
WEBWEERGAWE | 14 November 2019 | Oorspronklik deur ANDRÉ ERASMUS
Kry die regte hef in die hand
Die keuse van materiaal vir ’n mes se hef het hoofsaaklik met smaak te doen en mesmakers leer vinnig watter materiale goeie verkopers is. Tog word hulle somtyds verbaas wanneer ’n mes met hefmateriaal waarvoor daar normaalweg nie so ’n groot aanvraag is nie, sommer vinnig opgeraap word.
Om die hefmateriaal vir ’n mes te kies, is ’n hartsbesluit. Party mense kies materiaal op grond van hoe prakties dit is en hoe goed dit sal presteer, al lyk dit nie so mooi nie. Ander sal eerder ’n hefmateriaal kies wat baie mooi lyk, maar nie so prakties is nie en meer onderhoud verg.
WAT PRESIES IS DIE HEF?
Die hef van ’n mes bestaan gewoonlik uit twee dele – ’n plat staalgedeelte (tang in Engels) en die verkose hefmateriaal (blokkies of skyfies) wat daaraan geheg word. Dié skyfies materiaal word dan gevorm om die hand te pas.
Alhoewel die agterste gedeelte van die mes waaraan jy vashou kollektief as die hef bekend staan, verwys ons in die gewone spreektaal eintlik na die hefmateriaal wanneer ons die woord hef gebruik. Gerieflikheidshalwe gebruik ek dus “hef” bedoelende net die materiaal en nie die staalgedeelte nie.
DIE MATERIALE OM VANUIT TE KIES
Daar is ’n wye verskeidenheid materiale beskikbaar waarvan hewwe gemaak kan word. Hier is ‘n paar:
-
Harde hout
-
Been
-
Horing
-
Tand/ivoor
-
Koolstofvesel (carbon fibre)
-
Veselglas
-
Gelamineerde samestellings
-
Akrielhars/vesel
-
Epoksies
...en nog baie meer.
HOU INGEDAGTE
Elke hefmateriaal het voor- en nadele wat oorweeg behoort te word voordat jy jou keuse maak. Hou in gedagte waarvoor jy die mes gaan gebruik, want die hef kan aan vog, bloed, ultravioletstrale, hitte, sweet en dies meer blootgestel word wat dit kan beskadig.
_JPG.jpg)
Sintetiese materiale soos gelamineerde veselglas (G10) is baie gewild as hefmateriaal (mes links) en dit word selfs in kombinasie met hout gebruik (mes regs). Olienhout (mes regs) blyk ‘n goeie materiaal te wees, maar is nie ideaal nie. As olienhout nie goed drooggemaak is nie, kan dit nog vir jare krom trek. Dis altyd beter om hefmateriale te kies wat maklik is om te stabiliseer.

Hout is ‘n gesogte hefmateriaal maar vereis meer onderhoud. veral as dit nie met hars behandel is om die porieë te vul nie.

Vlakvarktand (bo) kan goed werk, maar die vorm maak dit moeilik vir gebruiksmesse. Kameelperdbeen (onder) werk uitstekend.
NATUURLIKE MATERIALE
HOUT
-
Dit moet eers behoorlik gedroog word, (somtyds vir ’n paar jaar), voordat dit gebruik kan word.
-
Hout word na die droogproses eers gestabiliseer deur lug met vakuumkrag uit die hout te suig en ’n vloeibare seëlaar/hars onder druk in die porieë in te pers. Hierdie behandeling seël nie net die hout grootliks teen vog nie, maar verhoed ook dat dit krom trek.
-
Enkele houtsoorte soos byvoorbeeld swartivoor word nie gestabiliseer nie, omdat die olie-inhoud daarvan te hoog is.
-
Olienhout is eintlik nie regtig geskik as hefmateriaal nie, omdat dit vir jare nog bly krom trek en selfs die penne waarmee dit geheg word, kan breek.
-
Houthewwe het deurlopende instandhouding nodig, maar normaalweg is ’n bietjie olie wat gereeld aangewend word genoeg.
BEEN, HORING OF IVOOR
-
Kameelperdbeen is en bly ’n gunsteling-materiaal. Dit kan maklik gevorm word, is stabiel, kan gekleur word, is duursaam en lyk mooi as dit goed gepoleer word. Die gedroogde bene word eers gekook om al die vet te verwyder en word dan gesteriliseer om enige bakterie te vernietig.
-
Geriffelde horings soos byvoorbeeld gemsbokhorings pas lekker in die hand en kan as plat skywe of in die oorspronklike horingvorm gebruik word. Die sponsbeenkern word uitgehaal en net die keratienagtige buitekant word gebruik. Vir plat skywe word die horing in die lengte gesaag, gekook en dan platgedruk. Waar heel horings gebruik word, word die binnekante opgevul met epoksie.
-
Vlakvarktande se vorm leen hulle gewoonlik nie daartoe om praktiese messe te maak nie, dit is eenvoudig te krom om ’n hef te maak wat gemaklik in die hand sit.
-
Seekoeitande en olifantivoor bly natuurlik gewild, selfs al mag messe met ivoorhewwe nie meer na die VSA uitgevoer word nie. Ivoor is baie duur en relatief skaars, daarom word dit slegs vir sommige van die duurder messe gebruik.
KUNSMATIGE KEUSES
Kunsmatige en gelamineerde materiale is veel goedkoper, nie net om aan te koop nie, maar ook omdat mesmakers geen spesiale voorbereiding daarmee hoef te doen nie. Dit word aangekoop en die plat skyfies word net so gebruik.
GELAMINEERDE HEWWE
-
Gelamineerde houtblokkies (wat soos gelamineerde geweerkolwe lyk) is ongelukkig nie tans geredelik beskikbaar nie, maar was vir baie lank ’n staatmaker waarvan pragtige meshewwe gemaak is.
-
Gelamineerde veselglas (G10) wat tot vier verskillende kleure in die lae kan insluit, is gewild. Dis liggewig en stabiel, wat dit ideaal maak vir werksmesse.
MICARTA
-
Dis baie mooi en bestaan uit materiale soos papier of lap (broek/hempmateriaal), seil of goiingsak wat tesame met veselglashars saamgepers word.
-
Dit is ongelukkig skaars en betreklik duur in vergelyking met ander kunsmatige materiale.
KOOLSTOFVESEL (CARBON FIBER)
-
Bied uitstekende stabiele hewwe.
-
Is beskikbaar in verskillende patrone en kleure.
-
Dis betreklik skaars.
-
Baie mesmakers hou nie daarvan om daarmee te werk nie, omdat dit “miljuisende” onsigbare “turksvydorinkies” tydens verwerking vrystel, wat jou agterna vir ’n hele paar dae lank kan treiter.
AKRIELHARS
-
Dit bied ’n onbeperkte verskeidenheid kleure en kleurkombinasies wat baie mooi kan wees.
VLOEIBARE EPOKSIEHARS
-
Word gebruik om hout, tande, skulpies, mieliepitte en byna enige iets anders, in te giet en só ’n pragtige, kleurvolle samestelling te maak wat uniek is.
’n Mes se hef is net nóg ’n rede hoekom mesmaak en mesversameling sulke opwindende stokperdjies is. Die keuses is byna onbeperk en kies jy reg besit jy nie net iets unieks nie, maar dalk ook ‘n hartsmes.
(Oorspronklike uitgawe SA JAGTER/HUNTER | Desember 2017)