Eksklusief vir die web | 9 AUGUSTUS 2019 | Deur TINETTE MAREE

Jag vanuit ’n meisie met 'n sagte hart se oogpunt

Dit is moeilik om vir iemand wat nie jag nie die gevoel te beskryf wat jou van kroontjie tot toontjie bedek wanneer jy vir die eerste keer na ’n bok deur die teleskoop loer. Jou ore suis, jou kop draai en jy is amper te bang om asem te haal. In my geval was daar net een finale gedagte wat oor-en-oor in my agterkop getuimel het; "hierdie is my maak-of-breek-oomblik".

As 16-jarige meisiekind wat 'n groot liefde en passie vir diere het, het ek baie getwyfel of ek daardie eerste bok sal kan skiet. Ek het geweet dat ek myself nóóit weer so ver sou kon kry om die sneller te trek as ek my eerste bok kwes nie.

Ek het groot geword in ’n familie vol wildjagters, wat natuurlik met vele voordele kom, maar die uitdaging van my sagte hart teenoor diere het tog met tye kop uitgesteek. Van kleins af het my pa my geleenthede gegee om so na as moontlik aan die natuur te kom. Elke jagseisoen as die wiele draai het ek saamgery. Ek het die wêreld vol saam jagters agter op die bakkie gery, in skuilings gesit wanneer dit moontlik was en selfs van tyd-tot-tyd bygestaan met die slag proses.

Tydens ons gesin se jaarlikse Krugerwildtuin-vakansies het ons altyd trofeediere “gejag”. Ons het by alles gestop waarna ek eers moes identifiseer watter geslag die dier is, verduidelik waar ek hom sou skiet en ek moes selfs stadig uit asem en sê wanneer ek reg was om die "skoot" te neem. As ek terug dink aan hierdie tye is dit nie net van my gunsteling-herinneringe nie, maar ek besef ook dat dit my onwetend voorberei het vir my eerste jagtog.

Ek het met vreeslike opgewondenheid die naweek van my eerste jag in gegaan. My hele familie was daar, wat natuurlik soveel meer druk op my geplaas het. Nadat my moed my meer as een keer begewe het, was ek byna gereed om op te gee. Elke keer as ek deur die teleskoop gekyk het, was die oomblik te groot – ek sou dit natuurlik nie toe erken nie, maar ek het eintlik aan elke verskoning moontlik gedink om nié daardie naweek my 'n bok te skiet nie.

Die Saterdag, wat ons tweede laaste dag was, het gekom en uiteindelik gegaan. Ek het die naweek se laaste sonsak dopgehou vanuit die skuiling, waar ek gewag het vir rooibokramme. Na nog ’n onsuksesvolle dag het ek met ’n gevoel – wat ek op daardie stadium geglo het verligting was – is ek agter op die bakkie terug kamp toe. Hoe later dit geword het, hoe meer het die verligting ontaard in teleurstelling en spyt. Dit was eers toe my pa voor bedtyd by my kom hoor of ek kans sien om die volgende oggend vroeg by die watergat te gaan sit, dat ek geweet het nóú sien ek kans.

Dit was nog pikdonker die laaste oggend en sekerlike onder vriespunt toe ons weer op pad was na die skuiling waar ons die vorige dag vertoef het. 'n Propvol dag het voorgelê, blouwildebeeste moes ge-dart word, daar was 'n laaste middagete wat ons saam wou geniet, dan pak en die pad huis toe aandruf van Ellisras af, dus het ek geweet my tyd is beperk. Sonder geluk aan my kant sou ek nie 'n kans staan nie.

 

Dit was net na ses toe ons die silhoeët sien en weer het die opgewondenheid in my borskas opgebou. Hierdie keer het ek natuurlik geweet ek is gereed. Teen die tyd wat die rooibokram gaan stilstaan het, was dit al ligter en kon ek gemaklik aanlê en uiteindelik die skoot vat waaroor ek so lank geworstel en oordink het.

Dit was beslis elke oomblik werd. Later het ek besef dat dit vir my nodig was om my ram op die laaste dag te kry – na soveel geleenthede van twyfel of ek met my sagte hart sal kan deel word van die jaggemeenskap, weet ek dat ek daardie Saterdagaand self besef het dat ek wél gereed was vir dié groot oomblik.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon