SA JAGTER/HUNTER | Augustus 2020 | DOOIERUS deur Herman Jonker

Moeders van Afrika

Gee ’n boom ’n drukkie, het iemand eenkeer gesê. Die boom sal dit nie eintlik voel nie, maar aan daardie skurwe boesem sal jy weer jou wese vind want dit aard jou aan die aarde. Dis waar. Dis asof ’n sensoriese kalmte oor ’n mens daal as jy toe-oë jou hart oopgooi en saggies jou palms oor die plooie van ’n knoetsige stam streel. Veral die ou grotes, die mammoete van die planteryk, sus jou soeke na vastigheid. Voel so met jou vingerpunte oor die braille van hulle bas, dan lees jy dat daar wel dinge in hierdie lewe is wat ewig is. Soos die massiewe ou njalabessie waaronder ek staan. So ’n mashatu, soos hulle hier in Tuli genoem word, bied hawe vir ’n hele kolonie wesens. Bo in die kroon jubel dit van voëls en hier skuins agter my skarrel ’n eekhorinkie met maklike hale teen een van die dik arms uit. Soos ’n moederfiguur wat waak en herberg bied, sprei die ou oewerreus haar omhelsende skadudak oor almal wat skuiling soek.

By die kamp kry ek vir Liesbeth wat al jare hier bly en dinge haaks hou, voor die opwasbak. Sy staan roerloos en staar na die muur, diep in ’n ander wêreld. Die oggend se brekfispan en borde is nog onaangeraak, die vuurmaakplek nog vol as.

Liesbeth?

Sy slaan verskrik haar hand oor haar mond. Toe eers sien ek haar nat wange. Dis haar ma, snik sy. Lettie was siek, later is sy weg na ’n kliniek en uiteindelik Francistown toe. Nou het die tyding gekom: dis verby.

 

Ek vang myself wonder of dit werklik oor haar ma is wat Liesbeth huil. Want in haar lewe kan trane nie vreemd wees nie. Haar pa is weg, lankal. In 1989 was dit haar oom Kenneth. Die olifante het hom doodgetrap, net hier agter. Later drie ander mense ook, want die olifante het baie geraak en hulle was oral. Daar was die mal man met die fiets; hulle het net sy stukke gekry. Twee ander mans ook. En ook nog een wat oorleef het met ’n vergruisde been. Verlede jaar – dit was Augustus – loop haar sussie Ida saam met vier kinders wat te bang is om alleen te gaan, na die skooltjie op Lentswe-le-Moriti. Ida is 22 jaar oud, haar dogtertjie wat sy op haar rug dra, ’n skrale vier weke. Die baba huil troosteloos. Skielik breek drie olifantkoeie uit die bosse en storm op hulle af. Die kinders vlug gillend teen ’n sandsteenkrans uit, maar Ida is nie so rats nie. Sy probeer bosse toe hardloop. Toe die  olifante byna op haar is, ruk sy die tjalie los en smyt die kleintjie weg van hulle af. Voor sy kan wegkom word sy platgeloop. ’n Koei pen haar teen die grond met ’n tand dwarsdeur haar en storm voort om haar liggaam ’n ent verder te loop neergooi.

 

Die ander twee bondel om die skreeuende baba en skop stof op terwyl die groter kinders magteloos toekyk van die krans af. Lank maal die olifante om die kindjie. Alles is vaal van die stof, maar die reusepote en -slurpe raak nie aan die baba nie. Olifante is goeie moeders. Kan dit wees dat hulle Ida aangeval het omdat hulle gedink het die huilende kleintjie word seergemaak?

 

Liesbeth is ook ’n goeie moeder. Sy is ma vir tien kinders, onder wie haar eie, haar suster se kleintjie wat so wonderbaarlik oorleef het, ander wesies en nou ook haar eie ma se jongstes. Is dít miskien waaroor sy stil trane ween? Oor vigs en wilde diere wat maai, en die las wat dan val op die skraal skouers van dié wat oorbly en so hul stryd teen armoede nog swaarder maak?

 

Of huil sy dalk oor die verlies van haar wêreld? Haar mense en die landskap wat nou so anders is as toe sy dit as kind geken het, voor die olifante te veel geraak het. Maroelabome was volop, nou is hier niks. Selfs die mopanies staan tot stokke gebreek. Net die ou reuse weerstaan die aanslag. Sou sy weet dat hierdie verwoesting aan die mens toegeskryf kan word? Aan die besetting van die olifanttroppe se tuistes en die versperring van hul eeue-oue trekpaaie? En dan die misleide barmhartigheid wat toelaat dat getalle so toeneem waar die oorblywendes gekonsentreerd is, dat hulle self die vernietigers van hul eie laaste heenkome raak.

 

Sou sy besef dat wat sy om haar sien en beleef ’n ekologiese stelsel is wat in duie stort en dat sy maar een van talle spesies is wat getref word? Miskien weet sy dit, maar sou sy kon glo dat so ’n natuurramp teweeggebring kan word deur menslike inmenging uit lande ver van enige olifante? Deur mense wat nie die realiteite verstaan nie, maar hulle bemoei op grond van emosie en blindgroen idealisme?

 

Miskien huil sy sommer oor die groot onreg van alles. Oor haar magteloosheid teenoor ’n natuur wat steier onder die aanslae van die mens en hom dan wreek op hulle wat die weerloosste is.

 

Maar sy sê niks. Sy staan net daar met haar hand oor haar mond terwyl trane uit haar pynverblinde oë stroom. En ek kan aan niks dink om haar mee te troos nie. Ek kan maar net hoop dat sy oor haar ma huil, want op ’n manier klink dit makliker. Ek draai om en loop terug rivier toe. In die diep skadu van ’n groot mashatu gaan sprei ek my arms en lê my kop en palms teen die skurwe bas. Ek voel hoe die gees van Afrika deur my spoel. Ek voel die pyn van Moeder Aarde en haar kinders.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon