23 October 2026
Handwapenjag: Kies die regte kaliber en toerusting
Ontdek wat jy moet weet oor handwapenjag in Suid-Afrika, van kaliberkeuse en teleskope tot oefening, toerusting en die jag van verskillende wildsoorte. – DEUR JACQUES DE BEER

Ek het grootgeword met jaggewere en het op ’n baie jong ouderdom begin jag. In my latere jagjare het die kortloopgogga begin pla nadat ek my eerste .357 Magnum-rewolwer (’n Taurus met ’n 4”-loop) gekoop het – oorspronklik vir selfverdediging, maar toe was daar nog nie soveel misdaad dat jy, soos vandag, ’n wapen oral met jou moes saamdra nie. Elke keer as ek die .357 Magnum uit die kluis gehaal het, was die drang daar om meer as net teiken te skiet – ek wou jag met hom.
Ek het nie juis geweet wat om te doen of waar om te begin nie, maar die gogga het gebyt en die gif was klaar in my bloed. Ek het selfs nie geweet dat jy ’n teleskoop op ’n rewolwer kan monteer nie.
Soos die tyd verloop het, het ek meer met my Taurus begin skiet. Dis nou meer as 20 jaar gelede en as jy navraag oor handwapenjag in ’n jagwinkel gedoen het, was daar nie veel reaksie nie. Niemand kon my regtig inligting gee en sê of jag met ’n handwapen moontlik is nie. Ek moes maar self eksperimenteer. So het ek stilweg hier en daar ’n meerkat en tarentaal geskiet en agtergekom dat ’n rewolwer baie potensiaal het.
Dit bring my by die doel van hierdie artikel. As die kortloopgogga jou gebyt het en handwapenjag jou passie is, het jy baie inligting nodig, en goeies ook. Anders gaan jy, soos ek, bokse en bokse patrone onnodig uitskiet en jou bloeddruk opjaag sonder genoegsame vordering. Jy moet genoeg navorsing doen en soveel inligting moontlik bymekaarmaak, sodoende sal jy jouself baie tyd, frustrasie en ook baie geld spaar.
BEGIN KLEIN EN OEFEN REG
Die handwapens waarmee gejag word, is meestal langlooprewolwers en -pistole met lope wat wissel van ongeveer 6 duim tot so lank as 14 duim, en soms langer. As jy begin jag, is dit raadsaam om met kleiner kalibers te begin.
Oefen dan eers op klein wildspesies en voëls, soos duiwe en tarentale. Jy kan byvoorbeeld ’n .22-skyfskietpistool tweedehands aanskaf teen ’n bekostigbare prys van om en by R2 000 tot R3 000.

Lugpistole (windbukspistole) soos hierdie is uitstekend vir goedkoop oefening ter voorbereiding van handwapenjag.
Selfs die PCP-pistole (lugpistole) wat deesdae in .22-kalibers beskikbaar is, is uitstekend om mee te oefen, want hulle is bitter akkuraat en het verbasende slaankrag. Toets ook jou skietvernuf op teikens.
As jy ’n gesoute duifjagter is, is jy gereed om tarentale te voet aan te durf. Tarentaal se kind is ’n baie slim voël en as jy hom te voet met die .22 kan piets, is jy reg vir die volgende stap.
GROTER HANDROERE VIR GROTER WILD
Selfs al is jy gereed om na groter kalibers te vorder, is dit raadsaam om nie jou .22 te verkoop nie. Dis ’n baie goedkoop manier om in oefening te bly, want patrone is billik en as gevolg van die min terugskop kan jy heeldag lank oefen. Handwapenjag is soos boogjag – jy oefen selfs in jou slaap.
As jy baie van die sport begin hou en jy later groot diere soos kameelperde en elande wil jag, is dit raadsaam om groter kaliber rewolwers soos die .44 Magnum aan te skaf. As jy egter net ’n wapen soek wat jy saam wil dra as jy met jou geweer gaan jag (ingeval jy naby genoeg aan ’n vark of rooibok kom vir ’n veilige skoot met jou handwapen), is die .357 Magnum dalk ’n beter opsie. Dis ’n baie ligter wapen van om en by 1.3 kg en dus nie onnodige gewig om saam te dra nie.
Laai jy die .357 Magnum met 180gr-koeëls, beskik dit oor genoeg doodmaakvermoë om groot wildsbokke op kort afstand te jag. Ek het vele wild met ’n .357 Magnum gejag en selfs blouwildebeeste met goed geplaasde hartskote in die koelkamer laat beland. Die afstande op dié diere was kort en gewoonlik nie verder as 50 meter nie.
EIENSKAPPE VAN .44 MAGNUM
Die .44 Magnum val ietwat in ’n ander kategorie. Die wapen is baie swaarder en weeg rondom 2.5 kg saam met die teleskoop en patrone, gelaai met swaar koeëls, en gewoonlik is die lope 6 tot 7.5 duim lank. Dis nie ’n wapen wat jy sommer in jou belt druk en van vergeet nie. Jy het ook ’n stewige skede nodig om dié bul te dra, want hierdie 2.5 kg raak later so swaar soos ’n klip.
Jy moet dus ’n skede kry wat gewoonlik met gordels/bande om jou skouers en middel vasmaak sodat die wapen dan gemaklik teen jou bors hang vir vinnige en gemaklike bereik. Die meeste skedes maak ook nie voorsiening vir die teleskoop nie en omdat die wapen te swaar is om aan jou broek se belt te hang, raak dit ’n las, want dit is geneig om met tyd jou broek af te trek.

’n Ruger Redhawk-rewolwer in .44 Magnum met ’n geweerteleskoop daarop gemonteer. Met oefening kan jy sulke teleskope op rewolwers gebruik.
Hierdie magnum is in 1955 bekendgestel en is in 1956 aan die publiek beskikbaar gestel. Dit is ’n baie kragtige rewolwer wat al die Groot Vyf plus seekoeie platgetrek het sedert sy ontstaan. Van vlakteswild praat ons nie eens nie. Jy kan hom met koeëls tot so swaar as oor die 300gr laai wat dan ongelooflike goeie penetrasie bied. Dit was vir baie lank een van die wêreld se kragtigste handwapens totdat die .454 Casull in 1997 bekendgestel is. In 2003 volg die .500 S&W-kaliber vervaardig deur COR-BON in vennootskap met Smith & Wesson X Gun, en dit is in die Smith & Wesson X Frame-rewolwer gebruik.
Die .44 Magnum is ideaal vir al ons vlakteswild en na my mening ’n baie slim koop, selfs al kry jy later ’n gier om groter wildsoorte te jag. Skaf dus eerder ’n .44 Mag aan as jy ernstig is oor handwapenjag. Dit is wel heelwat duurder as die .357 Mag, maar kan goedkoper tweedehands aangeskaf word.
BEKYK JOU BANKSAKE
As jy later van tyd brawer raak en luukser fabrikate soos Ruger en Smith & Wesson wil aanskaf, moet jy eers aan jou bankbestuurder ’n slagskaap stuur, want jy gaan sy volle bystand en samewerking benodig. Dié tipe wapens is baie duur en kan jou begroting lelik knou in kalibers soos .44 Mag, .454 Casull, .460 of .500 S&W.
LEES OOK: Twist barrel pocket pistol: The unusual Wender gun
Jy kan ook heel moontlik jou hart op ’n pistool verloor wat gebou is vir jag, soos die Thompson Contender. Dié pistole is beskikbaar in ’n verskeidenheid kalibers en hul lope kan in ’n japtrap omgeruil word vir ’n ander kaliber. So koop jy basies vir jou ’n volledige wapen tweedehands (want hulle is nie meer in produksie nie). Later kan jy net ’n loop koop in ’n ander kaliber, soos .22, .357 Mag, .44 Mag, en jaggeweerkalibers soos .30-30, .30-06, .308, .375 en selfs so groot as .416.
As jy ’n fynproewer is, kan jy vir jou ’n pasmaak-langafstandpistool laat bou met ’n slotaksie in enige kaliber van jou smaak. Natuurlik is dit ’n baie duur opsie wat jou ook ongeveer R30 000 en baie uit die sak kan jaag. Maar soos ek reeds gesê het, daar is werklik iets vir elke man se sak in die handwapenwêreld. Selfs as jy ’n bietjie wil spog by die manne, sal jy iets vind.
Besin mooi voordat jy kies. Jy sal tog nie ’n baie duur kanonkaliber koop as jy heel moontlik dalk net een maal elke vyf jaar met hom gaan jag nie. Koop ’n bekostigbare, hanteerbare wapen waarmee jy kan begin oefen en kyk of jy hom kan baasraak. Jy kan altyd later ’n bielie aanskaf as handwapenjag ’n passie raak.
Een ding moet jy mooi verstaan: ’n Rewolwer wat skiet met 300- tot 500gr-koeëls, is nie sommer enige man se speelding nie – hy kan jou lelik pakgee. As jy skopsku is, bly eerder by die ligter kalibers soos die .357 Magnum. Die grootboor-wapens breek teleskope en sorg vir stywe en seer arms die volgende dag.
Die .500-kalibers is vir die hardebaarde. Ek het ’n .500 Nitro Express en glo my vry, ek het bitter min jong, brawe mannetjies teëgekom wat kans sien vir dié pistool. En as hy wel ’n skoot neem, kan jy die verwilderde uitdrukking in sy oë sien. Om sy ego te red, sê hy gewoonlik dit was nie so erg nie, maar die bleek kiewe en effense bewerasies bewys anders. Dis terugslag in sy ergste graad! Dit voel of jy ’n dinamietkers probeer vasdruk.

Kragtige rewolwers soos hierdie .460 S&W is geskik vir die grootste wildsbokke wat in Afrika voorkom.
MET ’N TELESKOOP TOERUS
Indien jy besluit om jou handwapen vir jagdoeleindes met ’n teleskoop toe te rus, hou die geweldige terugskop van grootboor-handwapens in gedagte. Die teleskoop moet dubbel die normale terugslag van grootkaliber-jaggewere kan absorbeer. In my kantoor lê seker ’n stuk of vier goedkoper teleskope wat onder die slae gefaal het.
As die binnekense nie breek nie, stamp dié meneer die teleskoop so hard dat dit nie ingestel bly nie. Koop dus ’n duurder model wat die terugskop goed kan hanteer. Jy kry handwapenteleskope by die groot, bekende wapenhandelaars wat sulke slae kan vat. Handwapenteleskope wat hul sout werd is, is duur en wissel tussen R8 000 tot R12 000.
Ek het onlangs by my Amerikaanse vriend wat ’n professionele langafstand-handwapenskut is, geleer dat jy ook ’n jaggeweerteleskoop kan monteer op ’n handwapen. Die handw
apenteleskoop het ’n lang oogafstand (long eye relief), wat beteken jy sien eers die volle beeld in die oogstuk as jou arms reguit is. Met die jaggeweerteleskoop is die sigveld baie meer beperk as jy ’n pistool of rewolwer op die normale manier skiet. Dis nogal ’n aanpassing en iets om aan gewoond te raak. Die jaggeweerteleskoop het ook heelwat groter vergrotings wat die langer afstande vergemaklik indien jy gekonfyt is om op langer afstande te skiet.
Teleskoop of nie, dit bly elke jagter se keuse. Ek stel altyd ’n teleskoop voor, want jy kan baie fyner mik en op langer afstande skiet. Oop visiere op rewolwers is baie grof en jou skietafstand is beperk tot so 30 of 40 m. Met ’n teleskoop skiet jy gemaklik tot op afstande van 100 m en verder.
As jy jou teleskoop wil monteer, raadpleeg ’n goeie wapensmid en kry die regte monterings om dit stewig vas te sit. Die boutjies van jou montering breek maklik af as daar ’n speling is of as die boutjies te dun is. Dis ook raadsaam om drie tot vier ringe te gebruik om jou teleskoop vas te hou, andersins skuif jou teleskoop in die ring.
Die regte toerusting en kundige advies gaan jou baie frustrasies spaar. Doen van die begin af reeds alles korrek, anders gaan dit jou later baie duur te staan kom.
INSTEL VAN DIE TELESKOOP
Die instel van die teleskoop is gewoonlik ’n bietjie van ’n aanpassing. Jy moet eerstens besef dat die val van die handwapenkoeël baie meer is as by jaggewere weens die stadige spoed (byna die helfte stadiger as geweerkoeëls) en die swaar gewig van die koeëls. Maak seker dat jy weet hoeveel die val van die koeël is op intervalle van ten minste 20 m.
Veral met ’n rewolwer as jy oor 80 m skiet – ek stel my .357 Magnum op 80 m dat hy ’n duim hoog skiet met ’n 180gr CMJ-koeël, gelaai voor 6.6gr MP200. Op 100 m mik ek net so drie duim hoër om te kompenseer vir die val. Verder, op 130 m, so vier tot vyf duim. Duidelik maak 20 meter ’n yslike verskil as jy met ’n .357 Magnum jag – ’n maak of breek (kwes) op ’n rooibok, byvoorbeeld.
Ek verkies die 180gr in my .357 Mag omdat dié koeël ongelooflike goeie penetrasie gee, selfs op wildebeeste. My .44 Magnum stel ek in op 100 m en vir ’n skoot van 150 m mik ek vyf tot ses duim hoër met 245gr- tot 300gr-koeëls.
Die instel van pistole in die jaggeweerkalibers is feitlik dieselfde as die instel van ’n jaggeweer. Jy gebruik dieselfde patrone, so jou trajek is amper dieselfde (met die korter loop van die pistool boet jy ’n bietjie snelheid in).
Ek laai my .44 Mag met 9.6gr MP 200 agter Frontier se 300gr CMJ-koeël. Dis my persoonlike voorkeur. Ander jagters verkies ligter koeëls. Kies die akkuraatste koeël vir jou wapen. Ek gebruik ’n Ruger Redhawk .44 Mag en met 245gr- en 300gr-koeëls groepeer hy die beste. Sekere wapens presteer net beter met sekere koeëls. Jy moet genoeg tyd op die baan spandeer en ligte, medium en swaarder koeëls laai om te bepaal wat jou rewolwer se voorkeur is. As jy groot wildsbokke soos blouwildebees of eland jag, is dit raadsaam om die .44 Mag te laai met die swaarder koeëls.
HULPMIDDELS IN DIE VELD
Ek raai ook aan dat jy ’n afstandmeter aanskaf omdat dit broodnodig is om die regte afstand te weet op verder skote. Vir enige skoot nader as 80 m mik ek presies waar ek wil tref en soos genoem mik ek ’n bietjie hoër op langer afstande. As jy ’n 15 cm × 15 cm-blik elke keer op 50 tot 80 m kan raakskiet, is jy reg vir die bos.
Wanneer jy met ’n pistool of rewolwer jag, is dit raadsaam om ’n goeie skietraam of skietrus te gebruik. Ons skiet nie soos cowboys uit die vuis nie en handwapenjagters moet te alle tye dooierus oor ’n boom, miershoop of skietstok probeer neem om die beste moontlike doodskoot te gee. Die kwesrisiko is net eenvoudig te groot as jy nie ’n rus of stut het nie.

’n Tuisgemaakte driepoot wat wys hoe jy die kolf of pistoolgreep van jou wapen op jou ander arm kan rus vir beter stabiliteit. ’n Stabiele rus is noodsaaklik vir akkuraatheid.
Ek het ’n raam gebou waarop my rewolwer se greep en die loop kan rus vir volle stabiliteit. Die raam is so gebou dat ek op my knieë kan staan en skiet. Dis lank genoeg om oor lang gras te kan skiet en kort genoeg om met gemak te dra. Met so ’n skietraam kan jy gemaklik ’n 100 m-plus-skoot skiet as jy gesout is. As jy nie ’n raam kan bou nie, koop skietstokke – daar is verskeie tipes wat geskik is vir handwapenjag. Of jy kan sommer drie stewige latte sny en hulle aanmekaar bind met binnebandrek om sodoende ’n driepoot te maak. Ek het sulke skietstokke al vele kere op wildplase raakgeloop en dit werk soos ’n bom. Die foto op vorige bladsy van my skietraam illustreer hoe ek dit gebruik.
KEUSE VAN KALIBERS VIR WILD
Die tyd het aangebreek om met jou wapen en die regte skietstok veld toe te gaan. Eerstens moet jy weet watter handwapenkalibers vir watter soort wild voldoende is. Ons word nie in Suid-Afrika toegelaat om met ’n semi-outomatiese handwapen te jag nie en nie ligter as ’n .357 Magnum nie.
Met ’n .357 Magnum-rewolwer kan jy klein tot mediumgrootte wild jag – dus vanaf steenbok tot blesbok en njala. Maar as jy jou wapen ken en jy kan akkuraat skiet, kan jy hartbees en blouwildebees op kort afstand (tot so 50 m) ook aanvat. Die .357 Mag het baie goeie penetrasievermoë tot op ongeveer 50 m. Die .44 Mag is ideaal vir medium tot groter wild soos gemsbok, koedoe, wildebees en selfs buffel (met ’n hoëgehalte-320gr-koeël).
Die .44 Mag, gelaai met ’n 200gr-koeël, behaal ’n spoed van 1 625 vps; 240-greiners kan jy skiet teen 1 455 vps, ’n 300gr-koeël teen 1 365 vps en die 320-greiners teen 1 325 vps.
Jy kan ook die .454 Casull gebruik vir medium en groter wild. Die .454 Casull, gelaai met ’n 240gr-koeël, het ’n spoed van 1 900 vps; met 300-greiners haal hy 1 650 vps en met 400gr-koeëls 1 400 vps. Die Casull is ’n gewilde grootwildkaliber, wat veral ideaal is vir buffels.
Die .500 Smith & Wesson is die grofgeskut van die handwapens en is die grootste rewolwerkaliber in produksie. Die .500 skiet ’n 400gr-koeël teen 1 625 vps en 500gr-koeëls teen 1 500 vps. Dié kaliber is uitsluitlik vir groter wildsoorte soos buffels bedoel, maar kan ook effektief op alles kleiner gebruik word.
Pistole, soos genoem, is in bekende jaggeweerkalibers beskikbaar (soos die .30-06 en .308 en daaroor hoef ek nie uit te brei nie). Minder bekende kalibers vir ons, soos die .375 JDJ, wat in Amerika gewild is, is baie effektief op alle wild. Dis gebaseer op die .444 Marlin wat afgenek is om ’n .375-koeël te neem. Die 270-greiners trek teen 2 000 vps en 300gr-koeëls teen 1 900 vps.
Die .30-30 wat ons ook ken, is geskik vir mediumgroot wild soos gemsbok en wildebees. Hierdie kaliber skiet ’n 130gr-koeël teen 2 496 vps, ’n 150gr-koeël teen 2 390 vps, 160-greiners teen 2 330 vps en 170gr-koeëls teen 2 227 vps.
Jy kan dus enige wild wat op die aarde beweeg met ’n handwapen jag, mits jy die regte kaliber kies. Handwapens is baie kragtig en die Groot Vyf is kinderspeletjies vir sommige van die grootboorhandwapens in ’n gesoute handwapenjagter se hand.
DIE SPOED EN KRAG VAN HANDWAPENS
Mense onderskat gewoonlik die krag en akkuraatheid van jaghandwapens. Ek het al heelwat verbaasde manne langs my in die jagveld gehad wat nie kon glo wat uit so ’n kort loop gehaal kan word nie. Die doodmaakvermoë van die wapens is ongelooflik weens die stadiger spoed van die enorme koeëls. As gevolg van die lae spoed moet ons staatmaak op die grootte en deursnee van die koeël om ’n wondkanaal te sny. Om beter te penetreer, veral op groot wildsoorte soos elande en buffels, moet die koeël nie omklink nie. Die vleisskade is dus ook baie minder a.g.v. die laer spoed en dis waarom handwapens ’n goeie keuse kan wees vir vleisjagters.
Deesdae is handwapens beter bekend onder wildboere en word hulle bykans op enige plaas toegelaat. Omdat dit baie ure se oefening verg, is handwapenjagters baie ernstig oor hul sport en daarom gewoonlik uitstekende skuts. Ook jag hulle slegs te voet en verkieslik nie uit skuilings nie. Dit maak van hulle uitmuntende bekruip- en spoorsnyjagters.
Handwapens staan nie sommer terug vir ’n jaggeweer nie en die langafstandpistole sal enige tyd kers vashou by die lang roere. Van die langafstandpistole kan afstande van amper 2 km haal, byvoorbeeld ’n pasmaak-7mm Dakota.

Let op na die kaartjie met die D.O.P.E. (data on previous engagement) wat gebruik word op lang afstande om korrek af te kan mik.
JOU KEUSES EN JOU PASSIE
Wees passievol oor die sport en oefen soveel as wat jy moontlik kan. Dit verg baie tyd en oefening om ’n suksesvolle handwapenjagter te wees. Daar is ongelukkig nie kortpaaie nie. Dis ’n duur sport en daarom moet jy dit van meet af aan reg doen: wapen- en teleskoopkeuse, korrekte ladings, die regte monterings en baie oefen en nogmaals oefen, is die wenresep. Betroubare jagtoerusting sorg vir ’n besondere jagavontuur.
Jou eerste suksesvolle jag met ’n handwapen is gewoonlik onvergeetlik. En dit word elke keer net meer uitdagend. Dié sport toets jou vernuf as jagter en skut tot op die uiterste. Ja, hierdie gogga se byt is ’n ernstige een!
Geniet die diereryk en elke oomblik in die veld en bewaar dit vir die nageslag sodat hulle ook eendag sulke wonderlike tye kan beleef soos ons. Lekker (handwapen)jag.
Redaksionele nota: Die oorspronklike teks bevat ’n paar OCR-onduidelikhede en herhalings. Ek het die duplikaatgedeelte onder “Groter handroere vir groter wild” verwyder en duidelike OCR-artefakte reggestel, maar die inhoud en struktuur so na moontlik aan die oorspronklike gehou.
(Hierdie artikel is gepubliseer in KOLSKOOT 2020.)






























