SA JAGTER/HUNTER | November-Desember 2021 | Deur REAN STEENKAMP

Hoe gesond is die boogjagbedryf.jpg

Hoe gesond is die boogjagbedryf?

HOOGTE- EN LAAGTEPUNTE 

Toe ek 21 jaar gelede oor boogjag begin skryf het, was dit duidelik dat die pyl en boog besig was om al hoe gewilder as jagwapen te word. In die daaropvolgende jare het baie wildplase hul deure vir boogjag begin oopmaak en talle jagters het hul gewere vir boë verruil.

 

In 2000 was daar net twee boogskietwinkels in Pretoria, naamlik Jack’s Archery en SA Bowhunter, een in Johannesburg (Sharp Edge) en nog een in Kaapstad. Kort voor lank het boogwinkels oral in die land begin oopmaak – selfs in kleiner dorpe soos Ellisras en Vaalwater. Boogjag was gewis die nuwe mode in die jagbedryf. 

 

Dié belangstelling in boogjag het bly toeneem, veral weens die streng vuurwapenwette in die land wat dit moeilik gemaak het om jaggewere aan te koop. Omdat kragboë jaar ná jaar verbeter het, het baie boogjagters gereeld hul ou boog vir ’n nuwe een ingeruil. Dit het baie gehelp om die boogjagbedryf te laat groei en boogwinkels te laat floreer. 

 

Toe die wapenwette rondom 2004 verander is, het dit weer makliker geword om gewere te koop. Dit het egter baie lank geneem om ’n nuwe lisensie goedgekeur te kry. Dus was dit nog makliker om ’n boog van die rak af te koop, aangesien ’n mens nie ’n lisensie nodig gehad het (en steeds nie nodig het nie) om ’n boog te besit of daarmee te gaan jag nie.

 

mstreeks 2013 het sake verander. Nuwe wetgewing het die SA Polisiediens verplig om binne drie maande nuwe lisensie-aansoeke te verwerk. Geweerwinkels het dié nuwe geleentheid gebruik deur goedkoper gewere soos Howa en Marlin in te voer. ’n Jagter kon ’n nuwe .308 koop vir die helfte van die prys van ’n nuwe boog. 

 

Boogjag (en jag in die algemeen) is ook ’n knou toegedien weens die teel van sogenaamde kleurvariant-wild én die rand wat waarde verloor het teenoor die Amerikaanse dollar en ander geldeenhede. Wild het duurder geword omdat wildplaaseienaars op daardie stadium meer geld kon verdien deur hul wild op veilings te verkoop as om hul diere te laat jag.

 

Ek onthou dat ek in 2017 geskryf het dat boogjag ’n baie moeilike bedryf geword het om in te floreer. Pryse van boë het die hoogte ingeskiet en baie jagters, wat boogjag begin doen het omdat hulle nie geweerlisensies kon kry nie, het ’n jaggeweer in plaas van ’n nuwe boog aangeskaf.

 

Dit het ook gelyk asof boë ’n tegnologiese hoogtepunt bereik het. Boogskutters en boogjagters het nie meer so gereeld ’n nuwe boog gekoop nie, maar langer met die ou boog bly skiet. Omdat nuwe boë nie meer veel van die ouer boë verskil het nie, was die aansporing om baie vir ’n nuwe boog te betaal nie genoeg nie. Boogjagters het besef dat as ’n boog ’n dier een keer effektief kan doodmaak, dit nie sal ophou om dit te doen net omdat ’n nuwe boogmodel bekendgestel is nie. Talle boogwinkels het hul deure gesluit en slegs ’n paar groot boogwinkels het oorgebly.

 

KLEURVARIANTE 

Die teel van kleurvariant-wild in die hoop dat jagters baie meer sou betaal om dié diere te skiet, het op ’n skouspelagtige manier platgeval. As gevolg hiervan is baie wildplase wat weens die teelprogramme vir jag gesluit was, nou weer oop vir jag.

 

Moselesele, ’n boogjagplaas waarop ek sedert 2006 elke jaar gejag het, het byvoorbeeld sy deure omstreeks 2012 gesluit vir jag toe die eienaars begin fokus op die teel van buffels, swartwitpense en kleurvariante. Ongeveer drie jaar gelede het dié wildplaas weer sy deure geopen, maar slegs vir een of twee groot jaggroepe. Verlede jaar het hulle besluit om die hele jagseisoen vir alle jagters oop te bly. Alles is weer normaal en gewone wild kan teen bekostigbare pryse met die boog gejag word.

 

KRUISBOË AL HOE GEWILDER 

Daar is weer meer druk op die lisensiëring van wapens omdat die verwerking van aansoeke ver agter geraak het en jagters baie lank moet wag voor die lisensie van ’n nuwe jaggeweer goedgekeur word. Die regering dring ook weer aan op strenger wapenregulasies. Dit is baie jammer en behoort so gou doenlik reggestel te word. Dit is egter ook waar dat die situasie veroorsaak dat meer jagters dit weer oorweeg om ’n boog te koop. Ons sien ook ’n groter belangstelling in kruisboë. Talle geweerjagters kies deesdae eerder ’n kruisboog as ’n kragboog.

 

Vyftien jaar gelede was kruisboë baie ongewild en sou geen boogjagter dit oorweeg het om een aan te skaf nie. Sedertdien het menings egter verander. Kruisboë is nou toegerus met dieselfde nokke en ander tegnologie wat ontwikkel is vir kragboë, skiet vinniger as kragboë en is uiters akkuraat. Een van die voordele van ’n kruisboog is dat een so ’n boog ’n hele gesin kan bedien. Almal kan daarmee skiet en jag, selfs ’n jong kind. Kruisboë verg minder oefening om akkuraat mee te skiet en dit is makliker vir geweerjagters om van geweerjag na kruisboogjag te migreer as na ’n kragboog.

 

Kruisboë kan in baie kleiner ruimtes gebruik word en vereis minder beweging om mee te skiet. Ek het drie dogters en twee van hulle het hul eerste diere op die ouderdom van ongeveer 11 met ’n kruisboog platgetrek.

 

Alhoewel die bloeitydperk in die boogjagbedryf tot ’n mate verby is, is daar gewis nog belangstelling in dié jagvorm en kom baie oorsese boogjagters op ons jagplase jag.

 

PRYSE: BOË VS GEWERE 

Ek het onlangs met ’n wapenhandelaar gepraat wat gewere én boë verkoop. Hy sê die goedkoper boë soos Mission en Diamond se pryse is min of meer dieselfde as dié van die goedkoper gewere en die duurder boë vergelyk goed met effe duurder gewere. Hy meen ook dat baie mense in die verlede boë gekoop het omdat dit goedkoper as gewere was en dit moeilik was om ’n geweerlisensie te bekom. Deesdae is boë egter net so duur soos gewere en vuurwapenlisensies is maklik om te kry.

 

Volgens hom is daar deesdae min jagplase oor wat net vir boogjagters regstaan. Die meeste laat nou ook geweerjag toe.

 

Ek het ook onlangs met Fritz Rabé, ’n bekende Suid-Afrikaanse professionele jagter, oor die huidige situasie van die boogjagbedryf in die land gepraat. Fritz sê: “Die baie hoë pryse vir boë veroorsaak dat baie mense nie hul kinders aanmoedig om aan boogskiet deel te neem nie, aangesien kinders wat groei, elke paar jaar ’n nuwe boog moet koop. ’n Gesin wat met ’n geweer jag, kan een geweer koop en die hele gesin kan daarmee skiet. Met boogjag moet elke lid van die gesin sy of haar eie boog hê. Om dié rede verkoop so baie kruisboë!

 

Fritz sê ook: “Aangesien kliënte stadigaan begin terugkeer, het ons baie hoop vir die toekoms. In 2018 en 2019 was 35% van my kliënte boogjagters. Hulle het almal buffels en vlaktewild kom jag. Ek dink ook dat die oorsese boogjagbedryf redelik gesond is.”

 

COVID-19 Natuurlik het Covid-19 ’n uitwerking op die jagbedryf in 2020 en 2021 gehad. ’n Mens kan egter seker wees dat jag oor die algemeen weer na normaal sal terugkeer sodra die pandemie en inperkings verby is. Ek ken ook ’n hele paar jagters wat vir enkele jare ophou boogjag het en wat nou weer hul boë van die rak afhaal en begin oefen. Só het ek net onlangs saam met ’n goeie vriend gaan jag wat lank ophou boogjag het, maar wat tydens die jagnaweek sy tweelingseuns hul eerste bokke met dié boog laat skiet het.

 

’N UNIEKE SPORT EN JAGMETODE 

Dit is dalk weer nodig om die redes waarom boogjag so ’n unieke sport en jagmetode is, te noem, en te verduidelik waarom dit in die verlede soveel byval by jagters en wildplase gevind het.

 

Boogskiet is ’n veelsydige aktiwiteit wat deur bykans almal beoefen kan word – mans, vrouens, kinders, bejaardes en selfs gestremde persone. Daar is mense wat albei arms verloor het en steeds boogskiet en dit geniet.

 

Daar is geen lisensie nodig om ’n boog te koop nie, geen toets om te slaag nie, geen vorms om in te vul en in te handig nie en geen wagtyd voor die wapen in jou hand is en jy daarmee kan begin oefen nie.

 

Jy koop een stel pyle en jy kan baie lank daarmee skiet. Jy kan dieselfde pyle waarmee jy oefen, gebruik om later mee te jag. Jy hoef net ’n ander punt vooraan in te skroef.

 

Wat boogskiet besonders maak, is dat skuts by die huis kan oefen en nie altyd na ’n skietbaan hoef te ry nie. Dit is ook ’n aktiwiteit waaraan die hele gesin kan meedoen en dit help dus om die gesinsbande te versterk. Ek het nog nooit ’n jong seun raakgeloop wie se oë nie vonkel wanneer hy ’n boog sien nie – en nog net ’n paar meisies wat min belangstelling getoon het. Bykans alle kinders wil graag met die pyl en boog skiet en sodra hulle ’n boog en pyle in die hand het, kan hulle hulself ure lank vermaak. Boogskiet is nou maar eenmaal deel van die mens se bestaan.

 

’n Boog is gewis nie ’n beter jagwapen as ’n geweer nie; dit is bloot ’n ander wapen. In die VSA jag baie jagters met albei wapens omdat dit hulle jagseisoen verleng. In die geweerseisoen jag hulle met die geweer, in die boogseisoen met die boog. Sommige jag ook met ’n voorlaaier omdat daar vir dié wapen ook ’n jagtydperk opsygesit is. In Suid-Afrika is ons bevoorreg om die hele jagseisoen met die geweer én die boog te kan jag. Ons kan inderwaarheid heeljaar deur jag indien ons net die jagwerk op ’n geakkrediteerde jagplaas doen.

 

In sekere omstandighede is dit egter wel “beter” om met ’n boog te jag en in ander omstandighede weer “beter” met die geweer. In baie gevalle het “beter” niks daarmee te doen nie; die jagter verkies bloot om tydens ’n spesifieke jag, weens een of ander rede, eerder met ’n boog of eerder met ’n geweer sy prooi te jag.

 

Een van die voordele van boogjag op ’n jagplaas is natuurlik die feit dat ’n boog stil is en dat wild meestal makker is op plase waar daar net met die boog gejag word. Dit maak dit dan ook vir die jagplaaseienaar moontlik om ander ekotoerismeaktiwiteite op die plaas te bedryf. ’n Pyl uit ’n moderne boog trek net ’n paar honderd tree ver indien dit teen ’n hoek van 45 grade geskiet word. Die pyl haal meestal veel minder as 100 meter nadat dit na ’n bok geskiet word omdat dit teen ’n effens afwaartse hoek geskiet word. ’n Koeël uit ’n geweer kan kilometers ver trek. Omdat die boog dus stil is en die pyl nie ’n groot gevaar inhou nie, kan besoekers elders op ’n jagplaas steeds wild besigtig, stap, fietsry of watter aktiwiteit ook al aangebied word.  

 

Boogjag vind gewis nie byval by alle jagters nie en die roer het ’n baie spesiale plekkie in die meeste jagters se harte. Dit is ook reg so. Wanneer iemand begin boogjag, beteken dit egter nie hulle moet hul geweer eenkant toe skuif nie. Die meeste boogjagters wat ek ken, jag ook graag met ’n geweer. Dit is egter ook waar dat indien die boogjag-gogga iemand byt, dit vir hulle ’n nuwe wêreld oopmaak en boogjag bykans ’n lewenswyse word.