EKSKLUSIEF VIR DIE WEB | 3 Januarie 2020 | Deur KOOS BARNARD

’n Dekade agter die rug: 2009 tot 2019

Jip, kan jy glo dis al 10 jaar gelede dat die nuwe millennium ’n tiener geword het. Nou is dié kind al 20. Baie dinge het verander oor die afgelope 10 jaar in die jag-, skiet- en wildbedryf, te veel om alles te noem so ek volstaan met enkeles.

KLEURVARIANTE, LEEUJAG EN WILDTELERY

Seker een van die mees opspraakwekkende gebeurtenisse sedert 2009 was die “ontploffing” van kleurvariante en teel van skaarswild... eintlik al die fasette van intensiewe teling van wild en die jag daarvan. Geblikte leeujag en die jag van geteelde leeus is tot ’n hoogtepunt gevoer en net soos met die kleurwildbedryf het die bodem skielik uitgeval.

 

Leeujag kry nou oral die wind van voor, selfs waar dit in die vrye natuur geskied. Die mal pryse van kleurwild en skaarswild het drasties verlaag en baie mense het groot geld verloor. Natuurlik is die intensiewe teel van wild nog lank nie dood nie, dis net die boom en drome van vinnig ryk word wat vir sommiges gesneuwel het, soos met die tulpe destyds in Nederland.

 

Een negatiewe aspek van die wildtelery is dat groot getalle jagters oor die afgelope paar jaar besluit het om liewer in ander lande as Suid-Afrika te jag. Dit, as gevolg van die persepsie dat ons plaaslik te veel posseëlgrootte jagplasies het wat mak wild aanbied. Die syfers spreek vanself – hordes mense, veral buitelanders, het eerder Namibië besoek. Dis hartseer dat die manne wat die kitaar slaan in ons wildbedryf nie daardie negatief kon voorsien en betyds ’n ander rigting ingeslaan het nie.

LANGAFSTANDSKIET

Wat die skietbedryf betref het ons ’n fenominale toename in gewildheid van langafstandskiet en langafstandjag beleef. Sedert dit bekend geword het dat die Amerikaners en ander soldate lang skote in Afganistan en elders op menseteikens afgetrek het, wil almal net skerpskutter speel. Elke tweede geweer wat jy deesdae raakloop is op een of ander “chassis” gebou en het dié en dáái tactical-tipe toebehore wat veronderstel is om jou beter te laat skiet op langafstand. Teleskope spesifiek vir dié doel word ook toenemend vervaardig. Soveel so dat selfs baie gewone jaggewere ook deesdae met hierdie Hubble-skopies toegerus is.

 

Een ding wat opgevlam het en seker nie gou sal bedaar nie is die oorloggie tussen die konserwatiewes en die liberales wat langafstandjag betref. Dis glad nie jag nie, dis oneties want ’n mens skiet nie skyf op wild nie, seg die konserwatiewes. As jy kán, dan kán jy, en dan mág jy, so seg die liberales. Etiek is iets waaroor elkeen vir homself moet besluit. Die jurie sit nog, en oor langafstandjag sal ons seker nie binne die volgende dekade eenstemmigheid bereik nie.

Die ontwikkeling van nuwe gewere, kalibers en bybehore vir raakskiet op langer afstande is goed vir die bedryf, veral in ’n ekonomiese tyd waar dit knor om kos op die tafel te sit. Baie geweersmede en vervaardigers dank hulle sterre dat skerpskutterskiet deesdae so gewild is.

BALLISTIESE PROGRAMME

In 2009/2010 was ballistiese programme wat voorspel hoe jy jou geweer moet stel skaars. Deesdae het almal wat die woord langafstandskiet kan sê een of ander app op hul fone en dié word gedurig geraadpleeg om die koeëls en die teikens bymekaar uit te bring. Daar is nou ook handige programme wat kan help met ladingontwikkeling, amper iets soos “dial a load” en siedaar die blikbrein kom met ’n voorstel wat jou skote mooi laat bondel op 100 meter.

SWAARDER KOEËLS

Iets anders wat oor die afgelope 10 jaar na vore getree het, is die gebruik van swaarder koeëls in sommige kleiner kalibers soos die .22-250 en verskeie 6 mm-roere. Tesame daarmee is die gebruik van stywe groefdraaie (1 in 8” en 1 in 7”) noodsaaklik om die lang, swaar koeëls te stabiliseer. Hierdie swaar-vir-kaliber-koeëls is baie handig – neem maar die .22-250 byvoorbeeld. Met ’n vaartbelynde 77-greiner, gelanseer teen 3200vps, klop dié kaliber sommer menige groter boeties wat trajek en windskuif betref en dit alles met ’n veel laer terugskop – ideaal vir skyfskietsporte soos ghongskiet waar die afstande onbekend is en windmeters nie toegelaat word nie. Dis een van die handigste tendense of ontwikkelings in die skietwêreld die afgelope 10 jaar.

DIE 6.5-KALIBERS

En dan is daar natuurlik die opkoms van ’n hele paar 6.5-kalibers. Die skietwêreld het ewe skielik wakker geskrik en besef dat vaartbelynde 6.5-koeëls wat teen ’n gesonde 2800 tot 3000vps gelanseer word net die regte medisyne is vir Sannie. Die ou 6.5x55 Sweed is al baie dekades lank ’n gewilde jagkaliber maar met die ontwikkeling van ’n paar Amerikaanse 6.5’e en die Europese 6.5x47 Lapua, het die rewolusie van die 6.5-kalibers ’n nuwe hoogtepunt bereik. As jy deesdae in Suid-Afrika nie ’n 6.5 Creedmoor besit nie suig jy volgens baie aan die agterspeen. Hoe lank gaan dit duur voordat die skietpiete iets beters as die 6.5’e ontdek?

HOMMELTUIE

Hommeltuie is ’n nuwe foefie wat die afgelope dekade gewild geraak het. Maar dis nie net ’n foefie nie – die hommeltuig is sekerlik een van die handigste ontwikkelings ooit. Hierdie tuigies is van onskatbare waarde en het soveel aanwendingsmoontlikhede dat dit baie dinge in die wêreld heeltemal kan verander. Neem maar byvoorbeeld sekuriteit en boerdery... of oorlog maak. Jagters wil ook dié klein brommertuigies inspan en hier sidder ek aan die moontlike gevolge, want die veld lê braak vir misbruik as dit by jag kom. Persoonlik sal ek dit nie vir jag wil inspan nie.

DIE GROENES

Oor die afgelope dekade het die druk op jag en veral die jag van sekere spesies soos leeus en olifante geweldig toegeneem. Die Groenes wil jag heeltemal verban, sien, en dit het al in ’n paar lande gebeur soos byvoorbeeld Botswana. Daar het president Ian Khama (blykbaar onder die invloed van die Joubert-filmmakers) ’n paar jaar gelede jag op staatsgrond verban. Gelukkig het gesonde verstand geseëvier en Khama se opvolger het jag weer ontban.

 

Ongelukkig wil die Groenes nie insien dat krimpende habitat die mens dwing om wild te bestuur nie en dat dit ongelukkig nie ’n opsie is om die wild te verskuif of te verkoop nie. Die realiteit is dat die beskikbare grond vir wilde diere selfs oor die afgelope 10 jaar drasties gekrimp het. Jag is die beste opsie van bestuur en die beste manier om volhoubare benutting suksesvol te laat geskied. Jag is ook die beste manier hoe die plaaslike bevolkings voordeel kan trek uit die wild wat afgehaal word.  

DIE VOLGENDE DEKADE

Net die tyd sal leer wat die volgende 10 jaar inhou. Een ding weet ek; ons sal ons opsies baie goed moet oorweeg en deurdink, die beste besluite neem en saamstaan as ons oor 10 jaar nog wil jag en skiet soos nou.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401