EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 15 Augustus 2019 | Deur JO VAN TONDER

Die luukse geriewe vir die vrou en die kindertjies, wat saam met Pa jagplaas toe gekom het, was beperk tot vaalgrys doringrige Thabazimbi-bosse, een groot hoop rooi bousand en ’n sinkbad – wat ons uit die veldkombuis ge-zoi het – onder ’n koue stort. 

Oom Joe, Pa en die “gids” het die hele wildplaas platgeloop vir twee sonsteekdae lank en baie spore gesien. Teen die kombuis se muur was daar ’n lang lys van die boksoorte op die plaas en die pryse vir elkeen. Daar was ook ’n lys van die wat nié geskiet mag word nie, soos die jong blesbok-ooie wat nog moet teel. Die rooikatte is verniet. 

Maar teen die einde van die tweede dag hou my man by sy teorie: Hierdie boer betaal ’n boesman om spoortjies te maak met kieries wat bokpootjies aan het. Hier is g’n wild nie!

Oom Joe en die veldwagter is weer Saterdag die rantjies in en Pa het verversings gevat en lank by ’n watergat gaan sit en wag; toe lank teen ’n boom gelê en later in die koelte op die naat van sy rug geslaap, totdat ’n rooikat ’n paar tarentale opgejaag het. Pa het aangelê, maar die dier se groot uiloë het net na sy kant toe geloer met die klikgeluid... Hy het vergeet om die veiligheidsknip af te haal. Hy het weer probeer en dié keer het die rooikat gat oor kop geslaan toe die patroon uit die .270 hom tref.

Teen Sondag besluit die bek-af manne om die verveelde vroue vir oulaas op ’n “wildrit” te neem. Seker net om aan ons te bewys dat daar regtig nie bokke op die plaas is nie en dat dit nie hulle skuld is as daar niks biltong saamgaan huis toe nie. Die ego’s was net-net bokspoorhoogte, want ons het ook die baie bokspoortjies gesien...

 

Maar toe ons oor ’n kliprantjie ry, staan ’n troppie jong blesbokke daar en “thank you... thank you... thank you...”
 

Joe stop die Jeep net daar op die kruin en skakel die enjin af. Dis ’n pragtige uitsig met die bokkies wat so rustig wei hier reg voor ons teen die klipperigheid en die grasgroen spruite wat danksy die vroeë reën begin uitloop het.

Maar op die sitplek links voor het Joe die ‘kyk’ in sy oë gekry. Die kyk van biltonge wat winddroog hang en boklewertjies in ’n brandewynsousie. Daar gaan nie ’n winter verby dat hy nie iets vir die pot skiet nie. Sy vrou is ’n voorslag met die opsny en verwerking van die vleis en boonop kan sy ’n lip-aflek-lekkerbekpastei maak. En hier bring hy nou kuiergaste, sommer stadsjapies, wat nie die verskil tussen ’n kettie, ’n .308, ’n haelgeweer of ’n windbuks ken nie, en ons het ’n rooikatvel wat gesout in die slaghuis lê.

“Joe...?”

Hy gly soos ’n luislang van die Jeep se sitplek af en haal die .30-06 oor. 

“Joe, wat doen jy...?”

Joe praat nie. Sy oë is vasgenael op die bok. 

“Joe, jy weet ons mag nie die blesbokke skiet nie!” 

My man begin rusteloos rondskuif agter die stuurwiel.

“Ek weet ons mag nie ooie skiet nie.” sis Joe, “En ek weet die ramme is duurder as gewoonlik, maar ek gaan wragtag NIE vandag met daai leë koelboks huis toe NIE!”

Joe sluip katvoet om die gekamoefleerde voertuig en kry sy staan so ’n entjie verder bult-af. Kolskoot. Die bok sak op die plek op sy knieë neer en bly net so lê. Die trotse jagter kom bêre die geweer en stap met ’n huppel en kop omhoog op die bok af. 

Toe hy so vyf treë van die bok af is, skree hy jubelend vir ons oor sy skouer: “Dis ’n mooi ram!”

By die bok, buk hy, gryp hy die een agterbeen en dop die bok pens-om. 

Hy skree weer vir ons skouerlangs, minder jubelend, meer bekommerd: “Dis ’n ooi!”

Twee dinge wat my bybly oor die spesifieke jagnaweek is eerstens, dat Manlief trots die rooikatvel ingegee het by ons plaaslike taksidermie, om ’n mat van te maak. Een van daai wat so plat lê en vir jou kyk. Wat toe pote gekry het; dis nou die vel en die taksidermis.

Die ander ding is dat ons nie ’n kerfseltjie van daai duur blesbokbiltong geproe het nie. Dis soos goud bewaar. Want weens persoonlike, onnoembare, huislike redes het Joe nie die volgende jaar gaan jag nie...

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon