SA JAGTER/HUNTER | Mei 2021 | Deur FRANCOIS VAN EMMENES

Foto 2.jpg

Herinneringe uit die Oos-Kaap

Die Oos-Kaap is bedeeld met van dié beste jagveld in ons land. Gedurende die vroeë en middel 1990’s, terwyl ek studeer het en toe my klerkskap in King William’s Town gedoen het, was jaggeleenthede volop. Die probleem was egter die nodige fondse, soos enige articled clerk seker goed sal verstaan. Trippies bosveld toe was meestal buite die kwessie, en die gevolg was dat ons so goedkoop moontlik probeer jag het.

Die Oos-Kaapse Parke- en Toerismeraad het elke jaar jagpakkette in die reservate wat onder hulle beheer was – Mpofu, Double Drift, Tsolwana en Oviston – aangebied. Die meeste van hierdie reservate was afhanklik van beide plaaslike en buitelandse jagters en sowat 80 % van hulle inkomste was jaggeld. Hulle pakkette vir die plaaslike jagters was deur ’n lootjiestelsel toegeken, en dit was dus wys om vir meer as een aansoek te doen. Die prys van die pakket was deur die toerismeraad bepaal en was baie billik.

 

So drie of vier vlakvarke was amper altyd deel van elke pakket, aangesien al die reservate gewemel het van hulle. Die pryse laat my met heimwee terugdink en het my ook laat besef hoe die tyd vlieg en pryse styg. Ons het so 15 jaar lank daar gejag, en die pryslys vir 2001 het springbokooie aangebied vir R240, rooihartbeeskoeie vir R900 en koedoebulle vir R1 600. Ek het altyd die bosbokramme “gedeps” (hulle was maar ’n skamele R600) en my maters kon dan net kies wat hulle wou. Goeie ou dae, soos hulle sê!

 

JAG OP MPOFU

Ons gunsteling was Mpofu, wat amper 8 000 hektaar beslaan. ’n Openbare pad het die reservaat in twee verdeel en die Ntloni Lodge, ’n ou koloniale plaashuis geleë aan die voet van ’n groot berg, was altyd ons blyplek, ver van die reservaat se kantore en slagpale en met ’n pragtige uitsig oor die berg. Mpofu bied alles wat ’n jagter begeer – klowe, berge, grasvlaktes, bos, rante – ’n asembenemende verskeidenheid van opsies.

 

James Williamson was destyds die reservaatbestuurder en het uit sy pad gegaan om alles klopdisselboom te laat verloop. Ek en my vriende het ook op Double Drift gejag, maar die massiewe 23 000 hektaar het dit baie moeilik gemaak. Ons moes ons eie jagvoertuig gebruik en wanneer ons iets geskiet het, het die karkasherwinning ure geneem, wat jagtyd beperk het.

 

Nadat ek Gauteng toe verhuis het, was die jagte op Mpofu steeds bo aan die lys vir die jaar, ten spyte van die afstand. Die wild was altyd volop, die reservaat goed bestuur, en die gidse het die diere se beweging en gewoontes geken. Op Mpofu was daar maar net een manier om koedoe te jag: Die jagter en gids het vroegoggend aan die skaduweekant van ’n berg gaan sit en die oorkant dopgehou soos wat die son opgekom het. Die koedoes soek natuurlik die oggendsonnetjie en dit was nie ongewoon om sommer vier tot ses bulle teen die oorkanste hang te gewaar nie.

 

Ver skiet was natuurlik ons voorland, soms tot 300 meter oor die kloof. Die gids het dan oorgestap terwyl die jagter die plek waar die koedoe gestaan het, dophou totdat die gids daar aankom en seker maak die bul lê. Dán het die swaar werk begin! Die hele reservaat se personeel moes kom help, tot soveel as tien manne op ’n slag. Daar was net een manier om ’n koedoebul uit die berge te kry en dit was met sweet.

 

Gewapen met pangas en twee dik pale, is die kortste en maklikste roete na die bakkie beplan en die koedoe uitgedra, met die pale deur die koedoe se vel by sy knieë gedruk. Ons het noodgedwonge eers die koedoe se binnegoed uitgehaal en by een geleentheid selfs die kop ook afgesny. Andersins moes een man die kop aan die horings gryp en soos ’n kruiwa vashou. Laasgenoemde het ek slegs één keer gedoen. Dit het die vorige aand gereën en die grond was bitter glad. Teen ’n baie skuins helling het die manne hulle vastrapplek verloor en die hele spulletjie het bo-op my, wat aan die voorkant was, beland.

 

’N KOEDOEJAG OM TE ONTHOU

Vriend Robert Steyn se koedoejag staan ook in my gedagtes uit. Dit was reeds laatmiddag in die vroeë winter op ons laaste jagdag en ’n mooi bul het Rob tot dusver ontwyk. Ons was op pad na ’n laaste uitkykpunt toe Bushi, die gids, saggies op die Nissan se dak klop. Ons het gestop en Bushi, wat reeds afgespring het, gevolg. Dóér in die verte, onder ons in die vallei, het ’n pragbul gestaan, salig onbewus van ons, plankdwars en met nie ’n grassie voor hom nie.

 

Rob en Bushi is effe teen die berg af en het so naby as wat hulle kón gekom, maar dit was steeds verder as waarmee Rob gemaklik was. Ek het ook nader gesluip en gevra wat aangaan. “Te vêr,” het Rob gesê. Dit was in die dae voor afstandmeters en ná ’n paar minute se redekawel en stry het ons op 270 meter besluit. Dis nie altyd maklik om afstand presies oor ’n vallei te skat nie en die swak lig het dinge nie makliker gemaak nie. Bushi was egter oortuig en ek het Rob, reg of verkeerd, aangepor om die bul te skiet.

 

Hy het die trajek van sy .300 Winchester Magnum baie goed geken, maar was nog altyd ’n baie versigtige jagter en nie een wat kanse vat nie. Ek dink die feit dat dit een van die grootste Oos-Kaap-bulle was wat ons nóg daar gesien het, is wat Rob laat besluit het om te skiet. Hy kon ’n perfekte dooierus oor sy jagsak neem en toe die skoot teen die koedoe se blad klap en ons sien hoe hy sy voorlyf optel, soos in die geval van ’n tipiese hartskootreaksie, was ons baie verlig. Die koedoe het net ’n paar treë vorentoe gegee en omgeval.

 

Rob het herlaai, maar ’n tweede skoot was nie nodig nie. Bushi se glimlag het reg om sy kop gedraai en ons was almal in ekstase – dit was een van die mooiste bulle wat ooit daar gejag is, met lekker diep draaie en mooi ivoorpunte. Dit bly tot vandag Robbie se mooiste bul.

 

’N GROOT BLOUWILDEBEES

Op die plato van die berg by Ntloni Lodge het ek die grootste blouwildebees van my lewe gejag. Ons was vroegoggend reeds daar ná ’n lang rit in die donker. Zizi, een van die ander gidse, het my vertel van die mooi blouwildebeesbulle wat hulle gereeld in die omgewing sien, maar dat ander jagters nie kans sien om daar te jag nie – die amper uur en ’n half se ry met ’n lang ompad tot agter die berg, meestal in lae-bestek-4x4, het hulle afgeskrik.

 

Ons bekruip van die trop was niks besonders nie, maar die son wat agter ons was, het gehelp. Ons kon binne so 100 meter van hulle kom, maar die wind het gedraai en die hele trop het laat spaander toe hulle ons ruik. Een bul het egter net so ’n draai gehardloop, teruggekom en reguit na ons staan en kyk. Ek was reg vir hom en het ’n 180 grein Rhino uit my .30-06 in sy kuiltjie gedruk. Hy het soos ’n sak aartappels neergeslaan en nie weer opgestaan nie. Dié bul het ’n allemintige 164 kg uitgeslag. Dit was die swaarste blouwildebees wat ek al gesien het.

 

GOEIE TYE!

Ons dae op Mpofu was altyd gevul met iets wat elke dag spesiaal gemaak het. Die paadjie na die abbatoir en hooflodge het oor ’n damwal geloop en dit was ook die gunstelingplek van ’n ou witrenosterkoei met ’n slegte temperament, veral wanneer sy ’n kalf aan voet gehad het. Sy het altyd uit die bloute verskyn, asof sy aspris vir ons weggekruip het, en ons moes meer as een keer vinnig vet gee om van haar weg te kom, terwyl sy hard agter ons blaas. Gelukkig was haar stormlope van korte duur, maar dit was baie spesiaal om tussen die renosters en buffels te kon jag.

 

In die nag kon ’n mens miljoene sterre sien, en vanaf Ntloni Lodge se braaiplek kon ’n mens laatmiddag die talle wild, veral bosbokke, wat teen die berg afkom om onder in die spruit te kom water drink, sien. Almal het elke dag menige varke gewaar, maar dié prooi was sonder uitsondering altyd vir die tweede laaste jagdag uitgehou.

 

Dit was iets wat almal saam kon doen. As ons ’n vark bespeur het, het die jagter afgeklim en die vark bekruip, gewoonlik onder in ’n laagte, en die res van die jagspan het dan die jag dopgehou.

 

Die staatsveearts het voor die tyd vir ons permitte uitgereik (vir Afrika-varkpesdoeleindes) en die varkkarkasse was teen ’n lekker wins aan ’n slagter in Johannesburg verkoop. Menigmale het ons die laaste dag sommer self die ander vleis in die abbatoir, wat oor alles wat nodig was beskik het, bewerk en ons het natuurlik ons eie speserye en derms gebruik. Die gidse het gretig gehelp en soms, as daar baie groot diere in ons pakket was, het ons eers tienuur die aand klaargekry. Ywerigheid in die jonkheid!

 

KOUE WINDE...

Teen 2005 het dinge egter begin verander. Daardie seisoen is ons ontnugter. ’n Nuwe reservaatbestuurder het die vorige jaar oorgeneem en die paaie was vervalle, tot so ’n mate dat ons nie op sekere gunstelingplekke kon uitkom nie. Die gidse, voorheen paraat, het met ’n ooglopende babelas, eers teen negeuur die oggend opgedaag en wou teen elfuur nie meer jag nie.

 

Die abbatoir was gebruik om beeste, wat sommer agter op ’n sleepwa deur ’n minibustaxi ingery is, te slag. Die koevert met fooitjies vir die gidse en skoonmakers wat ons aan die bestuurder gegee het die oggend van ons vertrek, het nooit die regte hande bereik nie. Die lys van wat fout was, was lank.

 

Ek het ’n brief aan die toerismeraad geskryf en was uit die veld geslaan toe ek ’n week later ’n oproep kry om te vra of ek bereid sal wees om ’n verklaring af te lê oor wat ek gesien en beleef het. Ek het ingestem, maar het aangedring op anonimiteit, en daar het sowaar die volgende week twee ondersoekbeamptes van Oos-Londen af na Pretoria gevlieg om my storie te hoor. Dit was egter ook die laaste jaar dat my naam getrek was – ek het nooit weer ’n pakket gekry nie...

 

In latere jare is daar besluit om nie meer jag op sekere van die reservate toe te laat nie en al die “eksotiese” spesies soos bergskape is uitgedun, en reusepogings is aangewend om die vlakvarkgetalle af te bring. Laasgenoemde was nog altyd as ’n indringerspesie beskou, maar die owerhede sal hulle natuurlik nooit heeltemal van kant kan maak nie.

 

Deesdae word daar steeds op Mpofu en Oviston gejag, maar die pakkette word deur middel van ’n veilingstelsel deur ’n diensverskaffer van die nóú Oos-Kaapse Parke en Toerisme-agentskap gedoen. Op die lys van diere wat in 2020 daar gejag kon word, was sebra, blesbok, rooihartbees, gemsbok, blouwildebees, rooibok, springbok, eland en rooiribbok.

 

Maar ek sal altyd onthou hoe dit was... My fotoalbums is vol kiekies van daardie tye, en dit is lekker om deur hulle te blaai en terug te dink aan die goeie tye in die Oos-Kaap.