SA JAGTER/HUNTER | Februarie 2020 | Deur DAWIE STRAUSS

Papelellekoors

Asof uit die niet het die koedoebul vanuit ’n klein lopie skaars 40 treë ver, voor my kom staan. Ek het gespook om die skietstokke in posisie te kry en die koedoe het koers gekies. Op sowat 250m het hy vasgesteek en met my geweer uiteindelik op die stokke, het ek geskiet. Die bul het effens gesteier en toe agter ’n klompie koeie aangehardloop.

 

Ek en Elvis het die bloedspoor gevolg. Aanvanklik was daar baie bloed, veral waar hy oor twee kampdrade moes spring. By die derde kampdraad het ons gesukkel om die plek te kry waar hy oor is en eers toe Ian, my skoonseun, en sy gids bykom, het ons ’n bloedspatsel gekry. In hierdie kamp het hulle sopas ’n trop lammers se sterte afgesit en die skape se spore en lammers se stertjies, wat soms nog effens gebloei het, het gemaak dat ons die spoor glad nie verder kon volg nie. Die volgende dag het ek saam met my kleinseun, Handrè, in die aangrensende kamp gejag met die hoop dat ons dalk die koedoe sou raakloop. Hier het ek twee maklike skote op ’n damhertooi gemis.

 

Op die laaste dag van ons jaarlikse jag op Mount Marlow in die Cradock-distrik het Handrè en ek in die kamp met die mooi naam, Daggapit, gejag. Morkel, sy pa, het die vorige dag ’n mooi springbokram daar gesien. Op pad soontoe het ons op ’n vlakvark afgekom en omdat ek, behalwe vir die gekweste koedoebul, nog niks gehad het nie, het ek besluit om te ook mis was, het die vlakvark teen ’n miershoop vasgehol dat jy net stukke grond sien spat en toe het hy in ’n turksvybos sy laaste asem uitgeblaas. Reg in die middel van sy voorkop het ’n groot turksvydoring vasgesit – volgens Handrè die oorsaak van die vark se dood.

 

Die dag het darem mooi afgesluit met ’n plan wat presies gewerk het. Ons gids, Dodo, het die springbokke skrikgemaak en hulle het draf-draf na ons toe aangekom waar Handrè en ek in die skadu van ’n boompie gewag het. Die ram was voor en toe hy op net oor die 100 meter plankdwars vassteek, het

Handrè se skoot geklap. ’n Pragtige hartskoot.

 

SIEKTE WAT TELKENS TERUGKEER

Op bladsy 90 van dr. Lukas Potgieter se boek Fonteintjies langs my geweerpad, skryf hy onder andere as volg oor ’n jagter:

“Hy dra nie ’n “panga” aan sy heup nie. Hy dra nie sy blink patrone in ’n bandolier nie. Sy patrone ratel nie in sy sakke nie. Hy vloek nie ’n erdvarkgat as hy toe-oog in hom trap nie. Hy geniet die veld, die boom, die kewer en die mier. Wanneer hy ’n bok sien, is hy kalm. Hy kry nie ontydig papelellekoors nie.”

 

Soms, na baie jare se jag, kry ek nog steeds papelellekoors en een boksoort wat my daardie verskriklike siekte gee, is ’n mooi koedoebul. Want wat anders het my op dié jag soveel foute laat maak? Die bok was so naby aan my. Waarom het ek nie uit die vuis uit geskiet nie? Selfs die gids wat al verskeie kere saam met my gejag het, het my dieselfde vraag gevra. Die tweede fout. Waarom het ek so ’n ver skoot uit ’n staande posisie geskiet? Daar is min dinge vir my slegter as om te gaan slaap en te weet dat ek ’n gekweste dier in die veld gelos het.

 

Wat die papelellekoors nog erger maak, is dat dit, soos malaria, herhalend voorkom. Waarom anders het ek nog ’n paar maklike skote verbrou? My pa het my egter geleer dat, as ’n perd jou afgooi, jy dadelik moet opklim en weer probeer. Daarom het ek die uitnodiging van my skoonseun, Ian, om later dieselfde jaar by Bokkraal in die Groot-Marico-omgewing te gaan jag, dadelik aangeneem.

 

Ons is van Koster af na Bokkraal toe en hoe nader ons aan ons bestemming gekom het, hoe minder het die omgewing vir my na jagwêreld gelyk. Dit was nog platter as die Vrystaat waarvandaan ek kom. Toe ons egter die volgende dag die jagplaas betree, was my verwondering baie groot. Hier het Moeder Natuur deur eeue heen diep in die gesteentes ingekerf. ’n Pragtige panorama van diep klowe, hoë bergplato’s en helderskoon, kabbelende waterstroompies het ons begroet. Die omliggende waterhoudende dolomiete veroorsaak ook dat die strome en riviere konstant deur fonteine gevoed word. Die water uit die dolomiete is ook verantwoordelik vir die ontstaan van die pragtige Tufa-waterval.  Ons het by Ian se oom en tannie, die gasvrye Chris en Louise Oberholzer, tuisgegaan en op die buurplaas, Rehbokfontein, by nog ’n familielid van Ian, Jan de Beer, gejag.

 

KOEDOE WAT MY KOORS TEM

Met ’n vlakvark en waterbokkoei reeds in die koelkamer het die laaste jagdag aangebreek. ’n Yskoue suidewind het ons laat bibber agterop die jagbakkie. Vanaf ’n uitkykpunt het die gids, Johannes, koedoekoeie in die volgende kloof gesien. Pieter du Plooy, die plaasbestuurder, het vir my en twee gidse afgelaai waarna ons al op die plato langs na die kloof gestap het. Van die rand van die plato het ons die kloof bespied. Iets moes die koedoes gewaarsku het want hulle was reeds besig om die oorkantste hang uit te klim. Onder hulle was ’n pragtige bul. Toe hy teen die steil hang vassteek en omkyk, het my skoot geklap. Ons kon duidelik hoor en sien dat dit raak was, maar hy het nie geval nie. Voor hy uit sig verdwyn het ek nog ’n skoot ingekry, ook raak. Die gids wou my dadelik gelukwens maar ek het hom aangeraai om eers te wag todat die bul op die bakkie is.

 

Ek was redelik seker van my eerste skoot maar die tweede was op ’n vinnig bewegende teiken en my gevoel was dat ek te min toegelaat het. Die gidse is in die kloof af om die spoor te volg en ek is terug bakkie toe. Met die bakkie het ons om die bo-punt van die kloof gery en op die volgende plato by die gidse aangesluit.

 

Daar was baie bloed en ons het die spoor vinnig gevolg. Op die rand van die volgende kloof het die voorste spoorsnyer die bul wat daar onder ’n boom gestaan het, skrikgemaak en hy is weer in die kloof af. Ian is agter hom aan terwyl die res van ons bo bly staan het sodat ons hom kon skiet, sou hy aan die oorkant uitkom. Onder in die kloof het ’n skoot geklap en Ian het geroep dat hy geval het maar dadelik weer uitgeroep dat hy opgestaan het en kloof-af beweeg.

 

Uiteindelik het hy aan die oorkant uitgekom en ek en Pieter het elk nog ’n skoot ingekry. Maar die bul het aanhou hardloop. Ek het plat gaan sit en oor my knie dooierus gevat en met dié skoot het die bul geval. Dit was ’n pragtige bul, die grootste wat ek nog geskiet het.

 

Behalwe vir my tweede skoot (die hardloopskoot) was al die ander in die enjinkamer – twee uit my .30-06 met 180gr-koeëls, een uit Pieter se .30-06 en een uit Ian se 6.5. My finale skoot is reg agter in die nek net onder die kop in. Soms is selfs koedoes net ongelooflik taai.

 

Die herwinning van die bul was moeilik. Bo-op die kloof het Pieter die bakkie, wat met ’n wenas toegerus is, geparkeer. Groot klippe is voor sy wiele ingerol en met die kabel wat meer as 200m lank is, is die koedoe uit die kloof getrek. Ek het verwag dat die vleis erg gekneus sou wees, maar slegs die vel was blink geskuur. Die hart en longe was voos geskiet en die bul sou heel waarskynlik ’n entjie verder self geval het.

 

Hierdie jag was die regte medisyne vir my siekte en my jagte daarna was veel meer suksesvol. Ek hoop ek is nou vir altyd ontslae van papelellekoors.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon