Om Eunia se tafel | 5 Desember 2019 | Deur EUNIA BARNARD

'n Belangrike bysaak

Beplanning is 'n hoofsaak as dit by kossake kom. En bykosse is beslis nie hier ’n bysaak nie. So is die lewe mos – dis die aanvullende detail wat die kleur verskaf en die verrassingselement bevat.

As jy uitsien na ’n lekker rustige vakansie as deel van die Feestyd, is jou beplanning vooraf van kardinale belang. Want as jy vooraf voorbereid is en jou voorraad feitlik volledig is, kan jy reeds ’n regmerkie op jou doenlys maak.

Besluit op happies (bykosse of knibbelkos) wat jy vooraf kan maak en kan bêre. Bekyk jou resepte hiervoor en maak ’n inkopielys. Skaf soveel as moontlik van jou voorraad vroeg reeds aan.

Hier wil ek myself eers onderbreek. Gewoonlik, voordat ek ’n blaaskans neem, bekyk ek die vrieskas se voorrade. Ek pak alles uit en dit word ’n goeie geleentheid om die vrieskas skoon te maak voor die Feestyd aanbreek. Dan kom ek op vergete pakkies wildsvleis af wat onderin die vrieskas bly lê het.

’n Pakkie rooibokskenkels en twee springbokfilette is hierdie jaar deel van my vonds... En dadelik weet ek wat ek daarmee wil maak: Wildspatee en kerriesult (vark- of skaapafvalstukkies kom op my inkopielys) en van die filette sal ek carpaccio maak. Die carpaccio kan ek as happie, voorgereg of slaai gebruik.

 

PAK ’N “PRONTO PLATTER”

Ek is gaande oor knibbelkos – dis gesellig en veelsydig. Dit moet lig wees, maar interessant, kleurvol en steeds vullend. ’n Platter moet verrassend mooi lyk, maar jy moet dit vinnig kan voorberei. Daarom is vooraf-gemaakte patee (in ’n pikante bakkie), lekker dik skywe kerriesult en ’n paar rolletjies carpaccio (die dun skyfies sierlik opgerol) die perfekte basis vir ’n knibbelbord. Voeg daarby ’n wig kaas of twee, vars broodrolletjies, botterblokkies, vrugte (soos vye en druiwe) kleurvolle groente soos kersietamaties en roketblare vir ’n gawe verskeidenheid (en ’n lus vir die oog).

 

Sien vol verwagting uit na die rus en vakansiekuiers van die Feestyd. Maar wees voorbereid – dis ’n belangrike bysaak!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401