30 June 2026
Die Papirus Buffel

’n Goeie trofee waarvoor gewerk moes word.
’N JAGSTORIE wat my altyd gefasineer het is die van Harry Manners wat olifante vanaf ’n leer, of staande bo op ’n spoorsnyers se skouers, geskiet het tussen die papirus in die Zambezi Delta. Hy het dit glo gedoen om ’n beter skoot op die diere te kry. Ek het die storie altyd met ’n knypie sout geneem – tot na my jag ervaring in die Delta. Ek was gelukkig om hier ’n buffel jag aan die einde van die seisoen (November maand) te bekom in Coutada 11 saam met Zambeze Delta Safaris.
Toe die Airlink vliegtuig se deur op Beira se lughawe oopmaak, het ek dadelik besef dat die humiditeit en hitte ’n groot rol gedurende die jag sou speel. ’n Kort vlug van Beira het my by die hoof jagkamp besorg.
Hier het ek ’n skoot op die skietbaan geskiet om seker te maak dat die geweer reg is. In dié geval was die jag op baie kort kennisgewing gereël en daar was nie tyd om uitvoer en invoer permitte vir my eie wapen te bekom nie, daarom het ek die jag onderneming se .416 Rem gebruik.
Die jagarea hier bestaan uit drie tipes habitat, die oostelike deel is moeras met papirus en gras, dan is daar ‘coastland savannah’ wat Borassus en Lala palm ruigtes het, en die westelike deel is woud.

Die kruiptrekker wat in die nat omstandighede sy kant gebring het.

Foto van die jagarea vanuit ’n vliegtuig.
Vir ’n paar dae het ons in die woud gejag waar heelwat klein troppe buffels voorkom, maar ’n dwarrelende wind het bekruip moeilik gemaak. Verder het ons net jong bulle in die troppe gewaar. Ek was op soek na ’n ou hardekop bul.
Met die gesels die aand by die kamp was dit genoem dat ons dalk moet oorweeg om in die moeras te gaan soek terwyl dit nog redelik droog is. Die voorstel was dat ek en Brandon, die beroepsjagter, in ’n deel waar daar vir jare lank nie gejag is nie weens die watervlak van die riviere, ons geluk moet probeer. Dit het vir my na ’n goeie plan geklink en ons het besluit om ’n tydelike kampplek in die gebied in te rig vir die tyd wat ons daar sou jag. Ons het tente en bietjie kampgoed bymekaar gemaak en genoeg proviand saam gevat vir twee dae.

Deel van die permanente kamp.

Ons het tente ingespan vir die tydelike kamp.
Die jag onderneming het ’n amfibiese trekker bekikbaar gemaak vir die ekspedisie in die moeras. Die voertuig is van veselglas met kruiptrekker wiele.
Die kruiptrekker is gelaai met ons kamp toerusting en ek, Brandon en spoor snyer, Chico, was gou in ’n oostelike rigting op koers na ’n area tussen Coutada 11 en 14. Dit was angswekkend om met die voertuig riviere oor te steek, en moeilik om ’n nuwe pad deur die ongerepte ruigte te skep. Ons het ’n paar keer vassgesit in seekoei gate tussen die papirus, maar na sowat twaalf kilometer se ry het ons by die nuwe jagarea aangekom. Ons was nou in ’n papirus ruigte met geen oop water nie.
Ons het ’n paar olifante gewaar wat wei en om die buffels op te spoor is die kruiptrekker ingespan. Ons het bo-op die raamwerk geklim om na bosluisvoëls (veereiers) te soek. Die reiers trek saam met die buffels omdat die diere insekte opjaag soos hulle deur die papirus beweeg. Die insekte word deur die reiers gevreet.
’n Paar kilometer verder het ons van die voëls gewaar. Ons het ons rugsakke opgesit en te voet die voëls genader om te sien of daar ook buffels teenwoordig was.
Stap deur die papirus was soos om deur baie dik sand te loop – moeilik. Na ’n ewigheid se kruip en modder trap kon ons deur verkykers slegs van die buffels se rue sien uitsteek bo die gras. Gelukkig was die wind in ons guns en kon ons hande viervoet nader kruip.
Die buffel troppie van ongeveer 30 diere het dig bymekaar gestaan en sommige het gelê. Ons kon ’n paar ou bulle sien, maar almal was ongelukkig aan die anderkant van die trop. Hul lywe was wegesteek deur gras en ek kon sleg hulle koppe sien. Ons het geduldig gewag en die trop het uiteindelik begin beweeg. ’n Koei, sowat 25m weg, het ons egter geruik en sy het dadelik haar neus gelig en toe laat spaander, met die trop agterna.

Palmbier word deur die plaaaslike inwoners van palm sap gemaak. Die sap word versamel deur die bome te sny en ’n houer te hang om die druppende vloeistof op te vang. Die drankie ruik nogal na gemmerbier.

Dit was nou reeds laat middag en ons het besluit om terug te stap na die voertuig om kampplek te gaan soek. Ons het op ’n klein eiland met talle jong Lala palms ’n basiese kamp opgeslaan – so ver weg van die palm bome as moontlik, omdat die bome omring was van muskiete.
Vuurmaak was ’n probleem weens die gebrek aan hout, iets waaraan ons moes gedink het toe ons haastig gepak het. Gelukkig kon ons ’n paar palm stompe bymekaar maak en kort voor lank was ’n vleisie op die kole in die middel van die moeras. Die rook het ook gehelp om die muskiete weg te hou.
Die nag het die moeras verander in ’n masiewe koorsang van duisende paddas, en vuurvliegies was oral te sien. Toe ek later die aand my tekkies uit trek het ek verstaan hoekom mens ‘trench foot’ kan kry van al die loop in die water.
Die volgende oggend was ons op voor die son deur die gras verskyn het. Ons het die trekker gebruik om weer die vorige dag se trop te probeer opspoor en het gou die reiers gewaar. Ons het weer ons rugsakke gevat, die wind bestudeer, en die trop genader. Kruip was ons voorland en droeë kluite het ons hande en knieë geknou. Gelukkig het die wind in ons guns gebly en die trop het in ons rigting beweeg. Een vir een het die diere so 30m voor ons tussen die gras verby beweeg. Ek was reg met die .416 op die skietstokke ingeval ’n bul te voorskyn sou tree. Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ’n mooi ou bul verskyn. Al wat ek gesien het was die blink horings en die lyf wat effens weg gedraai was van my. Brandon het bevestig ek kan skiet en met nat geswete hande het ek die 400gr koeël na die bul se blad gestuur. Soos die dier weggehardloop het het ek nog twee skote geskiet met die hoop om sy anker vinniger vas te trek. Die bul het sowat vyftig meter verder gestruikel en in ’n oop stuk grond geval.
Daar was geen ‘doodsbrul’ nie en ons het ’n bietjie gewag voor ons nader gestap het. Met ’n druk van ’n gelaaide geweer se loop teen die bul se oog is bevestig alles is verby. Ons kon die gewere veilig maak. Nou eers kon ek sien dit was ’n ou bul.
Die kruiptrekker is gehaal, en in die versengende hitte het vlieë ons verpes. Honderde aasvoëls het ook gou in die lug gedraai en ’n entjie van ons gaan sit op wag na die oorskiet.
Ek het na die besonderse ervaring beter begrip vir jag in die papirus moeras, ’n plek met sy eie uitdagings wat jag heelwat moeiliker maak as wat ek gedink het. Ondanks die moeilike terrein was dit ’n ervaring van ’n leeftyd.

Ek het die geleentheid gebruik om ’n gewone rietbok (nie ’n trofee dier nie) te jag.

Nog ’n foto van die kamp. Let op die bome en gras.



























