
SA JAGTER/HUNTER | Oktober 2013 | Deur LEON VAN CAUES
Niks gemiddelds aan
medium-kalibers
.jpg)
Medium-kalibers is baie gewild onder sekere jagters, veral by diegene wat meestal ons groter boksoorte jag. Wanneer dit by die indeling van klasse kom, verskil jagters soms hewig, want entoesiaste is dit nie altyd eens waar die een klas stop en die volgende begin nie. Ons sou lank oor die saak kon redeneer, maar vir die doel van hierdie artikel kom ons neem aan dat enigiets vanaf 8mm (.318 of .323”) tot .375” onder die mediumklas kan resorteer. In hierdie artikel gaan ek kortliks enkele medium-kalibers bespreek wat ek dink meriete het.
Tegnies gesproke kan ons seker die .303 British hierby insluit, maar kom ons trek die streep by .318” – die oorspronklike
koeëldeursnit van die 8x57 Mauser wat in 1888 deur die Duitse weermag aanvaar is as militêre kaliber. Die oorspronklike 8x57 het ’n 227gr-koeël teen 2034vps gelanseer. Teen 1905 was hierdie kombinasie as ’n bietjie outyds beskou en ’n paar veranderinge is aangebring. Die
%20-%20Copy%20-%20Copy.jpg)
koeëldeursnit is vergroot na .323” en die 227gr-koeël is vervang met ’n 154-greiner wat die tromp teen ongeveer 2900vps verlaat het. Om te onderskei tussen die twee 8x57-kalibers is die nuwe een die 8x57JS genoem. Dit is veilig om die kleiner .318-kaliber in ’n .323-loop te skiet, maar nie andersom nie, want die druk kan gevaarlik hoog raak. Lope met die .318”-binnemaat is tot rondom 1940 vervaardig en daar mag steeds van hulle in omloop wees. As jy dus een vandie ouer Mausers van voor die Tweede Wêreldoorlog besit of in die hande kry, maak doodseker wat die ware kaliber is. Deesdae word alle 8mm-kalibers van .323”-lope voorsien.
Sedert sy bekendstelling was die 8x57 baie gewild by jagters en sy gewildheid het ook oorgespoel na Afrika toe. Mauser- gewere was goedkoop en as gevolg van Duitsland se kolonies in Afrika geredelik beskikbaar op die kontinent. Gelaai met 220gr-koeëls het dit goeie naam gemaak as ’n Bosveldkaliber. Die 8x57 skiet hierdie swaar koeëls teen ongeveer 2400vps wat hulle uitstekend laat presteer het op groot wildsbokke. Die lae snelheid het nie net die koeëls betroubaar en gekontroleerd laat omklink en sodoende diep laat penetreer nie, dit het ook min vleisskade veroorsaak met lyfskote.
Sommiges glo dat die 8x57eintlik beter as die .30-06 in die bos presteer. Of dit werklik die geval is, is debatteerbaar. Hierdie ou strydros is egter vandag steeds gewild hier by ons en selfs in sommige Europese lande. Ek voorsien dat dit nog baie jare met ons sal wees. Die .333 Rimless Nitro Express (ook bekend as die .333 Jeffery) was eens op ’n tyd ’n gewilde keuse in Afrika en daar was selfs jagters wat dit redelik gereeld op olifante gebruik het. Dit is natuurlik in werklikheid te lig vir hierdie groot diere, maar diegene wat dit gebruik het, het meestal daarmee in redelike oop terrein olifante geskiet waar hulle hul skote mooi kon kies. Dit is deur die Britse maatskappy Jeffery bekendgestel en die oorspronklike fabrieksladings was gelaai met 250gr-koeëls teen 2500vps en 300gr-koeëls teen 2200vps.
In werklikheid was die .333 Jeffery ’n beter kaliber as die .318 Westley Richards, maar die 250gr-koeël het ’n holpunt gehad wat met ’n dun koperdoppie bedek was en hierdie koeël het somtyds te gou omgeklink of heeltemal opgebreek en dus nie diep genoeg
gepenetreer nie. Dit het die .333 Jeffery se reputasie skade berokken.
Met die moderne kruit tot ons beskikking vandag, kan die .333 Jeffery se 250gr-koeël teen ongeveer 2700vps gelanseer word wat dit basies in dieselfde klas as die .338 Win Mag plaas. Daar is tans ’n verskeidenheid premium-tipe koeëls beskikbaar wat die relatief hoë snelheid van 2700vps kan weerstaan. Gelaai met sulke koeëls sal die .333 Jeffery ’n formidabele kaliber vir beide die
bos en semi-oop terrein wees.
’n Uitstekende medium-kaliber wat veel meer aftrek in Suid- Afrika behoort te kry, is die .338 Win Mag. Dis in 1958 bekend gestel en is gebaseer op die .458 Win Mag se dop wat afgenek is na .338” toe. Die doel van hierdie kaliber was om iets te vind wat die gaping tussen die .300 Magnums en die .375 H&H kon vul. Hierdie .33-kaliber is geskik vir alle Amerikaanse grootwild soos moose (Amerikaanse eland) en die gevaarlike bruinbeer. Dit vuur ’n 250gr-koeël teen 2700vps – ’n projektiel teen 2700vps het ’n trompenergie van 4050 vt/lb. Die .338 Win Mag is ’n uitstekende keuse vir die jagter wat wêreldwyd jag en net een kaliber wil gebruik. Met die regte koeëls, in die regte hande en met goeie skootplasing kan dit selfs op buffels aangewend word, maar dis in
sommige Afrikalande onwettig om enige kaliber kleiner as ’n 9.3x62 of selfs ’n .375 H&H op gevaarlike grootwild soos buffels en olifante te gebruik.
Wanneer ligter koeëls van 200 of 225gr gelaai word, kan die .338 Win Mag se trompsnelheid opgestoot word tot by 3000vps wat dit ’n uitstekende vlaktekaliber vir groot wildsbokke soos die gemsbok maak. Daar is selfs 300gr-koeëls beskikbaar en hulle kan gelaai word tot meer as 2400vps. Dié kaliber is ’n beter opsie as die 8mm Rem Mag omdat dit van ’n standaard-lengte-aksie gebruik maak in plaas van die lang magnum-lengte-aksie.
Sommige mense is geneig om wanneer hulle die lang magnum-aksies moet oorhaal, die slot nie ver genoeg terug te trek nie en wanneer die slot dan vorentoe gestoot word, tel dit nie die volgende patroon in die magasynkas op nie.
Die 9.3x62 Mauser is in 1905 deur die wapensmid Otto Bock van Berlyn, Duitsland, ontwikkel en is tot vandag toe een van die mees populêre mediumkalibers, veral in Suid-Afrika. Dit het in Afrika, Amerika en Europa jagters beïndruk en baie glo dit is al wat jy nodig het as jy biltong wil huis toe neem. Weens die relatief stadige spoed van sy 286gr-koeël (2360vps) mors dit min vleis en lewer dit uitstekende penetrasie selfs met konvensionele loodkern-koeëls. En laai jy hierdie 9.3 met premium-omklinkkoeëls, of soliedes, is dit geskik vir buffels en selfs olifante. Dis beslis nie die beste kaliber om ’n olifantstormloop mee te stuit nie, maar in die hande van die regte persoon kan dit hierdie groot diere heel maklik dood.
Twee ander 9.3’s – die 9.3x72R en die 9.3x74R – verskil ballisties nie veel van die 9.3x62 nie en is ontwerp om in dubbelloop- of kombinasiegewere te gebruik. Die kragtigste van die 9.3-familie is die 9.3x64 wat in 1910 deur Wilhelm Brenneke ontwikkel is. Sommige kenners beskou die 9.3x64 Brenneke se vermoë as gelykstaande aan die .375 H&H Magnum. Hierdie kaliber lanseer ’n 286gr-koeël teen 2650vps en het ’n trompenergie van 4490vt/lb. Alhoewel die Brenneke die potensiaal gehad het om een van die wêreld se beste sogenaamde all-rounders te wees, het dit nooit gebeur nie.
Toe dié 9.3 bekend gestel is, het premium-koeëls soos ons dit vandag ken, nog nie bestaan nie. Die konvensionele loodkernkoeëls kon ongelukkig nie die hoë trompsnelheid van die Brenneke weerstaan nie en die 9.3x64 het gou-gou ’n reputasie ontwikkel as ’n kweskaliber. Dit was omdat die koeëls te gou opgebreek het en in sommige gevalle nie diep genoeg gepenetreer het om die lewensbelangrike organe te bereik nie. Gelaai met moderne premium-koeëls is hierdie 9.3 egter dodelik en vir alle praktiese doeleindes in dieselfde klas as die .375 H&H.
Die .375 Holland & Holland Magnum wat in 1912 deur Holland & Holland van Londen bekend gestel is, is seker een van die bekendste en geliefste medium-kalibers onder jagters wêreldwyd. Betroubare werkverrigting, ’n goeie trajek, akkuraatheid en hoë slaankrag maak hierdie kaliber ’n uitstekende keuse. Die .375 H&H se trajek oor 300m met ’n 235gr-koeël verskil nie veel van die .30-06 met ’n 150gr-koeël s’n nie. Dit lanseer 235gr-koeëls teen 2 900vps, 270 greiners teen 2 700vps en 300gr-koeëls teen 25540vps.
Hierdie kaliber se terugskop met 300gr-koeëls is vir baie mense te veel (ongeveer dubbel die terugskop van die .30-06) maar as jy aan ’n .300 Magnum gewoond is, is die trappie op na die .375 H&H nie te moeilik nie. Baie jagters gebruik deesdae hul .375 H&H’s vir langer skote in oop terrein en gelaai met iets soos Barnes se 235gr TSX-koeël of selfs Nosler se 260gr Accubond kan die .375
H&H baie effektief as langafstandkaliber gebruik word op groot wildsbokke.
Hierdie medium-kaliber se gebruik op gevaarlike grootwild soos buffels en olifante is natuurlik welbekend. Jagters wat nie die terugskop van die ware grootkalibers soos die .458 Win Mag en Lott of die .450 Rigby kan hanteer nie, vind die .375 H&H veel meer hanteerbaar en vriendeliker vir algemene gebruik. Hierdie is voorwaar een van die beste, indien nie dié beste medium-kaliber op die wêreldmark.
Een van die heel kragtigste medium-kalibers is die .378 Weatherby Magnum wat Roy Weatherby in 1953 bekend gestel het. Hierdie .375-kaliber lanseer sy koeëls ongeveer 300vps vinniger as die .375 H&H en het ’n brutale terugskop. Gelaai met vandag se premium-koeëls is dit dodelik op enige gevaarlike grootwild wat regoor die wêreld aangetref word. Dis nie baie gewild in Suid-Afrika nie, bloot omdat ons dit nie eintlik hier benodig nie. As kaliber vir wildsbokke is dit net té kragtig en skop dit te veel, en vir groter goed soos olifante en buffels is daar beter kalibers.
Lees ook

The .223 Remington is the most popular .22 centre-fire in the world and probably one of the most popular rifle calibres ever designed. Its military twin, the 5.56x45 is the official NATO cartridge and virtually all rifle manufacturers chamber rifles for it.

Die onbekende 7mm
Vandag is daar steeds baie mense wat nie dié kaliber ken nie alhoewel Remington, Ruger en ook Sako gewere maak vir hom. Tog blyk daar hernude belangstelling in die .280 Remington te wees. Met die groot verskeidenheid geweerkruite wat in die VSA beskikbaar is kan die ballistieke van die 7mm Remington Magnum byna met die .280 geëwenaar word.

.458 Lott - designed
to stop a buffalo
During a hunt in the Zambezi Valley in the 1960s, the late Jack Lott, a well-known American gun journalist and hunter, was tossed by a buffalo which he had failed to kill with his .458 Win Mag. Jack immediately set out to design something better...