BEL ONS | CALL US
E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Tel: +27 12 485 9382

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401

SA JAGTER/HUNTER | Oktober 2015 | Deur CONRAD STEYN

Die koedoe met
my naam op

So skuins voor ses die oggend, hier in die hartjie van die Thabazimbi-bosveld druis die dawerende alarmstem: “Kom, kom, kom... die bokke wag vir ons. Opstaan, opstaan, opstaan!” Dit is die stem van ons goeie ou vriend, Varkjagter de Beer (oftewel, Andries de Beer). Traag staan ons ander vier manne, Koedoe Fourie (Eddie Fourie), Hiëna Hellberg (Louis Hellberg), Rooibok Rogers (Jan van Wyk) en ek, Eland Steyn (Conrad Steyn) op, die seer nog vars in ons lywe van gister se jag. Maar dit gaan ons nie terug hou vir vandag se jag nie...

Nadat ons beraadslaag hetoor wie loop waar, kies ons elkeen ons eie rigting. Ek en Louis het in die rigting van Dam Twee gestap waar ons paaie toe geskei het. Sommer gou-gou nadat ek alleen begin stap het, gewaar ek ’n troppie rooibokke waarvan ek toe ’n ooi plattrek. Terug by die kamp het ek ’n laat-ontbyt gemaak en terwyl ek eet, stel die plaaseienaar, Giel,voor ek gaan soek koedoes in die rigting van ’n koppie genaamd Koedoeskop. Ek het begin stap, min wetende wat op my wag...’n Koedoe se onverwagse blaf naby aan my het my groot laat skrik. Ek het net gehoor hoe die dier weg hardloop sonder om dit eens te sien. Nou was al my sintuie skielik op en wakker. Die pad het aan gekronkel vir nog so 300m en toe regs gedraai en nog 500m gekronkel voordat dit ’n 90 grade-draai na regs maak. Ná hierdie laaste skerp draai het die pad vir seker omtrent 800m lank reguit geloop met twee groot bome in die middel daarvan, omtrent so 200m en 400m elk weg van my af. Terwyl ek so stadig met die pad af stap, het ek ’n troppie koedoes by die tweede groot boom gewaar. Deur die teleskoop kon ek sien hulle peusel aan ’n soutlek – daar was drie koeie, een vers en twee bulle.
 

Ek het twee opsies gehad; om die pad te verlaat en deur die digte sekelbos te bekruip of om reguit in die pad af te stap en die enkele boom as dekking te probeer gebruik. Gelukkig was hulle nog onbewus van my en kon ek ’n bietjie nader beweeg. Net toe ek dit oorweeg om nog nader te gaan, het die koeie my gewaar. Die enigste dekking tussen my en die koedoes was
steeds daardie eerste boom. Ek het maar vir die beste gehoop en voetjie vir voetjie vorentoe beweeg. Toe ek by die boom aankom, het die koedoes steeds vir my staan en kyk!

 

Voor my, so 150m verder was daar nog ’n boom. As ek dit kon bereik, sou ek skiet, het ek besluit. Maar ek het skaars 30m gevorder voor die koedoes besluit het genoeg is genoeg en die bosse in gevlug het. Ek neem toe maar stelling in op die rand van die pad by die eerste beste boom wat ’n bietjie skuiling bied, hopende dat die koedoes weer sal terugkeer. Met my .303 oor die skietstokke het ek geduldig gewag, my oë op die plek waar ek gehoop het die koedoes weer sou verskyn.
 

Ongeveer 15 minute later het ’n vinnige beweging, so 350m verder en anderkant daardie tweede boom, my aandag getrek. Ek het deur die Lynx 3-9x40-teleskoop geloer en tot my verbasing ’n groot koedoebul gesien. Ek het my skuilplek verlaat en weereens in die pad afgestap met daardie tweede boom as die enigste skuiling tussen my en die koedoe. Soos te verwagte het die koedoe my gewaar, maar ek het tot by die tweede boom gevorder sonder dat hy gehardloop het.

Met die skietstok in posisie kon ek die bok lekker bestudeer – hy was werklik ’n uitsonderlike bul! Ek het die afstand gemeet:
200m. Nog ’n bietjie te ver na my mening; daarom het ek nóg nader beweeg. Reguit na die koedoe toe, sonder enige boom as skuiling om my weg te steek. Op 144m stop ek toe en sit weer my skietstokke reg. Die koedoe het intussen effens beweeg en staan toe agter ’n bos met slegs sy kop en horings sigbaar terwyl hy na my kyk. Ek het effens regs beweeg tot teen die kampdraad en my elmboog op ’n dropperpaaltjie laat rus om lekker dooierus te kan neem. Maar daar was geen oop skoot vir my nie – ek het meer lyf gesoek. Terwyl ek wag, het ek die bul in my binneste aangepor om tog net ’n bietjie vorentoe te stap. En die koedoe “gehoorsaam” toe sowaar, maar ek kon steeds net sy kop en nek sien. Dus wag ek toe maar…

 

Dit het laat begin word en uiteindelik besluit ek toe om op die koedoe se nek te skiet. Toe die .303 deur die stilte van die bos blaf, val hy dat die stof staan. Ek het vinnig herlaai, nader gehardloop en hom veiligheidshalwe nog ’n skoot gegee. Maar gelukkig was die bul plat vir altyd. Een van die skimme van die bos het voor my gelê. Hy was groot, die nek, horings, voorpote, boude – álles was groot!


Ek het ’n vinnige skietgebed opgesê om die Skepper te dank vir die voorreg om so ’n pragdier te kan jag toe ek by hom gaan kniel. Die bul het 188kg uitgeslag en sy langste horing het 57¾” gemeet. Hoekom het hy nie weggehardloop toe hy my sien
nader stap in sy rigting nie? Ek weet nie, seker maar oor hy my naam opgehad het!