SA JAGTER/HUNTER | Maart - April 2022 | By Jacques Boshoff
'N KAPPIE MET DIE JAGTER IN GEDAGTE
Dis geen geheim dat ons Suid-Afrikaners dikwels innoverende idees en patente die lig laat sien nie. Dit geld nie net vir die plaaslike mark nie, maar ook internasionaal – voorwaar iets waarop ons land trots kan wees! Een van hierdie innoverende maatskappye is RLD Design, beter bekend as RLD Canopies. Hulle verskaf bakkiekappies aan Suid-Afrika, asook Amerika, die Midde-Ooste, Europa en Australië.
SA JAGTER/HUNTER-tydskrif is onlangs genader om ’n produkverslag te doen oor die Hunter-kappie wat hulle vervaardig. Die kappie is beskikbaar vir bykans enige bakkiefabrikaat waaraan jy kán dink. Dit word gemaak vir enkelkajuit-, ekstra-kajuit- en dubbelkajuit-bakkies en daar is ook ’n groter weergawe vir die enkelen dubbelkajuit.
Soos almal weet, hou ’n kappie op jou bakkie baie meer voordele as nadele in. Jou bagasie word nie nat as dit reën nie, ook nie vuil en vol stof op daardie laaste stuk grondpad tot by jou bestemming nie. Die pakkapasiteit is ook onmiddellik meer. Ek moet bieg, dis darem ook baie lekker om, sodra jou bagasie afgepak is, op ’n oop bakkie die plaas en veld te gaan verken, of selfs net in die vakansieoord te gaan rondry. RLD Design se Hunter-kappie maak dit moontlik en dis boonop baie maklik, want jy hoef nie die kappie af te haal op die plaas of by jou bestemming nie.
Die bakkiekappie word gemaak van driedubbele dikte vlekvrye staal wat CNC-gebuig en gesweis word en dan met ’n powder coating van 88 mikron in jou kleurkeuse bedek word. Dis baie mooi afgewerk met versteekte skarniere, asook gasstutte wat verseker dat die deure aan beide kante en na agter lekker gemaklik oopmaak en oopbly. Die kappie self weeg slegs 75 kg en het ’n laaikapasiteit van 350 kg. Die dak, wat natuurlik baie maklik afgehaal kan word, word met vier groot drukslotte in plek gehou. Die leer word dan stewig vasgemaak sodat ’n mens gemaklik en veilig daarteen kan opklim.
Daar is ’n verstelbare sitplek wat ook stewig vasgemaak kan word volgens jou behoeftes en hoe dit vir jou gemaklik is. Daar is ’n opsie vir meer as een so ’n sitplek, maar dit hang af van jou bakkie en voorkeure. Die drie armleunings swaai uit aan beide kante van die kappie, asook voor en kan stewig in plek vasgesluit word. Hierdie kappie is dus ideaal vir jag, foto’s neem of om net heel gemaklik ’n skemerkelkie in die natuur te geniet.
So gepraat van skemerkelkies, die Hunter-kappie het ’n eksklusiewe kabinet wat deel uitmaak van ’n klein uitvoutafeltjie, twee wynglase, vier standaardglase en basiese eetgerei. Verder het dit nege ander bykomstighede waaruit jy kan kies. Dit word standaard vervaardig met ’n positiewe-druklugopening (positive-pressure air vent) wat sorg dat die stof bly waar dit hoort – buite en nie binne nie. Die kappie het ook ’n LED-remlig agter en ’n USBherlaaibare, beweging-geaktiveerde lig binne-in die kappie.
Dit is beslis een van daardie produkte en maatskappye wat ’n mens weer trots Suid-Afrikaans laat voel. Welgedaan aan die mense by RLD Design met hierdie patent en die kappie!
* Besoek gerus hul webwerf www.rlddesign.co.za, stuur ’n e-pos na sales@rlddesign.co.za of skakel 076-743-8966