SA JAGTER/HUNTER | Mei 2020 | DOOIERUS | Deur  HERMAN JONKER

VAT STAMP VYF

Aijaijai… Ons lewe werklik in ’n era van veranderinge. Die dolosse rol ongeduldig, en hulle voorspel meestal niks goed nie. Party dae voel dit vir my die houe val vinniger as wat ’n mens daarby kan aanpas.

In die ou dae het dinge stadig gebeur. Nuus het te perd gekom, en dié van wêreldgebeure per skip of – later  per stotterende telegraaf. Daarna, nadat die letters sorgvuldig in lood uitgepak is en die rollers ge-ink is, is die boodskap op papier versprei. Deesdae hoor ons dit dadelik – selfs daar buite teen ’n rantjie in die wye Karoo – as Trump iets simpels sê of een van die Queen se gebroedsel iets onkoninkliks aanvang.

 

Met uitvindsels en nuwe tendense was dit dieselfde: Dinge het langsaam ontwikkel en dan ’n lang en geduldige leeftyd gehad. Dit was nie ’n kitsmode wat gou oorwaai soos vandag nie.

 

En so ook met tradisies. Gebruike het gaandeweg ontstaan en beslag gekry.

 

Iets sou gewoonte raak en die gewoonte het stadig maar seker posgevat en later gebruik geraak en gebruik het tradisie geraak en tradisie het mettertyd gevestigde etiket geraak. Dit was ’n staaaaaadige proses. Vat byvoorbeeld die geval van die handdruk as ’n alledaagse groet: Die praktyk kom al van vyf eeue voor Christus af, toe dit glo in Griekeland ontstaan het.

 

Reik mekaar die hand, was vir eeue ’n standaardgroet, veral tussen mans. Oorspronklik was dit ’n vredesgebaar, ’n bewys dat die persoon nie ’n wapen in symhand of mou versteek het nie. Uiteindelik sou dit die mees algemene vorm van groet op aarde raak, oor oseane en vastelande heen.

 

Maar, kan jy glo, na 2 500 jaar verdwyn dit nou bykans oornag! Ja wraggies – skuus, ek sukkel nog om dit te verteer – bladskud, handgee, bladsteek, handdruk, vat vyf, oftewel “deksiose” as jy na die slim mense luister, is nou skielik taboe. Onhigiënies, ongewens en sosiaal verbode, sommer binne ’n week!

 

Dit was wel net ’n gebaar, maar dis nogal jammer, want elkeen van ons onthou daardie trotse oomblik toe Pa of Oupa of wie ook al, ons hand gevat het by ons eerste bok en hom gewigtig geskud het. Dit was ’n groot oomblik, ’n baken op die pad na manwees, daardie handgee tussen manne.

 

Nie dat dit sonder slaggate was om mekaar die regterhand te gee nie, al was dit so ’n eenvoudige gebaar. As laaitie moes ’n mens ’n paar dinge leer as dit by bladskud kom. Eerstens was daar die kwessie van druk.

 

Hoe hard jy die ander person se hand moes druk was nogal ’n fyn saak. ’n Te pap hand was veral ’n fout. “Nee allamagtag, smaak dan dié mannetjie probeer voel of die jellie al beginner set het,” sou die oom dan opmerk, tot jou ewige skaamte. Terselfdertyd kon jy ook nie sy hand te hard druk nie, want dan kon hy straks weer reken jy’s hans vir jou ouderdom en dis miskien tyd dat jy bietjie teruggesnoei word.

 

Die goue middeweg was om die ander man se hand ferm te vat – mooi bakhand, miskien met net ’n effense klapgeluid – en hom dan so ’n ligte broederlike pomp uit die skouer te gee. Op en af natuurlik, nooit in en uit nie, want dan kon dit straks ook verkeerd vertolk word.

 

En dan was daar natuurlik ook die kwessie van weet wanneer om te los. Een of twee keer skud, nie meer nie, anders kon dit weereens verkeerd verstaan word. Vroom sendelinge, creepy ooms, knaende polissmouse en stemwerwers; dit was die tipe ouens wat aan jou hand sou bly kleef.

 

Ja, die beskeie bladsteek het eintlik ’n hele hoofstuk van ons lyftaal beslaan. Dink bietjie: Jy het ’n man se hand anders geskud nadat hy ’n kweskoedoe met ’n doodskoot in die hardloop platgetrek het, vergeleke met wanneer hy ’n rustende rooibokrammetjie onder ’n bos dooierus sou omdop. En die high five wat jy jou spoorsnyer gegee het as die eland lê, was ’n bietjie anders as die vat vyf waarmee jy hom die eerste dag

gegroet het.

 

So, wat gaan ons nou doen, nou dat ’n Made in China-gogga ons te bang gemaak het om mekaar te groet soos ons dit al vir eeue doen? Hoe moet ’n mens nou ’n ou vriend groet wanneer jy hom raakloop en regtig bly is om hom te sien? En wat doen jy as jou jagmaat ’n mooi skoon skoot op ’n bok skiet en jy wil hom gelukwens? Moet ons vir mekaar tong uitsteek soos hulle in Tibet doen? Neuse vryf soos die Maori’s? Skouers skuur soos in Ethiopië, of koppe raak soos in die Kongo? Wel, ek weet nie rêrig nie. Dis ’n dilemma.

 

 Voetgroet, soos party mense voorstel, sal ek nie sommer nie. (Ek mag wel my foute hê, maar ek’s nie die tipe ou wat aan my vriende skop nie.) Elmboogstoot klink ook nie vir my reg nie. Dis eerder hoe jy pad maak wanneer jy haastig uit Loftus probeer kom na die Bulle verloor het.

 

Nee, dan moet dit seker maar daardie Bronx-tipe vuisstamp wees, kneukels teen kneukels met ’n stywe gewrig, soos wat hulle in die flieks doen. Nie dat dit ’n besonderse manier van groet is nie, maar minstens lyk dit darem of die groeter die ander ou dreig om hom nie met ’n virus te probeer besmet nie!

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401