SA JAGTER/HUNTER | Desember 2015 | Deur PIERRE VAN DER BERG

Buffeljag langs die Zambezi

Dit is laatmiddag en ons is op pad terug na die kamp toe, toe Barry se selfoon lui. Dis die oproep waarvoor ons al ’n paar dae lank wag. Barry antwoord dadelik en ek kan sien dat dit goeie nuus is. Toe hy die selfoon dooddruk, word dit dan ook bevestig met sy woorde: “Tomorrow we’re hunting buffalo, pal!”

Dit is einde Oktober en ek is op ’n vyftiendag-safari saam met Barry Styles van Buffalo Range Safaris. Ons jag in die Matetsi Unit 6-konsessie in die noordwestelike hoek van Zimbabwe, op die Botswana- en Zambiëgrense. Die eerste agt dae van die safari was baie suksesvol en ek het reeds ’n baie mooi olifantbul, ’n swartwitpens en ’n besonderse groot Livingstone-elandbul in die sout.

 

As ’n mens in hierdie wêreld jag, is buffeljag egter altyd in jou gedagtes en reeds aan die begin van die safari het ek begin uitvis of daar nie dalk nog ’n buffel op kwota beskikbaar was nie. Daar was wel een, maar dié bul was reeds aangebied aan ’n Spaanse kliënt wat nog moes bevestig of hy gaan kom jag of nie. Vandaar ons afwagting op die oproep van Barry se broer.

Die aand voor die buffeljag het ek ’n effense hol kol op my maag terwyl ek my toerusting regsit vir die jag. Dis nog donker toe ons die spoorsnyers optel en die horison begin net-net verkleur toe ons afdraai in die eerste paadjie langs die Zambezi op soek na buffelspore. Die plan is om 'n trop buffels

te probeer opspoor wat ons al voorheen die pad vroegoggend sien kruis het op hul weg terug van die rivier af. Kort voor lank merk ons ’n plek op waar die buffels die pad gekruis het. Daar is verskeie paaie parallel aan die rivier en ons sien dat die buffels ook die tweede pad gekruis het. By die derde pad is ons net betyds om te sien hoe die trop buffels die pad kruis en Barry parkeer die Cruiser.

Ek vat my verkyker en .500/.465 NE-dubbelgeweer en ons kies op ’n drafstap koers in daardie rigting. Die plan is om voor die buffels te probeer kom en dan te kyk of ons ’n mooi bul in die trop sien.

 

Die jesse langs die rivier is egter ruig en bemoeilik vordering. Ons klink soos seekoeie in ’n droë mielieland, maar in vergelyking met die geraas wat die buffels maak, beweeg ons stil. Dan dwarrel die wind en verraai ons

teenwoordigheid.

 

Ek en Barry stop uitasem en bespreek wat om volgende te doen. Ons opsies is beperk en ons besluit om met ’n wyer draai om die buffels te probeer sirkel. Hierdie keer is ons meer suksesvol en is net betyds om te sien hoe die voorste buffels in die trop die vierde pad kruis. Ons sien nie ’n mooi bul nie en word weer deur die wind verklap.

 

Die gebulk van buffels aan die rivier se kant van die pad verraai dat nie al die buffels die pad gekruis het nie. Ons probeer die oorblywende deel van die trop se posisie bepaal en beweeg stadig in hulle rigting. Net toe ons ’n oop gedeelte in die jesse begin oorsteek, sien ons ’n buffelkoei aan die oorkant in ons rigting stap. Daar is geen skuiling nie en ek volg Barry se voorbeeld deur plat op my rug te gaan lê. Die buffels is onbewus van ons en stap in enkelgelid reg op ons af. My hart klop in my keel – hierdie is nie ’n posisie waarin ek my op die eerste oggend van ons buffeljag voorgestel het nie.

 

So tien meter van ons af steek die voorste koei vas en staar na ons. Die res van die buffels stop ook en Barry fluister dat die bul wat vierde van vooraf staan nie te sleg lyk nie. Ek bevestig, maar kan nie aan enige manier dink om in ’n posisie te kom vir ’n skoot nie – skaakmat!

 

Terwyl ek nog lê en dink aan ’n moontlike oplossing vir my penarie, hoor ek Barry fluister: “Are you still going to wait a while?” Dit spoor my aan tot aksie en ek maak seker die dubbel se veiligheidsknip is af voor ek vinnig regop sit. My enigste hoop is dat die buffels dalk vir ’n oomblik sal bly staan en my skietkans sal gee, maar die skielike beweging laat die buffels spaander. Die aand sou Barry my meedeel dat ons gelukkig was. Wanneer buffels so naby aan gevaar is – soos wanneer leeus hulle voorlê – storm hulle partykeer eerder as om te vlug.

