SA JAGTER/HUNTER | Nov-Des 2020 | Deur ANDRÉ GERBER

Die 7x64 vir dans, kerk en werk

Dit was tyd vir my eie geweer en die plan was om net een geweer vir die res van my lewe te hê. Hierdie een enkele geweer sou alles jaggewys moes doen, tot en met die skiet van elande, so ek was op soek na die perfekte, magiese all-rounder. Ek het met my pa se Sako .308 in die Oos-Kaap grootgeword en die geweer gebruik op duikers, ribbokke, bosbokke en koedoes. By tye het ek egter gevoel dat ek kon doen met iets wat ’n bietjie meer bene as die .308 het (en voor die .308-aanhangers my wil kruisig, ek het mettertyd ’n .308 ook aangeskaf).

Aanvanklik het my Duitse oom Kuno eers sy Sako L61R .270 Winchester vir my te koop aangebied, maar ek het gou agtergekom dat sy sentiment vir die geweer ’n transaksie sou verhoed, so my soeke het voortgeduur.

DIE FONDS

Ek was op vakansie by Kaap St. Francis en het by die Humansdorpse Koöperasie gaan rondsnuffel vir ’n nuwe geweer. My fokus het na gewere in .30-06 verskuif toe die verkoopsman ’n klip in die bos gooi en ek goeie pryse op ’n Winchester of ’n Steyr kon kry. Oom Riaan Vermaak het die idee van ’n 7x64 Brenneke by my geplant. Hy het my vertel van die kaliber se veelsydigheid en hoe baie hy sy Brenneke geniet vir algemene jag. Met die beskikbaarheid van hoë BC 7mm-koeëls van 120 tot 175 grein, kan die kaliber teoreties die volgende trompsnelhede bereik uit ’n 24”-loop: 120 grein teen 3 200 vps; 140 grein teen 3 000 vps; 160 grein teen 2 850 vps; en 175 grein teen 2 700 vps.

 

Op daardie stadium het ek nog nie my eie patrone gelaai nie, maar my bekommernis oor die skaarsheid van ammunisie in dié kaliber is ook besweer. In Suid-Afrika sal jy fabrieksammunisie van Norma, Sako, Sellier & Bellot, Prvi Partizan, Remington en PMP geredelik op geweerwinkels se rakke kry.

 

Europese wapenvervaardigers soos Mauser, Blaser, Sauer, Steyr, Sabatti, Heym, Tikka, Sako en CZ bou gewere in dié kaliber. Ek het uiteindelik op ’n Sako 85 Hunter besluit, en alhoewel die spesifieke geweer nog by die invoerder gelê het, het ek voortgegaan met die koop. Ek het ’n paar Sakos in ander kalibers in die winkel hanteer en gehou van hoe kompak die gewere is. “Solank die roer net nie ’n vlekvrye staalloop het nie,” het ek hom vertel.

 

OORSPRONG VAN DIE 7X64 BRENNEKE

Met groot afwagting op my nuwe geweer het ek begin oplees oor die kaliber. Die 7x64 het tydens die Eerste Wêreldoorlog in 1917 die lig gesien.

 

Die Duitser, Wilhelm Brenneke, het eers ’n 8x64 ontwikkel wat hy sonder sukses as hul nuwe dienskaliber aan die Duitse weermag wou verkoop. Hy het later die dop afgenek na 7mm toe, en so is ’n wenner gebore. Dié kaliber is tot vandag nog een van Europa se gewildste jagkalibers. In Suid-Afrika is die kaliber nie naastenby so volop soos .270’s en .30-06’e nie, maar is tog ook nie onbekend nie.

 

Hier in Ellisras waar ek al vir die laaste agt jaar woon, het ek ’n hele paar 7x64’s in die jagveld en op die skietbaan teëgekom. Die 7x64 het dus vir homself ’n plekkie in die son losgeslaan in ons land.

 

In Amerika is die 7x64 taamlik onbekend. Hulle middelslag 7mm-kaliber is die .280 Remington wat in 1958 ontwerp is, en dié kaliber se werksverrigting en ontwerp is bykans identies aan die van die 7x64. Die Brennekedop het egter ’n effense skerper skouer as die .280 s’n. Nes die 7x64, beslaan die .280 Remington die klein ballistiese ruimte tussen die .270 Winchester en die .30-06 Springfield.

 

Die .280 Remington was weens verskeie redes nie baie suksesvol in verkope nie. Eerstens moes die kaliber teen twee van Amerika se befaamde staatmakers meeding, en tweedens het Remington die kaliber in hul Model 740-semi-outomatiese geweer bemark. Die .280 Remington was teen matige druk gelaai om gladde funksionering van die Model 740 te verseker.

 

Die aankoms van die 7mm Remington Magnum, (aangebied in Model 700-grendelaksiegewere) in 1962, was ’n verdere terugslag vir die .280, maar tog het ’n paar lojale volgelinge by die .280 gehou en dit was veral herlaaiers wat meriete in die kaliber gesien het. Dis alombekend dat die legendariese skrywer Jack O’Connor ’n groot bydra tot die .270 se sukses gemaak het. O’Connor is as geweerredakteur by Outdoor Life opgevolg deur Jim Carmichael. Vir algemene jag was Carmichael se gunsteling-kaliber die .280 Remington. Sy gunsteling-lading was ’n 140 grein Nosler Partition teen ’n trompsnelheid van net onder 3 000 vps. Jim se enigste ander ander lading was 160 grein Speer Grand Slam-koeëls vir gebruik op elk en bongo in Afrika.

