SA JAGTER/HUNTER | Julie 2016

Die koedoe!

Jag vra goeie voorbereiding en akkurate skootplasing. Deur CASSIE NIENABER

Plaas jouself vir ’n oomblik in die volgende situasie: Jy woon in ’n eenmanswoonstel op die vyfde verdieping in die rowwe deel van die stad en sien erg daarteen op om jou hele vakansie daar te bly.

’n Welgestelde vriend wil vir die Desembervakansie met sy gesin na sy luuksestrandhuis gaan. Die man het alles – wyeskerm- TV met al die kanale, groot kuierarea by die swembad naby die oopplan leef- en speelarea. Kaste vol kos en genoeg drinkgoed. Hy bied die huis aan met volle gebruik van alles daarin, as jy tog asseblief net vir die vakansie daar kan kom bly sodat daar darem ’n asem is.

Boere is baie lief vir hul grond en diere. Hulle wil dikwels self nie daar jag nie, want die diere lê hulle net te na aan die hart. Maar hulle vergun my en jou om daar te jag. Doen die boer nou nie maar dieselfde as ons fiktiewe bogenoemde vriend nie? Hy stel met volle vertroue alles wat vir hom saak maak tot ons beskikking: sy plaas, diere, geriewe, hout, blyplek en personeel – alles vir ons genot.

Dit is daarom met groot dankbaarheid dat ek jou van my jag wil vertel... Soos ons gereeld vir jare doen, was ons groepie vriende in Mei 2012 op ons jaarlikse jag op oom Freddie van Eyk se plaas, Doortjie, naby Swartwater. Die jag daar was nog altyd uitsonderlik omdat sy familie vyf plase in die omgewing besit wat ’n totale oppervlak van naby aan 7 000 hektaar het. Weens die grootte van die area en omdat die plase in die verlede verskillende eienaars met uiteenlopende boerderytipes gehad het, wissel die habitat aansienlik. Elke dag jag jy eintlik op ’n nuwe plaas. Wonderlik!

Die kaart met die roetes. Die blou lyn dui aan hoe ons op Die Koedoe se spoor gestap het en die soliede rooi lyn dui sy bloedspoor aan wat ons gevolg het – dit was ‘n afstand van 2.2km.

Ons het die Woensdag daar opgedaag, afgepak, gaan inskiet en toe ontspan. Die Donderdagoggend voor dagbreek het Barnie (die kampkommandant) ons by ons gidse ingedeel en by die jagplek afgelaai. Soos dit maar soms gaan, het ek op hierdie jag na twee dae nog niks in die koelkamer gehad nie.

Maar boeta, toe tref daardie geluk van gelukke my. Oom Freddie het naby sy huis ’n jagkamp wat hy uitsluitlik hou vir sy kleinkinders wanneer hulle tydens skoolvakansies kom kuier. Nie een van ons is bewus daarvan dat hy al voorheen enige iemand anders toegelaat het om in daardie kamp te jag nie. Sover ek kon aflei, loop daar ook nie vee in dié kamp nie. Oom Freddie het in sy groot wysheid besluit dat ek daar mag jag sodat ek darem met ’n vleisie huis toe kon gaan.

Vroegoggend het ek en John, een van die beste gidse op die plaas, buite die kamphek geparkeer. Ons het rustig in die pad afgestap toe ek bosse regs van ons hoor breek. Ons is die bosse in en het op vars koedoemis afgekom, papvars en blinkbruin met stoom wat daaruit opslaan. Mooi groot spore – ’n bul. Jy weet mos, jou hart begin galop en jy weet, nóú is dit tyd om baie skerp en stil te wees.

Ons het sy spoor gevat, die ene konsentrasie, al ons sintuie skerp en in totale oorgawe aan die jag. Stap ’n paar treë, staan, luister en fyn kyk. Die bosse was ruig met baie ondergroei en ons moes letterlik elke tree beplan. Na wat soos ure gevoel het, het die bul weer die bosse so 30m voor ons laat kraak. Ons het ’n wyle gestaan, asem geskep, besin, gefokus en weer begin. Hom later weer ’n paar treë voor ons laat spaander. Om ’n koedoe raak te sien wat in ruie bos doodstil vir jou staan en kyk, is ’n stywe ent verder as moeilik. Ongeveer ’n uur het verloop...

Skielik het ’n kabaal digby ons losgebars. Die bul het oor ’n droë klomp bosse aan die soom van ’n ontbosde land gespring. Met ’n dringende voorgevoel het ek John gevra waar die pad is. Hy het na links beduie en ons is op volle vaart langs die bosheining af, regs in die grondpad langs die kampheining af, om ’n S-draai tot in die noordwestelike hoek van die kamp.

Met dié dat ons om die draai kom, sien ons die bul staan en John gooi die stokke oop. Ek het die geweer in die mik van die skietstokke gesit en die veiligheidsknip van my SAKO .30-06 vorentoe geskuif. Manne, teen 3x-vergroting het ek lanklaas so ’n klein koedoebulletjie gesien! Maar ek sien en weet die man is op pad om te hardloop, ek moet skiet. Omdat hy ver was, het ek besluit om so ’n entjie bo die kuiltjie te mik.

Na die terugskop en met die afkom van die geweer sien ek dat die bul soos ’n perd op sy agterpote spring terwyl hy sy regterbeen terugtrek. Jy weet mos hoe die adrenalien jou deur ’n tonnel laat kyk, totaal gefokus en in staat om ure se detail in mikrosekondes in te neem.

Die bul het links geswaai, deur die ontbosde land gehardloop en terug oor die bosheining gespring. Uit my rugsak het ons elkeen ’n lemoen geëet, koeldrank gedrink en John het ’n sigaret gerook. Daarna het ons na die oorspringplek gestap. Met ’n gesukkel is ons oor en om die bosse en het toe die duidelike bloedspoor gevolg. Na ’n rukkie het ons ’n dik stuk been opgetel, seker so ’n halwe vinger lank. Omdat ek gereeld wildsvleis verwerk en slag, het ek besef dat ek die humerus getref het. Teenstrydig met konvensionele jagpraktyk (wat bepaal dat jy gewoonlik wag sodat die dier bloei, swakker en styf raak en gaan lê) het ek besluit om die bul so vinnig moontlik uit sy lyding te verlos.

Ons het dus op sy bloedspoor bly stap, maar hom eers na ’n uur te siene gekry. Daar was net een bos tussen ons, maar so ruig dat ek slegs die bul se vae buitelyn kon sien. Ek het geen idee gehad wat voor of agter was nie. Hy het begin beweeg. Toe ek om die bos kom, staan hy daar en kyk byna lynreg weg van ons af. Ek het vinnig op my knieë afgesak en moes net voor die boud mik (vanweë die hoek waarteen hy gestaan het) om die hart te tref. Toe die skoot klap het die bul stadig op sy linkersy omgekantel.

Daar was met hierdie jag, soos die lewe dikwels maak, ’n vermenging van soet en suur, pyn en vreugde. Ek was so hartseer en jammer dat ek hom nie ’n onmiddellike doodskoot gegee het soos wat hy verdien het nie. Wat my egter altyd sal bybly, is sy manjifieke krag en uithouvermoë – ek praat altyd van hom as Die Koedoe.

Hannes Kotze wat op daardie plase grootgeword het en reeds van skooldae af koedoes jag, het eenkeer vir my gesê ’n koedoebul jag jóú, nie jý vir hom nie. Nou wil ek net vir Die Koedoe sê, baie dankie vir die groot eer en die les in spoorsny, grasie, krag en vasbyt.

Ek dra gewoonlik my voetslaan- GPS saam. Dit is baie handig as jy alleen jag en die area nie goed ken nie, sodat jy posisies of spore kan merk (om later daarna terug te keer). Sien die kaart met die roetes, in blou is die roete soos ons op Die Koedoe se spoor was, met die blou stippels soos ons na en in die pad af gehardloop het. Die groen lyn is die kamp se grensdrade. Die rooi stippels is soos Die Koedoe deur die oop land gehardloop en oor die bosheining gespring het, met die soliede rooi lyn soos ons sy bloedspoor gevolg het. Ons was vir 2.2km op sy spoor. Hy het die heeltyd teen die wind in gestap.

Na die tyd het ek die afstand waarop ek hom geskiet het gaan meet met my afstandmeter. Dit was 186m – nogals ’n ent om uitasem gehardloop te staan en skiet. Hierdie ondervinding het my vasbeslote gemaak om alles binne my vermoë te doen om baie goed voorbereid te gaan jag. Jagters moet veral konsentreer op oefeninge waar daar vanaf skietstokke uit die staanhouding geskiet word.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon