top of page

KOLSKOOT | 2022 |DEUR MELLIES

DIE PERFEKTE BERGJAGROER.JPG

Die perfekte bergjagroer

DIT SIT NIE SOMMER IN ENIGE ROER SE LOOP OM SAAM MET JOU DIE BOKKE IN DIE BERGE AAN TE DURF NIE. 

 

Ek verstom my aan die jagters wat in die massiewe berge van lande soos Tadjikistan, Kirgistan, Pakistan, Mongolië en Noord-Amerika vir dae aaneen met alle toerusting stap en kamp opslaan in daardie onherbergsame terrein in ’n poging om ’n spesie te jag wat slegs ’n dosyn uitgesoekte jagters beskore is. Diere in sommige van hierdie afgeleë gebiede is nog nooit eens aan enige mense blootgestel nie.

 

Ek kan my vereenselwig met hierdie bergjagters wat selfs ná ’n onsuksesvolle jagpoging terugkeer, soms om ’n addisionele spesie aan te durf. Daar is min dinge in die jagveld so lekker soos om ’n rant of berg uit te klim, stadig oor die kruin te loer en ’n gemaklike sitposisie in te neem. Jy stut jou elmboë op jou knieë ter ondersteuning van jou verkyker wat gemaklik teen jou oë moet rus in afwagting op die beeld van Moeder Natuur wat vir jou nadergetrek word vir ’n volwaardige bergjag. Dieselfde bergjag kan egter ook ’n groot straf wees as jou fisieke voorbereiding en toerusting nie op standaard is vir die uitdaging nie. Dié uitdaging kan behels dat jy voor sonop tot ná sononder jag, bergop en bergaf met die nodige kilojoules in ’n rugsak en roer oor jou skouer totdat jy nie meer kán of wíl beweeg nie.

 

Toerusting wat seisoen ná seisoen bespreek word in ’n poging om jou by te staan sodra dit moeilik gaan, sluit waterdigte stewels in wat verkieslik maande vooraf ingeloop is, met dik stapkouse wat jou trappers warm en droog hou. Ook kamaste om vog en steekgras van jou kouse weg te hou. Dan is daar die gemaklike broek, hemp en ligte baadjie (wind- en waterbestand) in kleure of camo wat met die omgewing saamsmelt en terselfdertyd voorkom dat sagte plekkies skaaf en jy mettertyd ’n rash ontwikkel soos dié van ’n baba met ’n nat doek. Alle toerusting het een doel – om die jagter gemaklik te hou. Dit is tog vanselfsprekend dat enige taak vir langer periodes aaneen meer suksesvol uitgevoer kan word as dit met behulp van gemak geskied.

 

Dít bring my by die tipe roer spesifiek vir bergjag. Faktore om in ag te neem is massa, akkuraatheid, maklike en vinnige hantering, asook weersomstandighede en die spesies wat gejag gaan word. Magnum-kalibers (.300 Win Mag, 7mm Rem Mag, Winchester se kortdop, Weatherby se magnum en ander waarvan daar hope is) is van die begin af oor die hoof gesien weens hierdie gewere se massa, spoed en komponentkoste. In ’n ligte bergroerkonfigurasie sal die terugskop van die meeste magnum-kalibers ook te veel wees vir ’n aangename ondervinding, tensy elandbulle elke tweede naweek in die ruwe Drakensberge gejag word (maar dis ’n debat op sy eie). Die terugpratery van ’n groter roer kan tot ’n mate met behulp van ’n knaldemper beheer word, wat dan veroorsaak dat die balans versteur word. Enige standaardkaliber (.270 Win, 7x57, 7x64 of .280 Rem, .30-06 Sprng, om ’n paar te noem) in ’n lang aksie wat ’n 150-180 grein-koeël teen 2 700-2 900 vps skiet, kan met gemak oorweeg en ingespan word met ’n verandering aan byvoorbeeld die looplengte, kolf of lading.

