SA JAGTER/HUNTER | Januarie-Februarie 2021 | Deur JOHAN VAN WYK

Foto 1.jpg

Maak sin van oorsese dryfmiddels

Suid-Afrikaanse herlaaiers was die laaste paar jaar behoorlik in die spreekwoordelike tuimeldroër gewees wat die beskikbaarheid en keuse van dryfmiddels aanbetref. Ná ’n noodlottige ontploffing in September 2018 by ons plaaslike dryfmiddel-vervaardiger, Somchem (Rheinmetall) se fabriek, is produksie gestaak sodat herstelwerk gedoen kan word. Soos dinge nou staan is produksie skynbaar steeds nie ten volle hervat nie en dis ook nie duidelik of dit in die toekoms weer ’n aanvang sal neem nie.

Sommige handelaars het egter reeds voor die Somchemontploffing dryfmiddels van oorsee af begin invoer en aan die Suid-Afrikaanse skietpubliek beskikbaar gestel. Alhoewel hierdie dryfmiddels duurder is as Somchem se produkte, is dit vir nou die enigste opsie vir diegene van ons wat graag ons eie ammunisie wil laai. Daar is egter ’n probleem van ’n ander aard wat sy kop uitsteek: Met die groot verskeidenheid oorsese dryfmiddels wat beskikbaar is, hoe gaan ’n mens te werk om een te kies wat goed in jou geweer met jou koeël van keuse sal werk?

 

GROOT VERSKEIDENHEID DRYFMIDDELS BESKIKBAAR

’n Vinnige soek op die internet het aan die lig gebring dat dryfmiddels van Hodgdon, IMR, Norma, Alliant, Vihtavuori, Vectan en Lovex na Suid-Afrika ingevoer word en, na gelang van beskikbaarheid, aan die skietpubliek te koop aangebied word.

 

Hierdie dryfmiddels word in lande soos Australië, Swede, Frankryk, die VSA, die Tsjeggiese Republiek en Kanada vervaardig en is beskikbaar vir ’n groot verskeidenheid aanwendings, wat wissel van handwapen en geweer tot haelgeweer. In die geval van gewere, is dryfmiddels beskikbaar vir bykans enigiets – van ’n .22 Hornet tot en met ’n .50 Browning – so die keuse kan met die eerste oogopslag so ietwat verbysterend wees.

 

Ek word gereeld gevra om ’n plaasvervanger vir ’n spesifieke Somchem-dryfmiddel voor te stel. Aangesien ek nie sommer herlaai-inligting uit die vuis uit gee nie, en omdat ek gewoonlik ook geen beheer het oor wat met my swaarverdiende advies gebeur nie, probeer ek om my raad so konserwatief moontlik te hou, maar daar is wel een of twee belangrike dinge om in ag te neem voordat jy winkel toe ry en ten duurste dryfmiddels aanskaf.

 

KYK NA DIE BRANDTEMPO

Die eerste ding om na op te let is die brandtempo van die betrokke dryfmiddel, wat dalk met die eerste oogopslag lyk of dit die antwoord op jou Somchemverwante probleme kan wees. Byvoorbeeld, as jy vantevore 180 grein-koeëls en S365 vir jou .30-06 gelaai het, maar jou voorraad S365 is uitgeput, is dit ’n uitstekende begin om ’n tabel te raadpleeg wat die brandtempo van die diverse beskikbare dryfmiddels, sowel as dié van die Somchem-ekwivalente, aandui.

 

As ons S365 as voorbeeld gebruik, is daar verskeie dryfmiddels beskikbaar wat ’n soortgelyke brandtempo het, waaronder Hodgdon-4350; IMR-4350 en Lovex S070. Al drie hierdie ingevoerde ekwivalente is, net soos S365, geëkstrueerde dryfmiddels (met ander woorde stafies), wat impliseer dat hulle die dop sal vul tot min of meer dieselfde volume as wat S365 gedoen het. Op sigwaarde behoort Hodgdon-4350, IMR-4350, sowel as Lovex S070 (om nie van Norma URP en Vihtavuori N150 te vergeet nie) dus goeie plaasvervangers vir S365 te wees.

RAADPLEEG BETROUBARE BRONNE

Die volgende stap is om ’n betroubare bron (of bronne) te raadpleeg. Die internet kan ’n waardevolle bron van inligting wees, maar wees op die uitkyk na die ridders daar buite wat hulself as “herlaai-eksperte” aanstel en nie skroom om op aanlyn platforms inligting uit te deel nie. In baie gevalle kan iemand anders se ondervinding met ’n bepaalde dryfmiddel van onskatbare waarde wees, maar ek het ook al ’n hele paar keer gesidder wanneer ek die “advies” lees wat op die internet aan niksvermoedende beginners opgedis word.

 

Daar is uitstekende herlaaihandleidings beskikbaar deur vervaardigers soos Speer, Hornady, Lyman, Swift, Woodleigh, Nosler en andere. Om een of meer van hierdie handleidings aan te skaf, is myns insiens ’n uitstekende belegging, en die meeste van hulle bevat nie net goeie, geverifieerde herlaaidata nie, maar ook waardevolle inligting oor herlaaitoerusting, die proses van herlaai, ballistiek en vele ander belangrike aspekte.

 

VERSKILLE TUSSEN LOTTE

In die verlede was een van die groot punte van kritiek teen Somchem se produkte die soms radikale verskille in brandtempo tussen die onderskeie lotte van dieselfde dryfmiddel. Ek het hierdie les self ’n paar jaar terug op die harde manier geleer met my 6,5x55 en S365. Ná ek die geweer aangeskaf het, het ek twee blikke S365 gekoop, my ladingontwikkeling daarmee gedoen en die res op die skietbaan of in die jagveld opgebruik.

 

Met my voorraad S365 uitgeput, het ek twee vars blikke aangeskaf en met die lading wat nou mos uitgesorteer was, afgesit skietbaan toe. Ná die eerste skoot het ek die slot oopgemaak om te herlaai, net om te sien die dop sit nog in die kamer vas. Toe ek die magasyn uithaal, val die slot se uittrekker en die slagdop op hulle eie uit.

 

Dieselfde lading wat vantevore wonderlike akkuraatheid sonder enige tekens van druk gegee het, was nou ewe skielik witwarm met die nuwe lot S365. Ek kon eventueel die dop met ’n skoonmaakstok uitgestamp kry, en benewens die uittrekker, was my Tikka gelukkig nie beskadig nie. Dit was egter ’n belangrike les in presies hoeveel die onderskeie lotte van dieselfde Somchem-dryfmiddel kan verskil. Met oorsese dryfmiddels is my ondervinding van die verskille tussen onderskeie lotte egter presies die teenoorgestelde. Ek het al meermale verskillende lotte Hodgdon-4350 gebruik en die verskille was negeerbaar min. Ná my “warm” ondervinding met S365, maak ek egter steeds elke keer seker deur ’n grein of wat minder dryfmiddel te gebruik en eers ’n paar skote deur my chronograaf te skiet – liewer bang Jan as dooie Jan.

 

TEMPERATUURSENSITIWITEIT

Iets wat in ons warm Suid-Afrikaanse klimaat handig te pas kom, is die feit dat baie van die oorsese dryfmiddels bitter min, of glad nie temperatuursensitief is nie. Heelwat van die Hodgdon-reeks se enkelbasisdryfmiddels (met ander woord dis gemaak van nitrosellulose sonder die toevoeging van addisionele nitraat) word inderwaarheid deur Australian Defence Industries in Nieu-Suid-Wallis vervaardig (Hodgdon-4350 word byvoorbeeld in Australië as AA2209 bemark en verkoop). Hierdie dryfmiddels los min residu in die loop agter, is stabiel en ongeaffekteer deur temperatuurveranderinge. Ander dryfmiddels soos IMR-7977 het baie soortgelyke eienskappe.

 

ANDER BAADJIES VIR DIESELFDE PRODUK

Ek het reeds verwys na Hodgdon- 4350 wat inderwaarheid eintlik AA2209 vanaf Australië is. Alhoewel dit nie iets is waaroor die gemiddelde herlaaier slaap hoef te verloor nie, is daar ’n klompie ander dryfmiddels wat dieselfde ding is, maar onder verskillende name bemark word. Een hiervan is Alliant se Reloder-15. Reloder-15 is een en dieselfde ding as Norma 203B en word deur Bofors in Swede vervaardig. Alhoewel herlaaidata dus teoreties 100 % vir dié twee dryfmiddels uitruilbaar is, is dit egter steeds die verantwoordelike ding om van voor af ladingontwikkeling te doen indien daar van die een na die ander oorgeskakel word.

 

Wat algemene ladingontwikkeling aanbetref, is die prosedure presies dieselfde met ingevoerde dryfmiddels as wat die geval was met plaaslike dryfmiddels. Begin met ’n konserwatiewe lading en werk versigtig op na wat werk in jou spesifieke geweer vir akkuraatheid en teen veilige drukvlakke. Soos altyd sal die keuse van ’n spesifieke fabrikaat dop, koeël en slagdop ’n invloed hê, so indien een of meer van hierdie komponente verander, moet ontwikkeling van voor af begin word. ’n Chronograaf is van groot belang ten einde te voorkom dat ’n mens in die donker rondtas.

 

Met ’n bietjie huiswerk en gesonde verstand is dit nie te moeilik om die regte ingevoerde dryfmiddel vir jou behoeftes te vind nie. Alhoewel ek regtig hoop dat Somchem eersdaags weer sal terugkeer na volle produksie, lyk dit of ons vir die afsienbare toekoms op ingevoerde dryfmiddels gaan moet staatmaak. Alhoewel hulle as ’n reël duurder is as plaaslik vervaardigde dryfmiddels, is dit amper deur die bank kwaliteitprodukte wat met groot sukses aangewend kan word.

Foto 2.jpg