna elkeen van sy bokke kan vertel. Vir hom is die belangrikste deel van enige jag die ervaring daarvan. Hy neem ’n wavrag vol herinneringe huis toe, en nie noodwendig vleis en trofeë nie.

 

Hierdie hele bedryf van ons kan as’t ware as ’n ekosisteem beskou word. Elkeen van ons met ons verskillende opinies en voorkeure vorm ’n integrale deel van hierdie sisteem. Die moderne ouens is die dryfkrag na groei in ons bedryf, en vir so lank as wat daar ’n behoefte na nuwe, verbeterde kalibers bestaan, gaan vervaardigers uit hulle pad om dit te verwesenlik.  Of jy dit nou wil glo of nie, op ’n manier gaan ons almal by hierdie groei baat. Handelaars maak waarskynlik ook staat op hierdie ouens om inkomste te genereer, want met elke verandering wat gemaak word, kom inkomste na hulle kant toe.

 

Die sentimentele verteenwoordiger bring aspekte na vore wat nie in geld gemeet kan word nie. Hierdie tipe manne is nodig sodat ons vir die aanvallers teen ons bedryf kan wys dat daar ’n groter prentjie is wat in ag geneem moet word. Ons is allesbehalwe ’n groep bloeddorstige moordenaars. Hiermee sê ek nie dat die moderne ou die jagbedryf se beeld skade berokken nie, ek dink net die sentimentele groep vorm ons eerste linie van verdediging in die geveg om ons bedryf aan die lewe te hou. Verder is dit ook belangrik dat ons die jongelinge in ons bedryf vroeg moet leer dat jag oor veel meer as net die doodskoot gaan.

 

In kort: Jagters is, net soos vissermanne, baie lief daarvoor om mekaar so ’n bietjie gas te gee oor hul voorkeure in toerusting. Die meeste van hierdie argumente vind in baie goeie gees plaas, maar ek het ook al gesien dat sekere manne warm onder die kraag van so ’n gesprek af wegstap.

 

Ons kan egter soveel gas soos wat ons wil vir mekaar probeer gee en mekaar probeer oortuig waarom dít beter is as dát. Die feit bly staan, net soos in enige ander ekosisteem, kan die een nie sonder die ander een bestaan nie. Sommige van ons neem dalk langer as die res om die waarde van verandering raak te sien, maar wanneer ons besluit om toe te gee tot die druk, wil ons graag ’n beter opsie hê om oorweeg. Die moderne groep gaan sorg dat hierdie opsie vir jou beskikbaar is wanneer jy reg is daarvoor.

 

Gaan ons bedryf tot niet, is die bestaan van beide hierdie groepe daarmee heen. Waardeer mekaar se verskille – alles in ag genome is daar steeds een ding waaroor ons almal saamstem: Jag is lekker en vir elkeen van ons beskore.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon