Foton distributors South Africa

South African Foton distributors take home top awards

2 November 2026
gemsbuck hunting

The gemsbuck – Africa’s glorious gladiator

3 November 2026

3 November 2026

Nuttige wenke vir veiliger en beter handlaai

Ontdek praktiese wenke deur KASSIE KASSELMAN oor handlaai, komponentversorging, toerusting en die belangrikheid van aandag aan detail.

Handlaai

’n Netjiese en goed georganiseerde laaitafel is belangrik om veilig te kan herlaai.

 

Enigiemand wat ’n aktiwiteit bedryf, hetsy ’n stokperdjie, sport, ambag of werk, ontwikkel later ’n metodiek van sy eie om dit wat hy doen makliker, aangenamer en beter te maak. ’n Vriend vra my so ’n rukkie gelede wat hy nóg kan doen om die handlaai van sy ammunisie aangenaam, maar steeds bydraend tot ’n funksioneel goeie patroon te maak.

Op my navraag oor hoe hy tans te werk gaan, verduidelik hy al die stappe vir die laai van ’n patroon wat volgens die herlaaidoktrine korrek is. Ek let toe egter op dat hy fynere aksies wat aandag behoort te kry, maar nie in ’n doktrine uitgespel word nie, miskyk, of dalk nie genoem het in sy verduideliking nie.

nuttige wenke

Dryfmiddel wat nie onmiddellik gebruik gaan word nie, moet teruggegooi word in die vervaardiger se houer en ordentlik toegemaak word. Moenie dryfmiddel in die kruitdrupper los vir langer as wat nodig is nie.

 

Dit het my laat besluit om die dingetjies wat nie noodwendig noodsaaklik is om te doen nie, of wat ek soms doen en soms laat verbygaan omdat ’n mens nie altyd spesifiek daaraan dink nie of kortpaaie neem om klaar te kry.

Met die voorbereiding vir die handlaaisessie, is dit goed om seker te maak dat al die toerusting wat benodig word beskikbaar en diensbaar is.

DIE WERKPLEK

  • Olie al die skarnierplekke, skuif-oppervlakke aan die pers en maak seker die regte dopskoentjie is op die pers gepas. Maak al die toerusting goed skoon en verwyder oortollige olie.
  • Verwyder onnodige en oorbodige gereedskap en pak dan al die toerusting op die werkbank in die posisies waar jy dit gerieflik kan bykom.
  • Maak vensters en deure wat ’n trek kan veroorsaak toe om onstabiliteit van die skaal te verhoed, en probeer om die kamertemperatuur te beheer sodat dit ongeveer 22°C is.
  • Indien die herlaaiwerkkamer in ’n area is waar die voginhoud hoog is, moet ’n dehidreertoestel gebruik word om die humiditeit te probeer reguleer. Ter illustrasie kan ek noem dat ek eenkeer ’n persoon gaan help het om sy herlaaifasiliteit in te rig en sy personeel te onderrig om ammunisie te laai of herlaai. Sy herlaaivertrek was in die kelder, waar die voginhoud van die keldermure baie hoog was as gevolg van die omliggende grondwatervlakke. Gevolglik was daar ’n hoë atmosferiese humiditeit in die vertrek. Ons het drie groot vogonttrekkers geïnstalleer, waarvan die onttrekte vog elke oggend leeggemaak is. Elke dehidreerder het elke oggend drie en ’n half liter water opgelewer! Ek dink nie dis nodig om te verduidelik watter kopsere hoë humiditeit ’n herlaaier kan besorg nie.
DIE KOEËL

As die herlaaiwerkkamer nou ingerig en opgestel is, kan ons aan ’n paar aspekte van komponentversorging aandag gee.

  • Daar is nie veel wat ons aan die koeëls kan doen nie, maar indien die koeëls ernstig aangeslaan is, dit wil sê as dit “ou” koeëls is wat dalk ’n paar jaar in hulle verpakking gestoor is en begin oksideer het aan die loodpunte, of kopervlekke sigbaar is, is dit beter om die koeëls skoon te maak deur hulle in ’n dopskoonmaker of per hand te was of te poleer.
  • Indien die herlaaier van ballistiese programme gebruik maak om hom te help met die ladingbeplanning, meet die lengte van die koeël en vergelyk dit met die data wat die opsteller van die ballistiese program gebruik het en pas die programdata dienooreenkomstig aan. Jy sal verbaas wees hoe selfs moderne koeëlpunte kan verskil van die data wat in programme ingevoer is.
  • Ofskoon die herlaaier nie veel kan doen om koeëlgewigte te egaliseer nie, is dit interessant om te weet hoe die gewig tussen koeëls kan varieer. Dit mag die keuse van die soort koeël vir langafstandskiet beïnvloed.
  • Laastens is dit goed om seker te maak dat die koeël wat jy laai, wel dieselfde koeël is as waarvoor jy die lading beplan het.
handlaai

Hierdie blik dryfmiddel is in 2005 vervaardig en het reeds in 2014 verval – moenie dryfmiddel gebruik wat verval het nie, die werksverrigting en veiligheid daarvan is onseker.

 

DIE DRYFMIDDEL

Dit is baie belangrik dat dryfmiddels korrek hanteer word om te verseker dat die dryfmiddel wat gebruik word, binne die parameters gaan wees van die voorspelling van hoe dit gaan presteer.

Maak seker die betrokke lot se vervaldatum het nie verstryk nie. Onthou dat die dryfmiddel waarvan die vervaldatum verstryk het, se prestasievlak nie deur die vervaardiger gewaarborg gaan word nie en by die gebruik daarvan rus die onus dan suiwer op die herlaaier se skouers. Dit is beter om dit liewer nie te waag nie.

  • Sommige vervaardigers van dryfmiddels dui die afwyking van die prestasie van ’n betrokke lot op die kannetjie aan. My ervaring is dat daardie afwyking bloot ’n aanduiding is dat die kruit dalk nie volgens die gepubliseerde tabelle mag presteer nie. Dit is beter as die herlaaier ’n eksperimentele lading wat op die aangeduide afwyking gebaseer is, laai en die trompsnelheid van die koeël meet voordat hy aanpassings aan sy beproefde lading maak. Die rede hiervoor is dat daar so baie faktore soos die toleransies aan geweerlope, blootstelling aan atmosferiese toestande en beheer oor vervaardigingsgehalte is, dat enige kruit tot ’n mindere of meerdere mate afwyk van die gepubliseerde prestasievlakke. Dit is in elk geval ’n gesonde benadering om altyd eers ’n bevestigende lading te vuur wanneer ’n nuwe kannetjie kruit gebruik word.
  • In dieselfde konteks as hierbo, moet die herlaaier nooit ’n kannetjie kruit oopgemaak op sy werkbank los nie. Skroef die proppie terug nadat jy die kruit in die kruitgooier ingegooi het. Die relatiewe humiditeit van die kruit verander met die blootstelling daarvan aan die atmosfeer. Beperk dus die tyd van onbeskermde blootstelling van die kruit aan die omgewing.

Twee blikke S365. Die linkerkantse blik het reeds verval. Die regterkantse blik dui die lotnommer, afwyking en vervaldatum aan. Die afwyking soos aangeteken op die plakker is slegs ’n aanduiding en moenie sommer goedsmoeds aanvaar word nie.

 

  • Ek ervaar ook dat hoe minder die kruitvolume in die kannetjie word oor ’n bepaalde tyd, hoe vlugtiger (of “warmer”) word die kruit in vergelyking met ladings wat uit ’n nuwe blik gemaak was. Dit mag teweeggebring word deurdat die kruit se relatiewe humiditeit verander as gevolg van die groter volume lug wat in die kannetjie ontstaan soos dit leeg word. Moet dus nie die kannetjie onnodig oopmaak nie.
  • Pasop ook om die kruit nie oornag of oor langer periodes in die kruitgooiers te los nie. Jy gaan beslis ’n verandering in ladingprestasie ervaar tussen patrone wat vars gelaai is en patrone wat gelaai word met kruit wat ’n ruk lank in die kruit-houer of buite die verseëlde kannetjie gestaan het.
  • Om verwarring te voorkom, moet net die kannetjie dryfmiddel wat vir die spesifieke laaiaktiwiteit gebruik word, op die werkbank wees. Bêre die kannetjies wat nie gebruik word nie in die kruitkas. Pasop vir dryfmiddels in kluise. Druk wat vasgekeer word, werk soos ’n bom.
  • Let daarop dat gelaaide patrone se afwyking van prestasie soos toe hulle gelaai is, nie sal verander weens kruitgedrag nie, omdat die patroon se binnekant “geseël” word deur die slagdoppie en die koeël en die “lugborrel” in die doppie baie klein of selfs zero is, afhangend van die ladingsdigtheid van die lading. Enige veranderings wat mag intree nadat die patroon gelaai is, is as gevolg van die laaitegniek wat gebruik is, of as gevolg van die eienskappe van die doppie se materiaal.
DIE SLAGDOPPIE

Moderne slagdoppies word baie robuus vervaardig en is gevolglik baie betroubaar, maar onthou dat hulle aktiewe bestanddeel blootgestel is aan die atmosfeer. Daar is egter ’n paar aspekte waaraan die herlaaier moet aandag gee.

  • Slagdoppies is kwesbaar teen humiditeit en moet glad nie nat word nie. Moet nie met nat vingers of klam hande daarmee werk nie.
  • Stoor die slagdoppies in hulle houertjies in droë omstandighede. Plaas vogtrekkers in die kas of kluis waar die slagdoppies geberg word, veral in vertrekke waarvan die mure baie vog bevat. Onthou dat slagdoppies nie in verseëlde pakkies verpak word nie.
  • Kompetisieslagdoppies het ’n baie sagte doppie, omdat hulle vervaardig word vir skuts wat kompetisiegewere gebruik met ’n slagpenveer wat slapper is en waarvan die slagpenbeweging baie kort is. Hanteer hulle dus versigtig, veral as die herlaaier ’n kinetiese hamer gebruik om patrone te ontlaai. Ek het gesien hoe ’n patroon vuur wanneer dit in ’n kinetiese hamer gekap word om die punt te trek.

Slagdoppies is sensitief vir vog. Vogabsorbeerders soos hierdie kan in die kas of kluis geplaas word waar jou slagdoppies gestoor word.

 

DIE PATROONDOPPIE

Patroondoppies op sigself is nie gevaarlik nie, en word normaalweg nie met baie respek behandel nie. Tog verg hulle die meeste aandag in die voorbereidingsproses van die lading, meer as enige ander komponent. Saam met alles wat volgens doktrine aan ’n doppie gedoen moet word, moet ons die volgende onderstreep:

  • Dit is belangrik dat die herlaaier presies weet wat die maksimumlengte van ’n doppie in die wapen waarvoor hy gelaai word, moet wees. Maak seker dat die doppie nié langer is as die maksimumlengte wat vir die geweer gemeet is nie. Onthou dat die doplengte wat in amptelike bronne aangetoon word, die bedryfstandaard is waarvolgens gewere en komponente gebou word; die herlaaier moet dit vir sy geweer verfyn. Vir diegene wat nie seker is oor hoe om dit te meet nie, gaan kyk weer na die hantering van knypbekdoppies en die prosedure om dit te meet en reg te stel. ’n Doppie kan egter 0,5 mm korter wees as die maksimumlengte wat gemeet is vir die geweer.

LEES OOK: Cast bullets for medium bore rifles

  • Wanneer ’n doppie skoongemaak word, is dit belangriker dat die binnekant skoon is, as wat die buitekant skoon vertoon.
  • Met doppies wat uitgegloei word, moet verseker word dat die doppies nie oorverhit word nie. Maak seker dat net die nekkie van die doppie verhit word en pasop vir die norm van die kersierooigloeiend-sindroom. Die tininhoud van die doppie se materiaal word vernietig deur oorverhitting, wat dan die doppie se vermoë om spanning te behou, neutraliseer.
  • Dit help nie dat die doppie se nek uitgegloei word nadat hy gevormdruk (sized) is nie. Eers uitgloei en dan vorm.
  • Maak seker dat die volmaatvormdrukmatrys (asook die body die, indien dit gebruik word) sowel as die koeëlplaasmatrys korrek vir jou geweer se kamer opgestel is. Die meeste probleme wat by my beland, is die oorsaaklike gebrek aan kennis oor die korrekte opstelling van matryse.
  • Moet nooit verskeie vervaardigers se doppe meng en in dieselfde groep doppe met dieselfde lading laai as jy akkuraatheid wil verkry nie. Doppe moet soort-by-soort gehou word en soms selfs binne dieselfde vervaardiger gegroepeer word. ’n Vinnige metode is om doppe volgens massa te groepeer, maar die meer tydsame met beste metode is die klassifisering volgens gevuurde doppe se volumes. Net vir interessantheid kan ek noem dat ek onlangs ’n kliënt se geweer met 30 PMP-doppe ontvang het vir die ontwikkeling van ’n lading. Ná ’n lang gesukkel waar daar net eenvoudig geen konstantheid in skietprestasie verkry kon word nie, het ek die doppe op die vinnige metode van dopmassa geklassifiseer en gevind dat daar ses verskillende groepe doppe onder die 30 doppe was. Almal was uit verskillende pakkies fabrieksammunisie wat oor ’n paar jaar aangekoop is en toe vir herlaaidoeleindes almal in een groep saamgegooi is. Ná die klassifisering was die probleem opgelos, maar dan moes die kliënt ses verskillende ladings laai.

Daar kan sekerlik heelwat meer wenke deur al ons gesoute herlaaiers bygevoeg word, wat almal meriete het, maar kom ons begin dink en pas enige wenk toe, solank dit nie bots met die fundamentele proses en prosedure vir die laai of herlaai van ’n patroon vir ’n geweer nie.

TEENWOORDIGHEID VAN GEES EN GESONDE KENNIS IS DIE SLEUTEL TOT DIE FOUTLOSE LAAI VAN PATRONE

(Hierdie artikel is gepubliseer in die November-Desember 2023-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER.)

Related Articles

← South African Foton distributors take home top awards The gemsbuck – Africa’s glorious gladiator →