EKSKLUSIEF VIR DIE WEBWERF | Mei 2021 | Deur MIA BUYS

My eerste 'Nationals'

My belangstelling in skyfskiet het ek soos enige ander kind ontdek deur na my ouers se voorbeeld te kyk. Ek het in 2015 my pa, Pieter, vir die eerste keer ’n .22 sien skiet op die Meerkatgat-skietbaan in Soutpan, Vrystaat.

Niemand het gedink dat ek regtig daarin belangstel nie, en het gesê dit is net ’n fase omdat meisies nie skiet nie. Die eerste ding waarmee ek toegelaat was om te skiet, was ’n verfbalgeweer. Eers nadat ek ’n ruk lank bakstene geskiet het, het my pa my opgelei om met ’n .22 te skiet. Nadat my ouers besef het dat dit nie net ’n fase is nie, het hulle my ondersteun en aangemoedig. Toe ek uiteindelik my eerste .22-kompetisie geskiet het, het ek besef ek wil vir die res van my lewe skyfskiet.

 

NUWE GEWERE EN OEFENROETINES

Ná ’n paar maande se skietery het my oupa André sy windbuks vir my gegee en oupa Nico sy PCP-geweer. Die twee gewere was ’n groot aanpassing ná my .22, omdat amper alles anders gewerk het.

 

Ek het meestal by die huis met my pa se .22 geoefen, omdat dit my gunstelinggeweer was. My pa het toe vir my ’n .22 Voere gekoop. My “puntie” en ek was onafskeidbaar. Ek het gedink dat ek nooit weer met windbukse sal hoef te skiet nie, maar my pa het my verkeerd bewys.

 

Oom Danie Steyn het my pa vertel van die Junior Kampioenskappe, oftewel “Nationals”, en het my aangemoedig om in die .22-, PCP- en veerklasafdelings deel te neem. Daar was ook ’n klomp ander skietoefeninge. Ek het uitgevind om algeheel eerste te wees, moes ek leer hoe om oor ’n bankrus (benchrest) te skiet. Dit was glad nie maklik nie, want my .22 se kolf was te kort, my PCP was baie swaar en my veerklas het ná elke skoot my outomatiese rigting opgedons. Eers nadat oom Abrie Scholtz vir my ’n nuwe kolf gemaak het, het ek makliker geskiet. Ná ’n paar maande het my geduld en groepering verbeter. My .22 het makliker geskiet, my PCP was nie meer so swaar nie en my veerklas het nie meer my fokus gestuit nie. In September 2016 het my pa gesê ek is reg vir die Nationals.

Picture4.jpg
Picture1.jpg
Sy het vierde plek behaal en ontvang hier haar medalje tydens die prysuitdeling.
Picture5.jpg
Mia maak reg om te skiet.
Mia in aksie by die Junior Kampioenskappe, oftewel “Nationals”. 

DIE NATIONALS

Die groot dag het uiteindelik aangebreek – my eerste Nationals. Ek was vreeslik op my senuwees omdat die GPS gesukkel het om Excalibur-skietbaan te vind en ek bang was ons sou laat wees. Ons het uiteindelik by Excalibur aangekom... ’n halfuur vóór die opening. By die skietbaan was daar baie min kinders van my skiettak en die mees intimiderende faktor was die skuts van ander provinsies. 

 

Toe my pa besef wat aangaan, het hy my aangeraai om boek te gaan lees om van die stres ontslae te raak. Ná ’n paar hoofstukke van Undercover Princess, het ek darem nie meer soos ’n senuweebol gevoel nie. Ek sit toe by my pa en drink my warm sjokolade terwyl ons wag vir die opening.

 

Met dit agter die rug het almal rustig na die baan gestap om hul teikens te kry en hul lêplekke in te neem. Ek was myself ekstra warm aantrek, want die Vrystaat se winter is nie vir sussies nie. My pa het my gehelp om my lêposisie reg te kry en my handskoene aan te trek. As ek nie my handskoene aan gehad het nie, sou ek so baie gebewe het my geweer sou nie stilstaan nie. 

 

Ná die eerste proefskoot was al die senuwees weg en ek kon weer fokus. Ongelukkig voordat ek my tweede proefskoot kon skiet, was daar reeds twee skote op die teiken. Ek het nie geweet wat om te doen nie en het sommer die baanoffisier genader. Hy het my darem gerus gestel en gesê dat ek in die volgende aflos dit oor kon skiet.

 

Die volgende aflos het seepglad verloop. Daar was nie wind nie, ek het ’n goeie groepering geskiet en was glad nie op my senuwees nie. Ek het net een fout gemaak wat ek dink my groepering sou verbeter. As ek net my outomatiese rigting by my staanposisie onthou het, sou ek twee punte meer gekry het. Daar is net een manier hoe ’n mens leer om nie foute te maak nie en dis skote deur die loop.

 

AFWAGTING

Die luilekker kuier ná al die skietaflosse verby was, was die beste. Al die pa’s het gesels terwyl hulle braai en die ma’s het onder die gazebo gesit en kuier. Ons wat onsself kinders noem het lekker gejol, terwyl die baanoffisiere rustig die teikens se punte opgetel het. Almal het naastenby ’n idee gehad wat hulle punte sou wees, maar jy kan nooit te seker wees nie.

 

Ons het so lekker gekerjakker dat ons van die tyd vergeet het. Speel was darem nie die enigste ding wat ons gedoen het nie. Almal het stories vertel en ons het mekaar beter leer ken. Daar was ook ’n paar skietwenke en nommers uitgeruil. Daardie lekker atmosfeer en die noue bande wat jy met jou medeskuts vorm, is heerlik. Dit maak dan nie eens meer saak wat die telbord sê nie.

 

Uiteindelik is ons nader geroep vir die prysuitdeling. Eers met die prysuitdeling het ek besef hoe baie die spanning my beetgepak het. Ek het eintlik nie omgegee oor die uitslae nie, omdat ek myself so baie geniet het, maar die nuuskierigheid het naderhand ingeskop. Die name het toe al hoe minder geraak, en ek het begin wonder of ek ooit in aanmerking gekom het. Toe hulle uiteindelik my naam lees, het dit gevoel of daar ’n berg van my skouers afrol.

 

Ek was uit die veld geslaan toe ek uitvind dat ek by my eerste Nationals algeheel vierde gekom het.  Al die skuts het mekaar ’n klop op die skouer gegee. Dit het nie saak gemaak of jy eerste of 21ste gekom het nie, almal het jou met eerbied hanteer en jou hartlik gelukgewens. Toe dit amper tyd was om te ry, het my pa my gevra of ek dit geniet het. Al wat ek geantwoord het, was: “Wanneer kan ons weer skiet?”. 

Mia was op 15 die jongste deelnemer aan ons Jonger Skrywerskompetisie. Sy het 'n pragtige Muela-mes vir haar bydra gewen. Lees die wenner, Abrie Fourie, se bydra in die Mei-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER.