SA JAGTER/HUNTER | Mei 2020 | Deur FRANCOIS VAN EMMENIS

Springbok, jou lekker ding

Springbokjag – net die woorde laat my hart vinniger klop, my oë helder skyn en my mond water... Ek vermoed ek is nie die enigste jagter wat só voel nie. Springbokjag is so deel van Suid-Afrika en Namibië se kultuur soos rugby en braaivleis en dit is nie moeilik om te verstaan hoekom nie.

Springbokke is volop en wydverspreid in hierdie twee lande, alhoewel droogtes en siektes oor die afgelope paar jaar hulle tol geëis het onder kuddes van gedeeltes van die Kalahari en die Karoo. Alhoewel hulle nie histories daar voorgekom het nie, is springbokke ook al jare gelede gevestig in die Bosveld en doen hulle baie goed op sekere plase in die noorde wat oor die regte habitat beskik.

 

Hartwatersiekte sal egter gou ’n springboktrop uitwis in die Bosveld (waar die bontbosluis wat die siekte versprei, voorkom) en dus moet slegs springbokke wat bestand is teen hartwater hier aangehou word. “Hartwaterbokke,” soos dit in die volksmond bekend staan, is natuurlik ook duurder op wildveilings as gevolg hiervan.

Of dit nou reg of vekeerd is om springbokke en ander wild buite hulle natuurlike/historiese gebiede te vestig, is ’n vraag vir ’n ander dag. Wat ek wel weet, is dat baie jagters dankbaar daarvoor is dat die prins van die vlaktes naby Gauteng gejag kan word.

Met verskeie meningsopnames was springbokke bo-aan die lys van plaaslike biltongjagters as die gewildste spesies om te jag. Hulle is nog bekostigbaar, afhangend van waar jy jag, maar volgens my ondervinding wissel die pryse aansienlik na gelang van die reën wat geval het, al dan nie. Net onlangs het ons R1 500 per bok betaal in die Kalahari toe die reën min was en die bokke skaars. Hierdie jaar het dieselfde boer ons sy bokke aangebied vir R1 200, nadat ons ’n prys van meer as R1 800 verwag het. Die “bosveldbokke” is gewoonlik duurder, maar jy ry nie so ver om hulle te skiet nie.

 

VERSKILLENDE JAGAREAS

Springbokke uit die Karoo, een van hulle vastrapplekke, is gewoonlik nie so groot van lyf nie, en het nie horings soos dié uit die Kalahari en Namibië nie, maar daar is uitsonderings. Julian Theron boer naby De Aar met duisende springbokke en het oor die jare topgenetika geskep. Sy spogramme is iets om te aanskou en het al die rekords laat spat op wildsveilings. In die Karoo is dit algemeen om ’n prys per kilogram te vra – gewoonlik gemeet met die kop en vel aan en die binnegoed uit. Ek hou van hierdie reëling om twee redes: Eerstens laat dit ’n jagter toe om meer van die jonger ramme en veral ooie te skiet vir beter tafelvleis, en jy kry waarvoor jy betaal, gewiggewys. Tweedens haal dit die druk van die groot ramme af wat gewoonlik ’n trofeeprys haal – dit is nou maar net menslik om die meeste vir jou hardverdiende rande te probeer kry, en as ’n mens een prys regdeur die bank betaal, sal almal wil ramme skiet. Jagmetodes wissel na gelang van die terrein en area. In die Kalahari is dit omtrent ’n uitgemaakte saak dat jy hier van die bakkie af skiet. Die kampe is so groot soos plase en ’n voetjagter se kanse om genoeg bokke binne die bestek van ’n dag te skiet (en dit vir die boer die moeite werd maak) is maar klein, maar kan gedoen word. Meer hieroor later.’

In die Karoo en Noord-Kaap is voorsitjag baie gewild. Die jagspan word uitgesit op voorafbepaalde plekke met ’n skietstoel wat 360 grade in die rondte kan draai. Jy wag dan jou bokke in, wat gewoonlik geroer word deur manne op perde of selfs met bakkies. Die idee is nie om die bokke te jaag in die jagter se rigting nie, maar om hulle net te laat aanhou beweeg totdat hulle naby aan ’n jagter kom. Jy skiet dan jou bok, bloei hom uit, merk hom met die ooreengekome metode, en die ruiter of die bakkie laai hom vir jou op.

