SA JAGTER/HUNTER | Mei 2016

Jag in die Luangwavallei

Seker een van die onvergeetlikste gebeurtenisse in my lewe was die jagtog in Noordoos- Zambië in die Luangwariviervallei... Deur GIDEON DE KLERK

Vroeg in Julie 2015 vra my seun, Pieter, my paspoort. Toe hy die verbasing op my gesig sien, kon hy nie anders as om die geheim uit te lek nie. Hy en Cas, my ander seun, wou vir my 70ste verjaardag ’n buffeljag in Zambië reël. Toe ek om verstaanbare redes wou teëstribbel, vertel hulle dat alles klaar gereël is, nog net my paspoort het kortgekom. Met groot opgewondenheid word die regte hemde, broeke wat nie raas as jy deur die bos stap nie, skoene en ’n goeie hoed aangeskaf vir die opwindende jagtog. Gewere word goed nagegaan: ’n Sako .375 H&H, ’n .375 H&H Mauser en Cas se Krieghoff .470 dubbel.

Ons vertrek op 1 Augustus van Port Elizabeth-lughawe af en land nog dieselfde middag in Lusaka. Daar word ons baie professioneel ontvang deur ’n dame wat ons soos blits deur die fases van gewere in- en uitklaar neem. Sy is in diens van ons professionele jagter, Johnny du Plooy van Muchinga Adventures. Hy het konsessies langs die Luangwarivier. Laatmiddag kom ons, net buite Lusaka, by sy huis aan. Daar word ons gul ontvang deur Johnny en sy vrou, Laura en ook sommer voorberei op wat vir ons wag die volgende dag. Na ’n heerlike aandete is ons bed toe. Om 2:30 staan ons op om die 14uur-lange pad aan te pak tot by die konsessie. Ons ry met twee voertuie, ek en Johnny met sy Land Cruiser en toerusting en Piet en Cas met die Toyota 4x4. Die teerpad, wat noord loop tot in Tanzanië, is verbasend mooi. Oral langs die pad is daar klein dorpies waar groente en vrugte verkoop word, asook groot koringlande wat ’n teken is dat daar op groot skaal geboer word. Naby die Muchinga-bergreeks, by Mpika, draai ons oos en ry later deur die Luangwa Nasionale Park, wat baie skerp afdaal na die vallei. Vir ongeveer 120km ry ons grondpad, meestal ’n tweespoorpad. Die natuurskoon is ongelooflik mooi en ons sien baie olifante, buffels, puku’s, rooibokke, koedoes en waterbokke.

Die moderne tentkamp op die walle van die Luangwa waar ons sou bly, se naam is Munuwa, wat “klein meer” beteken. Onder ons in die rivier wemel dit van seekoeie en krokodille en die naggeluide is ineengeweef met die roep van verskeie voëlsoorte en ander nagdiere. Anders as wat ons gewoond is, is die mopaniebome hier lank en regop en vorm dit op baie plekke ’n woud. Ons gesels lekker, eet soos konings en gaan sommer vroeg al slaap, want môre is dit D-dag. Ons ry vroegoggend. Ek gewapen met Piet se .375, hy het Cas s’n, en Cas het sy .470. Johnny self het ’n Merkel .470.

Ons kry vroeg al die spore van ’n taamlike groot trop buffels. Vandaar gaan ons te voet verder. Die hoofspoorsnyer, David, loop voor, dan Nelson en dan die res van ons. Na ’n hele ent se stap gewaar ons die trop, rustig aan die wei. Daar is drie groot bulle, een van hulle is mooi onder skoot, maar die windjie dwarrel en hulle gewaar ons en slaan op die vlug. Johnny besluit om net daar om te draai en later die middag weer te probeer.

Gideon (regs) saam met sy seuns Piet en Cas by die buffel wat Gideon geskiet het.

Na 16:00 ry ons uit die kamp en kry dadelik weer spore. Dis weer te voet verder en ons kry die buffels na ’n ent waar hulle nog rustig lê. Hulle weet nie van ons nie en die wind is in ons guns. Bekruip is ons enigste opsie, eers gebukkend, dan handeviervoet. Agter ’n bos stel Johnny die skietstokke op. Ek moet egter gebukkend bly staan, anders sien hulle my. Vir my is hulle nog te ver, ongeveer 120m. Nader kan ons egter nie, want daar is geen onderbos vir dekking onder die lang regop mopanies nie.

Toe die buffels later opstaan en begin wei, beweeg een van die drie groot bulle effens na ons kant toe. Later gaan staan hy mooi dwars, maar met die voorbene reg agter ’n lang mopanieboom. Twee meter verder is daar nog so ’n mopanie. Piet fluister vir my dat ek moet skiet sodra hy uitstap. My asem jaag nog van die bekruip en opwinding, ek staan gebukkend oor die skietstokke wat maar net nie wil stilstaan nie. Toe die buffel die eerste tree gee, knyp ek stukkend. Hy krimp effe inmekaar, vlieg om en verdwyn agter ’n bos waar die ander buffels nog steeds verdwaas staan en rondkyk. Ons wag eers ’n ruk voordat ons versigtig nader gaan. Die trop gewaar ons en vlug, maar die bul bly gelukkig lê. Net om doodseker te maak ek skiet nie twee buffels in plaas van een nie, vra ek Cas om hom met sy .470 die doodskoot te gee. Hy skiet en die buffel staan sowaar op en beweeg na regs waar Piet en Cas hom finaal neervel.

Alhoewel ’n doodskoot, was my skoot effe na agter en vier duim te hoog. Baie trots en dankbaar kyk ek na die pragbul met ’n horingspan van 43”. Na die fotosessie omhels ek my twee seuns. Pa is baie dankbaar. Daar word geslag en opgelaai en behalwe vir ’n paar uitsoekstukke, word die res van die vleis volgens gebruik vir die plaaslike bevolking gegee. Alhoewel die hoogtepunt, was die jagtog nog nie verby nie. “Nee Pa, Pa moet nog ’n puku en seekoei ook skiet.”

Die volgende dag ry ons al langs die rivier op en kry heelwat puku’s en rooibokke wat bymekaar loop. Die Luangwarivier bied uitstekende toestande vir dié soort van wild. Toe ons ’n klompie puku gewaar waaronder ’n mooi ram is, klim ons af en begin hulle bekruip. ’n Ou miershoop met ’n boomstam wat skuins uitstaan dien as skuiling, maar hulle gewaar ons en hardloop. Gelukkig gaan staan die ram en met ’n vinnige skoot kon ek hom toe plattrek.

Afgesien van baie seekoeie en krokodille, het die rivier ook baie vis. Dit dien as bron van proteïene vir die plaaslike bevolking wat oral langs die rivier visvang. So het dit ons dan geluk dat daar genoeg hande was wat ons kon help om die baie groot seekoei wat ek later dieselfde dag geskiet het, uit die water te kry. Johnny het geweet van dié groot seekoei waarvan die tande al geslyt was. Toe hy hom in die rivier gewaar, het Johnny stilgehou en gesê ons moet hom volg. Die rivier was wyd daar, met ’n breë strook sand tussen die water en die oewer. Met my geweer op die skietstokke moes ek my kans afwag vir die regte oomblik om die seekoei te skiet. Een van die vissermanne het met sy uitgeholde boomskuit na die seekoei help soek nadat hy gesink het. Die visserman het ’n tou om die seekoei se poot gebind sodat hy uitgesleep kon word. Behalwe vir die stert, wat terloops net so lekker soos beesstert is, en die tande, is al die vleis aan die plaaslike bevolking gegee.

Behalwe vir die buffel het Gideon ook hierdie puku geskiet.

Die volgende dag het Piet ’n pragtige pukuram op ongeveer 200m geskiet. Later het hy ook ’n groot krokodil geskiet wat, aan die tande geoordeel, baie oud moes wees. ’n Krokodil is egter ’n fyn ingestelde wese en dis nie sommer net vir naderstap en skiet nie. Hulle verdwyn gou onder die water en jy moet dus versigtig nader gaan en bekruip. ’n Mens verstom jou aan die groot katoenlande wat deur die plaaslike bevolking aangeplant word en dit is verstaanbaar dat hulle baie ongelukkig raak as ’n trop van 300 of meer buffels deur so ’n land trek. Die katoensaadjie moet baie lekker smaak, want dit word deur die buffels afgestroop. Die mense is baie bly as daar ’n lekker vars buffelkarkas na hulle kant toe kom – dit kan seker as ’n tipe vergelding gesien word vir al die katoen wat die buffels opvreet.

Die vierde oggend (op 6 Augustus) bring een van die onvergeetlikste oomblikke van my en my seuns se lewens. Ons het buffels gaan soek maar niks gekry nie en toe in ’n smal kappad terug gestap na die voertuig toe. Davy die spoorsnyer was heel voor, dan Johnny, Cas, Piet, nog ’n spoorsnyer, dan ek en die gids.

