BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401

Koos se bospaaie | 22 Januarie 2020 | Deur KOOS BARNARD

Ek en Rasul

 ’n Paar jaar gelede sit ek af Karoo toe om gemsbok te jaan jag. “Jiems met sy harige hande”, soos my pa altyd na die duiwel verwys het, moes van my voorgenome jag gehoor het, want van meet af aan het dinge skeefgeloop.

’n Dag voor my vertrek trap ek in ’n gat op die skietbaan en val my linkerenkel dat hy soos ’n sokkerbôl geswel staan. “Los die jag,” vermaan my Liefie, maar soos ’n rebelse tiener weier ek. 

 

Op die Karooplaas aangekom wag ’n skok. Bertus, die boer, moet dorp toe vir die skool se prysuitdeling en reël toe dat ek met ’n paar plaaslike skietpiete jagstories gesels in Carnarvon Hotel se Blikkiesbar. Nou kyk, ek kuier nie in kroeë nie, nooit nie, maar alles was klaar gereël. So word ek toe aan ’n skietpiet toevertrou.

 

Daar was manne en vroue in die kroeg, maar dis veral sommige van die vroue wat ek sal onthou, of liewer hul praatjies. Toe Bertus my uiteindelik kom red was ek dankbaar; my enkel was bitter seer en ek het niks meer bloos in my wange oorgehad nie.

 

Ek is ’n stapjagter en het vooraf met Bertus gereël dat ek alleen die rante sou invaar agter die gemsbokke aan. Maar Jiems was nie klaar met my nie. Toe ek die volgende oggend aanmeld vir koffie, sien ek Bertus het ’n rybroek aan en op my nugter maag word ek ingelig dat ons met sy rasegte Arabierperde veld toe sou ry én jag. Praat van planne gat-om gooi. Toe Bertus my gesig sien, speel hy sy troefkaart, “Of is jy bang?”. Toe my stem namens my sê, “Wie ek? Nooit!” toe weet ek hier kom moeilikheid.

 

Met my enkel goed gestrap het ek, soos die boeke my geleer het, vir Rasul, ja dit was die gedierte se naam, van die linkerkant af bestyg. Met die opklimslag snak ek na my asem, want my enkel was hel seer. En toe ek afkyk, sien ek die grond is... wel, moer ver! Rasul moes van my enkel geweet het, want toe Bertus sy perd op ’n rustige galop trek, vind ek uit Rasul het net twee ratte – voluit jaag en ’n vinnige strykdraffie. So, ek moes saalboom steek al die pad, half-af enkel of te not. By die jagkamp aangekom, het my enkel geklop van die pyn. Afklim was die beste opsie, maar my ego het my op Rasul se rug vasgeketting.

 

En toe neem Jiems oor. Ek het per ongeluk die koue geweerloop teen Rasul se kop gedruk, net so agter sy oor... en toe hy spring, glip my seer voet uit die stiebeuel en ek val teen die hings se nek. Na twee hale was die Arabier op volspoed en het ek soos ’n lappop op sy rug gedobber.

 

Voor ons was ’n liederlke kliprif en ek het besef ek moet af voor ons daar kom. Ek het my linkerarm om Rasul se nek geslaan, teen sy linkerblad afgegly en myself van die perd af weggeskop... en toe koop ek Karooplaas. Maar glo my, toe die stof gaan lê, hou ek steeds my 7mm Mauser ongeskonde in die lug.

 

“Dis die eerste keer dat ek iemand hoor skree, ‘My geweer, my geweer’, as hy van ’n perd afval,” sê Bertus laggend toe hy my ophelp. Ek het saam gelag, maar in die stilligheid gedink hoe mooi die bliksemse Rasul en sy baas sou lyk – met 7mm koeëlgate mooi netjies tussen hul oë.

 

Al was my enkel seer en my lyf gekneus, het ek weer vir Rasul bestyg... en nog ’n gemsbok óók geskiet later die oggend. Daardie aand het Rachelle, Bertus se vrou, haar oor my ontferm en my voet gedokter.

 

En toe die mooi, blonde vrou my voet so behendig invryf en verbind, raak ek sommer net daar lus om nóg ’n slag van Rasul se rug af te val.

  Lees ook

Die Mauser...

“Kola, ’n 7mm Mauser is ’n annerster entjie geweer, pure pêrreghrie daai...” so laat oom Martiens hoor terwyl hy sy blikbeker só vashou dat ek moet sien dié holdingetjie is boomskraap...

Badtyd in 'n boskamp

Ons maak vir jou ’n plekkietjie tussen die haak-en-steke waar jy kan kom afsaal. Dan kan jy saans salig net met die vrede van die veld om jou langs die kampvuur sit ... ’n regte boskamp,” het Katte oor sy fênsie praatapparaatjie laat weet.

Die ram

’n Klein beweging onder die die wag-’n-bietjie se oorhangtakke het hom weggegee. Vir ’n oomblik het ek gedink dis ’n voëltjie of insek, maar iets het my instinktief op my hurke laat neersak. 

My jagmaat

Ek het hom baie jare gelede van ’n winkelrak in Kimberley verlos. Hy het so mooi proper en blinklyf daar tussen die ander produkte staan en pronk dat jy hom nie kon mis nie. Hoekom ek juis hom en nie die ander een op die rak gekoop het nie, sal ek nooit weet nie. Dié spesifieke keteltjie was seker maar vir my en die veld bestem en in my gedagtes is dit ’n “hy”, ’n veldmaat wat my vergesel oor die lengte en breedte van ons land.

Vallende blare

Daar was ’n byt in die lug en die ryp het plek-plek ragfyn-wit op die oggend se rug gelê. Ek het koers gekies met die Mauser oor my skouer... iewers in die winterbosveld was daar ’n ou blouwildebeesbul, een van baie op die plaas, wat ek onder skoot wou kry.

Wille vark

“Kola, het jy al met ’n wille vark slaags loop staan en raak?” So vra oom Martiens wyl hy oor sy blikbeker na die vlamme toe korrel.

“Wille vark Oom?” vra ek.

“Ja man, daai balielyfvarke metie sterte wat so kierts regop staan as hulle hardloop, wat noem julle die goed tog?”

“Vlakvarke?”