SA JAGTER/HUNTER | Julie 2020 | Deur GRAEME POLSON

Jag in die namib

As jy vanaf Maltahöhe suid ry, sluit die pad later by die Sesriempad aan. Net so ’n entjie verder is die naambordjie vir die plaas, Aandster. As student het ek die eienaar, oom Thys Louw senior, ontmoet toe hy met sy Cadillac en karakoelvelonderbaadjie vir sy seun, Tielman (my woonstelmaat), by die Helderberg-manskoshuis op Stellenbosch kom kuier het. Tielman sou later die prokureur-generaal in Windhoek word maar is vroeg oorlede. Sy broer, Dawid, boer in die Vredendal-omgewing en die ander broer, Thys, het Aandster gekry.

Toe die karakoelpelsmark in duie stort, begin Thys te boer met wild, bees en vleisskape. My liefde vir die natuur, jag en gewere lei my toe een jaar na Suidwes toe, nog voor die naamsverandering. Dit was hier waar ek vir Thys Louw junior leer ken het. Die plaas grens aan die Sperrgebiet en is ware Namib, rooi sandduine, geel, lang- en kortsteelboesmangras met stapelklipkoppe, sommige wat aan die Matterhorn in Europa herinner.

RUSTIG EN REG VOORBEREID

Met die intrapslag laat Thys jou verstaan “hier skeur ons nie spiere nie”, sy manier om te sê “festina lente” (haas jou langsaam). Na die groet, afpak en koffie was dit reeds donker en Venus, die aandster, het hoog in die weste gesit, blink soos God se oog. Dit het my gedagtes na bowe gelei.

Hier skiet jy op lang afstande, niks nader as 270m nie, so die gewere word reg ingestel en ’n paar skote word geneem vir selfvertroue. Thys is ’n goeie geweerman wat sy eie patrone laai en weet dat ’n skietbaan met teikens op 100, 150, 200, 250 en 300m noodsaaklik is om bosveldjagters wat gewoond daaraan is om op 100m te skiet, so ’n bietjie touwys te maak. ’n Standaard-grootte wit koevert op 300m is die finale mikpunt.

My vriend, oorlede Martin van Rensburg met sy Ferlach .30-06 en ek met my Ben Musgrave .30-06 kon dit regkry om die koevert te tref. Met ons selfvertroue hoog en die son warm op ons rûe, was dit tyd vir ons tweede les. Die strate tussen die duine is ongeveer 300 meter van duin tot duin. As ’n springbok se wit-en-bruin skeidslyn agter sy voorbeen se elmboog nie gesien kan word nie, dan is hy 300 meter ver. ’n Gemsbok se nekwerwels begin agter sy oor en swenk dan laag na sy voorbene toe en weer op na sy rugstring. Jy moet dus versigtig wees met nekskote – baie mense skiet te hoog. Dan is jou nekskoot gewoonlik ’n vleiswond of mis, albei so goed soos mis, want hierdie prins van die woestyn sal bly hardloop en jy sal hom nie vang nie. Sy hart sit laag, skiet hom net agter die voorbeen deur die blad. Tref jou skoot ’n bietjie hoër, dan is dit nog reg want dan tref jy steeds die longe. Loop jou skoot nóg ’n bietjie hoër, is dit meestal nog reg want dan breek jy die rugstring. Al drie dié skote sal die bok grond toe bring.

 

Die debat oor bakkiejag of te voet word ook sommer summier besleg. Op Aandster skryf die woestyn vir jou die metode voor. Stap van duin tot duin agter ’n trop van 300 gemsbokke aan, en al wat jy sal sien as jy bo-op die duin kom, is die agterkant van die laaste gemsbok wat oor die volgende duin verdwyn.

 

As jy in ’n week se tyd genoeg bokke wil skiet om dit vir ’n wildboer lonend te maak en vier jagters se yskaste vir ’n seisoen vol te hou, dan moet ’n ander plan gemaak word. Daarby moet jy onthou dat die reëls van etiek en bewaring steeds geld. Dragtige koeie en teelbulle word nie geskiet nie, want môre is nog ’n dag en volgende jaar wil ons weer jag en die boer moet ook leef.

 

TOEGERUS VIR SUKSES

’n Betroubare viertrekvoertuig, behoorlik toegerus met ’n bank vir twee jagters met ’n armleuning om dooierus op te vat, stewig vasgemaak sodat niks agterop lawaai nie, is nodig. Slegs die man wat skiet, hanteer sy geweer. Die ander gewere is in hulle sakke met slotte uit, bevestig deur jou mede-jagter. Geen alkoholiese drank gaan saam nie. Die agterruit van die bakkie bly oop om kommunikasie met die bestuurder moontlik te maak.

 

’n Verkyker voor in die bakkie sowel as een in die hande van die tweede jagter agterop is nodig sodat die teikenbok deur beide jagter en eienaar geïdentifiseer kan word. Die pas is stadig en stil, met die son agter op jou rug sodat die bakkie se skaduwee nie lyk soos ’n tweede voertuig nie. Onthou “ons skeur nie spiere nie”.  Vir elke drie springbokke mag jy een gemsbok skiet, so bly die getalle reg en ook die weiding.

 

As jy ’n groot trop gemsbokke op ’n duin sien staan, raak dit moeilik om die regte een te teiken, nie alleen omdat dit ’n formidabele gesig van skoonheid is nie, maar omdat jy net ’n paar sekondes het voordat hulle die omkykslag beëindig en weer oor die duin verdwyn. Seshonderd oë en ore weerskante van die wit-en- swart gesigmaskers is meer intimiderend as die Nieu-Seelanders se haka. Thys Louw ken sy bokke en kan dink soos ’n gemsbok. Met ’n rustige stem sal hy die een uitwys en nog raad gee oor hoe hoog en waar om te mik, wind ook in ag geneem. Vir my het my .30-06, gelaai met Nosler Partitions van 180gr goed gewerk. Die trompsnelheid was 2 500vps en ek het beide gemsbokke en springbokke geskiet sonder enige kwesdiere. Ander kalibers wat goed werk, is die 7x64, .300 Holland & Holland, .300 Win Mag en selfs die 7x57 Mauser. Daarom sal ’n 6.5 Creedmoor ook goed werk, glo ek. Of ons die proses hierbo beskryf, jag kan noem is debatteerbaar.

 

’n Element van jag is om die jagter se vermoë teenoor dié van sy prooi te stel in ’n gebied wat van meet af aan behoort aan die dier met sy skerper sintuie. Vir my is die hoogste graad van jag as jy te voet die veld invaar. Maar in die woestyn waar daar geen natuurlike dekking is nie, staan ’n mens wat te voet jag, uit soos ’n seer duim. As jy nog in ’n beperkte tyd ’n sekere hoeveelheid wild moet skiet om aan die ekonomie van skaal te voldoen, dan word daar ’n ander aanslag op die jagters se vernuf gedoen en dan kan die modus operandi soos hierbo beskryf, geregverdig word. Net soos voorsitjag in die Karoo.

 

RUSTIGHEID VAN DIE DUINE

Die lekkerste is natuurlik wanneer jy te voet daardie alleenloperbul in hierdie wye wêreld te voet uitoorlê. Dan moet jy egter tyd hê en nie baie bokke wil skiet nie. Die woestyn is ook ’n plek waarin jy nie lank alleen kan wees sonder dat God jou vind en julle ’n verrykende stille tweegesprek het nie. Deesdae is Aandster ’n wildreservaat, maar natuurliefhebbers kan gerus daar ’n draai gaan gooi. Dis sielsverrykend.

 

Uit wat ek hierbo geskryf het, leer ons dat bakkiejag sy plek het en dat dit nie in ’n malle gejaag hoef te ontaard wat diere se angstigheid opjaag en die vleis oneetbaar sleg maak nie. Die jagter moet homself natuurlik eers oriënteer en vertoue kry in sy geweer wat, na ’n lang rit uit Suid-Afrika waar die lugdruk en temperatuur dalk anders is as op Aandster, nie altyd sal skiet waar jy mik nie. Stel dus maar weer jou geweer in en kry die rit en opgewondenheid uit jou lyf uit, dán word jou jag ’n belewenis.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon