Koos se bospaaie | 1 Augustus 2019 | Deur KOOS BARNARD

Die Mauser

“Kola, ’n 7mm Mauser is ’n annerster entjie geweer, pure pêrreghrie daai...” so laat oom Martiens hoor terwyl hy sy blikbeker só vashou dat ek moet sien dié holdingetjie is boomskraap.

 

Nou ja, omdat ek ’n geweerentoesias is, móés ek hierdie storie hoor. Ek het dus die bottel lawaaiwater sommer lekker laat glug-glug oor die oom se blikbeker, want ek wou hê sy gedagtes oor die 7mm moes mooi spoorvat.

“Ek meen, vat nou maar die Boereoorlog. Jong, daar het ons darem die klomp Kakies lekker opgedons.” Uit oom Martiens se onthou het dit amper geklink asof hy selwers daar was, al was hy toentertyd nog nie eens ’n stoute glinstering in sy pa se oë nie. “Jong, as daai 7mm Mausers praat, het die klomp Ingelse bontgestaan. Soos erdmanne vir ’n valk, so het hulle gate gesoek as die koeëls om hulle begin fluit. En as hulle nou so pens en gesig innie sand in gelê het, het hulle vreeslik mooi boontoe gepraat.

 

“Ai, as ons darie jare ’n rugbyspan gehad het sou daai bleekbene darem baie kere hangkop agter die pale moes loop staan.” Hoe oom Martiens die 7mm Mauser en rugby bymekaar uitgebring het sal ek nooit weet nie. Hy het seker gedink omdat die Boere kon skiet, sou hulle ook kon rugby speel. Anders as ons huidige klomp Kwesbokke. Ek het niks gesê nie, want ek wou nie inmeng met die wysheid uit oom Martiens se blikbeker nie.

 

“Kola, daai 7mm kon nou vir jou skiet, jong. Jy weet, met hom moes ’n mens nie te naby skote probeer nie. Dit was altyd beter om so ’n entjie tru te staan, dan dryf hy sy koeëls nóg dieper in. Net soos darie Mauser seloentjies van destyds. Hene Kola, wonnerlike goet daai. Het jou pa jou al vertel van allie koeroes en hartbeeste wat hy met so ’n seloentjie geskiet het? Vlakvarke ook, sommer sulke dik, balielyfbere. Skiet jy ’n groot koeroebul met ’n seloen dan bly jy net daar sit en steek eers rustig jou pyp op. Na so ’n goeie klompie lang trekke dan loop staan en vat jy tydsaam sy spoor. En sommer nou-nou sal jy hom kry... kaput, moer toe.” As oom Martiens sy Duits en sy kruietaal begin meng, dan moet jy weet sy onthou is nou lekker natneus teen die wind.

 

“By the way, Kola, ek het ’n bietjie na daai bok van jou gaan kyk wat jy vroeër vandag geskiet het. Ek dink jy kort ’n 7mm Mauser. Wat vir ’n ding het jy nou weer op daai koeroe gebruik?”

“Dis ’n .375 H&H Oom.” Ek wou nog byvoeg dat die geweer ook ’n Mauser is, maar oom Martiens het my voorgespring.

 

“Nou sien, dis jou moeilikheid daai. Het jy nou ’n 7mm gebruik was jou resultaat baie beter.”

 

“Maar die bul het skaars 20m gehardloop toe is hy vrek,” protesteer ek.

 

“Jaaa... Kola, dood was hy dood, maar teen watter prys? Ek meen, vat nou net daai .375 se patrone. Die goed is groter en swaarder as daai helse koevoet-ding wat die mense innie parlement indra voor hulle begin spietse maak. En sulke moerske koele, Kola, hulle skiet ’n tonnel deur ’n bok! Ek het jou koeroe gekyk, jy het darem baie goeie vleis honnekos loop staan en maak.

 

“Het jy nou ’n 7mm met solids gebruik, was jou koeroe ook dood... klein gaatjie in en uit, sonner lat ons die honne moes voer. Maar so ken ek julle jong mannetjies mos, wil mos alles loop staan en force. En met al daai force maak julle van vele dinge innie lewe honnekos.”

 

Oom Martiens het skielik beteuterd in sy blikbeker geloer en veelbetekenend stilgebly. Toe draai ek maar weer die proppie af en laat gesels die bottel lawaaiwater oor die blikbeker. Die aand was skaars tweetand en daar was blykbaar nog baie wysheid in oom Martiens se blikbeker wat ontgin kon word.   

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401