 

DIE VOORSTE PUNT

Ná hierdie episode besluit Barry hy het genoeg gehad van buffels bekruip in die jesse en ons kies koers om te sien of ons nie weer die voorste deel van die trop kan opspoor nie. Die jesse kom slegs voor in ’n strook van ongeveer 4km al langs die Zambezirivier. Die grootste gedeelte van die konsessie bestaan uit mopanieveld. ’n Natuurlike hoogte skei die jesse en die mopanieveld en ons ry tot by ’n uitkykpunt om die area met verkykers te bespied. Ons sien die trop buffels byna dadelik so 2km verder in die mopanieveld. En so begin rondte twee...

 

Met die wind in ons guns is dit nie lank voor ons die buffels hoor wei nie. Die uitdaging is nou om ’n mooi ou bul op te spoor in die trop van omtrent 80 diere. Die buffels wei weg van ons af en die gedeelte van die trop wat ons plek-plek tussen die mopanies kan sien is koeie en jong bulle.

 

Ewe skielik hoor jy net takke kraak en klippe spat soos die trop laat spaander en ons besef ’n dwarrelwind het ons verraai. Gelukkig hardloop die buffels nie ver nie en hierdie keer kry ons kans om om hulle te sirkel en van die diere deur te kyk – daar is weer nie ’n mooi bul tussen hulle nie. Al raad is om weer om die trop te probeer sirkel en te soek vir ’n mooi bul.

 

Met die derde probeerslagmisgis ons ons en word ons nog ’n keer in ’n oopte betrap, maar Barry kry die skietstokke in posisie en ons wag doodstil in die oopte op die kant van ’n kaal, droë spruit vir die trop.

 

Die wind is in ons guns en die buffels kom reg op ons af. Die voorste koei steek omtrent op 8m skuins voor ons vas. Ek is so besig om die res van die trop deur te kyk dat ek nie die strik om haar nek opmerk nie. Barry fluister vir my dat ek my roer op haar moet hou. Die klein beweging van die geweer is genoeg om die buffels te laat spaander.

 

In die hardloop sien ons ’n besonderse mooi bul wat Barry op ten minste 42” skat. Soos enige voornemende buffeljagter kry dit my hart behoorlik aan die klop – nie dat hy nie reeds daardie dag gewerk het nie!

 

Met die bul vars in ons gedagtes, probeer ons nog ’n paar keer om die buffels onder skoot te kry, maar is onsuksesvol en toe die buffels weer die jesse ingaan, gee ons moed op. Dit is omtrent elfuur en die stap na die Cruiser in die hitte laat my weer besef dat jag in Afrika nie vir sissies is nie.

 

Na ete en ’n welverdiende rus, vat ons die buffels die middag weer in die jesse aan. Die resultaat is egter dieselfde as die oggend en met die westelike horison wat oranje begin verkleur besluit ons om die volgende dag weer te probeer.

 

Terwyl ons die aand aan ’n drankie van Skotse afkoms teug, herleef ons die dag se gebeure. Alhoewel die 42”-bul my soos ’n magneet trek, is Barry moeg vir die jesse en ons besluit om die volgende dag ’n ander trop buffels in die konsessie te probeer uitoorlê.

 

TEKSBOEK-BUFFELJAG

Die tweede dag is ’n teksboekbuffeljag, behalwe dat daar nie ’n skoot geskiet word nie. Dit is nog donker toe ons al met die Botswanagrens langs ry op soek na spore wat die pad kruis. Ons word nie teleurgestel nie en toe dit begin lig word, vat ons die spore van ’n groot trop. Ek het ’n gevoel dat dit ’n lang, warm dag gaan wees en vat my rugsak met 2 liter water saam.

 

Die spore is duidelik en ons vorder vinnig. Nog voor ons die buffels sien, hoor en ruik ons hulle. Weer word daar gesirkel en toe die trop reg na ons toe wei, kyk ons die buffels goed deur. Daar is verskeie bulle, maar nie een

van hulle is ’n dagha boy nie. Die buffels wei amper weerskante van ons verby en dis ’n ongelooflike gevoel om so tussen hulle te wees. Soos gewoonlik gebeur die onvermydelike – van die buffels ruik ons en donder weg. Dis egter ’n groot trop en baie van die diere hardloop nie eens weg nie.

 

Verder soek is ons enigste raad en gelukkig merk ons ’n mooi bul op, maar dis al goed warm en die buffels begin te lê. Ons besluit dus om hulle te los en die middag weer te probeer. Om hulle weer op te spoor was maklik en ons hervat ons taktiek van die oggend.

 

Die wind dwarrel egter en die eerste paar bekruipslae is onsuksesvol. Aanhouer wen egter en uiteindelik kom ons in ’n goeie posisie. Die trop wei reg voor ons verby, maar met geen mooi bul in sig nie.

 

Ek kan sien Barry is erg gefrusteerd toe die trop weereens in ’n groot stofwolk verdwyn. Ons het verskeie goeie kanse gehad om ’n buffel te skiet, maar ongelukkig het die regte een ons ontduik. Met die son wat in die weste verdwyn, pak ons die pad Cruiser toe aan. Ten spyte daarvan dat ek kan sien Barry is teleurgesteld, stap ek moeg, maar met ’n baie tevrede gevoel terug. Vandag was ’n ongelooflike dag langs die Zambezi, ons het buffels gejag soos in ’n Afrika van ouds – wat meer kan ’n stadsjapie voor vra!

 

Die volgende dag besluit ons om weer die groot trop te gaan soek, maar daar is geen spore wat die pad langs die Botswanagrens kruis nie en ons kies koers in ’n ander rigting. Na ’n ruk kry ons twee dagha boys se spore en besluit om hulle te volg, maar na omtrent twee ure se stap gee ons bes en draai terug Cruiser toe.

 

Ons ry verder en kruis ’n gedeelte van die konsessie wat onlangs afgebrand het. ’n Mens kan redelik ver sien en daar is geen teken van lewe nie. Ek dink nog in my enigheid dat ons nou besig is om tyd te mors, toe daar ’n klop op die Cruiser se dak is. Die spoorsnyers het drie dagha boys op die rand van die gebrande area opgemerk en ons besluit om van nader te gaan ondersoek instel.

 

Na omtrent ’n kilometer sien ons die bulle en beweeg al koeskoes nader. Barry hurk skielik en na ek ook in my spore neersak, sien ek die kameelperd wat in ons rigting staan en kyk. Ons sit vir ’n hele ruk soos hase in ’n kollig, terwyl ons wag dat die kameelperd aanbeweeg. Net toe ons wil aanbeweeg, lui een van die gidse se selfoon. Ons wip soos ons skrik en ’n baie verleë gids skakel sy foon af. ’n Entjie verder sak Barry weer neer en ek sien twee rooibokooie wat reg op ons afstap met die buffels nog so 100m agter hulle. Wat kan nóg fout gaan?

 

Die geluk is wel weer aan ons kant en die rooibokke stap so 30m skuins voor ons verby na ’n paar kyke in ons rigting. Ek haal weer gemakliker asem en sien dat die buffels intussen ook nader beweeg het.

 

Ons bly waar ons is en bestudeer die bulle. Die voorste een, wat reg op ons afstap, is nie watwonders nie en die verste bul ook nie, maar die middelste bul is presies waarna ons nog die hele tyd soek. Die bul steek so 70m van ons af agter ’n bos vas waar hy begin vreet. Barry fluister dat ons nie nader sal kan gaan nie en verneem of ek kans sien vir die skoot.

 

Sewentig meter is ’n relatiewe ver skoot met ’n oopvisier-dubbel, maar ek is gemaklik en knik dat ek reg is. Ek skuif die dubbel se veiligheidsknip vorentoe en ons wag...

 

Die ander twee bulle wei steeds nader en die spanning laai op met ‘ons’ bul wat nog steeds agter die bos geanker staan. Met die voorste bul omtrent 20m van ons af, hoor ek Barry in besonderse sterk taal agter my mompel. Dit het skynbaar die gewenste uitwerking, want stadig maar seker beweeg die bul agter die bos uit en gaan staan byna reguit na ons toe gedraai. Hy draai sy kop om verder te vreet. Ek laat die korrel vassuig in die middel van sy bors en druk die voorste sneller van die dubbel. Die uitwerking van die 480gr Woodleigh-sagtepuntkoeël is indrukwekkend – die bul slaan in sy spore neer! Die ander twee is vir ’n oomblik verward en kies dan koers. Ek herlaai en ons stap nader. Ek gee die bul ’n versekeringskoot en toe is dit oor.

 

Terwyl die ander die Cruiser gaan haal, kry ek kans om die bul te bewonder. Sy littekens is ’n bewys dat die lewe langs die Zambezi nie net maanskyn en rose is nie. Daar is selfs ’n litteken waar ’n koeël hom redelik onlangs skrams op die rug getref het. Ek reflekteer terug op die gebeure van die afgelope drie dae en besef wat ’n voorreg dit is om in Afrika te kan buffel jag.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR
  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon