Eksklusief vir die web | 6 September 2019 | Deur FRANCO JOOSTE

My hart se drie punte

Daar is so 20 gewere in my arsenaal – nie alles myne nie, van dit behoort aan my pa en broer, maar ons is nie skaam om met mekaar te deel nie. Dus kan ek met eerlikheid sê daar is genoeg om van te kies en keur. Maar drie kalibers in die versameling is, om verskeie redes, my gunstelinge: 'n 8x68 S; 'n .460 Weatherby en 'n .30-378 Weatherby. Ek vertel graag vir julle hoekom dié drie my so na aan die hart lê.

DIE 8X68 S

Hierdie geweer het so half ongevraagd oor my pad gekom. Omtrent vier jaar gelede bel 'n persoon, wat al vir amper 30 jaar lank 'n professionele jagter is en wat deur die jare 'n groot invloed op my lewe gehad het, my eendag en sê hy het vir my 'n geweer gekoop. Ek was heel verras, maar toe hy sê dis 'n 8x68 was ek 'n bietjie onseker oor dié geskenk. Ek het nog nooit van die kaliber gehoor nie en het gedink dit was seker 'n winskopie wat hy iewers opgetel het. Ek was eintlik nonchalant oor die hele affêre en het my nie gehaas om 'n lisensie te kry nie. En weens my gebrek aan entoesiasme het ek sommer 'n ou teleskoop op hom gemonteer.

 

Die dag toe ek uiteindelik die lisensie het, is ek skietbaan toe en het vir myself gesê as ek 'n tweeduim-groepering skiet sal ek tevrede wees. Ek het vier ladings gelaai en nie verder regtig moeite gedoen nie, ek wou net sien hoe dit skiet en het besluit op drieskoot-groeperings. Ek was stomgeslaan! Met die derde lading toe skiet die 8x68 S amper een gat op 100m. Van daardie oomblik af was ek verlief op die geweer.

 

Ek het so 'n bietjie navraag gedoen en uitgevind dit het 'n stokou M98 Mauser-aksie, 'n Truvelo-loop en die kolf is van Turkse okkerneuthout met rooshout-insetsels. Dis wel 'n duur kaliber om voor te herlaai, want hoewel die ammunisie redelik beskikbaar is, is doppe daarvoor skaars. My 8x68 S moet eintlik as 'n magnum-kaliber geklassifiseer word, maar dit het nie 'n belt op die dop nie.

 

Ek het ook gou agtergekom dié kaliber het baie energie, maar 'n gemaklike terugskop. Dit skiet 'n 200gr-koeël teen 2900vps. Ek glo daaraan om te jag met die grootste kaliber moontlik wat vir jou gemaklik is, dus is die geweer beslis my gunsteling as ek jagveld toe gaan. Ek het al sebras, kameelperde, njalas, blesbokke, rooibokke, elande, vlakvarke en blouwildebeeste daarmee gejag en elke bok het met 'n eenskoot-doodskoot neergeslaan.

.460 WEATHERBY

Ek het dié geweer op 'n baie spesiale manier bekom en daarom lê dit my na aan die hart. Ek het nog altyd my oog op 'n grootkaliber gehad. So vyf jaar gelede tydens 'n besoek aan die Kaap vertel 'n vriend my van 'n oom in Bettiesbaai wat al vir jare Weatherby's invoer en dat hy een .460 Crown Custom het. Ek het die oom dadelik gebel, maar hy het my goed laat verstaan dat die geweer vir hom te spesiaal is en hy stel nie belang om te verkoop nie. Toe hy egter sê ek kan na die geweer kom kyk, het ek my nie twee keer laat nooi nie.

 

Daar aangekom wys hy vir my die mooiste geweer wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Dit het insetsels van 9 karaat goud en drie verskillende soorte hout wat deurmekaar gevleg is. Daar is ook 'n uitgekerfte prentjie van 'n olifant, met invoor-insetsels in. Bo en behalwe dit is dié geweer een van slegs 'n handjievol Weatherby's wat in die Sauer-fabriek in Duitsland gebou is (volgens my kennis).

Die 8x68 S
Die .460 Weatherby
Die 30-378 Watherby

Ek en die oom het begin kuier en 'n paar koppies koffie en heelwat sigarette later vra die oom of ek die geweer wil koop. Natuurlik wou ek dit koop, maar ek het nie daardie tipe geld gehad nie. Die oom vra toe hoeveel ek kan betaal. Ek het hom 'n belaglike prys aangebied en hy het gesê dis reg. Ek kon dit nie glo nie! Die oom verduidelik toe dat hy al te oud is om nog met die geweer te skiet en hy kon sien ek is 'n geweer- en jagliefhebber. Hy wou nie dié spesiale geweer verkoop aan iemand vir wie dit net nóg 'n geweer in die kluis gaan wees nie.

 

Ek het die geweer gekoop, maar geen idee gehad dat dit so 'n sterk kaliber is nie. Dis 'n .458-kaliber wat 500gr-koeëls teen 2550vps afvuur. Gelukkig het dit 'n magnum-port in die loop wat die geweer se terugskop tem. Dit maak hom lekker hanteerbaar vir 'n grootkaliber.

 

Nou het ek my grootkaliber, en dis een wat aan my toevertrou is, eerder as wat dit verkoop is...

 

.30-378 WEATHERBY

Hierdie is uit en uit 'n teikenskiet-geweer. Ek, my pa en my broer hou daarvan om ons eie ghongskiet-uitdagings te hou waartydens ons staalplate uitsit op 600m, 800m en 1km. En vir hierdie "kompetisies" geniet ek dit om met dié pasmaakgeweer te skiet.

 

Dis 'n .378 Weatherby wat afgenek is na 'n .30-kaliber toe en dit skiet 230gr-koeëls teen 3300vps. Hy het 'n 31 duim-loop wat regdeur 32mm dik is, 'n Barnard-askie, 'n Walther-loop met 'n 1:10-groefdraai en 'n Dolfin-kolf. Op hom is 'n 5-25x56 PM II Schmidt Bender-teleskoop gemonteer.

 

Dié geweer het 'n baie plat trajek wat beteken jou elevasiestelling is nie so groot nie. Verder is hy ongelooflik akkuraat en skiet 'n duim-groepering op 300m. Ek skiet nog nie lank genoeg daarmee om dit behoorlik te kon toets nie, maar ek dink hy het die potentiaal om die kol op 1.8km te tref.

 

Daar is vele ander meer kalibers waaroor ek absoluut mal maar waarop ek nie nou wil uitbrei nie, maar wat ook my hart laat vinniger klop. Maar hierdie drie het die afgelope paar jaar definitief vir my die meeste funksie en gebruik gebied.

  Lees ook                                                                                                                           

6mm XC, ’n
ware wenner

Een van die kalibers wat groot byval vind in Suid-Afrika is die 6mm XC wat deur die legendariese Amerikaanse skut David Tubb ontwerp is en waarmee hy die NRA High Power Long Range Match reeds in 2004 gewen het. En dit nogal met die eerste perfekte telling ooit, 1450/ 450, vir hierdie wedstryd. 

Die onbekende 7mm

Vandag is daar steeds baie mense wat nie dié kaliber ken nie alhoewel Remington, Ruger en ook Sako gewere maak vir hom. Tog blyk daar hernude belangstelling in die .280 Remington te wees. Met die groot verskeidenheid geweerkruite wat in die VSA beskikbaar is kan die ballistieke van die 7mm Remington Magnum byna met die .280 geëwenaar word.

.458 Lott - designed 
to stop a buffalo

During a hunt in the Zambezi Valley in the 1960s, the late Jack Lott, a well-known American gun journalist and hunter, was tossed by a buffalo which he had failed to kill with his .458 Win Mag. Jack immediately set out to design something better... 

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon