Om Eunia se tafel | 1 September 2019 | Deur EUNIA BARNARD

'N ONTHOUPOT

Pak een vir die langpad en die lewe...

Potjiekos of bredie is my gunsteling-winterkos. Ek hou van die eenvoud daarvan. ’n Handvol speserye, genoeg vleis, ’n bietjie groente en geurmiddels, en daar gaat jy... En asseblief geen regulasies om die kookskerm nie. Ek róérrrr my pot. En groente gooi ek by, bo of onder, wat maak dit tog saak?

Maar selfs in die somer maak so ’n kuierpot die lekkerste kampkos. Nie net is dit eg tradisioneel Suid-Afrikaans nie, maar dis sinoniem met vriendskap en laataandkuiers. ’n Bredie kook jy by die huis, in jou kombuis. ’n Potjie kook jy buite. In jou lapa of in die veld, want potjies prut langsaam en gesels gesellig saam oor die kole. Maar áltyd oor die kole.

 

Ons het al ’n swartpot besit voordat ons ’n stoof gehad het. (Die eerste agt maande van ons pasgetroude lewe is als onder die son in ’n elektriese braaipan gaargemaak. Selfs brood in hom gebak!) Hierdie swartpot wat ons geërf het, was Ouma Katriena Barnard s’n. ’n Nommer 3-potjie. Nommerpas vir ons. Hy dateer uit die laat 1800’s, vroeë 1900’s.

 

Ouma Katriena se potjie het al ver paaie saamgeloop en kan van baie veldkuiers vertel, van jong jagters wat met geesdrif kamp en kosmaak. Maar ook van laataand se vrede wat daar in die veld in jou siel kom lê... En jou terugneem na koue Karoonagte, na Septembervakansies in die Noord-Kaap as ons onder die groot ou kareeboom tent opslaan op Kerneels Smit se plaas. Dit loop herinneringspaaie na die heuwels van Natal, die kuiers langs die Mkuze, na die Bosveld en na Suidwes met sy rooibekfisante, doringbome en rooi sandduine...

 

Soveel lekker tye! So kom ons pak ’n onthoupot vir die langpad en vier die lewe!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401