SA JAGTER/HUNTER | Februarie 2017 | Deur Jacques de Beer

Die eland en die handkanon

Ek is ‘n kranige handwapenjagter is met ’n voorliefde vir die .357 Magnum en het by verre die meeste wild met dié kaliber geskiet. Oor die afgelope 22 jaar het ek 208 diere van ’n groot verskeidenheid spesies met die .357 gejag en het ek by ’n punt gekom waar ek groter wild as normale wildsbokke wil aandurf. Op my bucket list vir handwapenjag is daar nou spesies soos kameelperd, buffel en seekoei en vir sulke diere is die .357 Magnum heeltemal te klein. Dit het dus tyd geword dat ek na ’n groter handwapen oorskakel.

’N MONSTER

Om na iets soos die .44 Magnum of die .454 Casull oor te slaan sou nie deug nie. Selfs hulle is na my mening ’n bietjie te lig in die broek vir gevaarlike wild. My plan was om ’n ware handkanon te gebruik – iets soos ’n .375 H&H, .416 Rigby of selfs die .500 Nitro Express.

 

Ek het natuurlik besef dat sulke kalibers in ’n handwapen nie speletjies is nie. Mense wat skopsku is sal nie sulke handwapens kan hanteer nie en ek het gewonder of ek so ’n monster sal kan baasraak. Behalwe dat so ’n handkanon jou ’n goeie loesing kan gee, jaag die ammunisie jou ook ’n fortuin uit die sak as jy dit met die .357 Magnum vergelyk. Koeëls alleen kan tot R1250 kos vir 25!

 

Ek het die verskillende opsies oorweeg en uiteindelik op die .500 Nitro Express besluit omdat ek reeds ’n Harrington & Richardson-aksie en ’n .500 kaliber-loop besit het. Daar is twee weergawes van die .500 Nitro – die een se dop is 3¼” lank en die ander een 3”. Ek het op die korter weergawe besluit. Hierdie kaliber lanseer koeëls van 440gr tot 570gr teen snelhede van ongeveer 2100vps uit ’n geweer met ’n lang loop en ongeveer 500vps stadiger uit my handkanon.

 

Na maande se prosedures is my droom toe bewaarheid en kon ek my eerste handkanon in my hande hou. Omdat ek ’n heftige terugskop verwag het, het ek die pistoolgreep van olienhout laat maak (dis ’n baie harde, duursame hout). Dit gee ook aan my .500 NE ’n ware plaaslike boskarakter.

 

Omdat ek nie sommer skote verder as 100m sal neem nie, het ek die .500 met ’n Vortex red dot-visier toegerus. Ek was bekommerd dat die Vortex nie die terugskop sal kan hanteer nie maar my vrese was ongegrond, dié visiertjie staan sy man.

REG VIR SKIET

Na maande van afwagting kon ek toe uiteindelik my .500 NE gaan skiet. Die wapen weeg 2.5kg en ek het my voor die tyd reeds probeer staal teen die verwagte terugskop. Ek het vroeër ’n stut gebou om die wapen in te laat lê om sodoende die terugskop ’n bietjie te demp.

 

Met die handkanon stewig in die stut het ek ’n paar maal diep asemgehaal en die sneller gedruk. Die skoot het oorverdowend afgegaan en ek het die slag van die terugskop nie net in my hande en polse gevoel nie maar selfs tot in my skouers. Die .500 se byt was selfs erger as wat ek verwag het. Ek het egter besluit om te maak soos wanneer ’n perd of motorfiets jou afgooi – jy moet hulle dadelik weer klim... Vier skote later het ek vir eers genoeg gehad.

 

Soos die tyd aangestap het en ek die regte handgrepe aangeleer het, het ek die .500 NE baasgeraak. Mettertyd het ek ook gevind dat ek met ’n .510-kaliber koeël van 440gr (teen 1450vps) akkuraat kan skiet tot op 120m. Dit sou dus ook my jagkoeël wees vir die eerste bok wat ek met die handkanon wou skiet. Vir my eerste proeflopie op wild het ek ’n vlakvark geskiet en die resultaat het my genoeg selfvertroue gegee om iets groters te probeer aanpak.

BESPREEK ELANDJAG

Ek bespreek toe ’n elandbul by Frikkie Rademan van Lapalesa, daar in die Vredefortkoepel. Die plaas is pragtig en redelik oop soos maar verwag kan word van ’n Vrystaatplaas. Tog is daar op dele genoeg bosse en koppies asook ’n riviertjie waarvan die oewers redelik bebos is – dis die gebied waar die elande hou.

 

Ek sou egter steeds swaar moes staatmaak op die kamoeflering wat my ghilly-pak verskaf. Ek het die rivierbedding gebruik om die elande te probeer bekruip, maar kon net nie naby genoeg kom nie. Tydens hierdie eerste jag het ek amper ’n kans op die bul gekry wat ek moes skiet, maar die elande is baie geslepe. Na ’n lang, maar onsuksesvolle dag in die veld moes ek dus vir eers die aftog blaas.

 

Ek het egter dadelik weer ’n jag bespreek vir die volgende week. Deur die loop van die week het ek ook op verder afstande geoefen as wat ek aanvanklik beplan het om te skiet; die oop wêreld het dit net té moeilik gemaak om binne 50 tot 75 treë van die elande te kom.

WEER PROBEER

Met die volgende besoek het ek my kwadfiets gebruik om vinniger by die rivierbedding uit te kom. Ek is ook baie vroeg die veld in en het die kwad agter ’n bos weggesteek. My vermoede was dat my bakkie die vorige keer die elande afgeskrik het en hulle toe die hele tyd behoedsaam was.

 

Na ’n lang bekruiptog deur bos en slote wat bloedsweet gekos het, het ek die trop elande sowat 500m weg op die rivieroewer sien wei. Ek moes dus maar net aanhou om met die rivierbedding langs te kruip. Die afstand het stelselmatig korter geraak en uiteindelik was ek omtrent 50m van die naaste koei af. Die trop was redelik groot en het baie verspreid gewei. Daar was dus baie oë oor ’n groot gebied versprei wat dinge moeiliker sou maak. Vorentoe het die rivier ’n s-draai gemaak wat my in staat sou stel om verby die koeie te beweeg, maar ek moes eers wag want ’n paar koeie het in die rivierloop self gewei.

 

Ek het myself dus eers gemaklik gemaak tussen die gras en biesies op die wal onder ’n groot wilgerboom om die situasie op te som. Van die elande het op ’n droë plek deur die rivierloop beweeg en aangestap na ’n oop turfpan so 100m van die riviertjie af en daar gaan lê. Die rivier het nie geloop nie, maar het oral kuile en poele staande water gehad. ’n Paar verse het in my rigting begin wei en ek het bekommerd geraak, want as die wind sou warrel en hulle my ruik, was dit verby. Gelukkig het die verse teruggedraai om by die res van die trop in die pan aan te sluit vir ’n siësta. Een groot koei het regop bly staan en in my rigting gekyk. Dit het amper gelyk asof sy waghou soos ’n wafferse brandwagbobbejaan. Ek het geweet ek sou my storie moes ken om ongesiens nader te gaan. Met die hoë wal en biesies as skuiling, het ek versigtig vorentoe beweeg.

 

Ek het tot by die volgende wilgerboom gevorder en moes toe deur die rivier na die kant waar die elande hulle bevind het. Toe ek in die rivierbedding is, sien ek skielik ’n sebra wat ek nooit tevore opgemerk het nie. Hy het my ook gesien maar kon vanweë my ghilly-pak nie uitmaak wat ek is nie. Ek het in my spore gevries en gehoop die sebra raak nie só onrustig dat hy weghardloop en die elande waarsku nie. Minute het verby gegaan en my bene het later gebrand van moegheid omdat ek in ’n baie ongemaklike posisie stil moes staan.

 

Gelukkig kon die sebra my nie eien as ’n mens nie en hy het aangestap. Ek het weereens die waarde van my ghilly-pak besef – dit verbloem die menslike profiel baie goed. Nadat die sebra verdwyn het, het ek teen die wal opbeweeg met die wete dat die elande nie ver is nie.

 

Adrenalien het begin pomp hoe nader ek aan die bokant van die wal gekom het. Toe ek versigtig oor die wal loer, sien ek sommige van die elande het opgestaan om bene te rek. Ek het vinnig vir die bulle gesoek... Hulle was verder as wat ek gehoop het, so 90 tot 100m weg. Dit was ’n bietjie ver na my sin vir my eerste groot bok met die .500 NE, maar ek het geen ander keuse gehad nie.

DIE REGTE EEN

Ek het die bulle met die verkyker  deurgekyk, want ek moes ’n spesifieke een skiet. Dié bul het egter steeds gelê en ek wou nie ’n skoot skiet op wild wat lê nie, want die kanse is dan groter dat jy die dier kan kwes. Ek het myself dus weereens teen die wal gemaklik gemaak met die hoop dat die bul binnekort sou opstaan.

 

Die tyd het aangestap en die sonnetjie het ongemaklik warm begin raak. Ek kon voel dat die dors aan my keel begin klop en ek het my rugsak nader getrek om water te drink. Net toe besluit die bul om op te staan. My dors was skielik weg. Van die ander elande wat gelê het, het nou ook opgestaan en ek het geweet hulle sou kort voor lank begin beweeg. Ek sou my kans moes neem en gou ook.

 

Die bul het met sy kop skuins weg van my af gestaan en ek het besef dat ek sal moet wag tot hy mooi plankdwars draai. Ek het die Vortex se rooi kolletjie aangeskakel en met die .500 oor my rugsak gerus, gewag vir die regte oomblik.

 

Skaars ’n minuut later het die bul gedraai en ek het die rooi kolletjie op sy blad geplaas. Senuwees het skielik geknaag... ek het ’n paar maal diep asemgehaal en toe die sneller gedruk. Die .500 het gebulder oor die pan en hoewel ’n mens soms glad nie ’n geweer of handwapen se terugskop voel die oomblik as jy op wild skiet nie, het ek tog die brutale skop van die handkanon duidelik ervaar. ’n Millisekonde later het die 440gr-koeël die eland met ’n harde fubgeluid getref. Die bul het geknak, ’n oomblik doodstil met ’n hangkop gestaan en toe met sy regterskouer eerste, grond toe gesteier.

 

Die res van die trop het verward vir ’n paar sekondes bly staan en toe die hasepad gekies. My bul het floutjies geskop, sy kop probeer optel en toe doodstil bly lê. Die 440gr-koeël het sy werk gedoen. Ek het die .500 herlaai net vir ingeval die eland wou opstaan, maar hy was morsdood.

 

Toe ek opstaan, het ek skielik al die seer wat die lang gekruip op my elmboë en knieë veroorsaak het, gevoel. Ek het die afstand na die bul toe begin aftree... 110 treë altesaam. Die koeël het getref waar ek gemik het.

 

Nuuskierig om te sien of die koeël dwarsdeur is, het ek die bul probeer omrol maar hy was te swaar vir my. Later, met die laaiery sou ek sien dat die koeël wel ten volle gepenetreer het. Ek was oorweldig deur blydskap en tevredenheid. Dit het my altesaam 12 ure se bekruip geneem (tydens die twee jagdae) om die eland geskiet te kry.

 

Verdere goeie nuus was dat die vleisskade uiters min was. Teen 1 450vps het die 440grkoeël basies net ’n gat deur die longe geslaan. Geringe vleisskade is een van die voordele as jy met ’n handwapen jag.

 

Nou ja, ek het weereens die voorreg gehad om te voet met ’n handwapen te jag. Al my sintuie is beproef, ek moes fisiek baie hard werk en ek moes al die tricks in die boek probeer om naby genoeg aan die elande te kom. Om met my handwapens te jag, maak die jaguitdaging nie net groter nie, maar dit bring my ook nader aan die natuur.

 

Ek is ’n groot voorstander van stapjag en met ’n handwapen is dit in elk geval die voorvereiste, anders kom jy nie naby genoeg aan die wild nie. Doen die ding reg en geniet jou handwapenjag. Moenie kopskote waag nie, skiet vir die grootste teiken – die hart/longarea.

 

• Vir meer inligting oor handwapenjag kontak my gerus by 084-318-8021 of 056-343-0172.

BEL ONS | CALL US

Tel: +27 12 485 9382

E-POS ONS | EMAIL US
KANTOOR | OFFICE

Privaatsak X202, Pretoria 0001

Xcelpark, h/v | c/o Lynnwood & Roderick

Lynnwood, 0081 

Mon - Vry/Fri: 08:00 - 16:30

SA SE VOORSTE JAGTYDSKRIF 
SA'S LEADING HUNTING MAGAZINE

Vir alles wat die jagter en omgewingsbewaarder wil weet.

Keeping the hunter and conservationist in the know.

  • Facebook Social Icon
  • Twitter Social Icon
  • YouTube Social  Icon
  • Instagram Social Icon
KONTAK DIE REDAKTEUR
CONTACT THE EDITOR

Koos Barnard

Koos.Barnard@Media24.com

012-485-9401