 

’n Nuwe geweer is nie altyd nodig nie. Die swetterjoel 6mm/6.5- kalibers (6.5 Sweed, 6.5 Creedmoor, .260 Rem) en selfs die .25-06 Rem kan met groot sukses as ’n bergroer gebruik word indien enige spesie behalwe koedoebulle aangedurf word. Met massa in ag genome, besluit ek op ’n standaardkaliber wat in ’n kort aksie pas, met ander woorde ’n maksimum totale patroonlengte (TPL) van 2,8”. Daar is deesdae dosyne kalibers wat op sogenaamde kort aksies gebou word wat langer as 2,8” is, wat eintlik iets tussen ’n kort en lang aksie benodig. Indien jy herlaai en die koeël effens nader aan die loop se groewe wil kry, pas die patrone nie meer in die kamer nie en word dit ’n enkelskootroer – iets wat jou dalk kan byt op ’n jag in die toekoms as ’n vinnige opvolgskoot nie moontlik is nie.

 

Ek dink persoonlik dat enige koeël (ongeag die kaliber) wat die loop teen 2 900 vps of meer verlaat, net té veel vleisskade aanrig. Vleisskade, daarenteen, kan tot ’n mate beperk word met monolitiese koperkoeëls. Afgesien van koedoes is die meeste spesies wat in die berge voorkom egter relatief klein en sag, wat die kans op ’n kwesbok verhoog met ’n koeël wat slegs ’n klein in- en uitgangswond veroorsaak. Vir party jagters is meer vleisskade aanvaarbaar – dan is die kaliberkeuse net soveel wyer. ’n Dun loop van 22” behoort ’n goeie gemiddeld tussen massa en spoed te bereik. Die enigste nadeel van ’n dunlooproer is dat sodra die loop ná ’n skoot of drie warmer word, die moontlikheid bestaan dat akkuraatheid ingeboet word. Ek het dus my bergroer se dun loop met koolstofvesel lyf gegee om die nadeel van warm word te tem en die voordele met betrekking tot akkuraatheid van ’n dik loop te geniet teen ’n fraksie van die massa. In die berge is uiterste weersomstandighede in die vorm van wind, warm of koud, ysreën, sneeu of stof met ’n paar sarsies sweetsessies gewaarborg.

 

’n Klassieke okkerneuthoutkolf wat jy slegs met spesiale geleenthede uithaal om by vriende mee te spog, mag dalk net veroorsaak dat jy ’n ineenstorting beleef, sou dié pragstuk weens harde werk ’n merk opdoen. Jaarliks trotseer ek en my toerusting, wat ’n sintetiese kolf insluit, reëndruppels, ys in die vorm van klein balletjies (kapok) of vlokkies met ’n glimlag. Die kolf is soort- gelyk aan HS Precision se Sporter-kolwe wat my soos ’n handskoen pas. Die roer se metaaldele het die nodige Cerakote- afwerking, asook ’n Timney 510-sneller soortgelyk aan dié van al my ander roere met Remington 700-aksies. Al die bogenoemde werk met betrekking tot die loop se koolstofvesel, sintetiese kolf en metaaldele, waarvan die Cerakote deur Armtec buite Potchefstroom gedoen is.

 

Teleskope is ’n gesprek op sy eie. Vir my is goeie kwaliteit glas vir die helderste moontlike beeld, ’n groot gesigsveld (field of view) en puik naverkoopdiens belangrik. Te veel jagters boet kwaliteit in om meer vergroting te verkry en sodoende verder skote te waag. ’n Leupold VX5-HD 2-10x42 CDS-ZL met ’n Fire- Dot Duplex-kruis het die meeste regmerkies gekry, want dit is kliphard, lig en eenvoudig met uitstekende glas. Ek was aanvanklik skepties oor die FireDot, maar die fyn rooi kolletjie staan mooi uit op veral donker diere, wat baie help. Om bogenoemde glase in posisie te hou, is die ringe en spoortjie (rail) van Warne se Mountain Tech-reeks ingespan.

 

Spesies wat algemeen in die berge gejag word, is onder meer koedoes, takbokke, rooien vaalribbokke, asook rietbokke en vlakvarke. Laasgenoemde is hoegenaamd nie ’n bergklimmer van formaat nie, maar is so algemeen in Suid-Afrika dat amper elke kloof tussen die berge ’n varkfamilie huisves. Minder bekend is die bergsebras, bergskape, klipspringers en oorbietjies in sekere dele van Suid-Afrika. Omdat koedoebulle die grootste van die spesies is wat gereeld in die berge gejag word, is besluit dat ’n 150 grein-koeël met ’n deursnee van .277” of groter teen ’n matige 2 800 vps die minimum massa is waarmee hierdie groot bokke op relatief lang jagafstande aangedurf word.

 

Daar is baie jagters wat jaarliks groot bokke op wye afstande pakslae gee met 6.5-kalibers en optiese meesterstukke. Dít sit ongelukkig nie in my broek nie. Volgens my is dit dalk net die 6.5x284 Norma en 6.5 PRC wat genoeg poeier vir hierdie toepassing het. Sommige wapenvervaardigers het aantreklike produkte beskikbaar met die fokus op ’n ligte, akkurate, sintetiese roer spesifiek vir die berge: Bergara Mountain 2.0, Browning X-Bolt Mountain Pro, Weatherby Mark V Backcountry Ti, Kimber Mountain Ascent, Savage Model 110 Ultralite, Winchester XPR, Tikka T3 X Superlite en Sako 85 se Carbonlight.

 

Ongelukkig moet Suid-Afrikaanse jag- en skietentoesiaste tevrede wees met die beperkte hoeveelheid ongelooflike jagen skiettoerusting wat ons landjie aan die mees suidelike punt van Afrika bereik. Tikka en Sako is sekerlik twee bekende vervaardigers wat meer gereeld hul verskyning maak. My naam was lank op ’n waglys by ’n plaaslike handelaar vir ’n Tikka Ultralite, maar ná ’n seisoen of twee se wag het ongeduld die oorhand gekry. ’n Sako Carbonlight is amper die perfekte opsie indien jou beursie dit toelaat. Teen R60 000 vir slegs die puik roertjie alleen moes ek egter anderpad kyk. So met geluk by die ongeluk bel ek toe ’n Remington 700 SPS-roertjie in Bloemfontein raak terwyl ek eintlik op soek was na iets anders – ou voorraad nogal en boonop teen ou voorraadpryse.

 

Ná die wag vir die belangrike wit kaartjie as bewys dat ek die eienaar is, kon ek die wapen, wat ek vooraf vanuit Bloemfontein laat koerier het in ’n poging om tyd te spaar, by die geweersmid gaan afhaal. Op die skietbaan kon ek sonder te veel moeite 150 grein Nosler Ballistic Tips en Partitions binne 10 mm laat groepeer. Ook gewone 154 grein InterLocks wat ’n goedkoper opsie is vir oefen, boots die Noslers se groepe op papier na. Beide die Nosler-koeëls word in Lapua-doppe en die Interlocks in Norma-doppe gelaai met ’n happie Reloader 17 voor ’n Remington LR-slagdop vir ’n spoed van 2 780 vps.

 

Alles in ag genome, is die gewilde en uiters akkurate .308 Win ’n uitstekende opsie as bergroer. Al nadeel waaraan ek kan dink, is die betreklik lae spoed wanneer ’n loop korter as 24” gebruik word. In dieselfde asem kan ek noem dat soveel suksesvolle kalibers uit die .308 Win gebore is. Dít het my soeke na ’n kaliber met ’n .308 Win-dop ontketen, met die nodige voordele waarna ek spesifiek op soek is. Die afgelope seisoen was ’n fees met klein Svên, my 7mm- 08 Rem (of “seven-em-em-ohyt”, soos die Yanks sê), oor my skouer, veral in die berge van die Suid-Vrystaat, Noord- en Oos-Kaapprovinsies. Teen net meer as 4 kg sonder bone in sy pens is hy ’n plesier om heeldag te dra. Rooiribbokke, blesbokke, rooibokke, swartwildebeeste, koedoes en swartwitpense moes die knie voor die parmantige 7mm buig. Die 7mm-08 Rem is nie die perfekte kaliber nie, maar baie naby aan perfek vir byna alles waarna ek in ’n bergroer soek.

bottom of page