Om Eunia se tafel | 3 Oktober 2019 | Deur EUNIA BARNARD

Lewer in die jagkamp

Manne (en vroue) wat na ’n harde dag se “werk” met ’n lekker boklewer by die jagkamp aankom, húlle kan hulself ware jagters noem. Want die jagervaring is eers kompleet as jy die eerste prooi se lewer dieselfde aand in die pot kan hoor sis...

As jy iemand is wat voorbereid jagveld toe gaan, sou jy beslis hiervoor voorsiening gemaak het in jou jagbeplanning. As deel van die kosvoorraad-aankope is dit op jou lysie om ’n draai by jou plaaslike slagter te maak… om vetderm of netvet aan te koop. Hoekom? Want skilpadjies en pofadders is net so deel van ons Suid-Afrikaanse boskostradisies soos roosterkoek en boerewors. Daarsonder is geen jagspyskaart volmaak nie.

 

Toegegee, dit is ietwat van ’n joppie om die vetderm te stop of die skilpadjie toe te wikkel met die stokkies, maar as jy ’n gewillige kampkok het wat saamgaan, het jy mos geen verskoning nie. (Trouens, ek weet waarom my man my saampiekel jagveld toe!)

 

Maar al het jy nie ’n spesiale kok of ’n vetdermpie tot jou beskikking nie, weet ek jy het ’n swartpot of swaarboompan daar by jou kampvuur. Jy sou ook nie die jagveld aandurf sonder speserye, uie en olie nie…

 

En nog iets: Lewer is die staatmaker in die boskamp. Lewer vra min om lekker te smaak – min tyd (hou die gaarmaaktyd kort, anders word die lewer taai) en min bestanddele. So, al wat jy benodig, is ’n lekker groot ui, ’n bietjie olie (of botter – hoe geiler, hoe beter) en miskien ’n knertsie worcestersous of ander souse saam met geurige speserye.

 

My pa het gehou van bonkige stukke lewer, maar ek verkies kleiner repies, want dan is jou happiegrootte-stukkies net reg om saam met ’n gebotterde broodjie te verslind. En hou tog ekstra brood byderhand om die laaste oorskietsous op die bodem van die pan mee op te vee… Jô, my mond water nou!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401