 

In die Bosveld moet jy maar gewoonlik loop en bekruip, en in die Oos-Kaap, Vrystaat en Wes-Kaap word omtrent alle metodes gebruik. Ek is bevoorreg om springbokke in al die provinsies in Suid-Afrika te kon jag, behalwe in Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Dit is nie vir my moeilik om uit te sonder wat die lekkerste is nie – die Kalahari en sy rooi duine staan kop en skouers uit bo die res.

JAG IN DIE KALAHARI

Ek het vir amper 20 jaar by Chris “Whiskey” Steenkamp op sy plaas Chalmers Puts saam met my jagspan springbokke en gemsbokke gaan jag, partymaal twee of selfs drie keer per jaar. Die plaas is geleë tussen Vanzylsrus en Askham en lê teenaan die Botswanagrens. Dit was altyd ’n besondere belewenis. Die uniekheid en skoonheid van die landskap, die koue wintersaande (en dae), die kameeldoringvure, die stille opgewondenheid tussen die manne wanneer die Cruiser sy neus oor die duin steek en ons gewaar ’n trop springbokke teen die oorkanste duin...

 

Chris sou dan oudergewoonte rustig sy Swarovski verkyker na sy oë bring en saggies praat... “Manne, tweede van links staan ’n mooi ram, hy het nie baie groot horings nie, maar hy het ’n groot lyf. Julle kan hom maar skiet.” As die skoot nie klap binne drie sekondes nie, sou hy op ’n meer dringende wyse vra: “Manne, nou hoekom skiet julle nie?” As die skoot dan weer nie vinnig genoeg loop nie, sou hy jou toesnou met ’n “Nou wat de hel maak julle manne? Is julle hier om te jag of te speel?” Die goeie ou dae.

 

Teen so twaalfuur se kant sou ons begin hout optel (net kameeldoring, want witgathout ruik maar sleg as dit brand) en ’n lekker groot boom gaan soek om onder te braai. Die bokke wat die mooiste geskiet was, se harte, lewers en niertjies is uitgehaal en met water afgespoel. Dit is dan gebraai en saam met ’n broodrolletjie deur die honger span verslind. Die manne het lootjies getrek om te bepaal wie eerste skiet en die reël staan nog steeds, na jare, dat jy net twee skote kry. Sou jy mis skiet (soms moes ons ver skiet, of die wind het sterk gewaai) kon jy weer probeer, maar daarna was dit die volgende man se beurt. Só het dit ook gebeur dat omtrent al my jagmaats al ’n trofeebok by Chris geskiet het, behalwe ek. Die Engelse noem dit “the luck of the draw”.

 

My gunsteling-herinneringe is die tye wat ek by Chris kon jag, alleen, te voet in die duine – ’n spesiale vergunning wat hy net aan my gemaak het. Ek het altyd my springbokke gekry en partykeer sommer amper my hele kwota vir die jag – dis makliker as wat die meeste jagters dink.

 

KAROOJAG EN -KUIER

In die Karoo het ek ook gereeld by Julian Theron gaan voorsitjag. Oudregter Hennie Lacock, my skoonpa, en Julian is al dekades lank vriende en Skoonpa het elke jaar “Lacock se span” soontoe geneem en sy seun en skoonseuns saamgenooi. Die ander lede van die span was almal prokureurs en advokate van Kimberley se wêreld,n’n wynboer uit die Kaap(wat sy bokke met kaste wyn betaal het) en ’n dokter van Durban, almal pelle van skoonpa.

 

Oudergewoonte was dit eers inskiet vir die manne en dan veld toe as dit nie meer so baie koud was nie. Ons is op plekke in die betrokke kamp afgelaai waar ons sou jag op die nommer wat die vorige aand getrek is. Op een of ander manier het ek omtrent altyd die “beste” plek gekry – ek vermoed Skoonpa het agteraf met Julian gekonkel om op so ’n manier sy skoonseun te bederf. Jammer swarries! Martisan, Julian se vrou, het gesorg dat elke jagter ’n klein koelboksie kry met droëwors, biltong, ’n toebroodjie, ’n “swietie”, vrugte en ’n sappie – net die regte medisyne as die wurms begin knaag.

 

POETSE, SKERTSERY EN HOFSITTINGS

Soms was sekere jagters gelukkig, maar soms het daar geen, ofnmin bokke, verby sekere manne gekom. Ander weer, het sommer vroegdag hulle kwota bokke klaar geskiet en dan het Julian hulle opgetel en die manne se plekke geruil om elkeen ’n goeie kans te gee. Die skertsery en beentrekkery by die slagplek in die veld was iets om te beleef en sal my altyd bybly. Skote, goed of sleg, is bekyk, groot bokke bewonder en klein bokkies is bespot met “Maar hierdie een het dan nog melk in sy bek!”. Groothoringramme het jou ’n klop op die skouer laat kry.

 

Die laaste aand van die jag was daar altyd ’n “hofsitting”. Die regtersbank het bestaan uit drie van die ou advokate en een van die prokureurs het aangekla names die staat. Hofprosedures is tot op die letter nagevolg. ’n Onvergeetlike straf is uitgedeel aan die jagter wat een van Julian se tag-bokke (teelbokke gemerk met ’n geel plaatjie in die oor) sou skiet. (Dit het natuurlik amper elke jaar gebeur, veral onder die manne wat nie so gereeld gejag het nie.) Ander wangedrag is ook straf opgelê, en die jongernmanne (veral ons swaers) hetnmaar erg deurgeloop onder Skoonpa se pelle op die “bank”, veral as jy die geringste minagting van die hof sou toon.

 

Daar was elke jaar dieselfde toekennings ook: “De Kopskoot” vir die beste skoot, “De Gatskoot” vir, ja, ek hoef seker nie te verduidelik nie... en “De Meneer” vir die swaarste bok. As jy gelukkig was, het jy met ’n nuwe Joseph Rogers-knipmes weggestap vir jou goeie, of dalk slegte dade in dié drie kategorieë.

 

Julian het my een jaar, nadat hy my kom optel het, gevra om een van sy tag-bokke wat ons raakgeloop het, dood te skiet, aangesien die ram nie aan sy standaarde voldoen het nie. Toe ons by die slagplek aankom en Skoonpa die tag sien, kon ek sien hoe sy bloeddruk styg. Na so ’n paar sekondes het hy my op en af bekyk en met stywe lippe gevra: “Nou mannetjie, wat het jy nou aangevang?” Julian het saamgespeel en kwaai opgetree, wat natuurlik Skoonpa nog verder vies gemaak het. Gelukkig vir my, het Julian se kenmerkende glimlag die ys gebreek en hy het Skoonpa die waarheid vertel.

 

VELDVLEIS, TAFELVLEIS

Springbokvleis is van die lekkerstewat daar is en tensy jy met hulle boer en elke week vir jouself een kan skiet, is dit amper ’n sonde om hulle op te sny vir biltong en droëwors, al is beide bitter lekker. Ons gesin gebruik die binnefilette vir sosaties, die rustringe vir beef wellington of schnitzel, die nek en skenkels vir bredies of potjiekos en die heel blaaie vir stadig kook of opgesny in tjops vir bredies. Van die kruis (rump) maak ons sosaties, ghoelasj-blokkies en pasteivleis. Die res is vir braaiwors en word hier en daar aangevul met een van die ander snitte, as daar nie genoeg is nie. Ek deel nie sommer springbokvleis uit nie – net my gunsteling-oom, Attie, kry elke jaar sy deel. Ek vermoed springbok sal vir nog baie jare een van die gunstelinge bly – lekker om te jag en lekker om te eet. Springbok, jou lekker ding!

SOMMERSO SPRINGBOKBOUD

SPRINGBUCK POTJIE WITH FRUIT

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401