SA JAGTER/HUNTER | September-Oktober | Deur PIETER VAN AARDT

'n Les in bosvarkjag

“Kan jy my hoor?” kom die benoude roep oor die radio.

“Praat maar, Andries.”

“Kom kyk hier, die beeste, hulle is baie stukkend!”

By die kamp aangekom kry oom Louis drie van sy Bonsmarakoeie met snywonde aan hul gesigte, kruise en agterbene. “Wat de hel gaan hier aan,” wonder hy?

 

Hierdie het afgespeel op ’n doodgewone Bosveldoggend in September 2006, op oom Louis Meyer se plaas, Rooiboschbult, in die Sentrum-distrik. Min het ons geweet wat die volgende paar dae, weke en later maande vir ons sou voorlê. Ons gedagtes het behoorlik bontgestaan oor dié onverklaarbare verskynsel.

 

OP DIE NOODLOTTIGE DAG

Die oggend het soos enige ander normale dag begin. Oom Louis se voorman, Andries, het sy rondtes by die beeste gedoen, waar hy sou sout gooi, kyk of al die krippe vol water is, en die beeste tel. By die eerste trop beeste, vind hy egter drie koeie met snywonde en rapporteer hy oor die tweerigtingradio die verskriklike gesig aan oom Louis.

 

Oom Louis en Pikkie, my vrou, het inderhaas soontoe gejaag om die situasie te ondersoek. Die veearts is dadelik gebel om te kom help en ek het ook daar aangekom. Ons eerste gedagtes was dat aanvallers die beeste met pangas gekap het, want die snye was diep. Van die koeie se hakskeensenings was ook af, wat ons nog meer laat vermoed het dat dit booswigte was. Ons het besluit om die teenstropingseenheid by Marakele Nasionale Park te kontak om ondersoek in te stel. Die veearts het intussen gearriveer en die wonde begin toewerk. Die een koei het 60 steke slegs in haar kop gekry; ’n ander een is behandel, maar die derde koei moes van kant gemaak word aangesien haar hakskeensenings af was en dit nie sou genees nie.

 

Die teenstropingseenheid het die volgende vyf dae op die plaas deurgebring om te kyk of hulle enige leidrade of inligting kon vind, maar nadat hulle ’n paar ou strikke van die plaas verwyder het, het hulle besluit om te onttrek.

 

EN TOE GEBEUR DIT WEER

Weke het verbygegaan sonder enige verdere insidente. Ongeveer ’n maand ná die eerste voorval roep Andries weer benoud oor die radio: “Die beeste is weer stukkend!” Die veearts word gekontak om nog drie koeie te behandel. Twee kon gered word, maar die derde een se tong was afgeskeur en die dier moes uitgesit word.

 

Nou maal dit in ons koppe. Wat kon dié wonde veroorsaak het? Leeu, luiperd, wildehonde, hiëna? Enige van dié roofdiere is daartoe in staat. ’n Voorstel word gemaak dat ons Marakele se navorsingspan kry om die moontlikheid te ondersoek dat wildehonde uit die park ontstap het, en die span tel toe wel ’n sein van honde twee plase verder op. Dit kon dus wildehonde wees, maar dit kon nie met sekerheid gesê word nie.

 

Twee maande verloop en dieselfde gebeure speel weer af, met twee koeie wat dié keer beseer is. So gebeur dit nog twee keer waartydens ’n totaal van 11 koeie gewond is en twee van kant gemaak moes word. Steeds het niemand ’n idee gehad wat die beserings veroorsaak het nie.

 

Een laat middag weerklink Andries se stem weer oor die radio, maar hierdie keer roep hy benoud: “Die bosvark jaag die beeste!” Pikkie het my dadelik gebel en gesê ek moet my geweer bring en die bosvark gaan soek. Nie lank nie of ek en die spoorsnyer, Alfred, was saam met Andries op die vark se spoor. Ongelukkig het die donker ons ingehaal en moes ons die soektog staak, maar min het ek toe geweet dat ek die volgende vier maande gaan klasloop in bosvarkjag.

 

’N PLAN VAN AKSIE

Ek, as vryskut-professionele jagter, het onderneem om geen jagtogte in die nabye toekoms te reël voordat ek nie die bosvark van kant gemaak het nie. My eerste plan van aksie was om die vark by die kraal, waar die insidente plaasgevind het, voor te sit. ’n Week lank word ’n paar koeie saans daar toegemaak, terwyl ek wag in ’n skuiling wat bestaan het uit ’n dieseltenk wat middeldeur gesny en op ’n staander gemonteer is. Ek word elke aand teen skemertyd daar afgelaai met ’n geweer, ’n lig, koffie en iets vir die maag. Vir vyf aande deurnag ek by die kraal sonder enige sukses.

 

Intussen het my mieliemengsel – saamgestel uit een sak heelpitmielies, vier Chibukus (koringbier), vier pakkies gis en louwarm water – lekker begin fermenteer en kon jy dit op ’n afstand ruik. Dit word dus my roetine. Elke aand sit ek vars kos vir die bosvark uit en elke oggend doen ek inspeksie, maar ’n week later was daar steeds geen tekens van enige bosvark nie. Ek het begin moed verloor, want dit was uiters belangrik dat ek die vark skiet, maar meer ervare jagters met wie ek gesels het, het my aangemoedig om net aan te hou voer en moed te hou.

 

Ongeveer twee weke nadat ek begin voer uitsit het, sien ek vir die eerste keer ’n bosvarkspoor en ’n lang haar wat aan die voerbak vassit. Reg... hiermee kan ek werk! Ek besluit toe om ’n takskuiling te bou waarin twee persone kan sit en dit so 60m windaf te plaas. Die hoeveelheid voer wat uitgesit word, word ook verhoog.

 

EERSTE PROBEERSLAG

Na ’n maand se voer besluit ek en Alfred om een aand met ’n geweer en lig by die skuiling te gaan sit. Dit was al so ’n uur lank stikdonker toe ek blare en takkies hoor breek. Die vark was oppad en my hartklop het die hoogte ingeskiet... ek het besef vanaand is dalk die aand!

 

Die volgende oomblik was daar ’n gesnuif en ’n helse lawaai in die bos soos die dier weghardloop. Ek het besluit dat ons maar nog gaan sit, en ongeveer ’n uur het verbygegaan voor ek weer takkies en blare hoor raas. Ek en Alfred het doodstil geraak en nie geroer nie — al wat ek kon hoor was my eie hartklop. Toe hoor ek die bosvark by die voerbak. Ek het met die geweer aangelê en vir Alfred instruksies gegee om die lig aan te sit.

 

“Flippit, maar hy is vinnig!” is al wat ek vir Alfred gesê het. Voordat ek nog die kruishaar op die vark kon sit, was hy al deur die kraal se drade. Die volgende aand begin ek weer met dieselfde roetine as die vorige maand s’n, en vir ’n week lank was daar geen teken van ’n bosvark nie. Gelukkig was my bosvarkmengsel hoog in voorraad en ek het aangehou voer.

 

SAAM MET ’N JAGMAAT

Intussen kry ek ’n e-pos uit Amerika van ’n ou vriend wat op kort kennisgewing Suid-Afrika toe wil kom vir ’n jaggeleentheid. Vinnig word die bosvarkverhaal aan hom vertel. Ek het die jag aan hom voorgestel en hy was entoesiasties oor die geleentheid. Hiermee het ek my tweede asem gekry, want hierdie bosvark was besig om my ’n paar lesse te leer.

 

My vriend Kevin het ongeveer drie weke later aangekom. Die bosvark het gelukkig weer versot geraak op my mieliebrousel en die tweede aand van Kevin se besoek, gaan sit ons in die skuiling. Sommer gou hoor ons die bosvark... hy was oppad en ons het in spanning gewag dat hy sy kos uit die bakke gooi. Ek het Kevin ’n druk op sy been gegee as teken om aan te lê. Toe ek die lig aansit, klap die skoot, maar dis net stof waar jy kyk soos die vark weghardloop. Kevin was nie baie ingenome nie – hy het vir die kop gemik en die skoot was mis. Die bier oppad huistoe was ekstra bitter gewees.

 

TERUG NA PLAN “A”

Nadat Kevin terug is Amerika toe, het ek maar weer my roetine hervat met die voerdery. Heelwat tyd het verloop voordat die bosvark weer begin vreet het. My gedagtes het oortyd gewerk om ’n plan te maak wat sal verseker dat my volgende probeerslag suksesvol is, en dis toe dat ek die idee kry om ’n semi-permanente lig aan die naaste boom te hang sodat die bosvark gewoond kan raak aan die lig. Ek het ’n ou verfemmer geneem en foelie aan die binnekant geplaas vir weerkaatsing, tesame met die gloeilamp wat aan ’n 12V-battery kon koppel. Elke aand wanneer ek voer uitsit het ek ’n vars battery gekoppel, sodat daar lig was vir solank as wat die battery hou. Soos die vorige kere het dit ongeveer vyf aande geneem nadat ek die lig gehang het, voordat die bosvark weer begin vreet het.

 

Ek het hom genoeg kans gegee om daaraan gewoond te raak, en een Saterdagmiddag besluit ek toe dat die tyd reg was. Ek en Alfred is weer by die skuiling afgelaai met die hoop dat dié aand die aand gaan wees. Ons het geduldig gewag, maar twee ure na sy normale besoektyd was daar nog geen teken van die vark nie. Ek wou net vir Pikkie laat weet om ons te kom haal toe Alfred iets agter ons hoor. “Vrek, die vark is slim!” het ek gedink, “hy kom windop”. Die bosvark het een snuif in die lug gegee en toe is hy weg. Ek het besluit om nog ’n halfuur te wag en dan my tasse te pak, maar nie eens tien minute later nie verskyn hy uit die donker en loop die ligkring binne. Steeds was my geduld getoets; die vark het my geen kans op ’n skoot gebied nie. Die minute het verbygegaan en die volgende oomblik het hy dwars gedraai. Voordat hy my nóg ’n les kon leer, klap die skoot. Dit was net stof oral, maar dié keer was dit stof wat die vark opgeskop het van die kopskoot wat hom toegedien is. Ek en Alfred het met oorgawe nader gehardloop om seker te maak hy spring nie op nie, maar nee wat, sy dae was getel. Met ’n sug van verligting het ek die goeie nuus oor die radio met oom Louis gedeel.

 

Tot vandag toe kon ons nie bepaal waarom die bosvark die beeste aangeval het nie. Al die aanvalle het slegs een keer per maand rondom volmaan gebeur. Met nagedagte het ons bepaal dat die snye op die beeste se kruise slegs kon gebeur het wanneer die koeie gelê het en die snye op hulle koppe was toe hulle hulself probeer beskerm het. Verseker was hierdie bosvarkjag my “poor man’s leopard hunt”.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon