SA JAGTER/HUNTER | Mei 2020 | Deur JOHAN VAN WYK

HOE OM JOU DUBBELGEWEER TE REGULEER

Om ’n dubbelgeweer aan die skiet te kry, is een van die ingewikkeldste projekte wat ’n mens kan aanpak – daaroor is daar al dikwels geskryf. In baie gevalle dateer die gewere ’n honderd jaar of meer uit die verlede en bestaan die makers nie eens meer nie, so ’n resep wat werk, kan nie met die stuur van ’n e-pos gekry word nie.

Ten einde te verstaan hoekom dit soms so moeilik is om ’n dubbelgeweer te kry om akkuraat te skiet, is dit nodig om vlugtig te kyk na hoe dié roere aanvanklik gebou is. Een van die grootste voordele wat die dubbelgeweer bó die grendelaksiegeweer inhou, is die feit dat die dubbel ’n feitlik onmiddellike tweede skoot bied. Hierdie het menige grootwildjagter al uit ’n gevaarlike situasie met ’n gekweste buffel of ander gevaarlike dier gered, en die swaarkaliber-dubbelgewere (wat veral deur die Britte in vroeër jare gemaak is) het gou legendariese reputasies as uitstekende stoppers opgebou.

TRADISIONELE, TYDSAME METODES

Die sisteem wat die Britte en die ander geweermakers van ouds uitgedink het om ’n dubbel se twee lope te kry om in die kol te skiet (die proses word “regulasie” genoem) op 50m of so, was om die twee lope met ’n rib (een bo-op die lope waarop die korrel en visier gemonteer was, en een onder) te bou wat van die aksie tot by die punte van die lope gestrek het en wat met tin aanmekaar vasgesmelt was. Die dik gedeelte by die kamers self is aanmekaar gehardsoldeer met geelkoper, so dit het as die “verwysing” gedien omdat die lope daar nie relatief tot mekaar kon beweeg nie. Voor, tussen die krone van die twee lope, het hulle ’n staalwig (wedge) ingelê. Die geweer is hierna, voor dit gegraveer is, of die kolf finaal afgewerk is, skietbaan toe gevat met ’n klompie ammunisie om daar na die teiken te skiet.

As die geweer nie na wense geskiet het nie (byvoorbeeld as die twee lope wyd van mekaar geskiet het) is die ribbes wat die lope aanmekaar gehou het, asook die wig voor, met ’n vlam warm gemaak. Die wig sou fraksioneel beweeg word, en as alles afgekoel het, is daar weer skietbaan toe gegaan met die hele spulletjie en weer na die teiken geskiet. Deur middel van hierdie regulasieproses kon die punt van impak van die lope verstel word deur die wig voor tussen die lope in ’n bepaalde rigting te beweeg tot die geweer geskiet het soos hy moes. Dit was egter ’n tydsame proses wat deur hoogs geskoolde geweerbouers gedoen moes word en waartydens tot ’n honderd skote geskiet sou moes word. Al hierdie faktore het bygedra tot die rede waarom dubbelgewere nog nooit goedkoop was nie.

 

In moderne tye het tegnologie ’n rol begin speel en hulpmiddels is beskikbaar soos lasers wat deur die lope geskyn word terwyl die ribbes vasgesoldeer word, en selfs skroewe wat wig te kan verstel. Hoe suksesvol al hierdie planne op die langtermyn is, is egter steeds debatteerbaar, en dis ongelukkig ’n feit dat die oorweldigende meerderheid moderne bouers van dubbelgewere vandag steeds die tradisionele metode volg.

OU GEWERE IN MODERNE TYE

Die Britte het in die ou dae Kynoch-ammunisie gebruik om hulle dubbels mee te reguleer. Kynoch-ammunisie was gelaai met kordietdryfmiddel wat ’n relatief vinnige brandtempo gehad het, maar wat egter in lang stokkies, amper soos spaghetti, vervaardig is. Kordiet was gemaak van ’n kombinasie van nitrosellulose en nitrogliserien, wat daaraan ’n hoë vlamtemperatuur gegee het. Vandaar ook die sogenaamde cordite burn in die kele van gewere wat baie kordiet

geskiet het. Kordiet het dus baie plek in die dop opgeneem, en dis derhalwe die rede waarom die meeste van die Britse Nitro Express-kalibers massiewe doppe het.

As ons die horlosie nou met ’n honderd jaar of so vorentoe draai, is hierdie einste groot doppe een van die hoofredes waarom dit soms ’n hoofpyn kan wees om ’n dubbelgeweer te reguleer. Kordiet word vir dekades reeds nie meer vervaardig nie en vandag se dryfmiddels neem nie meer soveel dopspasie op as kordiet nie. As ons die welbekende .470 NE as ’n voorbeeld gebruik, kan ons sien dat die .470 se 3¼”-dop ’n waterkapasiteit van 111gr het. Met ’n tipiese moderne lading, byvoorbeeld 88gr Norma 203-B-dryfmiddel met ’n 500gr-koeël, is die dop nie noodwendig vol genoeg nie en moet ’n vuller soos Dacronwatteersel dus gebruik word om oortollige

dopspasie op te neem en sodoende optimale verbranding te gee. Moderne dryfmiddels verg dus so ’n bietjie progressiewe denke wat dubbelkalibers aanbetref.

Die loopstaal van ou dubbels is ook nie so sterk soos die staal wat in moderne gewere gebruik word nie en die gebruik van sogenaamde “harde” koeëls met staalmantels word nie aanbeveel nie. Die risiko van die gebruik van sulke harde koeëls in ou gewere is dat die groewe nie noodwendig die koeël graveer as dit afgevuur word nie, maar eerder na buite gedruk word, of (in ekstreme gevalle) die loop uitmekaar laat bars soos ’n piesangskil. Hierdie verskynsel gebeur nie gereeld nie, maar dit is sinneloos om die noodlot te tart in hierdie verband, so gebruik dus liefs relatief sagte loodkernkoeëls in ou gewere.

 

WAAR OM TE BEGIN

Daar is ’n paar herlaaihandleidings beskikbaar wat data vir die Nitro Express-kalibers bevat, en die beskikbaarheid van oorsese dryfmiddels en ander komponente in Suid-Afrika het die lewe vir dubbel-eienaars aansienlik vergemaklik. Verreweg die beste boek in hierdie verband, is Graeme Wright se boek, Shooting the British Double Rifle, sowel as die Woodleigh-herlaaihandleiding.

 

Wat dryfmiddels aanbetref, is dit belangrik om in gedagte te hou dat kordiet se brandtempo relatief vinnig was, en baie van die ouer bronne dui dus ladings vir dryfmiddels soos IMR3031 aan vir die ou dubbelkalibers. Dit is egter so dat IMR3031 baie gevaarlike drukpieke gee – Jim Bell van die VSA en andere het breedvoerig daaroor geskryf. Indien jy dus ’n ou dubbel aan die skiet moet kry, sal dryfmiddel wat ietwat vinniger brand, waarskynlik ’n goeie beginpunt wees. Moderne ammunisie vir die ou dubbelkalibers, deur vervaardigers soos Hornady en andere, word egter gelaai met dryfmiddels wat stadiger brand, en hier sal iets soos IMR4350 of selfs Hodgdon4831 waarskynlik ’n beter wegspringpunt wees, veral as die geweer met moderne  ammunisie gereguleer is deur die fabriek.

Met die risiko van veralgemening, is ek gewillig om te sê dat kordiet-gereguleerde gewere waarskynlik gaan werk met dryfmiddels in dieselfde spoedspektrum soos Somchem S335, S355, Norma 203-B en Alliant R15, en meer moderne gewere met dryfmiddels soos Somchem se S365, S385, Norma MRP, en Hodgdon 4831. Ek is in die versoeking om ’n vermenigvuldiging van formules te verskaf wat die verband tussen kordiet en die bogenoemde dryfmiddels definieer, maar ongelukkig is al hierdie formules ’n funksie van die uitsettingsverhouding (expansion ratio) van die kaliber, asook die seksionele digtheid van die koeël. Tensy die kalibers dus baie na aan mekaar is betreffende die twee syfers (soos die .470 NE en .500/465 NE) is dit ongelukkig grootliks raaiwerk.

 

Met ouer gewere is dit raadsaam om by ’n relatief konserwatiewe lading te begin en dan op te werk. Let op dopvulling en gebruik ’n vuller (soos hierbo genoem) as daar te veel spasie in die dop is nadat die koeël ingedruk is. Let wel; die idee is om ál die lugspasie tussen die dryfmiddel en die basis van die koeël te vul, nie om net ’n pluisie bo-op die dryfmiddel te plaas nie. Die .470-klas patrone neem tipies so maksimum 10gr watteersel (Dacron) om dit te bereik. Dit is ook ’n voorvereiste om koeëls van dieselfde gewig te gebruik as waarmee die geweer aanvanklik gereguleer is. Hierdie informasie, sowel as die oorspronklike kordietlading, kan gewoonlik van die proefmerke onder die kamers van die geweer afgelei word, veral met Britse gewere. Indien ’n .470 NE dus aanvanklik met 500gr-koeëls gereguleer was, is die kans dus betreklik skraal dat die geweer akkuraat sal skiet met ligter of swaarder koeëls.

VERSKILLE IN KOMPONENTE

Komponente vir die dubbelkalibers, en veral doppe, kan soms ook ’n beduidende rol speel in akkuraatheid. As ons weer vlugtig na die .470 NE as voorbeeld kan terugkeer, blyk dit dat ’n hele paar vervaardigers tans doppe en/of gelaaide ammunisie vir hierdie kaliber vervaardig. ’n Jaar of so gelede was ’n vriend van my genoodsaak om sy .470-doppe te vervang omdat die Norma-doppe wat hy gebruik het, ietwat lank in die tand begin raak het en begin kraak het. Aangesien Hornady redelik vryelik beskikbaar was op daardie stadium, het hy ’n voorraad van hierdie vervaardiger se .470-doppe aangeskaf, hulle gelaai met die gebruiklike lading wat hy vir sy .470 ontwikkel het, en skietbaan toe gery.

 

By die skietbaan aangekom, moes hy egter agterkom dat die geweer nou ewe skielik harder skop, dat die aksie styf is om oop te maak (met ’n dubbel is hierdie ’n seker teken van hoë druk, net soos wat die slot van ’n grendelaksiegeweer styf oopmaak met ’n warm lading), en dat die 500gr Woodleigh-sagteneuskoeëls nou sommer 150vps vinniger by die loop uitgaan.

 

Dit het redelik kopkrap geverg om die probleem te diagnoseer maar die rede vir die afwyking was die Hornady-doppe. Die Hornady-doppe se wande was aansienlik dikker as dié van die Norma-doppe wat vantevore gebruik is en dit het dus die dopkapasiteit verminder. Die verskil in dopgewig was omtrent 35gr, en met geelkoper wat ’n digtheid van ongeveer nege keer dié van dryfmiddel het, was die aangewese oplossing om die lading met 4gr te verlaag. Die probleem is toe inderdaad opgelos, en die .470 se werkverrigting was weer wat dit moes wees met doppe wat sommer uit die kamers geval het nadat die geweer afgevuur is.

 

Dieselfde het al gebeur met verskillende koeëls, en monometaal- sowel as staalmantelkoeëls kan soms ook verhoogde druk veroorsaak. Maak dus maar seker van die komponente wat jy beplan om te gebruik.

