SA JAGTER/HUNTER | September-October 2021 | Deur DANIE JAMNECK

’N “PRESENT”-GEWEER

Ek wou eintlik nog nooit ’n .30-06 gehad het nie. Ek het altyd gesê my .375 H&H Magnum is meer as voldoende as my bosgeweer, veral omdat ek ’n lading daarvoor ontwikkel het wat geensins warm is nie en baie goed op gewone bosveldwild werk.

 

Ek het altyd die .30-06-aanhangers verpes deur te sê dat dit te hard skop vir wat dit lewer. Natuurlik was dit ’n baie lekker kampvuur-onderwerp en ek moes menigmale onder die voorstanders van daardie kaliber om die vuur deurloop! So het ’n maat van my toe ’n .30-06 in CZ gekoop en ek het hom gaan help om dit in te skiet. Dit was sy eerste geweer en ek het ook ’n skietkans daarmee gekry. Dit was niks besonders nie, maar ’n baie lekker werksgeweer. Soos dit maar gaan, het my gedagtes begin draai in die rigting om vir my dalk ’n soortgelyke geweer aan te skaf. Natuurlik het ek my gedagtes ver weg gehou van die manne wat ek altyd so oor dié kaliber verpes het!

 

Verlede jaar het ek een Woensdag besluit om van die kantoordruk weg te kom en by Safari Outdoor in Pretoria te gaan inloer. My vriend Jaap sê altydw anneer ’n mens na daardie winkel toe gaan, dit beter is om die beursie by die huis te los, want jy koop maklik goete wat jy nie werklik van plan was om te koop nie... Soos die toeval dit wou hê, was hulle sowaar besig om nuwe CZ’s uit te pak – die uitgawe wat Ebony Edition heet. ’n Geweer met ’n donker gevlamde kolf in .30-06 het my oog gevang. Toe ek hom opgooi, het ek geweet, net soos wat Snotkop se liedjie sê: “... hier is moeilikheid...”!

MOEILIKHEID

Ek het hulle gevra om die kwotasie uit te druk en die spesifieke geweer vir my tot die naweek te hou. Daardie aand het ek my vrou van die geweer vertel. Sy het so terloops oor die koste daarvan uitgevra, waarop ek haar die kwotasie gewys het. Toe ek die volgende oggend die kwotasie soek, was dit nie meer waar ek dit neergesit het nie, maar in my vrou se kantoor.

 

Daardie aand het ek besluit om wel dié wapen te koop en was van plan om vroeg die volgende oggend die fondse van die kantoor af oor te plaas. Ek het my vrou oudergewoonte gaan groet. Toe sy die kwotasie in my hand sien, wou sy weet waarheen ek op pad was. Ek het verduidelik en sy het met ’n skelm laggie gesê sy het dit klaar betaal – dit was my “present”! Wat ’n lekker verrassing so op ’n Donderdagoggend!

 

Ek het die geweer weer gaan bekyk, die papierwerk voltooi en die lisensie-aansoek ingedien. Dit is altyd sleg as ’n mens iets koop, klaar daarvoor betaal en dan maande vir die lisensie moet wag. Soos dit dikwels gaan, en ondanks al die moeite wat ’n mens met ’n aansoek doen, gebeur dit soms dat dinge net nie lekker wil werk nie. Ná baie onnodige vertragings was ek verheug toe ek uiteindelik die oproep kry dat die lisensie goedgekeur is en ek my geweer kon gaan haal.

 

’N GOEIE BEGIN

Ek het so gou moontlik die proses begin om die nuwe loop in te skiet. Die oomblik toe dit afgehandel is, het ek een van my bestaande teleskope opgesit en begin instel. Van die eerste skoot met hierdie “present”-geweer het ons mekaar gevind en het ek sommer geweet dat dit ’n hartsgeweer gaan word.

 

Vir die eerste keer in baie jare het ek die ou drie-en-driekwart by die huis gelos en met die “present”-geweer loop jag. Die jag was gereël op Pongola, een van my lieflingplekke. My gedagte was om ’n koedoe, njala en ’n rooibok of twee in die visier te kry.

 

Dit was warm toe ons die middag teen ongeveer 15:00 op die plaas Dreyersrust aankom. Ons is  uit ’n koue 30-Pretoria weg, en hier was dit ’n stewige 300. Omdat dit Sondag was en die manne nie wou jag nie, het ons ’n draai deur die plaas gaan ry om ’n idee van die uitleg te kry. Aan die oostekant van die plaas was ’n redelike hoë berg met pragtige uitsigte oor die plaas waar ek grootgeword het en die omgewing. Dis werklik ’n spogplaas, maar ongelooflik ruig. Ek het besef ons sou hard moes werk en baie seker van ons skootplasing maak.

 

Sommer daardie middag reeds het ek besluit om die berg uit te klim; deels vir die uitsig, maar ook omdat ek gedink het dat die diere rustiger sou wees. Ons het daardie aand om die kampvuur baie geniet in die jagkamp, wat ’n mens nie eintlik so moet noem nie. Dit is een van

die mooiste plekke waar ek nog gebly het en staan geensins terug vir die duurder lodges in die privaat wildtuine nie. 

 

Maandag het ek vroegoggend teen die steil berg opgesteier. Die ou knieë het maar gesukkel oor die los klippe, om van die enkels nie te praat nie. Ek moes kort-kort gaan staan. Dit was werklik steil en met die gesta- nery het ek telkens vashouplek gesoek, want dit het gevoel asof ek gaan tuimel.

 

Elke keer wat ek gaan staanhet om asem te skep, het ek my egter in die asemrowende uitsigte verlustig. Die westelike berghang waarteen ek uitgebeur het, lê aan die oostekant van die dorpie Pongola. Dis my groot-word-dorp en ek het die pragtige vergesig oor my hartswêreld ingedrink. Hierdie tyd van die jaar is die boere al sterk aan die oes en die suikerlande is ’n groene rykdom van kleure. Sommige boere was besig om die lande te brand, wat tot die besonderse uitsig bygedra het.

 

Dan was dit weer vorentoe, boontoe. Ek is agter ’n trop rooibokke aan wat ek vroegoggend op die berg gewaar het. Alhoewel dit al ver in die jagseisoen was, het min jagters die bergsteiltes aangedurf en die rooibokke was dus heel rustig. Die troppie was besig om teen die berg uit te wei en glad nie haastig nie.

 

Ek het hulle die eerste keer ’n hele paar loodregte meters ondertoe gewaar, maar hulle was duidelik op pad om aan die sonkant van die berg te gaan wei waar die wintersonnetjie hulle warm kon bak. Ek het die ooie se slanke nekke al ’n paar keer onder oë gekry, maar dit was gans te ruig vir ’n skoot.

 

’n Paar jaar gelede het ek aanvanklik gedink dat die kamoefleerdrag wat deesdae so populêr is, bloot ’n geldmaakfoefie is. Ek het egter mettertyd my opinie verander. ’n Klompie van die diere in die trop het my al ’n paar keer beloer, maar ek het telkens bloot stil gaan staan, my kop met die camo-hoed laat sak sodat ek nie blink nie, en rustig gewag. Die bokke het nie een keer geblaas of laat spaander nie.

 

Die windjie, wat van die regte kant af geroer het, het ook gehelp. Ek het moeite gedoen om heeltyd te sorg dat daar ’n groen bos agter my is. Dit sou help om die silhoeët van my groot lyf te verskans. My plan was om die troppie te volg totdat ek op ’n plek kom waar ek ’n skoot kon inkry. Dit was nogal ongemaklik met die geweer in die een hand en die skietstok in die ander. Die feit dat daar nie ’n gids by was nie, het dit egter makliker gemaak om die bokke te bekruip.

 

Ek het besluit om nog ’n entjie vorentoe te klouter tot by ’n spesifieke bos waar ek sou rus. Net voor ek daar kom, kon ek meer van die troppie sien as net die nekke; ek was baie naby aan hulle. Ek het gesukkel om die skietstok mooi oop te maak. Net toe dit staangemaak is en ek in ’n gemaklike posisie probeer kom om my geweer daarop te rus, het ’n skoot van een van my medejagters elders op die plaas weergalm. ’n Mooi ooi het skielik opgekyk – reg in my oë vas!

 

Die ooitjie se lyf was snaarstyf gespan, ore vorentoe gedraai. Ek kon sien sy was baie wantrouig. Al was ek in ’n ongemaklike posisie, het ek verstar. As ek nou my teenwoordigheid verraai, sou al die harde werk van die laaste uur of wat daarmee heen wees. Sy het my beloer terwyl haar kop op en af en heen en weer beweeg. ’n Jongerige ooitjie het ook begin belangstel en my ’n goeie vyf minute doodstil staan en beskou. Daarna het eers die jong ooitjie en toe die ou een hul koppe laat sak om verder te wei.

 

Gelukkig ken ek rooibokke en het roerloos bly staan. Nes ek vermoed het, het die groot ooi omtrent dadelik weer haar kop gelig en stip na my gestaar. Sy het dit nog twee keer gedoen voor sy besluit het dat alles in orde was. Daarna het sy aan ’n boompie langs haar begin peusel en verder beweeg. Ek het nog ’n rukkie gewag, my beendere en spiere uit hul styfheid losgekry ná die ongemaklike stanery, en verder boontoe aangesukkel. Weens die steilte was dit bykans onmoontlik om te skiet en ek het begin wonder oor die wysheid van my besluit om daardie oggend die berg te takel. Om egter nou op te gee sou eenvoudig nie werk nie. Ek het besluit om deur te druk tot bo, waar ek weet hulle aan die sonkant sou staan en wei. Mis- kien sou ek daar ’n kans op ’n skoot kry.