Drie olifantkoeie, met twee groot kalwers by hulle, staan skielik aan ons linkerkant. Aangesien olifante natuurlik in die gebied voorkom, steur ons ons egter nie aan hulle nie. Toe hulle ongeveer 100m ver is, sê die gids die spoorsnyer aan om met die agterkant van sy byl teen die bome te kap. Dit is die plaaslike gebruik om so die olifante bewus te maak van jou teenwoordigheid, sodat hulle dan ’n ander koers inslaan. Maar na die tweede probeerslag besluit die agterste koei dat dit haar nie aanstaan nie. Toe sy gaan staan en na ons kant toe draai, skiet die gids bo-oor haar kop om haar verder af te skrik. Sy gee egter ’n lang uitgerekte trompetter- skreeu, trek haar ore plat, rol haar slurp op en storm – soos ’n stoomtrein kom sy stil en reguit, met mening. Ek sien hier kom moeilikheid en besef dat Johnny onder groot druk verkeer. Tensy ’n noodgeval, mag ’n olifantkoei onder geen omstandighede geskiet word nie. Die 70 meter word vinnig korter en hy moet besluit…

Hy skiet ook ’n skoot oor haar kop, maar sy kóm! Ek hoor hoe Cas vir Johnny vra of hulle moet skiet. Tyd vir antwoord was daar egter nie, Johnny skiet en onmiddellik volg Piet en Cas se skote. Sy slaan op ’n afstand van so sewe meter morsdood voor ons neer. Cas maak nogal die opmerking dat sy hulle skoene tóé onder die stof val. Omdat ek volle vertroue gehad het in die drie professionele jagters, het ek op geen oomblik enige vrees ervaar nie. Soos ’n tafereel het alles wat ek van die ou grootwildjagters gelees het, stadig voor my afgespeel.

By nadere ondersoek kon ons sien dat sy teen haar regtersy ’n taamlike groot seerplek gehad het. Natuurlik het daar baie verklarings, ondersoeke en papierwerk gevolg, maar saam met die gids se verklaring het alles daarop gedui dat sy wettig uit selfverdediging geskiet is. Die voorlaaste middag en laaste jagdag het aan Cas behoort. Hy skiet ’n groot hiëna, en op die laaste dag ’n mooi buffelbul. Ons het reeds hul spore deur die katoenlande gevolg toe ons na ongeveer ’n uur op hulle afkom. Ek en die spoorsnyers het agtergebly sodat Piet, Cas en Johnny die buffels kon bekruip. Na ’n rukkie hoor ons die skoot en weet dit is raak. Daar is ’n duidelike bloedspoor en 40m verder kry ons hom – ’n mooi bul met ’n harde kop.

Cas se hiënajag was net so interessant. ’n Skuiling van lang gras is gebou en toe is aas uitgesit. Die eerste nag het ’n luiperdmannetjie ongelukkig die aas bo in die boom opgedra en feitlik opgevreet. Weer is aas uitgesit en terwyl ons laatmiddag in die skuiling sit, kom eers die luiperdmannetjie en later die luiperdwyfie aan die aas vreet. Toe dit feitlik donker is kom die twee hiënas en hulle verjaag die luiperds tot bo in die boom. Omdat die lig al swak is moet Cas vinnig skiet. Gelukkig kon hy die hiënamannetjie met een skoot doodskiet.

Op die laaste aand by die gesellige kampvuur dwaal my gedagtes met dankbaarheid terug na die verlede... Ek besef dat ons die afgelope 150 jaar dieselfde familieplaas in die Bedford-distrik in die Oos-Kaap besit. Daar was, behalwe ribbokke en ’n enkele bosbok, bitter min wild. Hier en daar was ’n duiker of ’n ou steenbokkie in die omgewing en slegs ’n paar plaasboere het springbokke gehad.

Danksy die geslag voor ons wat letterlik duisende kilometers afgelê het om wild in te bring, kan die Oos-Kaap vandag spog met seker die grootste verskeidenheid van wild in Suid- Afrika. Die vloedjare van die vorige eeu, tussen 1974 en 1976, het ook baie bygedra om die koedoebevolking te laat ontplof. Waar daar vroeër by ons feitlik geen koedoes was nie, is hulle nou in al hoe groter getalle te sien. Met trots kan ons ook aan ons voorgangers sê, welgedaan. Die goue reël van bewaar eers en geniet dan wat die natuur jou bied, word ooglopend toegepas. Vir lank nog sal ons die wonderwerk van die skepping aanskou om dan met dankbaarheid in die winter aan ’n stukkie biltong te kou.

Die volgende dag groet ons die Luangwariviervallei. Met ’n laaste terugblik vanaf die plato oor die vallei word ’n prentjie in my vasgelê wat vir ewig daar sal bly.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon