Koos se bospaaie | 10 Oktober 2019 | Deur KOOS BARNARD

My jagmaat

Ek het hom baie jare gelede van ’n winkelrak in Kimberley verlos. Hy het so mooi proper en blinklyf daar tussen die ander produkte staan en pronk dat jy hom nie kon mis nie. Hoekom ek juis hom en nie die ander een op die rak gekoop het nie, sal ek nooit weet nie. Dié spesifieke keteltjie was seker maar vir my en die veld bestem en in my gedagtes is dit ’n “hy”, ’n veldmaat wat my vergesel oor die lengte en breedte van ons land.

Hierdie ou vriend van my is ingewy onder ’n wydgetakte olienhoutboom in die Noord-Kaap op wyle Korneels Smit se plaas, geleë tussen Daniëlskuil en Lime Acres. Ek en Eunia (my vrou) het altyd onder dié groot olienhout gekampeer. Vanonder sy skaduwee het ons ’n mooi uitsig oor ’n stuk grasveld gehad waar steenbokke, duikers en voëls soos kiewiete en hoëveldse klappertjies ons baie male vermaak het.  

Met die jare het my keteltjie pikswart gebrand, so swart aangepak van die roet dat hy seker nooit weer skoongeskuur sal kan word nie. Op plekke is daar ook al duidelike tekens van sy veelbewoë tye in die veld – littekens van stampe en stote wat uit sy deksel en ronde lyfie geklop moes word. Maar al stap die keteltjie aan in jare, borrel hy steeds koffiewater met groot entoesiasme. Ons twee se bospad is nog lank nie klaar nie.

 

Wat lekker is van so ’n alluminiumketeltjie is dat jy sommer binne minute koffie kan optower. Loop staan en maak jy nou nie vir hom vraatsugtig vol van die water nie, dan kort jy net ’n paar fyn takkietjies om die borrels in sy keel te laat dans.   

 

En ’n vinnige beker koffie is ’n goeie verwelkoming op daardie oggende wanneer die son bibberend oor die horison loer en die nag se asem teen sonop spierwit en yserig op die wintergras kom lê. Dis wanneer die koue jou volbek oral aan die lyf byt en jou vuur toe dwing om hitte te soek. Dan wil jy vinnig iets warms in jou lyf kry voor jy die geweer oor die skouer swaai en die veld vat.

 

Waar ek en die keteltjie se oggendkoffie soms ’n half haastige affêre is, verloop ons aandkuiertjies heelwat rustiger. Dis wanneer koffiedrink in ’n ritueel verander om die dag ’n goeie nagrus toe te wens. Dis oneindig lekker vir my om te sit en kyk hoe die vlamme rooitong die ketel se boepensie kielie terwyl die nag nader skuifel aan die vuur. En wanneer die donker sy karos om die aarde vou, begin die simfonie van die nag.

 

Jakkalse groet melankolies. Boomtakke kry lewe as nagapies met hul skemerparades begin. Iewers blaf ’n koedoe skor om te waarsku dat diegene wat die donker met tand en klou bestuur, ontwaak het. Patryse se “kiepie-kielie, kiepie-kielie” laat weet al die voëls dat hulle nou kooi se kant toe moet staan.

 

Teen die tyd dat die keteltjie vir die derde keer gesing het, is dit gewoonlik pikdonker maar op sommige somersaande sal jy tog nog ’n boskorhaan iewers hoor “tok-tok-tok-tok...” en nog later die spookagtige prrrp, prrrp-buikspraak van die skopsuiltjies.

 

Terwyl die Melkweg stadig oor die kampvuur in die donker hemel draai en die nagsonates rondom my speel, sweef my gedagtes vryer, hoër... Soms voel dit amper vir my asof ek los raak van die aarde en op ’n afstand na myself en die wêreld kyk.

 

En het ons nie maar almal soms ’n bietjie afstand van onsself nodig nie? Dan eers leer ken jy die raaisel in die spieël.  

Die Mauser...

“Kola, ’n 7mm Mauser is ’n annerster entjie geweer, pure pêrreghrie daai...” so laat oom Martiens hoor terwyl hy sy blikbeker só vashou dat ek moet sien dié holdingetjie is boomskraap...

Badtyd in 'n boskamp

Ons maak vir jou ’n plekkietjie tussen die haak-en-steke waar jy kan kom afsaal. Dan kan jy saans salig net met die vrede van die veld om jou langs die kampvuur sit ... ’n regte boskamp,” het Katte oor sy fênsie praatapparaatjie laat weet.

Die ram

’n Klein beweging onder die die wag-’n-bietjie se oorhangtakke het hom weggegee. Vir ’n oomblik het ek gedink dis ’n voëltjie of insek, maar iets het my instinktief op my hurke laat neersak. 

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401