Koos se bospaaie | 12 Augustus 2019 | Deur KOOS BARNARD

Die ram

’n Klein beweging onder die die wag-’n-bietjie se oorhangtakke het hom weggegee. Vir ’n oomblik het ek gedink dis ’n voëltjie of insek, maar iets het my instinktief op my hurke laat neersak. Vanwaar ek agter die pol rooigras gehurk het, het ek die verkyker na my oë toe gebring en toe sien ek wat my oog gevang het – die lui beweging van ’n springbok se swepiestert.

 

Hy het diep in die donker skadu gestaan, met sy kop weg van my af. Die luggie was in my guns, hy sou my dus nie kon ruik nie. Of dit mý ram was, kon ek nie uitmaak nie, maar eintlik was dit nie nodig om sy horings te sien nie, want net hý het hier in die sandlopie geboer – die springbok wat hom soos ’n skelm koedoebul gedra het.

Ek het hom ’n paar weke tevore vir die eerste keer een laatmiddag in die sandloop opgemerk. Weerskante van die breë loop was daar golwende vlaktes, maar elke keer wanneer ek hom sien vlug het, was dit nie na dié ooptes waar sy goeie oë tot sy voordeel sou wees nie. Nee, hy het slinks tussen die haakbos, wag-’n-bietjies en kameeldorings verdwyn. Sy horings was kort en dik, geen trofee nie, maar sy lyf het my opgeval. Hy was een van die grootste springbokke wat ek nog op dié plaas gesien het.

 

 

Hoe meer ek hom gesien het, hoe nuuskieriger het ek oor die ram geraak en kort voor lank het ek hom begin jag. Sy ontwykende aard het my uitgedaag, my eer was op die spel, dit was my jagvernuf teen sy ontwykingstaktiek. Die dae het weke geword en teen die einde van die winter het ek hom steeds nie onder skoot gekry nie.

 

En toe eendag, besluit ek om dié ram met ’n oopvisiergeweer te jag. Hy moes tot op kortafstand bekruip word. Ek wou as’t ware persoonlik kontak maak met hom. Skiet jy ’n dier van ver af met ’n teleskoopgeweer is dit amper asof die jag soos ’n rolprent voor jou afspeel – jy’s deel van die aksie maar tog ook nie. 

 

Nou was hy skaars 30 treë weg en heeltemal onbewus van my. Ek het stadig plat gaan sit en die Mauser versigtig deur die gras voor my gedruk. Die ram kon net op twee plekke onder die boom uit en beide het onbelemmerde skote gebied. Toe hy uiteindelik die skadu verlaat, het die Mauser se korrel agter sy blad vasgesuig. My vinger het om die sneller begin krul...

 

Toe raak hy skielik van my bewus. Sy kop het opgeruk, hy het vasgesteek en effens skuins na my toe gedraai. Die korrel het nou doodstil gelê in die holtetjie waar sy nek en bors bymekaar aansluit. ’n Klein beweging van my vinger sou die swaar koeël deur sy hart laat ploeg. Maar my vinger het dom geraak, my oë half wasig en ek het die geweer laat sak.

 

 

Die ram het sigbaar geskrik, maar steeds nie gehardloop nie, my net vir lang sekondes aangekyk, toe stadig omgedraai en tydsaam weggestap. Net voordat hy die bosse bereik het, het hy vasgesteek en ’n oomblik lank oor sy skouer gekyk.

 

Verligting het iewers diep in my begin borrel. Skielik was ek vry, verlos van my obsessie om die ram te skiet, om my vernuf te probeer bewys. Vry van my ego. Ek het stadig opgestaan en gestap tot waar ek sy spoor gekruis het. Dit was goed om te weet hy sou bly leef.

 

As hy daar op die sand doodgebloei het, wat anders sou oorgebly het as om te kniel waar hy geval het en te weet dat die sandlopie in die toekoms leeg van sy spore sou wees? Ek het met ’n ligte hart aangestryk huis toe.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401