 

’n Paar steil meter verder waar die berg skielik begin afplat om ’n effense plato te vorm, het ek weer in die bokke vasgeloop. Ek het besef dat ons byna bo was. Hulle was sowat 50 meter van my af, maar dit was te ruig om naby hulle te kom. Die troppie was groter as my aanvanklike skatting van 15 diere; daar was sowat 30 stuks. Wat ook gepla het, was dat die bokke nou taamlik verspreid was op die kruin en dat ek feitlik in die middel van die trop was.

 

Ek het besef dat dit die plek is waar ek my ding sou moes doen. Stadig het ek die skiet- stok, wat as wandelstaf die steil berg uit gedien het, oopgemaak. Ek het die geweer versigtig daarop neergesit en die wêreld deur die teleskoop bespied. ’N Mooi ram het vir ’n vlietende sekonde in die teleskoop verskyn en gaan staan. Sy vitals was egter agter ’n boom en ek het gewag dat hy ’n beter skoot bied. Toe hy begin beweeg, het ek die geweer vaster teen my skouer getrek. Die maat het egter besluit om, met die boom tussen my en hom, boontoe te stap.

 

’n Ent regs van my af het ’n ooi haar linkeroor gekrap, maar sy was klein. Dit was ruig en hoewel ek op verskeie skietbare bokke aangelê het, was daar elke keer net te veel takke. Ek kon nie ’n goeie skoot op ’n mooi groot bok kry nie en sou moes oppas dat ek nie kanse waag nie. Gelukkig het ek besef dat dit net nie die moeite werd was nie en dat ek rustig moes wees. Ek wou werklik nie my eerste jagskoot met my “present”-geweer opmors nie. Ek het ook besef dat ek reeds 20 minute hier staan; omdat ek omring was deur die bokke kon ek dit nie durf waag om te beweeg nie. Kort-kort was daar een wat my beloer. Ek het egter half in die beperkte skadu van ’n knoppiesdoring gestaan, wat met die kamoeflering en weerkaatsing van my teleskoop gehelp het.

 

EERSTE SUKSES

Sowat 30 meter van my af was ’n plat rots. Ek het opgemerk dat die rooibokke stelselmatig oor daardie rots stap na waar die sonnetjie lekker skyn. Reg by die rots was ’n gaping van 2 meter wat nie deur takke versper is nie en waardeur ek die bokke mooi kon sien. Ek het besluit dit is waar ek my bok sou moes plattrek. Baie versigtig het ek my voete geskuifel om in ’n posisie te kom sodat ek daarheen kon aanlê. Ek het besef ek moet gereed wees om te skiet en dat ek vinnig sou moes skiet as die kans hom voordoen. Die geweer het op die stokke gebly en ek het na die rots se kant gemik. Dit was asof die bokke nou effe haastiger raak en hulle het vinniger na my skootvlak begin aanbeweeg.

 

Eers het ’n mooi ooi op die rots vasgesteek, waarna die ram voor haar ingeskuif het. Ek het ’n stil gebed opgestuur dat die ooi uit die pad moes beweeg. Hulle het ’n rukkie so saamgestaan. Daarna het die ram vorentoe gestap met die ooi agterna.

 

My moed het in my skoene gesak. Net toe steek die ram vas, kyk half in my rigting, en die ooi beweeg agter hom uit. Nou was my kans! Met dié dat die kruis- haar gemaklik in die middel van sy nek vassteek, het ek stukkend geknyp. Hy het dadelik uit die teleskoop verdwyn. Ek het oudergewoonte die plek van waar ek geskiet het, met ’n stukkie witgoud gemerk voordat ek nader gestap het.

 

Dit was ’n perfekte nekskoot en die mooi ram het net daar waar hy gestaan het, inmekaargesak. Dit was letterlik op die kruin van die berg. Ek kon nou die bolope van die Jozinidam in die ooste, sowel as die kom van Pongola in die weste sien. Dit was ’n ongelooflike gesig en my dankgebedjie was heelwat langer as gewoonlik.

 

Ek het die afstand teruggetree na die plek waarvandaan ek geskiet het: 24 meter. Ek het weer eens besef hoe goed camoklere werk.

 

Wat ’n absolute voorreg om op só ’n wyse my eerste bok met my “present”-geweer te kon skiet. Hoe lank het ek hulle nie bekruip nie; hoe lank het ek nie in die middel van die trop op ’n

skietkans gewag nie. Dit is mos waaroor jag gaan, of hoe?

 

Ek moet natuurlik bieg dat die dra van die ram teen daardie berg af, geweer en skietstok inkluis, nie ’n grap was nie! Was dit nie vir die hulp van my goeie vriend Jaap nie, sou ek seker nou nog daarmee besig wees!

 

Die trippie het toe nou nie die njala of koedoe opgelewer nie, maar selfs met net drie een- skoot-rooibokke was ek doodtevrede met die jag en my present. Ek glo ons twee gaan nog baie mooi paaie saamloop en ek kan nie wag vir volgende jaar se jagseisoen nie!