KOLSKOOT | 2020 | Deur FRANCOIS VAN EMMENES

Hoe skiet 'n mens die groot kalibers

Oor die afgelope sowat 15 jaar het die belangstelling in die groot kalibers merkwaardig toegeneem. Al hoe meer vervaardigers bied nou tot die “.500”-grendelaksie-kalibers as deel van hulle reekse aan en matryse en ander komponente is redelik vrylik beskikbaar.

 

Om ’n grootkaliber-geweer goed te kan skiet en hanteer verg egter ’n bietjie meer werk as jou gemiddelde mediumkaliber-jaggeweer. Sedert ek my eerste .375 H&H sowat 20 jaar gelede aangeskaf het, het ek so ’n paar dinge geleer, baie daarvan by ons gereelde BASA-skietdae (Big Bore Association of Southern Africa). Hier kwalifiseer enige kaliber van 9,3x62 en groter om aan die amptelike kompetisies deel te neem, alhoewel kleiner kalibers ook welkom is.

 

MEER TERUGSKOP!

Die eerste en mees ooglopende opmerking is natuurlik dat die groot kalibers se terugskop heelwat harder is as waaraan die meeste jagters gewoond is. Die verskillende .375’e was nog altyd gewild onder jagters en uit my ondervinding is dit waar baie die streep trek tussen terugskop wat aanvaarbaar of te veel is.

 

Selfs die .375, met sy ongeveer 4000 voet/pond-trompenergie met ’n 300 grein-koeël, is meer as wat baie skuts en jagters kan hanteer. Ek definieer terugskop as “oormatig” wanneer dit jou konstant ongemaklik laat voel vóór en/of ná die skoot. En van dié twee is jou reaksie voor die skoot die belangrikste. As jy elke keer jou oë toeknyp en gesig probeer wegdraai van die dreigende “klap” wat jy nou gaan kry, is dit omtrent ’n uitgemaakte saak dat jy sleg gaan skiet, want jy verloor alle beheer oor die beginsels van akkuraat skiet. Afhangend van die individu, is ongemak ná die skoot tot ’n sekere mate beheerbaar en heel aanvaarbaar, en oor tyd raak ’n mens gewoond daaraan.

 

KEN JOU BEPERKINGE

Elke persoon het sy eie terugskopdrempel. My .30-06 is byvoorbeeld te veel vir my vrou, terwyl ek ’n dame ken wat die skaal maar op so 50kg trek wat haar .500 Jeffery met gemak kan skiet. Ek het ook ’n vriend wat 125kg weeg wat baie bang is vir sy .375 H&H. Vir myself trek ek die streep by ’n 535 grein-koeël teen so 2300vps uit my .500 Jeffery – die 570 grein is net daardie bietjies te veel vir my.

 

Die punt is jy moet jou persoonlike drempel identifiseer en seker maak jy kan akkuraat met jou gekose kaliber-enlading-kombinasie skiet. Dis weliswaar so dat dit die eerste skoot is wat tel (veral op gevaarlike wild), maar ons skiet baie meer skote op teikens as wat ons op wild skiet, en ons moet dit kan geniet wanneer ons op tak- en klubvlak deelneem. Maak dus seker dat jou kombinasie hierby inpas en jy ten minste 20 skote tydens ’n sessie kan hanteer.

 

AKKURAATHEID IS BELANGRIK, SO OOK RAAKSKIET ONDER DRUK

Hoe skiet ’n mens jou grootkaliber- geweer akkuraat? Met oefening... maar die regte soort oefening. Dis maklik om jou .308 Win ’n honderd keer of meer in een dag van ’n tafel af te skiet, maar dit sal nie werk vir die groot kalibers nie – die terugskop vanuit ’n sittende posisie met enigiets groter as ’n .458 Win Mag is rof!

 

Dit is natuurlik ook nie hoe jy op wild sal skiet nie. Die beste vorm van oefen is om jagomstandighede so akkuraat moontlik op die baan na te boots. Die BASA-model werk uitstekend en is gerig op die konsep om met lewensgrootte teikens verskillende omstandighede na te maak. Stormende buffels, leeus en ander bewegende teikens is gewoonlik deel van die baan.

 

Dis vir almal maar redelik intimiderend om die eerste keer só ’n baan te skiet en die meeste se hande bewe effe, maar dit is juis daarin wat die voordeel lê. Almal sal saamstem dat ’n jagter wat sy eerste buffel skiet, senuweeagtig sal wees – ek was beslis! As ons onder druk geplaas word, is die kans om foute te maak soveel groter en op die baan kan ons leer hoe om foute reg te stel sonder die risiko.

 

VERMY ALGEMENE FOUTE

Die eerste groot fout is “kortslot” of short-stroking soos die Engelse dit noem. Baie skuts is gewoond aan die stadige, beheerde terugtrek van die geweer se slot op die skiettafel (sodat ons doppies nie op die grond beland nie). Skiet jy egter teen tyd en jy is angstig is dit maklik om die slot nie ver genoeg terug te trek nie en die gevolg is ’n patroon wat in die magasyn agterbly wanneer jy die slot weer vorentoe druk. Die “klik” wat hierop volg, is ’n ontnugtering op die baan, maar kan jou lewe kos as die buffel reeds storm...

 

Jy moet die slot met mening werk – en die rede daarvoor is viervoudig. Eerstens verseker dit dat die leë dop ordentlik uitgewerp word en uit die pad is. Tweedens sorg dit dat jy die slot ver genoeg terug trek sodat dit die volgende patroon opskep uit die magasyn. Derdens, sal dit die moontlike gebrek uitwys van ’n slot wat eenvoudig net uit die kamer loskom (ja, dit het onlangs met ’n splinternuwe geweer van ’n dekades oue vervaardiger gebeur). Laastens sal dit enige moontlike voerprobleme met die ammunisie, of ander foute, uitwys.

 

My eie “voor-’64” Winchester Model 70 in .375 H&H is so ’n geval. As ek die slot teen ’n skerp hoek na links vorentoe druk, gebeur dit soms dat die invalshoek van die patroon na die kamer nie perfek is nie en dan haak hy vas. Dit is nie ’n fabrieksfout nie, maar eerder my eie en een om na op te let. Dit kan natuurlik ook dui op foutiewe ammunisie, ammunisie wat nie reg gelaai is nie of dalk nie geskik is vir die spesifieke geweer waarmee jy skiet nie.

 

Onder druk en spoed (wat belangrike faktore is wanneer ons grootwild jag) kom hierdie eienskappe na vore. Dit is natuurlik vanselfsprekend dat alle ammunisie wat jy beplan om op gevaarlike wild te gebruik of kompetisie mee te skiet, eers deur jou geweer gevoer moet word om seker te maak daar is nie probleme nie. Magasyne wat na die eerste skoot oopspring en ammunisie wat tussen die skut se voete beland is algemeen. So ook doppe wat nie ordentlik uitgewerp word nie en dan die kamer versper. Die baan is die regte plek om hierdie probleme te identifiseer en dan reg te stel.

 

’n Algemene fout wat skuts met dubbelgewere maak is om te vergeet van dubbelsnellers en outomatiese veiligheidsknippe. Op die baan kos dit jou ’n sekonde of wat om te besef, maar in die bos kan dit jou duur te staan kom. Ek het ook al verskeie kere “dubbelskote” gesien – altwee lope gaan gelyk af as gevolg van ’n foutiewe snellermeganisme of die skut se vinger wat van die voorste sneller afgly en dan die agterste sneller tref. Dis ’n onaangename ondervinding as dit met ’n .600 NE gebeur, vra my, ek weet...

 

Waar baie skuts ook fouteer is om ’n teleskoop, wat ’n verstelbare vergroting het, op die hoër vergroting (wat gebruik was om die geweer mee in te stel) te los en dan op ’n kortafstandbaan te gaan skiet.

 

Met die hoër vergroting neem dit lank om die teiken te identifiseer en in die gesigsveld te kry, wat dan boonop uit fokus is. Los jou teleskoop op sy laagste vergroting in die bos, sowel as op die baan.

DIE WAARDE VAN KOMPETISIES

Hierdie tipe kompetisies leer ’n mens verskeie dinge wat jy moontlik eers na jare in die veld sal weet, bloot omdat ons geneig is om meestal met ons “kleiner” kalibers te jag en dus nie noodwendig die hoeveelheid skote met die groot kalibers in die veld inkry nie.

 

Ek is ’n sterk voorstaander van spiergeheue (muscle memory) – die ingeboude/aangeleerde manier van dinge doen waarvan veral gholfspelers gereeld praat. Dit is uiters relevant wanneer daar teen tyd geskiet word. Sou jy in ’n situasie met gevaarlike wild beland, is die noodsaaklikheid van ’n vinnige opvolgskoot vanselfsprekend en dis iets wat jy goed sal leer doen op die skietbaan.

 

Ook hoe om gou te herlaai en’n vars patroon in die kamer te kry – ’n gewoonte wat van kritieke belang is om aan te leer. Dan moet jy verder onthou om kop te hou van hoeveel patrone nog in die magasyn oor is. Sekere groot kalibers neem slegs twee onder die slot, ander soveel as vyf. Die posisionering van jou patroonsakkie moet verkieslik so naby moontlik aan jou sterk hand wees en die lussies van so ’n aard dat die patrone maklik uitgetrek kan word.

 

Laai ook altyd meer patrone as wat nodig is vir die spesifieke baan. Ek maak altyd die sakkie vol, want as ’n patroon op die grond val tydens die laaiproses los ek hom doodeenvoudig daar en haal die volgende een uit, eerder as om tyd te mors deur af te buk en ’n patroon vol sand in die kamer te druk.

 

Dieselfde geld vir misvoere – ruk eerder ’n patroon uit die kamer en druk die volgende een in, as om tyd te mors. Dit werk soms (veral met beheerde voeraksies soos die M98-tipes wat die patroon in die uitwerperklou vashou) om jou swak hand om die aksie te sit en met jou vingers te keer dat die patroon weggewerp word terwyl jy die slot terugtrek. Die patroon kan dan met dieselfde vingers in die magasyn teruggedruk word en jy kan weer probeer laai.

 

SKIET NA BEWEGENDE TEIKENS

Die vemoë om na ’n bewegende teiken te kan skiet, is krities belangrik in enige grootwildsituasie. Dit maak dalk net die verskil tussen ’n lang en gevaarlike opvolg op ’n gekweste buffel of olifant, en ’n dooie een.

 

By BASA se skietdae word hierdie tegniek beproef deur te skiet op stormende buffel- of leeuteikens, asook teikens wat teen ’n spoed van links na regs, of andersom, beweeg. Skote op dwarsbewegende teikens tref gewoonlik verder na agter as waar die skut gemik het, want hy kompenseer nie vir die feit dat dit aanbeweeg het teen die tyd wat die koeël daar uitkom nie.

 

Insgelyks is teikens wat vorentoe storm se skote amper altyd te hoog, want hoe nader die leeu kom, hoe laer is sy kop. Vir hierdie tipe teikens gaan ek altyd af op een knieg, sodoende bly die teiken en ek op dieselfde vlak/hoogte. As jy tussen skietpunte moet beweeg of selfs hardloop, maak seker dat jou slot oop is en dat daar geen patrone in die magasyn is nie. Laai dan slegs weer jou geweer as jy by die volgende skietpunt kom, en hou altyd jou loop in ’n baanaf-rigting.

 

INDIVIDUELE TEGNIEKE VIR SUKSES

Elke skut het sy of haar eie tegniek as dit kom by vinnig laai en skiet. Net die vraag of jy die geweer in jou skouer moet hou of nie, kan alleen ’n hele artikel neem. Persoonlik laat sak ek die geweer na elke skoot – ek kan dan sien dat die volgende patroon gekamer het en kan ook enige misvoere vinniger identifiseer en regmaak. Die gebruik van “fop”-patrone om voer, skiet, herlaai, weer voer, ensovoorts te oefen, werk goed.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon