SA JAGTER/HUNTER | Julie 2021 |  Deur PIETA OOSTHUIZEN

Erfenisdag-geweer.jpg

’n Erfenisdag-Mauser vir my seun

“Kan ek help, meneer?” vra die vriendelike geweerman agter die toonbank. Skuins agter hom is ’n veiligheidshek wat toegang tot ’n lang, smal vertrek verleen. My oë kyk by die geweerman verby, in die lang gang af na waar dosyne jaggewere van verskillende kalibers in netjiese geweerrakke staangemaak is. Mausers, Musgraves, Mannlichers en nog ’n hele klomp ander fabrikate staan netjies op aandag. Die verskillende kalibers op die pakkies patrone wat in netjiese hopies opgestapel is, hou ook my aandag gevange: 6,5x54, 9,3x62, 7x57. Die bekende reuk van geweerolie hang swaar in die lug, my hart klop in my keel en emosie dreig om my te oorweldig wanneer ek antwoord: “Ek kom koop ’n geweer vir my seun.”

Watter voorreg lê nie in daardie een sin opgesluit nie. Ouerskap is ’n voorreg en om ’n seun te hê wat jou liefde vir die wye oop ruimtes deel, die taal van ’n kampvuur kan verstaan en vir wie ’n lewendige bok mooier is as ’n dooie een, is net so ’n groot voorreg. Om in ’n posisie te wees om vir jou seun ’n geweer te kan bekostig, is ’n voorreg wat ons nie almal beskore is nie. Om dan nog die geleentheid te hê om daardie geweer self uit te soek, met jou hande oor sy kolf te streel, sy grendel oop en toe te stoot, deur sy loop te loer en op ’n denkbeeldige koedoe in digbegroeide boswêreld te kan aanlê, is ’n baie persoonlike belewenis en ervaring.

 

MY EERSTE GEWEER

Ek onthou nog daardie spesiale dag, bykans 30 jaar gelede, toe my pa sy hartsgeweer in my hande gelê het. Dié staatmaker-.308 met sy Musgrave-loop en Mauser-aksie het hy in die laat sestigerjare in Maitlandstraat in Bloemfontein gekoop. Met hom het ek my eerste bok groter as ’n steenbok, ’n rooi-bokram, op die plaas gejag, rante uitgeklim agter ribbokke aan, ver skote in die Kalahari en naby skote in die Bosveld geskiet. Hy het my nooit in die steek gelaat nie. Vandag weet ek die geweer was ’n deel van homself, ’n stuk van sy siel wat my oorlede pa daardie dag vir my nagelaat het. En, saam met daardie geweer, het ’n erflating gekom van verantwoordbare optrede in die jagveld. ’n Jagnalatenskap. Ek onthou nog sy woorde: “Sorg vir hom en hy sal vir jou sorg.” En later weer: “Dis nooit die roer se skuld nie, maar altyd die man agter die roer.” “Watter kaliber, meneer?” hoor ek weer die geweerman se

stem en ek dink dadelik aan die drie jaggewere in my geweerkluis: die .308 wat ek by my pa geërf het, die 6,5x54 Mannlicher-Schönauer wat mettertyd die Musgrave se plek in sy hart ingeneem het, en die oopvisier-Brno .375, waarmee nog baie min geskiet is.

 

Heimlik wonder ek hoe ’n mens op ’n kaliber besluit? Dit moet seker ’n kaliber wees wat jy nie het nie, dink ek. Maar dit hang seker ook af waarvoor jy die geweer wil gebruik. Wil ek op gevaarlike en grootwild aanlê of is ek ’n biltongjagter wat net iets vir die pot jag? Gebruik dan in ieder geval “enough gun”, soos die Engelsman sê. Moet die kaliber die pad saam met jou in digte boswêreld stap of moet dit ’n platskiet-, laetrajek-kaliber vir die jag van vlaktewild in die Suid-Vrystaat wees? Bestaan daar iets soos die ideale kaliber, ’n kaliber wat die beste van hierdie twee wêrelde kan dek?

 

Ek het egter nie al die pad van Bloemfontein na Witbank gereis om myself met hierdie vrae te bestook nie. Ek is hier om ’n hartsgeweer vir my seun te koop vir sy agtiende verjaardag waarmee ek en hy nog saam op vars spore kan loop. Ek wil vir hom iets nalaat op sy geweerpad wat hy weer aan sý seun of kleinseun kan bemaak. ’n Jagnalatenskap. ’n Stukkie van my jagtersiel. Iets tasbaars vir wanneer ek die dag nie meer daar is nie en hy sy eie buffels in die ruigte moet aandurf. ’n Erflating op Erfenisdag...

 

“Ek soek nie ’n nuwe geweer nie,” hoor ek myself sê. “Dit moet ’n tweedehandse een wees, een met ’n krapmerk of twee op die kolf, maar waarvan die loop nie uitgeskiet is nie. Iets met karakter,” verduidelik ek.

 

Maar ek vertel hom nie van my hartsbegeerte om ’n 7x57 Mauser te besit nie. Ek sê niks van my voorouers wat met Duitse Mausers teen Her Majesty’s Army in die Anglo-Boereoorlog geveg het nie. Al was dit oorspronklik ’n militêre kaliber, is dit later net soos die Britse Lee-Metford as ’n jaggeweer gebruik, want dit was bykans al kalibers wat op ’n sekere stadium ná die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika beskikbaar was om op biltongdiere aan te lê. Wanneer ek dus die naam “Mauser” op my lippe neem, is dit ’n verbintenis met my verlede, ’n verbintenis met my erfenis. Ek sê bloot terloops: “Julle het in Oktober-maand se Magnum ’n Mauser geadverteer.”

 

Ek was nog besig om te praat toe verdwyn die man, wat hom intussen aan my voorgestel het as Francois van der Walt, tussen die verskillende kalibers gewere in die lang gang skuins agter hom. Terwyl hy weg was, het ek my verkyk aan al die gedeaktiveerde gewere uit ’n vervloë era wat as ornamente te koop teen die muur bokant die geweertoonbank hang. Kalibers wat eens op ’n tyd ook iemand se hartsgewere was.

 

EERSTE KENNISMAKING

Met die terugkomslag het Francois eers ’n lap op die glastoonbank oopgegooi en toe ’n pragtige hartsgeweer daarop neergelê. Toe ek die Mauser optel en daarmee aanlê, was dit asof die geweer spesiaal vir my gemaak is, só perfek het my wang teen die kolf en die kolf teen my skouer gelê. Ek het dadelik geweet dis die geweer wat ek wou hê. Die Mauser-aksie het seepglad oop- en toegemaak en ’n warm gevoel het in my hart kom lê toe ek die twee klein krapmerkies op die kolf gewaar. Hierdie geweer was definitief deel van iemand se mooi geweerpad, het ek gedink.

 

Ons het die Mauser eenkant gesit en ek het vir Francois gevra of daar nie nog iets is wat by die Mauser kan kers vashou nie, want ’n mens koop mos nie sommer net die eerste die beste geweer wat op jou pad kom nie. “Ek het mooi geluister toe jy gepraat het. Hierdie is die geweer wat jy soek,” het Francois gesê voor hy weer in die lang gang verdwyn het. Die tweede geweer was ’n volkolf-.30-06 met ’n Mauser-aksie. Dit was ’n praggeweer, maar dit het my hartsnare nie soveel soos die Mauser geroer nie.

 

“Ek het jou gesê. Jy sal nie in hierdie winkel ’n beter geweer kry vir dit waarna jy op soek is nie,” het Francois weer sy stem agter die Mauser ingegooi. Hy is nietemin ’n derde keer met die lang gang af, waarna hy ’n derde geweer voor my neergesit het ’n 7x57 Mauser met ’n agtkantige loop. Dit was egter duidelik dat die geweer se beste jare agter die rug was. “Dié geweer hoort in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en nie in die jagveld nie,” het ek gedink en net my kop geskud. “Sien jy, sy prys is ook reg,” het die verkoopsman in Francois na vore gekom toe die ander twee gewere terug in die lang vertrek was en net die Mauser wat die mooi geweerpad geloop het, voor ons op die toonbank gelê het.

 

Op daardie oomblik het die wete tot my deurgedring dat ek vir die eerste keer in my lewe besig was om ’n jaggeweer te koop. Al die ander gewere in my geweerkluis het my oorlede pa vir my gekoop, present gegee of nagelaat. ’n Lekker warm gevoel het in my hart nesgeskop en ek het weer besef dat hierdie Mauser ’n baie spesiale band tussen pa en seun gaan vorm. ’n Band wat versterk gaan word wanneer ons met eerste lig na vars rooibokspore in die snuifgetrapte voetpad soek, of saam teen die skraal suidewindjie agter die besembos vir die trekspringbokke lê en wag, of laataand om die kampvuur onder die sterrehemel as ons weer die dag se jag herleef.

 

Francois se “Wil jy ook ’n teleskoop hê?” het my weer na die werklikheid teruggebring. Die volgende halfuur is in beslag geneem deur die uitsoek, aangee en bespreek van verskeie handelsname se verskillende teleskoopvergrotings. Volgens Francois stem ’n jongman en sy pa nog saam oor die keuse van die kaliber en geweer, maar hul smaak in teleskope verskil soms baie. Onthou net, “If you can’t see it, you can’t shoot it,” het hy my verder laat kopkrap. Vir my was dit egter belangriker dat die teleskoop by die klassieke styl van die 7x57 Mauser moes pas en het ek meer belanggestel in hoe die teleskoop lyk as wat dit alles kan doen.

 

My uiteindelike keuse het op ’n Leupold VX-1 4-12x40mm geval. Dit was nie te groot dat dit die aandag van die geweer sou aftrek nie. Boonop was die vergroting voldoende om die werk te doen waarvoor ’n teleskoop gemaak is.

 

Hierna het Francois ’n klomp papiere oor die toonbank in my rigting gestoot en ek het besef dat hierdie heerlike ervaring besig was om op ’n end te kom. Die saamkuier met ’n passievolle geweerman en gesels oor klassieke kalibers en gewere, vergrotings en statistieke was kos vir my siel. En dit was die hele doel van die uitstappie.

 

More is dit Erfenisdag en ek wou ’n geweer vir my seun kom koop vir sy agtiende verjaardag. ’n Geweer waardeur ek iets van my voorouers se liefde vir die pragtige natuur, vir jag en gewere, en vir die stil en alleen oomblikke in die veld aan hom kan oordra. ’n Hartsgeweer wat hy soos goud sal oppas en so goed soos sy toekomstige vrou sal behandel. ’n Erflating van verantwoordbare optrede in die jagveld. ’n Jagnalatenskap. Ek dink ek het dit reggekry.