 

DIE 7X64 ONDER DIE VERGROOTGLAS

Die werksverrigting van die 7x64 val netjies tussen dié van die 7x57 Mauser en die 7mm Remington Magnum. Met dieselfde koeëlgewigte het die 7x64 ’n 150 tot 200 vps voordeel bo die 7x57, terwyl die 7mm Remington Magnum weer dieselfde marge bo die 7x64 het met dieselfde koeël-gewigte.

 

Die 7mm Remington Magnum se spoed kom egter teen ’n prys: korter loopleeftyd en meer terugskop. Herlaaiers kan egter stadiger 7x57-bosveldladings met swaar 175 grein-koeëls maklik dupliseer met die 7x64.

 

’n Paar weke na die koop bel oom Riaan my en vertel dat my geweer wel ’n vlekvrye staalloop het. Die idee van die blink loop het stelselmatig op my gegroei en ek was heel in my skik toe die geweer uiteindelik by my aanland. Die Sako is ’n kompakte jaggeweer wat sonder ’n teleskoop 3,4 kilogram weeg met ’n looplengte van 22.4”. Die loop het ’n groefdraai van 1:10”. My 7x64 dra ’n Zeiss Duralyt 3-12x50-teleskoop wat lekker laag gemonteer is met Sako Optilock-ringe. Die geweer het ’n verwyderbare magasyn wat vyf patrone kan hou. Dis ’n gemaklike drageweer wat goed werk vir stapjag in verskeie terreine.

 

SUKSES IN DIE JAGVELD

Die eerste patrone waarmee die 7x64 gevoer is, was gelaai met 160 grein Sierra GameKings teen ’n trompsnelheid van 2 720 vps. Die lading was baie akkuraat, maar ek het gevind dat die GameKings baie sag is, veral op bosveldskiet-afstande. Vir bosveldjag het ek gekoopte 170 grein Sako Hammerhead-ammunisie gebruik. Die gemete trompsnelheid vir die patrone was 2 650 vps.

 

Ek het mettertyd taamlik rondgespeel met verskillende koeëls en gewigte. Vir langer skote het ek besluit op 140 grein Nosler Ballistic Tips teen ’n spoed van 2 950 vps. Hierdie kombinasie is, naas die 160 grein Sierra GameKings, die akkuraatste lading uit my geweer.

 

Die Ballistic Tips het ek al op ’n paar jagte in die Karoo en Suid-Vrystaat gebruik op klein- en mediumgrootte wild met skietafstande wat gewissel het tussen 150 en 265 meter. Alhoewel die Ballistic Tip ’n konvensionele sagteneus-ontwerp is, het ek in net een geval nie ’n uitgangswond op ’n dier gehad nie, so hulle staan hulle man.

 

Ek het ook 150 grein Hornady ELD-X-koeëls probeer met goeie resultate. Ek skiet die 150-greiners teen 2 850 vps. My ondervinding met die ELD-X’e was egter dat hulle baie sag is, selfs sagter as die Ballistic Tips. Ek het by verskeie geleenthede op afstande tussen 150 en 200 meter nie uitgangswonde gekry op mediumgrootte wild nie. Met ’n jag in die Noenieput-omgewing het my vriend Johan de Wet met die 7x64 ’n gemsbokkoei op 250 meter met ’n 150 grein ELD-X geskiet. Die skoot was ’n longskoot met die ELD-X wat onder die vel van die anderkant van die bok gestop het. Die gemsbok het egter ’n paar honderd treë gehardloop voor ’n kopskoot haar finaal laat val het.

 

’N VEELSYDIGE LADING

Ek het vir geruime tyd ’n akkurate, veelsydige jaglading met ’n premium-koeël vir my geweer gesoek. Van die koeëls wat ek probeer het, was 154 grein Hornady InterBonds, 160 grein Speer Grand Slams, Nosler AccuBonds in 160 grein en Barnes in 150 grein. Ek kon dit egter nie regkry om goeie groeperings met een van hierdie koeëls te skiet nie en was taamlik gefrustreerd teen die tyd dat ek Norma se 156 grein Oryx-koeëls probeer het. Dié koeëls groepeer tussen ’n halfduim en ’n driekwartduim uit my roer met ’n trompsnelheid van 2 820 vps. Met hierdie kombinasie sal ek gemaklik wees om skote op selfs koedoegrootte wild tot op 300 meter te neem.

 

Ek het verlede jaar my eerste “Transvaalse” koedoebul in die Waterberge buite Vaalwater geskiet. Die bul het op 277 meter plankdwars gestaan toe ek die skoot afdruk en hy het met ’n hartskoot net sowat 50 meter gevorder. Die Norma Oryx het ten volle gepenetreer en die hart aan flarde geskiet wat baie interne bloeding veroorsaak het.

 

Met die Sako se groefdraai van 1:10 groepeer my geweer nie baie goed met swaarder 170 en 175 grein-koeëls nie. Tikka se 7x64-modelle het ook groefdraaie van 1:10 en, sover my kennis strek, ook die van Sabatti. Sauer, Steyr en CZ se 7x64-gewere kom wel met stywer groefdraaie uit en behoort die swaarder koeëls goed te stabiliseer. Vir bosveld-afstande is my 170 tot 175 grein-koeëlgroeperings goed genoeg, maar ek sal huiwer om die swaarder koeëls op langer afstande te gebruik. Vir die jag van wild soos elande op langer afstande sal ek dus ’n groter kaliber verkies.

 

Wilhelm Brenneke se 7mm is beslis ’n tweede kyk werd vir diegene wat op soek is na ’n veelsydige, doen-amper-alles kaliber.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon