
KOLSKOOT 2019 | Deur JACQUES DE BEER | Verkorte weergawe. Vir volledige weergawe om Kolskoot te bestel.
So, jy wil handwapenjag doen? Begin hier...
1. BEGIN KLEIN EN OEFEN REG
Die handwapens waarmee gejag word, is meestal langlooprewolwers
en -pistole met lope wat wissel van ongeveer 6 duim tot so lank as 14 duim, en soms langer. As jy begin jag, is dit raadsaam om met kleiner kalibers te begin. Oefen dan eers op klein wildspesies en voëls, soos duiwe en tarentale. Jy kan byvoorbeeld ’n .22-skyfskietpistool tweedehands aanskaf teen ’n bekostigbare prys van om en by R2000 tot R3000.
2. GROTER HANDROERE VIR GROTER WILD
As jy baie van die sport begin hou en jy later groot diere soos kameelperde en elande wil jag, skaf 'n groter kaliber rewolwer aan soos die .44 Magnum. As jy egter net ’n wapen soek wat jy saam wil dra as jy met jou geweer gaan jag (ingeval jy naby genoeg aan ’n vark of rooibok kom vir ’n veilige skoot met jou handwapen) is die .357 Magnum dalk ’n beter opsie. Dis ’n baie ligter wapen van om en by 1.3kg en dus nie onnodige gewig om saam te dra nie. Laai jy die .357 Magnum met 180gr-koeëls, beskik dit oor genoeg doodmaakvermoë om groot wildsbokke op kortafstand te jag.

Slotaksie-pistole soos hierdie een in 7mm Dakota kan oor lang afstande gebruik word. Let op die tromprem om die skop te verminder.
TER INLIGTING OOR DIE .44 MAGNUM
Die .44 Magnum val ietwat in ’n ander kategorie. Die wapen is baie swaarder en weeg rondom 2.5kg saam met die teleskoop en patrone, gelaai met swaar koeëls, en gewoonlik is die lope 6 tot 7.5 duim lank. Dit is ’n baie kragtige rewolwer wat al die Groot Vyf plus seekoeie platgetrek het sedert sy ontstaan. Jy kan hom met koeëls tot so swaar as oor die 300gr laai wat dan ongelooflike goeie penetrasie bied.
3. MAAK VRIENDE MET JOU BANKBESTUURDER
As jy later van tyd brawer raak en luukser fabrikate soos Ruger en Smith & Wesson wil aanskaf, moet jy eers aan jou bankbestuurder ’n slagskaap stuur, want jy gaan sy volle samewerking benodig. Dié tipe wapens is baie duur en kan jou begroting lelik knou in kalibers soos .44 Mag, .454 Casull .460 of .500 S&W. Tweedehands kos .44 Magnum Blackhawks so rondom R12000.
Redhawk-rewolwers kos gewoonlik nader aan R16000 tot R18000. Nuut prys die Super Redhawk om en by R23000 plus en Taurus Raging Bull in .44 Mag so R22000 plus. As jy die .454 Casull of .500 S&W oorweeg, dan praat ons van kort duskant R30000 tot so hoog as diep in die R40000. Jy kan ook heel moontlik jou hart op ’n pistool verloor wat gebou is vir jag, soos die Thompson Contender. Dié pistole is beskikbaar in ’n verskeidenheid kalibers en hul lope kan in ’n japtrap omgeruil word vir ’n ander kaliber.
Koop ’n bekostigbare, hanteerbare wapen waarmee jy kan begin oefen en kyk of jy hom kan baasraak.
4. PASOP VIR DIE TERUGSKOP
Een ding moet jy mooi verstaan: ’n Rewolwer wat skiet met 300- tot 500gr-koeëls, is nie sommer enige man se speelding nie – hy kan jou lelik pakgee. As jy skopsku is, bly eerder by die ligter kalibers soos die .357 Magnum.
5. DIE DING VAN 'N TELESKOOP
Indien jy besluit om jou handwapen vir jagdoeleindes met ’n teleskoop toe te rus, hou die geweldige terugskop van grootboor-handwapens in gedagte. Die teleskoop moet dubbel die normale terugslag van grootkaliber-jaggewere kan
absorbeer. Koop dus 'n duurder model. Jy kry handwapenteleskope by die groot, bekende wapenhandelaars wat sulke slae kan vat. Handwapenteleskope wat hul sout werd is wissel tussen R8000 tot R12000.
Teleskoop of nie, dit bly elke jagter se keuse. Ek stel altyd ’n teleskoop voor, want jy kan baie fyner mik en op langer afstande skiet. Oop visiere op rewolwers is baie grof en jou skietafstand is beperk tot so 30 of 40m. Met ’n teleskoop skiet jy gemaklik tot op afstande van 100m en verder. As jy jou teleskoop wil monteer,
raadpleeg ’n goeie wapensmid en kry die regte monterings om dit stewig vas te sit. Die boutjies van jou montering breek maklik af as daar ’n speling is of as die
boutjies te dun is. Dis ook raadsaam om drie tot vier ringe te gebruik om jou teleskoop vas te hou, andersins skuif jou teleskoop in die ring.
6. INSTEL VAN TELESKOOP
Die instel van die teleskoop is gewoonlik ’n bietjie van ’n aanpassing.
Hoe om 'n teleskoop op 'n handwapen in te stel word volledige in Kolskoot 2019 bespreek. Om jou Kolskoot te bestel skakel 021-406-4962 of
7. HULPMIDDELS IN DIE VELD
'n Afstandmeter: Dis broodnodig om die regte afstand te weet op verder skote. Vir enige skoot nader as 80m mik ek presies waar ek wil tref en op langer afstande mik ek 'n bietjie hoër. As jy ’n 15cmx-15cm-blik elke keer op 50 tot 80m kan raakskiet, is jy reg vir die bos.
'n Goeie skietraam: Ons skiet nie soos cowboys uit vuis nie en handwapenjagters
moet te alle tye dooierus oor ’n boom, miershoop of skietstok probeer neem om
die beste moontlike doodskoot te gee. Die kwesrisiko is net eenvoudig te groot as jy nie ’n rus of stut het nie. Ek het ’n raam gebou waarop my rewolwer se greep en die loop kan rus vir volle stabiliteit. Die raam is so gebou dat ek op my knieë kan staan en skiet. Dis lank genoeg om oor lang gras te kan skiet en kort genoeg om met gemak te dra. Met so ’n skietraam kan jy gemaklik ’n 100m plusskoot skiet as jy gesout is. As jy nie ’n raam kan bou nie, koop skietstokke – daar is verskeie tipes wat geskik is vir handwapenjag.
8. KEUSE VAN KALIBERS VIR WILD
Eerstens moet jy weet watter handwapenkalibers vir watter soort wild voldoende is. Ons word nie in Suid-Afrika toegelaat om met ’n semi-outomatiese handwapen te jag nie en nie ligter as ’n .357 Magnum nie. Met ’n .357 Magnum-rewolwer kan jy klein tot mediumgrootte wild jag – dus vanaf steenbok tot blesbok en njala. Maar as jy jou wapen ken en jy kan akkuraat skiet, kan jy hartbees en blouwildebees op kortafstand (tot so 50m) ook aanvat. Die .357 Mag het baie goeie penetrasievermoë tot op ongeveer 50m. Die .44 Mag is ideaal vir medium tot groter wild soos gemsbok, koedoe, wildebees en selfs buffel (met ’n hoëkwaliteit-320gr-koeël). Die .44 Mag, gelaai met ’n 200gr-koeël, behaal ’n spoed van 1625vps; 240-greiners kan jy skiet teen 1455vps, ’n 300grkoeël teen 1365vps en die 320-greiners teen 1325vps. Jy kan ook die .454 Casull gebruik vir medium en groter wild. Die .454 Casull, gelaai met ’n 240gr-koeël het ’n spoed van 1900vps, met 300-greiners haal hy 1650vps en met 400gr-koeëls 1400vps. Die Casull is ’n gewilde grootwildkaliber, wat veral ideaal is vir buffels. Die .500 Smith & Wesson is die grofgeskut van die handwapens en is die grootste rewolwerkaliber in produksie. Die .500 skiet ’n 400gr-koeël teen 1625vps en 500gr-koeëls teen 1500vps. Dié kaliber is uitsluitlik vir groter wildsoorte soos buffels bedoel, maar kan ook effektief op alles kleiner gebruik word.
Pistole, is in bekende jaggeweerkalibers beskikbaar. Minder bekende kalibers vir ons soos die .375 JDJ, wat in Amerika gewild is, is baie effektief op alle wild. Dis gebaseer op die .444 Marlin wat afgenek is om ’n .375-koeël te neem. Die 270-
greiners trek teen 2000vps en 300gr-koeëls teen 1900vps. Die .30-30 wat ons ook ken, is geskik vir mediumgroot wild soos gemsbok en wildebees. Hierdie kaliber skiet ’n 130gr-koeël teen 2496vps, ’n 150gr-koeël teen 2390vps, 160-greiners teen 2330vps en 170gr-koeëls teen 2227vps. Jy kan dus enige wild wat op die aarde beweeg met ’n handwapen jag, mits jy die regte kaliber kies. Handwapens is baie kragtig en die Groot Vyf is kinderspeletjies vir sommige van die grootboorhandwapens in ’n gesoute handwapenjagter se hand.
9. DIE SPOED EN KRAG VAN HANDWAPENS
Mense onderskat gewoonlik die krag en akkuraatheid van jaghandwapens. Die doodmaakvermoë van die wapens is ongelooflik weens die stadiger spoed van
die enorme koeëls. As gevolg van die lae spoed, moet ons staatmaak op die grootte en deursnee van die koeël om ’n wondkanaal te sny. Om beter te penetreer, veral op groot wildsoorte soos elande en buffels, moet die koeël nie omklink nie. Die vleisskade is dus ook baie minder a.g.v. die laer spoed en dis waarom handwapens ’n goeie keuse kan wees vir vleisjagters.
Handwapens staan nie sommer terug vir ’n jaggeweer nie en die langafstandpistole sal enige tyd kers vashou by die lang roere. (Van die langafstandpistole kan afstande van amper 2km haal, byvoorbeeld ’n pasmaak-7mm Dakota.)

’n Ruger Redhawk-rewolwer in .44 Magnum met ’n geweerteleskoop daarop gemonteer. Met oefening kan jy sulke teleskope op rewolwers gebruik.
