SA JAGTER/HUNTER | September-Oktober | Deur REAN STEENKAMP

Hoe kies ek 'n jagboog?

Indien jy ’n jagter is wat jou jagervaring wil uitbrei, kan jy gewis boogjag oorweeg, en om ’n bok met ’n pyl en boog plat te trek nadat jy dit met baie moeite bekruip het, is ’n ervaring duisend. ’n Moderne kragboog (compound bow) kan enige boksoort baie effektief plattrek indien dit goed toegerus en ingestel is. Die teendeel is ook waar dat ’n boog wat nie korrek ingestel of toegerus is nie, net so oneffektief is as ’n geweer met ’n teleskoop wat nie ingestel is nie – die jagter gaan elke keer die bok kwes.

Dalk huiwer jy om ’n boog aan te skaf omdat jy nie weet hoe om te werk te gaan om die regte boog te kies nie. Hoe verseker jy dus dat jy ’n geskikte jagboog en toerusting koop en dat dit goed ingestel is? Jy mag dalk bang wees jy gee ’n klomp geld uit, net om later uit te vind jy het verkeerd gekoop!

 

MAKLIKER AS WAT JY DINK

Wees gerus, om die regte boog te koop, is glad nie ’n ingewikkelde saak nie. In die eerste plek is dit só dat bykans enige moderne kragboog wat deur ’n bekende boogvervaardiger gemaak en verkoop word, goedgenoeg is. ’n Mens moet net seker maak die boog het genoeg slaankrag om die diere wat jy wil jag, dood te kan maak indien jy die regte pyl en jagpunt gebruik. Nie alle kragboë is jagboë nie, party is net geskik vir kompetisieskiet.

 

Dit is belangrik dat jy ’n boog koop met ’n trekkrag en treklengte wat jou pas. Een van die eerste vrae wat jy moet kan antwoord, is of jy ’n linkerhandse of regterhandse boog benodig. Jy moet dus seker maak watter oog jou dominante oog is. Die meeste mense is regteroog-dominant en dus is ’n regterhandse boog vir hulle geskik, maar vir ’n persoon wat linkeroogdominant is, gaan die teendeel eerder waar wees. Oogdominansie stem nie altyd ooreen met handdominansie nie – jy kan “regs” wees en tog linkeroog-dominant wees.

 

Indien die assistente by die booghandelaar hulle sout werd is, sal hulle jou oogdominansie en treklengte gou kan bepaal. As hulle dit nie kan doen nie, moet jy jou eers hiervan vergewis voordat jy ’n boog aankoop.

TREKLENGTE IS BELANGRIK

Dit is baie belangrik dat jy ’n boog koop met ’n treklengte wat jou pas. Jou treklengte word bepaal deur hoe wyd jou skouers en hoe lank jou arms is. Omdat die meeste boë in die VSA gemaak word, word bykans alles wat met boë te doen het, in duime gemeet. Die gemiddelde treklengte is tussen 28 en 29 duim, maar dit wissel egter van mens tot mens, en daar is mense met ’n treklengte van selfs 32 duim en langer. Sou die boogwinkel jou nie kan help nie, of jy koop dalk ’n tweedehandse boog, sal jy self moet bepaal wat jou treklengte is.

 

Daar is meer as een manier om dit te bepaal, maar die metode wat waarskynlik die maklikste is, is soos volg:

• Staan teen ’n muur met jou arms uitgestrek na die kante toe op skouerhoogte;

• Laat iemand anders jou help en meet van die punt van een middelvinger na die punt van die middelvinger aan die ander hand;

• Deel dan eenvoudig daardie afstand deur 2.5. Die kwosiënt is jou benaderde treklengte, in duim.

 

Moenie ’n boog koop wat té swaar is om te trek nie. ’n Té swaar boog kan besering veroorsaak en jy kan slegte boogskietgewoontes aanleer. Dit is makliker om ’n goeie skietstyl aan te leer indien jy nie sukkel om die boog te span nie. In dié opsig het jy egter ’n opsie: Gestel jy het bepaal dat jy ongeveer 40 pond met gemak kan trek, koop dan ’n boog wat van 40 tot 50 pond kan verstel. Hoe meer jy die boog skiet, hoe sterker gaan jy word, en kort voor lank gaan jy die volle 50 pond kan trek.

 

Daar is egter deesdae boë beskikbaar wat ’n baie groter verstelling ten opsigte van trekkrag het. Sommige boë kan selfs verstel vanaf baie ligte trekkrag tot en met 70 pond. Die treklengte het ook ’n groot verstelling, soveel só dat dit van ’n baie kort treklengte tot soveel as 30 duim kan verstel. Só ’n boog kan dus heeltemal aangepas word volgens die skut.

 

Oor die algemeen is dit egter boë in ’n effens laer prysklas wat soveel kan verstel, terwyl die duurder boë nie só baie kan stel nie. ’n Module op die nokaste (cams) van die duurder boë moet gewoonlik vervang word om die treklengte te verander. Dit is egter belangrik dat jy die boog stel volgens jou eie treklengte en trekkrag.

Foto 1a .jpg

WATTER BOOGFABRIKAAT?

Die beste boog is die boog wat die beste vir jóú werk. Al die bekende boogfabrikate se boë is goed, en skiet akkuraat en vinnig genoeg om diere mee te jag. Van die bekende name is Bowtech, Mathews, Bear, Hoyt, PSE en Elite. Die meeste boë is redelik duur en daarom het van die boogmaatskappy ook goedkoper reekse boë wat hulle onder ’n ander naam maak en verkoop, soos Diamond en Mission. Dié boë is gewis ook goed genoeg om mee te jag en word soms in pakkette verkoop wat klaar ander bybehore soos ’n visier en ’n pylrus insluit.

 

Een van my dogters het juis onlangs ’n sebra met ’n Diamond Infinite Edge-boog geskiet, wat gestel was op 45 pond. Dit was ’n hartskoot en die sebra het gou geval. Dié boog is ongeveer vyf jaar oud en kan stel van minder as 15 tot 70 pond.

 

Koop die beste boog wat jy kan bekostig, maar moenie boogskiet laat vaar omdat die pryse van nuwe boë jou afskrik nie. Koop eerder ’n goedkoper boog, of ’n goeie tweedehandse boog, en begin boogskiet!

 

TWEEDEHANDS OOK ’N OPSIE

Indien iemand dus een van die nuutste boë op die mark wil koop en sy ou boog waarmee hy al vir jare jag aan jou wil verkoop en die prys is baie aanloklik, oorweeg dit gerus. As dit voorheen ’n bok kon plattrek, sal dit aanhou om dit te kan doen, behalwe as daar iets met die boog foutgaan. Maak net seker die boog is nie verniel nie, dat die vere (limbs) nie gekraak is nie, en dat die snaar in ’n goeie toestand is. Neem die boog na ’n kundige om die boog te ondersoek.

 

Indien die boog nie die regte treklengte is nie, moet jy seker maak dit kan verstel word deur net ’n module te vervang. Daar is boë waarvan die nokaste vervang moet word om die treklengte te verander, maar dit kan miskien ’n te groot rompslomp of te duur wees, so soek dan eerder ’n ander boog. Indien dit ’n linkerhandse boog is en jy is regs, moet jy natuurlik ook verbyhou.

 

NAVERKOPEDIENS

Naverkopediens is baie belangrik. Nie al die booghandelaars diens al die boë nie – daar is net eenvoudig te veel onderdele. Indien jy nie baie tegnies ingestel is nie en nie self jou boog wil instel of verstel nie, moet jy dus sorg dat jy ’n boog koop by ’n booghandelaar wat jou daarmee kan help.

 

Verskillende boë se handgrepe en algemene “gevoel” verskil van mekaar, en wat vir een mens werk, werk nie noodwendig vir ’n ander nie. Toets dus om jou gewig- en lengtevoorkeure, asook aksie (radikaal of sag) te bepaal. Die beste boog is die boog waarmee jy gemaklik voel.

 

ADDISIONELE TOERUSTING

Die meeste kragboë word as sogenaamde “skoon” boë verkoop, sonder ekstra bybehore wat nodig is om ’n pyl sekuur te lanseer. Een van die belangrikste bybehore is die pylrus waarop die pyl se voorkant geplaas word nadat dit in die snaar gehaak is. Dis bykans soos ’n geweer se loop, want die pyl se vlug sal belemmer word indien die pyl nie seepglad oor die pylrus gly nie. Om hierdie rede val die meeste moderne pylrusse plat sodra die pyl losgelaat word – daar moet die minimum kontak tussen die pyl en die pylrus wees.

 

’n Boog se mikstelsel bestaan uit twee dele: Die loerkorrel (peep sight) wat op die snaar van die boog aangebring word, en die visier (bow sight) op die greepgedeelte (riser) van die boog, net bo die pylsrus. Dié visier het korrelpunte wat gebruik word vir die verskillende afstande wat geskiet word en werk gewoonlik in inkremente van 10m. Die boonste korrel is gewoonlik vir afstande tot 20m, terwyl die korrels vir 30, 40 en 50 meter effe laer sit.

 

’n Snaarhaak (string loop) word op die snaar aangebring waar die pyl ingehaak word, terwyl die meganiese sneller ook daarin gehaak word. Die pyl haak aan die snaar self, terwyl die sneller aan die loop van die snaarhaak gehaak word.

 

’n Meganiese sneller is van groot belang. Dié sneller pas om die jagter se hand en haak aan die snaarhaak, en sy doel is om die pyl met so min steuring as moontlik los te laat. Wanneer ’n snaar met die hand losgelaat word, veroorsaak die snaar se rol op die vingers dat die boog effens beweeg, wat akkuraatheid kan beïnvloed. Die meganiese sneller skakel dié probleem uit en die pyl word seepglad losgelaat. Aan die voorkant van die boog word ’n stabiliseerder ingeskroef.

 

Dit help om die boog stil te hou deur traagheid (inertia) te verhoog en dus die mikrohandbeweging van die jagter teen te werk. Omdat die stabiliseerder die boog effens swaarder maak, verminder dit ook die vibrasie wat veroorsaak word wanneer die snaar losgelaat word.

 

Die meeste nuwe boë is reeds toegerus met boogdempers (string dampers) op die snaar en op die greep, maar ekstra dempers kan help om die boog nóg stiller te maak en ook om die vibrasie wat veroorsaak word wanneer die pyl losgelaat word, verder te verminder. Sommige boë raas meer as ander en het dus meer dempers nodig.

 

DIE REGTE BYBEHORE

Net soos ’n geweer die regte patrone nodig het, het ’n boog ook die regte pyle nodig – nie alle pyle werk ewe effektief nie. Die pyle moet getoets word vir die regte pylstramheid en pylvlug. Die pyllengte en puntgewig, die trekkrag van die boog, en die treklengte van die jagter moet in ag geneem word tydens die kies van die regte pyle.

 

’n Goeie boogkoker help om die pyle dadelik byderhand te hê wanneer jy wil skiet, en dit word op die boog aangebring vir die gerieflike saamdra van die pyle. Maak die koker stewig vas sodat dit nie ’n geraas maak wanneer jy skiet nie. ’n Boogsak of boogtas is baie handig en hou die boog veilig wanneer dit vervoer word. Dis lig en van sagte materiaal gemaak, en bybehore soos die meganiese sneller kan in die ekstra sakke gepak word. ’n Boogtas werk veral goed wanneer die boog in ’n vragruim gepak moet word aangesien die harde buitekant verhoed dat die boog beskadig word of dat die visiere uitstel.

 

Dit is natuurlik belangrik om eers vertroud te raak met jou boog, baie te oefen, en seker te maak jy skiet akkuraat voordat jy probeer om ’n bok met jou boog plat te trek. Skootplasing is belangrik om doodskote te verseker (kop- of nekskote is gewoonlik taboe).

 

Laastens, wees asseblief gewaarsku: Boogjag is verslawend! As die gogga jou eers gebyt het, is daar nie omdraai nie!