SA JAGTER/HUNTER | November-Desember 2020 | Deur THINUS STEYN

Die oom wat nie kon misskiet nie

Ek ontmoet die oom op ’n skietbaan in die digte oewerbos langs die Baviaansrivier in die Oos-Kaap. Hy is deel van ’n korporatiewe jaggroep en wil net gou sy roer instel voordat hy ’n paar bokke plattrek. Die oom haal uit ’n deftige sebravelgeweersak ’n netjiese Mauseraksiejaggeweer met een van daardie ou Duitse-tipe kolwe, wat ’n tandestokkiedun voorlaai en te veel val by die hak van die kolf het om gemaklik met ’n teleskoop te kan skiet. Ek merk op die blou Sako-patroonboksie, wat hy versigtig op die skietbank neersit, dat die kaliber .30-06 is. Die teleskoop is afkomstig uit Oostenryk. Die oom ken sy roer, hy skiet ’n drieskootgroepering wat minder as ’n duim meet, presies een duim bo die mikpunt op die teiken.

REG SOOS ’N ROER

Ons gaan maak ’n draai by die jaghuis vir ’n vinnige middagete voor ons die veld invaar. Die oom praat gewere en jag, ek kan hoor hy weet waarvan hy praat. Ek glimlag by myself; vandag behoort ons nie te sukkel nie. Voor ons ry gaan haal ek egter my geweer – ek het op die harde manier geleer dat dit beter is om ’n geweer saam te dra en nie nodig te hê nie as om nie een te dra

nie en hom wel nodig te kry. Die oom kyk die Howa met die swart plastiekkolf aan asof dit ’n giftige slang is. Ek verduidelik hoekom ek die geweer wil saamvat, maar die oom wil niks weet nie. “Ouboet,” sê hy, “ek het hierdie Mauser al 21 jaar, ek het nog nooit misgeskiet nie en ek het nog nooit ’n bok gekwes nie. Gaan bêre daardie afgryslike ding, saam met dié oom hoef jy nie ’n geweer te dra nie.”

 

Ons stop die ou Hilux-bakkie by ’n veehek en ek en die oom bespreek gou die details van die jag. Hy sê hy soek nie ’n trofeedier nie, want hy eet nie horings nie, ’n jong rammetjie of ’n vet ou ooi asseblief. Die oom wil graag ’n rooibok en ’n takbok skiet. Hy is veral opgewonde oor die takbok, want hy het nog nooit een geskiet nie. Hy hoor hulle smaak so lekker, veral as hulle vet is, amper soos ’n skaap. Daar is baie van beide hierdie spesies in die omgewing en ek is seker die oom sal een van elk hê voor die son sak.

 

Ons kry die rooibokke eerste. Daar is vier knypkoprammetjies bymekaar. Die-oom-wat-nie-kan-misskiet-nie en ek staan op so effense rantjie en die vier vrygeselle staan onder ons in ’n klofie. Die rammetjies peusel aan ’n spekboom, salig onbewus van die dreigende gevaar. Ek skat die afstand op 120 treë en dra die inligting fluisterend aan die oom oor. Dan maak ek die bamboesen-fietsbinneband-skietstokke oop. Die oom bekyk die kontrepsie, skud sy kop afkeurend en bekruip ’n witgatboom so 20 treë van ons af. Hy maak dit sonder dat ons prooi enige onraad vermoed; twee van die rammetjies begin stoei, die ander twee eet nog. Met sy voorarm teen die boom gestut, lê die oom aan terwyl ek die bokke deur my ou Leupold-verkyker dophou.

 

Die oom vat sy tyd; g’n wonder hy skiet nooit mis nie, gelukkig is die wild mak. Die ou Mauser verskeur die stilte, die jong ramme spring in vier verskillende rigtings. Wanneer hulle pote die grond tref, vlug hulle die oorkantste rant uit. Teen die tyd dat hulle oor die rif verdwyn, is die vier weer bymekaar.

 

“Lê die swernoot?” vra die oom. Ek antwoord nie dadelik nie, want ek het nie die koeël-slag gehoor nie en dit het nie gelyk of een van die vier ramme iets makeer het nie.

“Kom ons gaan kyk daar waar hulle gestaan het,” besluit ek.

Ek en die oom-wat-nie-kanmisskiet-nie stap in die klofie af. By die spekboom aangekom, begin ek sien nie bloed nie, nie teen die spekboom nie en ook nie op die klipperige grond nie. Daar is ook nie hare, stukkies vleis of enige ander teken dat ’n bok gekwes is nie. Ek klouter die oorkantste rant uit en ek wink vir die oom om saam te kom, maar hy is besig om onder elke bos te kyk vir ’n dooie bok wat nie daar gaan wees nie. Die vier rammetjies is in die volgende kloof. Ek hou hulle vir tien minute dop, maar ná vyf minute is ek seker dat die oom-wat-nie-kan-misskietnie, wel misgeskiet het. Die oom-wat-kan-misskiet hanteer die nuus nie goed nie. Hy blameer die skietstokke. Ek is bekommerd oor die skietstokke.

 

As hulle ’n man kan laat misskiet wanneer hulle 20 meter ver van hom af is, kan ek net dink waartoe hulle in staat is as jy dan nou fisies oor hulle aanlê.

 

NOG ’N PROBEERSLAG

Die oom-wat-kan-misskiet en ek kry die takbokke net voor die son sak. Ons is naby aan die Baviaansrivier. Die twee rooibruin ooie met die wit spikkels kom amper reg op ons afgedraf. Sestig treë van ons af steek hulle vas, plankdwars net buite die digte oewerbos. Ek maak die skietstokke staan, maar die oom steur hom nie aan my nie. Die oom-wat-nog-nooit-gekwes-het-nie gooi sommer so uit die vuis uit aan.

 

Dié keer hoor ek die koeël klap. Nie daardie gerusstellende klap soos ’n vuis wat soliede spier tref nie, nee, dit is daardie sieklike hol “doep” van ’n pensskoot. Die een ooi spring weg, sy bons ’n paar keer met al vier haar pote gelyk op die grond, dan gelyk in die lug en verdwyn in die oewerbos. Die ander ooi staan met ’n kromgetrekte rug, te siek om te hardloop.

“Skiet weer!” sê ek.

“Sy gaan val!” sê die oom.

 

Ek vat-vat na die .300 op my linkerskouer, maar dit is nie daar nie. Dan spring die ooi weg en verdwyn soos ’n skim in die oewerbos. Die oom skiet die ooi ’n uur en drie skote later in die donker oewerbos dood. Dit is stil in die bakkie op pad kamp toe.

 

DÉJÀ VU

Twee jaar later kom jag dieselfde korporatiewe groep en ek kom laat by die skietbaan aan. Ek groet die manne wat agter die skietpunt rondstaan. Die oom is bedrywig by die skiettafel, ’n jong beroepsjagter help hom. Hulle praat oor die oom se geweer. “Ouboet,” sê die oom, “ek het die Mauser al 23 jaar, ek het nog nooit misgeskiet nie en ek het nog nooit ’n bok gekwes nie.” Ja, swaer...

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon