Om Eunia se tafel | 1 Augustus 2019 | Deur EUNIA BARNARD

KOSMODES EN KORTPAAIE

Ons taalskatte word byna daagliks verryk met nuwe koswoorde. Woorde wat lekker op die tong en in die hart kom lê. Nuwe modewoorde met ’n stewige raakpunt tussen oud en nuut. Woorde wat ons kostradisie met nuwerwetse kosmodes verbind. Woorde soos kinkelkos, superkos, koffiedompelpot, roketslaai, lensiebobotie, snoeptamaties, vlamgeroosterde feta, knoffelhummus, sjokoladebrokkiemuffins, mielievlokkiekrummellaag...

Huh? Ja, soos die nuwe kosgenerasie loslit en roekeloos vreemdsoortige geure saamflans om by nuwe neigings kers vas te hou, so vind ons taal telkens nuwe woorde om by kosbloggers en entoesiaste aanklank te vind. Tree vir tree hou ons taal by... Maar wat veral vir my mooi is, is die nostalgie wat bly, die behoud van die tradisionele. Ek raak entoesiasties as ek woorde hoor wat herinneringe opdiep en my terselfdertyd aanspoor om deel te raak van die nuwe kosgenerasie: Trooskos, kuierkos, winterkos, Karookos, kampkos, padkos, onthoukos.

 

En blitskos. Het jy al die jongmense dopgehou as hulle “passievol” kook? Als is regtig passievol. Dit word met oorgawe gedoen. Met oorgawe gestoom, gebraai, geskud en geskommel. Daar word woes gekap en gepars. En die eindresultaat is bo verwagting anders, maar lekker. Altyd ’n verrassing. (Ons praat nie uit oor die toestand van die panne, die stoof of die kombuisvloer na dié kooksessie nie!)

 

Na hierdie relaas oor kombuistaal (nuwerwets, let wel!) bring dit my uiteindelik by my eie blitsblog oor “tradisionele” blitskos! As daar ’n kortpad is, vat hom.

 

Tradisionele geregte soos bobotie en geelrys kan nogal ingewikkeld lyk om te maak, maar tog kan jy hierdie geriefskos tjoef-tjaf maak. Jy meng (blitsig) al die rou bestanddele in ’n oondvaste bak en druk dit in die oond. Die resep is lekker groot en kan in twee dele verdeel word sodat een gevries kan word (sonder die eiermengsel wat later bo-oor gegiet word). Ek verduidelik hoe maak jy maklike, maar geurige wildsbobotie en geelrys wat jy met ’n “kinkel”-sambal kan bedien.

Blitsige bobotie

1kg wildsmaalvleis

1 ui, gekap

1 dik sny witbrood

50ml appelkooskonfyt

50ml blatjang

15ml suurlemoensap

15ml kerriepoeier

5ml borrie

10ml sout

5ml gemengde speserye (wat neut, koljander, wonderpeper en naeltjies bevat)

2 suurlemoen- of lourierblare

Eiervla om bo-oor te giet:

250ml melk

3 eiers

KORTPADMETODE

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.

  2. As jy wildsmaalvleis gebruik, maak seker dat die vleis lekker “los” is deur ’n bietjie water by te voeg sodat die vleis maklik hanteer.

  3. Kap die ui baie fyn.

  4. Sny die brood in klein blokkies van ongeveer 1cm groot.

  5. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed deur met jou hande.

  6. Skep in oondvaste bakke wat jy smeer met botter, olie of margarien. Let wel: Die vleis moenie vasgedruk word nie.

  7. Druk die lourier- of suurlemoenblare in die vleis in.

  8. Bak vir ongeveer 45min tot driekwart gaar. Haal uit die oond en roer die vleismengsel versigtig met ’n vurk om seker te maak dat die vleis nie klonte vorm nie.

  9. Vir die eiervla: Klits die eiers en melk saam en giet egalig oor die maalvleis totdat die hele bak bedek is.

  10. Bak die bobotie nou vir ’n verder 30 minute of tot goudbruin.

Geurige geelrys

2 koppies rys

4 koppies water

10ml sout

1eetl botter

1eetl suiker

5ml borrie

125ml rosyne

​METODE

  1. Voeg eenvoudig al die bestanddele bymekaar in ’n oondvaste bak. Roer liggies deur en plaas saam met die bobotie in die oond.

  2. Bak vir 1 uur. Haal uit en laat staan eenkant totdat die bobotie gereed is.

  3. Bedien saam met piesangskyfies, klapper en blatjang.

  4. Tradisioneel word bobotie ook saam met tamatie-en-uisambal bedien, maar vir die nuwegenerasiekokke maak ons ’n sambal met ’n kinkel:

SAMBAL

1 gekapte slaaitamatie

1 gekapte rooi-ui

1 appel in blokkies gesny

sout en peper

vars koljanderblare, gekap

​METODE

  1. Meng alles saam en bedien in ’n mooi bakkie.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401