 

SPESIFIEKE PROBLEME

Soms doen ’n mens alles volgens die boek, maar die geweer wil net eenvoudig nie saamwerk nie. Ek het al meermale gesien hoe feitlik enige voorgeskrewe lading in ’n spesifieke geweer probeer word, maar dat die geweer net eenvoudig glad nie aanvaarbare akkuraatheid wil gee nie. Hoe nou gemaak?

 

Wel, dit hang van die probleem af. As ’n dubbelgeweer wyd skiet (met ander woorde, die skote van die linker- en regterlope land horisontaal weg van mekaar) kan die probleem op twee maniere aangespreek word. Die eerste moontlike oplossing is om die trompsnelheid op te stoot deur ’n grein of twee ekstra dryfmiddel te laai met dieselfde gewig koeëls. As dit nie wil werk nie, kan dryfmiddel wat ietwat vinniger verbrand probeer word en, as ’n laaste uitweg, selfs ligter koeëls.

 

As die lope oorkruis van mekaar skiet (die linkerloop skiet regs van die mikpunt en andersom) is die diagnose presies die teenoorgestelde: verminder trompsnelheid, gebruik ’n stadiger dryfmiddel. Soos reeds genoem, is die eerste teken van oormatige druk in ’n dubbel as die geweer swaar oopmaak nadat dit afgevuur is. Aangesien die meeste van die dubbelkalibers teen betreklik matige kamerdruk funksioneer (gewoonlik in die omgewing van 30 000psi) is dit raadsaam om trompsnelheid dienooreenkomstig matig te hou ten einde skade aan die geweer te vermy. ’n Chronograaf is ook ’n onontbeerlike stukkie toerusting ten einde drukprobleme te vermy en nie in die donker rond te tas nie.

 

SKIETBAAN TOE

Op die skietbaan is daar een of twee dinge wat ook in gedagte gehou moet word. Die eerste is dat die meeste swaarkaliberdubbels gewoonlik op 50m gereguleer word, en dit is dus sinneloos om te begin op 100m en die geweer aanvanklik op hierdie afstand aan die skiet te probeer kry. Dieselfde geld ook vir kort afstande, en die feit dat ’n dubbelgeweer byvoorbeeld op 20m mooi skiet, sê ongelukkig nie veel oor die geweer se vermoëns op langer afstande nie.

 

Terugskop is iets wat nie almal ewe goed hanteer nie maar met die prys van swaarkaliberkomponente is dit wel ’n goeie idee om hiervoor voorsorg te tref. Indien nodig, gebruik ’n addisionele skopkussing om die houe (op die skouer en die beursie) ligter te maak.

 

Ten einde te kan bepaal waar elke loop skiet, is goeie notas ’n voorvereiste. Maak seker waar elke skoot op die teiken geland het en maak dan planne van daar af. Dis soms nie altyd so maklik om te sien as ’n dubbel se lope oorkruis van mekaar skiet nie, veral as dit nie met baie is nie, en gereelde besoeke by die teiken is dus een van die dinge wat ’n mens aan gewoond gaan moet raak tydens die reguleringsproses.

 

Merk die gate duidelik vir toekomstige verwysing. Ek gebruik ’n swart koukie-pen en merk die gate met “L1” of “R2”, afhangende van welke loop afgevuur is en die hoeveelste skote deur die teiken is. Na al die moeite gee dit ’n mens soms baie satisfaksie om ’n dubbelgeweer te kry om die skote van albei lope in ’n twee- of drieduimgroepering te kry. Dit vergelyk nie met die akkuraatheid van ’n vlakteroer wat vir springbokskiet op langafstand bedoel is nie, maar dit is, soos die Amerikaanse geweerskrywer Craig Boddington een keer geskryf het, “minute-of-grapefruit”. Vir ’n dubbel is dit goed genoeg!

Jag in die buurlande

Vra vir Kassie

Steenbokjag in die Bo-Kaap

Die leeus lag toe laaste

Slaan jou oë op

Inkonka

Skote wat steeds weerklink

Monterings vir Lee-Speed

In die jagveld met die 6.5mm Creedmoor

 Lees ook                                                                                                                             

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon