​​SA JAGTER/HUNTER | Maart-April 2021 | Deur DANIE JAMNECK

laatmiddagkeuse 2.jpg

Laatmiddagkeuses

’n Vriend van my nooi ons nou die middag om by hulle te gaan eet. Hy bly op ’n pragplek wat deel uitmaak van ’n groterige bewaringsarea waar al die eienaars se eiendomme, as ’n eenheid, met wildwering toegespan is. Met die aankoms klim ek uit om die swaar toegangshek oop te stoot en merk ek ’n troppie koedoekoeie op wat so 100 meter van my af naby die draad staan.

’n Mooi koei staan my plankdwars en aankyk. Nadat ek deur die hek gery het en weer uitklim om toe te maak, is sy nog in identies dieselfde posisie en dit sit my gedagtes aan die loop na ’n vorige soortgelyke situasie...

 

’N KOEDOE IN DIE SKEMER

Dis laatmiddag toe ek hom sien, eintlik té laat, maar ek het al baie ver geloop en hy is mooi. Verstommend, bly hy staan, ek skat net oor die 80 tree, effens skuins en die bors net reg vir die koeël. Ek besef hier is nie nou kans vir ’n boom of ander dooierus soek nie, ek weet hy sien my, en ek weet dit is sekondes voor hy daardie lang spiraalhorings agtertoe gaan gooi en laat waai. Die feit dat dit al amper té laat in die dag is, maal deur my kop terwyl die .375 stadig skouer toe kom. Ek weet dat as ek nie nou behoorlik raakskiet nie, dit ’n droewige nag gaan word; daarvoor het ek nie lus nie. Die kruishaar kruip op tot waar ek wil hê die koeël moet in, en asof vanself, skuif die FN se veiligheidsknip vorentoe en my snellerhand begin toemaak.

 

Skielik is hy net weg, sommer netso en sonder blaf; ek hoor nog een keer die takke teen sy horings klap en dan is dit net die bos met sy geluide wat hom ingesluk het. Ek wil vir ’n oomblik my voet stamp uit frustrasie, maar dan besef ek dít is mos waaroor jag gaan. Dit was so hittete of hy was myne en vinniger kon ek nie gemaak het nie, dink ek terug aan die oomblik.

 

Ek glimlag, maak die geweer veilig en gooi dit oor my skouer. Die dag se jagtyd is nou verby en ek stap terug kamp toe terwyl die bospatryse die koms van die vroeë aand aankondig. Vanaand se kampvuurwhiskey sal, ná ’n lekker stort, net nóg lekkerder smaak.

 

Ek stap na die naaste pad en stoot aan. Dis nog ’n hele ent en ek het nie lus vir in die donker loop nie. Ons het juis gisteroggend mooi luiperdspore naby aan die kamp gekry en vir dié ou katjie het ek ’n heilige respek.

 

Soos ek stap, beleef ek weer die dag se jag. Dit was my beurt om die oggend se sessie uit te sit en brunch was my taak. Die skilpadjies en wors het goed afgegaan saam met die eiers en plaasbrood. Ek is nie eintlik lief vir die middagsessie nie omdat dit kort is en ek my altyd verbeel dat die bokke meer sku is as in die oggend.

 

Ook het ek nog altyd meer slange teëgekom in die middag as in die oggend en dadelik dink ek terug aan die enorme pofadder daardie een middag op ’n pragplaas naby Vaalwater. Die hoendervel slaan sommer vars uit as ek onthou hoe amper ek op die ou grote getrap het. Ek sien steeds hoe meneer sy nek lank rek soos wat hy regmaak vir die byt. Ek kan nou nog nie glo dat my ou dik lyf so ver kon spring nie!

 

Onwillekeurig kyk ek af grond toe en skielik uit die hoek van my oog sien ek ’n beweging in die bos. Ek stop, en voor my, weereens so 80 tree kom ’n pragtige koedoebul uit die bos en gaan staan plankdwars. Twee bulle in een dag, maar nee, ek sweer hierdie een is dieselfde bul van netnou en dit is asof sy manier van na my kyk, ook so sê.

 

Ek skud my kop en stap verder, reguit in sy rigting, en hy bly staan. Dit het ek nog nooit teëgekom nie en ek steek weer vas. Vir ’n hele paar sekondes staan ons mekaar so en beloer en toe verdwyn hy in die skemerte met ’n grasieuse sprong die bos in. Ek het êrens gehoor dat dit ’n koedoe se ding is: Hy weet wanneer jy hom jag en wanneer jy nie gaan skiet nie. Ek het nog altyd gedink dit is ’n wolhaarstorie, maar nou begin ek wonder. Wat ’n lekker middag!

 

’N DONKER BOK

Die volgende dag is ek vroegoggend uit die vere en ná ’n lekker koppie koffie vaar ek die bos in. Ek hou van stadig stap en mooi kyk. Ek wil die bokke sien voordat hulle my gewaar. Daar is vir my geen beter jagervaring as om ’n bok te skiet terwyl hy geen benul het van my teenwoordigheid nie. Dit beteken soms lank loop en ver kruip, maar dit is wat jag vir my is.

 

So tien minute uit die kamp uit loop ek my in ’n trop rooibokke vas. Ek bekruip hulle rustig en kry ’n lekker dooierusplekkie op 70 tree. Ek skiet ’n ram deur die nek terwyl hy besig is om aan ’n tak te vreet en hy sak net daar inmekaar. Die res van die trop skrik en kom reguit na my toe aangehardloop.

 

Ek is as kind al geleer om onmiddellik ’n nuwe patroon in die loop te druk die oomblik wat die eerste skoot klap. Dit is nou al só ’n gewoonte dat ek dit doen sonder om daaraan te dink. Toe die aankomende bokke so 20 tree van my af is, besef hulle skielik ek is daar en steek vas. Ek skiet ’n jong ram en die ander spaander verward weg. Ek maak die geweer veilig en stap terug kamp toe om die bakkie te gaan haal.

 

Daar aangekom, kyk die manne vraend na my en ek vertel. Een vertel my dat hy met die klap van die eerste skoot op sy horlosie gekyk het om te sien hoe laat dit is en toe die tweede skoot klap, het hy weer gekyk en dit was presies vyf sekondes ná die eerste skoot. Tien minute se jag en twee bokke. Ek het nog nie eers begin sweet nie. Dit was my oggend en ek het dadelik aan een van die ander ouens, wie se beurt dit was om die oggendsessie uit te sit, kans gegee om met dié sessie aan te gaan. Dit was nog baie vroeg en die son was pas op.

 

Daardie middag bied hy my sy stapsessie aan en gedagtig aan daardie koedoe, aanvaar ek dankbaar. Met die windrigting soos wat dit was, sou ek opstap tot teen die lyndraad en die manne sou my skemer daarlangs kom soek. Dit was een van my gunsteling-gedeeltes op die plaas en ek het al ’n hele paar bokke daar doodgeskiet. Hierdie middag was egter die uitsondering. Daar was niks om te skiet nie, maar ek het my stadige stappie deur die bos baie geniet.

 

Net voordat ek besluit dat jagtyd verby is, loop ek my egter in ’n trop blouwildebeeste vas. Ek begin bekruip maar kry net nie ’n skoot in nie. Dit is ’n groterige trop en telkens is daar ’n dier voor of agter die een waarna ek wil skiet. Die jagtyd tik verby en ek is vasberade om een te skiet. Dis die laaste dag van die jag en met net drie rooibokke in die koelkamer, kort ek nog biltongvleis.

 

Ek besef dat blouwildebees se kind ’n taaie kalant is en weet ook dat ek baie seker moet maak van my skoot so laat in die middag. Ná ’n lang gesukkel gaan staan ’n mooierige bul effe eenkant en ek lê aan. Deur die teleskoop kom ek egter agter dat ek só besig was met die bekruipery dat ek in geheel rekening verloor het met die feit dat dit al sterk skemer is en nie meer jagtyd is nie. Die kruishaar wil ook net nie lekker op die donker bok tot ruste kom nie en ek besluit om nie te skiet nie.

 

Al is dit die tweede bok van die jag wat my in die skemer snoeker, bly ek dankbaar dat ek nie geskiet het nie. Waar kry jy daardie bok as dinge verkeerd loop, en hoe gaan hy nie ly nie. Nee, dan is vashou maar eerder die regte ding. Geen bok verdien die risiko om op só ’n wyse dood te gaan nie. Of dit nou ’n behoefte aan vleis is of ’n ego wat gestreel moet word, hou maar eerder vas wanneer dit begin laat raak. Jy gaan jouself skop as jy die bok verloor, omdat jy nie beheer toegepas het nie. Nie net is dit ’n vermorsing van die bok se lewe nie, maar ook die geld wat jy gaan betaal vir iets wat dalk nie yskas of muur toe gaan nie.

 

VIR OULAAS KYK

Terug by die hek klim ek in die bakkie en so in die wegry sien ek dat die koei steeds bly staan. Weer wonder ek of die koedoestorie, van stilstaan as jy hom nie jag nie, dalk tóg maar water hou.